Nieuwe hoop

  • 0

Sal ek maar beken dat ek gesjarmeer is deur die vlaag boekresensies wat reeds vanjaar op Boeke24 verskyn het? Dat ek nieuwe hoop het vir almal met ’n carrière in die wêreld der lettere?

Ek sê dit nie omdat ek ’n wuftheid in my gemoed het ná ek Antjie Krog se wekroep vir die behoud van bande met Nederlands gelees het nie. Sekerlik is ek een van die vele wat nooit met tant Anna sal verskil nie, nie eens in die openbaar nie. Mens doen dit net nie, want jy kan nie wen nie.

In hierdie geval is ek nog meer ad idem met haar as wat vir ’n oud-Vrystater moontlik is. Die gety is besig om te draai en een van die dae sal ons ’n eie Kruistocht in spijkerbroek in Afrikaaps hê. As ons maar net ons bande met Nederlands stewig hou. (Wat ’n gawe woord is spijkerbroek nie! Soveel meer verbeeldingryk as die Engelse crotchless panties. Nie dat die twee soorte broeke enigsins vergelykbaar is nie. Nederlanders is meer fatsoenlik, nè?)

Die lekkerte van Afrikaaps is dat dit so eg nieuwbouw is. Voor ons oë verloor die SA Akademie se spelreëls sy oemf, baie soos ’n slot wat tydens ’n skrum spuitpoep kry. Soms is daar ander talige boublokkies ook, soos Louise Viljoen uitwys oor Klara du Plessis en Kess Mohammadi se G, en dit maak die saak net soveel meer verwikkeld.

Binne hierdie oepenheit en bruidwilligheit het ek gedink Neil Cochrane se skrywe oor Joernaal van Clinton V du Plessis is ’n bietjie teen die nuwe stroom op. Taalflaters, wat is dít dan nou? Cochrane het darem nie ’n own goal oor dié bundel gescore soos Marlies Taljaard verlede jaar op Versindaba gedoen het nie. Geduld en stiplees is Cochrane se wagwoorde, soos dit ’n resensent op sy lydensweg betaam.

Daniel Hugo is ’n minder gereelde flaneur op genoemde weg, maar wanneer hy die dag sy dansskoene aan het, kan jy maar weet die planke gaan kraak. Sy verkenning van Ilse van Staden se verveertaal is pragtig edukatief, ’n deernisvolle kyk op diaspora-verse, ’n Afrikaanse digter binne ’n Australiese omgewing.

Hierdie is nie die plek vir frivole afdwalings nie, maar Hugo se gedagtes oor Van Staden se gedig “voël” het my gedagtes laat sketter. Hugo verwys na Van Staden wat die deelteken op die tweede klinker van die woord beskryf as ’n stralekrans, “sweefmerkies wat óplig in die keel”. In die Afrikaapse paradigma sal voël bes moontlik vool word, en dan is Van Staden haar gedig kwyt.

Ernstig nou. Francois Bekker stuit die vloed van resensies oor digbundels met ene oor Zirk van den Berg se Hemel en aarde en ons. Ek kry nogal ’n spesmaas dat die manier waarop die woestyn ’n soort karakter in die roman word wat almal beneuks maak, het Bekker self ’n bietjie aan doolally laat ly. Maar nou ja, wat anders kan ’n mens doen as priemend te gebruik, of te sê dat dit sublieme prosa is wat skitter soos edelgesteentes? ’n Taal het gebruiksgrense; Elmore Leonard kan nie altyd reg wees nie.

Clinton V du Plessis staan vandeesweek toe aan die ander kant van die grens tussen skrywer en resensent. Hy bespreek Gaireyah Fredericks se Een voet innie kabr en vind dat Fredericks dalk al voete à deux in die kamer is.

Wat vir my betekenisvol is, is dat Du Plessis nie soos ander resensente probeer om die resensie in Afrikaaps te skryf nie. Dit skep vir hom die ruimte om kritiek te lewer op die konsekwentheid van Fredericks se taalstyl. Indien enigiemand al gewonder het of ons onderweg is na ’n nuwe stel spel- en taalreëls vir Afrikaaps, dan skemer dit sterk deur in Du Plessis se resensie: Ja.

Ek het hierdie mymering oor die boeg van Boeke24 gegooi en dit sal seker net gepas wees om ten laaste terug te keer na Jo Prins, die nasionale boekeredakteur van Netwerk24. ’n Vriendin het vir my skermskote gestuur van een van sy plasings op Faceboek. (Dankie, Lentekind!) Met verwysing na Johann Kriegler se skrywe oor die Ingrid Jonker-versamelbundel Die papie roer en ek word digter in Rapport, plaas Prins ’n inskrywing daaroor met die opmerking: “Aarde … hierdie stuk van Kriegler vra mos vir reaksie.”

Prins kry genoeg reaksie om vier skermskote te vul; Kriegler self ontvang ’n reaksie van Louise Viljoen. Albei van hulle lok ’n aantal reaksies by die koerant se lesers uit. Dit is net die reaksies wat deur Prins uitgelok is, wat die debat op lesersvlak verder voer; Louise Viljoen se reaksie is, durf ek dit sê, priemend en subliem.

Ek is ’n onbeskaamde aanhanger van Johann Kriegler en het baie lank nagedink oor presies wat hom besiel het om sy bespreking op hierdie manier aan te pak. Hy doen hom nie voor as literator nie en bou sy hele argument rondom die idee dat Viljoen se inleiding tot die bloemlesing nie alle moontlikhede rondom die papie-beeld in berekening gebring het nie. Sekerlik is daar ook ’n aanname dat Jonker haar dans les mains d’une aventurière bevind het.

Viljoen weer ís ’n literator en herlei heel vriendelik die argument na die chronologie van Jonker se bundels en die regverdiging vir die vertolking van die papie-beeld soos in haar inleiding tot die bloemlesing uiteengesit is. Uiteindelik gee sy Kriegler in ’n mate gelyk, goed diplomaties, ’n element hier van my learned friend: “Die een betekenis sluit egter nie die ander uit nie. Ek sê maar net.”

Wat Kriegler wel vermag het, is om die aandag te vestig op die bundel. Hoe meet ek dit? Wel, gaan kyk gerus hoeveel reaksie lok resensies in Boeke24 en Rapport Boeke gewoonlik uit. Die 34 reaksies by Jo Prins se Facebook-plasing is op ’n hoër vlak as Rapport se lesersreaksies. Ek het lanklaas opmerkings só geniet. Marni Bonthuys s’n veral; ook dié van Erla Diedericks en Jonathan Amid.

Prins se vriendereaksies bevat ook die verlossende woord, deur Jean Meiring. Ek haal dit aan: “Dis nie ’n resensie nie. Die ‘etiket’ op die aanlyn-blad is ’n fout. As ek reg onthou, het dit in die drukweergawe ontbreek. Dis tog duidelik, ten goed of ten kwade, ’n tong-in-die-kies opiniestuk.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top