Niel le Roux vertel hoe die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans brûe bou

  • 0

Niel le Roux is die nuwe hoof uitvoerende beampte van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Hy vertel vir Naomi Meyer van hom en van die pad vorentoe.

Hallo Niel, geluk met die aandstelling as HUB van die SBA. Vertel asb vir ons lesers iets van jou.

Dankie vir gelukwensing; ek waardeer dit opreg.

Ek het my loopbaan begin as ’n drama- en Afrikaans-onderwyser by die Wynberg Senior Sekondêre Skool, maak ’n draai by die ATKV as organiseerder van die Tienertoneelkompetisie, sluit toe by Dalro aan en hanteer al die opvoerregte en werk oa ten nouste saam met skole, gee dramaklasse by die destydse Parow Kollege (nou Northlink), terwyl ek ook ’n gastehuis op Vermont besit en bestuur en aldaar op Onrusrivier die Kalfiefees inisieer en organiseer alvorens ek die Suidoosterfees se uitvoerende hoof word vir elf jaar lank. Ek ontvang toekennings van die voormalige Technikon Pretoria, waar ek my doktorsgraad verwerf het, die Overstrand Munisipaliteit, die KKNK, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, en my alma mater, Paul Roos Gimnasium, in teaterontwikkeling, leierskap en kultuurbevordering.

Ons ken jou én die Stigting al lankal by LitNet, maar vertel asseblief vir ons lesers nog van hierdie organisasie en wat jou na die pos aangetrek het.

Soos jy uit my agtergrond hier bo kan sien, is daar ’n deurlopende opvoedings- en bemagtigingsaspek, want selfs met die Suidoosterfees het ek interns in kunstebestuur aangeneem wat daarna uitstekende relevante poste bekom het. Ek het dus ’n natuurlike aanklank by die SBA se ontwikkelingsaksies gevind en was ook in vennootskap met hulle tydens my Suidoosterfees-tydperk.

Waarmee was die SBA besig, en waarmee is hulle op die oomblik besig?

Die SBA, wat in 1992 gestig is, het ten doel om sprekers van Afrikaans se uitdrukkingsvermoë, lewensvaardighede en selfverwesenliking in Afrikaans te bevorder.

Voorskoolse projekte sluit die Zoë-leesprogram in die Wes- en Noord-Kaap in.

Leesfasiliteerders word uit die SBA Dagsorgprojek gekies en lees stories by kleuter- en primêre skole voor. Vriende en bure van die leesfasiliteerders word as leesmammas betrek wat aan die jongetjies in die gemeenskap in Afrikaans vir groot genot voorlees.

Leesingrypingsprogramme op intermediêre vlak bestaan uit leesontwikkelingsklasse waar afgetrede onderwysers by behoeftige laerskole in skooltyd leesontwikkeling bevorder. ’n Skoolbiblioteekprojek is ook by Ebenezer Primêr van stapel gestuur, omdat baie leerders slegs deur ’n biblioteek toegang tot opvoedkundige materiaal verkry.

Onderwyserslypskole word gereeld aangebied om gehalte-Afrikaansonderrig te bevorder, terwyl daar ook elke maand in Die Burger ’n bylaag verskyn getiteld Funda!, wat stap-vir-stap-riglyne tov leesontwikkeling verskaf. Hierdie uitstekende handleiding word gratis aan uitgesoekte laerskole uitgedeel en is ’n projek wat al 10 jaar bestaan.

Die gewilde spel-en-vasvra-kompetisie, Korrek!, is nie net ingestel vir gesonde kompetisiedeelname nie, maar het ek ook ten doel om geletterdheid en vernuwende denke te bevorder.

Jaarliks bied die SBA ook ’n letterkunde-ondersteuningsimposium vir Afrikaansonderwysers aan in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en verskeie universiteite.

’n Omvattende volwassene-geletterdheid-program vir meestal dames word ook aangebied en is veral gefokus op vroeë ontwikkeling van kinders. Terselfdertyd bestaan daar ook ’n wiskundekonferensie vir plattelandse wiskunde-onderwysers in ’n poging om die wiskundestandaard in skole te verhoog.

In wese hou die SBA hom dus besig met die skep van geleenthede om nie net denke te verruim nie, maar ook brûe in die Afrikaanse gemeenskap te bou.

Hoe lyk die SBA se toekomsvisie en -projekte?

Volhoubaarheid en uitbreiding van gemelde suksesvolle projekte word natuurlik vooropgestel. Ek beplan om ’n projek van stapel te stuur in gemeenskappe en skole waar Afrikaans as addisionele taal of selfs glad nie gebesig word nie. Ek vind dat sekuriteitswagte, motoroppassers, winkelassistente en skoliere graag ’n woord of twee met jou praat wanneer hulle agterkom jy is Afrikaans. Ons kan baie doen om basiese Afrikaans in spel en praat alhier te bevorder. Dan is daar beslis ’n behoefte aan finansiële geletterdheid, veral as dit by persoonlike banksake kom, met begrippe soos rente, heffings, beleggings, dividende, opbrengste ens.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top