“Ek kan dit nie verduur nie,” snik Rina.
Peet sit sy arm om haar, maar sy stoot hom weg. Dis lank na middernag. Ons is ’n verdrietige groepie voor die hoofkantoor van die Windhoekse polisiestasie waar die goggas om die lig gons en die verf van die mure afdop.
“Wees maar versigtig as julle saans in die straat loop. Dis nie meer die ou Windhoek hierdie nie. Mense word maklik beroof as hulle nie paraat is nie,” sê die man en gee die Hilux se sleutels oor die toonbank vir Sarel, my man. Ons stap opgewonde by Budget Rental Cars uit. Nie een van ons was nog in Namibië nie en ons sien uit na ons toer, veral na die Etoshapan se kuier.
Nadat ons vir al die bagasie ’n plekkie gekry het, ry ons die parkeerterrein by die lughawe uit. My suster Rina en haar man Peet sit ingedruk op die agterste sitplek.
“Waar is die kosmandjie? Julle moet dit naby hou, want ons moet nog beskuit en biltong by Woolies koop.”
Sarel volg die GPS na die bed-en-ontbytplek in Windhoek waar ons gaan oornag voor ons ons reis aanpak. Ons weet nie wat om te verwag van die oornagplek nie. Die foto’s het mooi gelyk op die internet, maar ’n mens kan lekker geflous word en dalk in ’n weeluisnes beland.
Toe ons by die hek van die B&B indraai, is ons aangenaam verras. Dis mooi soos op die internet. Daar is ’n tuin met tafeltjies om die swembad, wat deur ’n waterval gevoed word. Boonop is daar ’n wag by die hek, wat altyd baie gerusstellend in hierdie dae is.
Die manne gaan ons inteken en ek en Rina staan en oorweeg of ons nou al die bagasie moet aflaai vir die oornag en dan weer vroegoggend alles weer oplaai.
“Ek is bevrees Sarel sal alles moet afpak; ek weet nie waar ek my stapskoene ingepak het nie en sal eers weer deur al my tasse moet soek, want ek wil dit van môre af dra.”
Die mans kry hulp met die bagasie. Hulle dra alles trappe op en gange af na ons kamers toe. Sarel lyk glad nie gelukkig oor al die goed wat ek gebring het en wat hy nou moet ronddra nie.
Dis nog vroeg vir aandete, maar ons is almal honger. Die karige toebroodjie wat ons van Joburg na Windhoek op die vlug gehad het, was te min om ons tot later te laat hou.
“Wag julle hier in die tuin met ’n glasie wyn, dan gaan ons oorkant by die braaihoenderrestaurant vir ons kos haal,” bied ek namens my en my suster aan. Ek voel skuldig oor al die pakkerasie wat hulle moes dra. As ons nou vir hulle kos aandra, sal die gemoedere vreedsaam word, dink ek.
Daar was ’n baie lang tou by die hoender-“take-away”. Dis Vrydagmiddag en almal lyk honger. Ons val agter in die tou in. ’n Mens gee jou bestelling voor by die toonbank en dan gaan jy êrens sit of staan en wag tot iemand jou nommer roep. Die bediening by die toonbank is skilpad se moses. Nou en dan roep hulle ’n nommer.
“Ek sal nie so lank kan wag nie, Sus, ek het ’n nood,” fluister ek vir Rina.
“Ek ook, was laas nog by die huis.”
Ons glip gou die gangetjie af na die dameskleedkamer.
Naby die deur in die gang sit ’n vrou tussen ’n paar inkopiesakke op die vloer. Sy is besig om haar babatjie te borsvoed. Ek dink my sus het nog ’n opmerking gemaak oor die ou klein dingetjie. Ek meen die vrou het geglimlag. As ek nou ernstig terugdink, verbeel ek my dat sy maer en tandeloos was. Ongelukkig is die begin van die gebeure nie helder nie. Wie sou nou kon gedink het dat alles later belangrik sou word?
Toe ons terugkom uit die kleedkamer, sit die vrou nog steeds daar. Sy kyk op na Rina en vra: “Asseblief, dame, kan u my vir ’n oomblik help?” Ek wou eers aanstap, want soos so baie bedelaars in die strate dog ek die vrou gaan ook geld vra. “Kan u net gou my kind vashou terwyl ek my kos gaan haal. Hulle het nou net my nommer geroep, maar ek kan nie met baba en als na die toonbank toe nie.” Sy wys na die sakke op die vloer.
My moederlike suster het onmiddellik die babatjie aangevat om die vrou te help. Rina kyk liefderik na die baba. Ek weet hoe sy haar kleinkinders, wat almal oorsee woon, mis.
“Te veel goed om saam te karwei,” sug die vrou en staan steunend op. Het sy of het sy nie nog een maal na die kind gekyk voor sy weggestap het nie? Ek kan nie onthou nie, want ons was so ingestel op die bitter klein ou babatjie wie se ogies begin swaar word het na die voeding. Ek streel oor die tingerige gesiggie en handjies van die kind wat in die vessie en lapdoek verdrink. Rina neurie saggies.
Die kosreuk het my al hoe hongerder gemaak. Ek wou net aanbied om solank in die tou te gaan staan toe die babatjie ’n keel begin opsit. Rina skommel en sing vir al wat sy werd is. “Toemaar, toemaar, mamma is nou-nou hier.”
“Gee dat ek bietjie probeer,” sê ek en neem die kleintjie by Rina oor. “Ek sal solank in die tou gaan staan. As die ma kom, dan kom jy.” Rina stap weg terwyl ek die babatjie probeer troos. Ek het nooit kinders van my eie gehad nie, maar was nogal goed met hulle. Ek weet nie hoekom nie, maar ek dink my stem het ’n sekere kwaliteit en so luister kleintjies as ek vir hulle sing. Ek sing “Doe-doe baba”. Die kleintjie bly huil. Dis dalk ’n wind, maar ek wil die kind nie oor my skouer sit om dit uit te vryf nie. Netnou braak sy op my klere, dink ek.
Af en toe kom ’n vrou verby op pad kleedkamer toe. Vrouens hou daarvan om na babas te kyk, want een en almal gaan staan om na die outjie te kyk wat luidkeels in my arms lê en skop en rukkerig vuisies swaai. Die kind trek die ruggie krom agteroor en skree en skree. Ek skud my armband en oorbelle voor die ogies, maar niks wil help nie.
Ek begin ongeduldig raak. Nóg Rina nóg die ma daag op. Ek kan nie gaan kyk nie, want ek moet die sakke oppas; boonop probeer ek die kind laat bedaar.
Na nog ’n ruk se gewag besluit ek om die gang af te stap en die sakke in oog te hou. Ek loer om die hoek. Rina is nie in die tou nie en ek sien haar ook nie tussen die ander wagtendes nie. Nou waar kan sy nou wees, wonder ek. Ek probeer ook kyk of ek die kind se ma kan sien, maar ek kan glad nie onthou hoe sy gelyk het of wat sy aangehad het nie.
Ek gewaar ’n onmenslike reuk van die doek se kant af. Ek weet definitief nie hoe om ’n doek om te ruil nie. Met die gillende kind en hierdie reuk wil ek nie verder tussen die honger mense instap om na die vrouens te soek nie.
Die kind wil glad nie ophou met huil nie. Ek stap terug, leun vir ’n ruk teen die muur. Ek probeer soos die vrou op die vloer sit. Toe ek vooroor buk, word ek duiselig en val amper. As ek op die kind val, sal ek die lyfie verpletter. Ek staan regop en wag. “Doe-doe baba,” sing ek aan.
Ek wag, ek wag en wag. Ek kan niemand bel nie, want my foon is die vorige week gesteel en ek is foonloos. Ek kan nie die sakke saamneem nie en ook nie los nie, want netnou word dit ook gesteel.
Waar op aarde …?
Weer kom daar ’n vrou verby. “Verskoon my,” sê ek. “Kan u my nie ’n guns doen nie? Ek pas die sakke op.” Ek beduie. “Sal u nie vir die persoon wat die nommers oor die luidspreker roep, vra om na mevrou Rina Barry te roep nie? Ek wag nou al hoe lank hier op haar en sy kom nie uit nie,” verduidelik ek oor die geskree.
Die vrou is vriendelik; gaan terug en kom sommer gou weer verbygestap. “Ek het so gemaak,” glimlag sy.
Na nog ’n gewag hoor ek so tussen die gille van die baba: “Ons vra dat mevrou Rina Barry asseblief na die dameskleedkamers moet kom.”
“Ag liewe Vader, laat daar tog nie iets met haar gebeur het nie. Wat as sy iets oorgekom het, geval en haar seergemaak het.” Ek dink donker gedagtes. Wat as iemand haar aangeval het … Wat op aarde kan in ’n braaihoenderwinkel met iemand gesond en sterk gebeur?
“Liewe Here,” bid ek. “Laat Sarel tog kom kyk waar ons bly – ons is nou al onrusbarend lank weg.”
Net toe hoor ek iemand uitasem die gangetjie afgehardloop kom. Dis Rina en sy is doodsbleek.
“Wat? Wat het gebeur?”
“Ek kry die ma nêrens nie.”
“Wat?”
Ons praat al hoe harder om te kompeteer met die skeermeslemstemmetjie van die baba.
“Ek sweer, sy is nêrens in die restaurant nie en ek het selfs straat op en af gehardloop om te kyk of ek haar nie sien nie,” skree Rina.
“Hoe nou?” skree ek terug.
“Die ma … ek sweer vir jou, sy is skoonveld.”
“My liewe hel, maar dit kan tog nie wees nie … Is jy seker? Kan jy onthou wat sy aangehad het?”
“Ek dink sy het ’n geel trui of baadjie of hemp aangehad; ek is nie seker nie.”
“Ek self kan ook nie onthou nie.”
“Het jy jou sellfoon? Bel vir Sarel-hulle,” onderbreek ek my gedagtes.
Sy bel. Ek probeer die kind stilkry. Ek voel hoe my hart onstuimig begin klop. Die kind is uitasem geskree, ek ook.
Rina gaan staan ’n entjie weg om gehoor te word. “Julle moet dadelik na die restaurant toe kom ... Nee, kom net … ek sal verduidelik as julle hier is … Nee ons is al twee oukei … kom net.”
“Dalk het die Ma …” begin ek, maar kom nie verder nie. Dit voel asof my kop begin stilstaan.
Die reuk van die vuil doek is erg. Ek voel sleg om die stinkende, skreeuende baba vir Rina terug te gee.
“Die doek is vuil.”
“Ja, vir seker, ek kon dit al gang af ruik.”
Rina begin in die sakke kyk.
“Liewe Here, Sally. Hierdie is nie inkopies nie … Dis … dis alles ou babagoedjies. Hier is ’n bottel en hier is genadiglik ’n paar doeke.” Sy vat ’n doek uit een van die sakke en neem die kind besorgd by my. Ons stemme galm teen die gangmure.
“Gaan staan jy voor by die deur en wag vir hulle; ek sal gou die kind in die kleedkamers gaan skoonmaak.” Sy stap weg. Die gehuil trek soos ’n treinfluit agterna. Ek leun met my voorkop vir ’n oomblik teen die koue muur. Ek voel lam van kop tot tone.
“Is jy oukei?” vra ’n vrou agter my.
“Dankie, soort van ...”
“Kan ek jou help?”
“Nee dankie.” Ek buk en vat die sakke bymekaar en loop vorentoe.
Ek moes dronkerig gelyk het. Die vrou vat aan my arm. “Kan ek jou help dra?”
“Nee, nee, ek is regtig …”
Net toe hoor ek Sarel se stem
“My man is hier.” Ek sien Sarel en Peet deur die mense aankom. “Hierso julle.” Ek kan in my stem hoor hoe ontsteld ek is.
“Wat gaan aan – het julle gaan inkopies doen?” vra Peet en wys na die sakke.
“Julle, ons is in ’n helse moeilikheid.”
“Wat?” vra Sarel.
Ek kan skaars die woorde uitkry. “’n Vrou ... vrou het haar baba verlaat.”
“Hoe bedoel jy verlaat?”
“Sy het Rina gevra om die kind vas te hou terwyl sy haar kos by die toonbank gaan haal … Sy het net nooit weer opgedaag nie.”
“Waar is Rina nou?” vra Peet.
“Sy het die kind gaan skoonmaak ... vuil doek.”
“En dié?” Peet voel aan die sakke.
“Dis van die babatjie se goedjies.”
“My magtig, Sally, dit kan tog nie waar wees nie. ’n Mens los mos nie sommer ’n kind in ’n braaihoenderwinkel nie?” sê Sarel.
Voetstappe kom die gang af. As dit tog nou die ma is, hoop ek.
Dis Rina. “Dis ’n ou dogtertjie. Sy is vreeslik maer, of ondervoed, of dalk siek,” sê Rina toe sy by ons kom. Die baba is redelik bedaard, maar maak af en toe nog sulke kat-miaau-geluidjies.
“Hoe het dit gebeur?” vra Sarel. Tussen die twee van ons vertel ons vir die mans wat gebeur het. Ons praat ergerlik deurmekaar.
Skielik vra iemand agter ons: “Kan ek help?“ ’n Groot vrou met ’n wit voorskoot en ’n naamplaatjie wat ek nie kan lees nie, kom by ons staan.
“Dis ... dis nie ons kind hierdie nie,” stamel ek.
“Maar hoe dan?” vra die voorskootvrou.
’n Man wat vir sy kos wag, staan ook nuuskierig nader.
“Hoe bedoel u?” vra die voorskootvrou weer.
Ek bedoel ’n vreemde vrou het ons gevra om die kind vas te hou en toe het sy net verdwyn,” las Rina by.
“Dis ’n mooi storie,” praat die man ongevraagd tussenin. “Die rykes maak almal so. Hulle kom hierheen om kinders aan te neem en dan as daar iets fout is, maak hulle of die kind nie aan hulle behoort nie.”
Mense bondel om ons. ’n Bitsige vrouestem sê: “Ja, hulle het seker uitgefigure die kind is nie honderd persent wit nie en nou probeer hulle die kind teruggee of aan iemand anders afsmeer.” Stemme praat onder mekaar. Hulle kyk ons veragtend aan.
Ek vervies my en spring om om die vrou aan te vat. “Bedaar Sally,” sê Sarel en sit sy arm beskermend om my.
“Maar dis nie waar nie.” Ek is woedend.
“Ek sal die bestuurder gaan roep,” sê die voorskootvrou.
Ons staan terug die gangetjie in om weg te kom van die mense. Ons staar mekaar verdwaas aan. Agter ons hoor ons nog die stemme: “Skandelik … behoort hulle te skaam.”
“Foeitog mamma, die ogies is nou toe; daardie ou vuil doek het haar ongemaklik gehad. Ek wonder of sy nie dalk siek is nie – die gemors in die doek het ’n koorsige reuk gehad,” praat Rina in die stilte tussen ons in met niemand spesifiek nie.
Dis nie lank nie voor ’n skraal man die gangetjie afkom. Hy is gryserig met ’n goueraambril wat in die buislig blits. Hy het ook ’n wit voorskoot aan en sy naamplaatjie sê “John, Manager”.
“Is u die mense met ’n vreemde baba?” vra hy nogal vriendelik.
“Ag ja, Meneer. Ons is in ’n vreeslike verknorsing …” Voor ek kan verder praat, stel hy voor dat ons hom na sy kantoor volg. Ons beur deur die mense agter hom aan. Die klante wil nie vir ons padgee nie. Iemand stamp my aan die skouer en ek kon sweer iemand anders spoeg na my.
“Ekskuus, ekskuus,” sê die bestuurder. Ons volg hom so goed ons kan na agter, verby die toonbank, verby die kombuis waar die kos sissend braai, tot by sy kantoor.
In die hokkie van ’n kantoor is daar ’n klein lessenaar en net twee stoele. Een is voor die lessenaar en ’n kantoorstoel is agter die lessenaar. Ons bly almal stom staan. Die babatjie begin weer huil; Rina sus.
“Sit jy hier, Mevrou,” bied die bestuurder sy kantoorstoel vir Rina aan. “En u kan gerus hier sit.” Ek gaan voor die lessenaar sit en Rina agter die lessenaar. Rina draai die kantoorstoel heen en weer om die kermende baba te bedaar.
“O verskoon my, ek is John, en u is ...?”
Peet stel ons almal voor terwyl Sarel die sakke by my neem en in die hoek neersit.
“Nou,” sê die bestuurder, “begin asseblief van voor af.”
“Vertel jy,” stel ek voor.” Rina begin al sussend stadig te vertel.
Sarel, wat altyd nugter en bedaard dink, stel voor dat ons die polisie bel.
“Ek moet eerlik sê ek het geen idee hoe om hierdie ding te hanteer nie. Dit sal maar die beste wees as ek hulle skakel,” erken die bestuurder en begin bel. Oor die foon verduidelik hy so goed hy kan. Ek knik instemmend soos hy praat. Toe hy klaar gepraat het, sê hy: “Die polisie vra dat u hier moet wag. Kan ek vir u kos bestel? Wat van koffie of tee?”
Nie een van ons wil iets eet of drink nie. Die bestuurder stap uit en kom na ’n paar oomblikke terug met ’n bankie. “Sit hier,” bied hy aan. Sarel en Peet gaan op die bankie sit. “Ek is nou weer terug,” sê die bestuurder. Ons praat nie. Die enigste geluid kom van die babatjie, wat nou saggies kreun.
“Sally, kyk in die sakke of daar nie ’n fopspeen is nie,” sê Rina.
Ek staan op en kyk in die sakke. My hart wil breek oor die ou flentertjies. Ek kry ’n motgevrete kombersie en tussen die miserabele ou speelgoedjies kry ek ’n platgesuigde fopspeen. Ek gee dit aan.
“Moenie te veel aan die goed vat nie. Dalk kan die polisie vingerafdrukke op iets kry,“ sê Peet.
“Ag my liewe hel, wat sal vingerafdrukke help. As die vrou nie voorheen iets verkeerds gedoen het nie, sal die polisie mos nie ’n rekord daarvan hê nie,” kap ek terug. Rina druk die fopspeen in die mondjie. Dit lyk of dit gaan help om die kind stil te hou.
Op daardie oomblik kom die bestuurder binne met ’n skinkbord met koffie en koekies. “Ek sit dit maar hier neer net vir ingeval julle lus kry,” sê hy. Toe is hy weer by die deur uit.
Sarel besluit om koffie te skink. Hy en Peet drink koffie. Ek en Rina sit vir mekaar en kyk terwyl sy die baba draaiend in die stoel sus.
“Die polisie sal dalk iets kan uitsnuffel. Miskien het van die werkers die vrou gesien, of ’n mens weet nooit wat nie,” sê ek.
Na nog ’n gewag kom die bestuurder weer by die deur in, gevolg deur twee vrouekonstabels. Die een polisievrou is kort en die ander een het ’n bos rooi hare. Hulle houding is streng en baie amptelik. Die rooikop vra my om saam te stap en haar te wys waar die vrou gesit het. Die ander een, ’n ou kortetjie, vra die bestuurder of sy die werkers mag ondervra.
Ek loop saam met die rooikop en wys. Die mense wat so teen ons gestamp en gestoot het, is nie meer in die restaurant nie.
Na ek weer by ons groepie aangesluit het en die konstabels gedoen het wat hulle moes, sê die kortetjie: “Jammer, maar ek sal moet vra dat u saam met ons na die polisiestasie kom sodat u verklarings kan aflê.”
Ons groet die bestuurder en volg die polisievroue na hul motor.
Ek en Rina sit agter in die polisiemotor. Voor in die motor praat die vrouens saggies en die polisieradio kraak met onverstaanbare stemme. Rina het nog steeds die kind. Die rooikop wou die kind by Rina neem, maar my suster wou niks weet nie. Die sakke het hulle in ’n ander groot sak verseël. Dis nou al nagdonker buite. Ek kan nie eers onthou hoe laat dit was toe ons die braaihoenderplek ingegaan het nie.
Soos ons ry, val die straatligte nou en dan op Rina se gesig en ek sien trane oor haar wange loop.
Ek vat haar hand. “Toemaar, Rientjes, hulle sal ’n heenkome vir die kind kry,” probeer ek haar gerusstel.
Sarel en Peet volg ons in die Hilux. Wie sou nou kon dink dat dit is hoe ons ons eerste vakansie-aand sou deurbring?
Die hele polisiekantoor ruik na pie en kots. Daar maal ’n paar mense in een hoek en nog ander sit op stoele rond, maar hulle neem ons na ’n ander vertrek met ’n lang tafel waar daar ’n groot muuroorlosie tik. ’n Ander polisieman kom binne saam met die rooikop- polisievrou. Sy stel hom voor as sersant Botha. Hy teken al ons inligting aan – waar ons vandaan kom en waar ons orals gaan reis. Hulle neem my en Rina apart na nog ’n ander kantoor en ondervra ons weer eens. Ons verduidelik die situasie oor en oor. Ek kry die indruk hulle glo ons nie, omdat ons nie veel van die ma kan onthou nie. Alles vat lank.
“Ons sal die baba moet laat ondersoek en …” Die rooikop wou die baba weer by Rina neem.
“Nee moenie; ek sal haar vashou totdat iemand kom wat na haar sal omsien,” prewel Rina en druk die kind styf teen haar vas. ”Oeps, ek dink dis weer tyd vir ’n skoon doek,” sê Rina. “Waar is die sakke? Daar was ’n paar doeke in.”
Die rooikop draai flink om en stap die vertrek uit. Peet en Sarel blaai elkeen lusteloos deur ’n polisietydskrif. Die oorlosie aan die muur tik soos hamerslae in my kop en ons wag vir die skoon doek.
Die konstabel bly weg en bly weg.
Later hoor ek ’n motor voor die deur stilhou en motordeure wat klap. Niemand kom egter by die kantoor se deur in nie. Ek wonder of die polisie gevangenes sommer direk agter na die tronk neem. Wat van as daardie motor die ma in gehad het?
Lank na middernag gaan die agterdeur weer oop. Die kort konstabeltjie stap in, gevolg deur ’n non. Die non is in haar nongewaad. Sy is rond en haar vel is ’n ligbruin. Dalk ’n Nama-afstammeling, dink ek. Die kortetjie stel die non voor. “Dis suster Alisia van die Katolieke Erbarmingsorganisasie. Sy sal die baba se saak hanteer,” sê die konstabel. Die non het ’n pakPampers onder haar arm en sy gee dit vir die polisievrou.
“Ek sal haar nou vat.” Die non het ’n onbekende aksent. Sy neem die kind onhandig by Rina. Wat my verskriklik afsit, is dat toe sy die baba neem, sien ek hoe haar naels pikswart vuil is. Ek wil uitbars in trane toe ek sien hoe verdrietig Rina is.
“O ja, die sersant het ’n briefie in een van die sakke gekry. Die kind se naam is Zelda en sy is ’n maand oud. U kan nou maar gaan,” sê die polisievrou.
“Was daar iets anders in die briefie?” vra Rina.
“Niks, net die naam en geboortedatum; geen van nie.”
Dis duidelik dat daar nog iets anders in die briefie gestaan het, want die konstabel kan nie een van ons in die oë kyk nie.
Ons staan op om te loop. Die mans sug van verligting.
Voor die non met die kleintjie en die konstabel weer agter die deur verdwyn, tree Rina vorentoe en vat die polisievrou aan die arm. “Verskoon my, maar ons is nie van hier nie. Ons sal hierdie kind nooit weer sien nie of weer by hierdie polisiestasie kom nie. Ter wille van ons besorgdheid oor die kind behoort u vir ons te sê wat alles in die briefie gestaan het.”
Die polisievrou lyk ongemaklik. Sy kyk na die non, wat fronsend terugkyk. “Dis nie iets wat ek mag oorvertel nie.”
“Maar ons gaan weg en ons het die kind tot nou toe opgepas. Dink u nie ons behoort te weet wat daar gestaan het nie? Buitendien, as ons in die sakke wou rondkrap, sou ons die briefie self gekry en gelees het.”
Ek het Rina nog nooit so gehoor redeneer nie. Sy verstom my.
Die kleintjie begin weer saggies huil. Ek voel of ek gaan mal word en wil net daar uit.
“Asseblief Rina, los nou uit en kom.”
Ek is seker die kind is koorsig,” sê Rina. “Ek het ’n vermoede dat sy siek is, so uit menslikheid behoort u vir ons alles te vertel,” hou Rina aan.
“Daar was nog ’n briefie toegevou in die een wat die ma, altans wat ons dink die ma, geskryf het.” Die non bly fronsend na die polisievrou kyk. Sy verstaan blykbaar nie wat aangaan nie. Die polisievrou vervolg: “Dit was ’n dokter se diagnose. Die kind … wel ek is jammer om dit te sê … Daar is ’n vermoede dat die kind vigs het.”
Ons is stil van skok.
Die non draai om met die kind wat weer al hoe harder huil en stap die vertrek uit.
“Totsiens,” sê die polisievrou en vir ’n oomblik is al die amptelikheid uit haar uit. Sy vat al twee Rina se hande. “Sterkte Mevrou,” sê sy en verdwyn vinnig agter die non aan. Die deur klap toe.
Rina kyk verslae na die toe deur.
“Kom, my vrou,” sê Peet.
Ons drentel die polisiestasie uit.
Peet hou die Hilux se agterdeur vir Rina oop. Sy klim nie in nie. Sy spring om en hardloop terug na die gebou. Ek sit haar agterna en val amper in die donker oor die randsteen. Ek kry haar aan die arm beet. Peet kom ook by. “Julle ek … ek kan nie die kind so haweloos laat nie. Waar sal sy land … ’n weeshuis?” snik sy.
“My liewe vrou ...” Peet vou haar in sy groot arms toe. “Dis mos nie ons verantwoordelikheid nie. Hulle sal vir haar sorg.”
Rina beur tussen sy arms uit. “Hoe weet ons dit?”
“Kom, my skat, kom klim in. Ons sal gedurig in kontak bly om te hoor wat word,” sê Peet, vat haar om die skouers en stuur haar na die voertuig.
“Asseblief Peet, kan ons haar nie net hou totdat hulle iemand kry wat haar sal aanneem nie?”
“Dink vir jouself, my skat. Dit sal mos nie uitwerk nie, en wat dan nou van ons vakansie?”
Ons klim in en ry die nag in. Ons praat nie. ’n Weerlose siek babadogtertjie wat ons agtergelaat het … en in wie se sorg? wonder ek. Dit voel of iets oor my hele lyf kriewel.
Nie een van ons is meer honger of dors nie en niemand wil slaap nie.
“Sal ons maar aanstoot Etosha toe?” vra Sarel.
“Ek wil eers gaan stort en daardie reuk en alles van my lyf af kry. Wat van jou, Sus?”
Rina stap gedwee saam met my. “Ons is almal geraak deur die kind, jy weet, maar soos Peet sê … ons sal haar vordering volg,” probeer ek Rina en meestal myself gerusstel soos ons na ons kamers stap. Ek laat die warm water oor my lyf spoel en spoel, ek was en was. Ek wil die hele gebeurtenis van my afwas. Ek borsel my tande en gorrel en gorrel om die bitter smaak uit my mond te kry.
“Ag Here,” bid ek. “Gee tog dat die kind se moeder êrens vertraag was en dat sy óf by die‘take-away’ óf by die polisiestasie na haar kind sal gaan soek.”
Ek trek my duur nuwe kampklere aan en dink aan die babatjie se ou flentertjies.
Sarel en Peet dra weer die bagasie uit en laai dit in die Hilux in.
Ons betaal by die nagklerk, al het ons nie oornag nie.
Ons ry by die hek uit en voor die braaihoenderplek verby. Dis nou alles donker daar binne. Ek gril. Sarel ry om die hoek. Ek sien iets geels in die struike naby die straatlig. Ek bly omkyk. Het ek dit gesien of het ek my dit verbeel?

