Nie van hoorsê nie, Here deur Frits Gaum

  • 0

Titel: Nie van hoorsê nie, Here
Skrywer: Frits Gaum
Uitgewer: Lux Verb
ISBN: 9780796316677

 

Koop Nie van hoorsê nie, Here by Kalahari.com.

 

 

Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.
– Job 42:5, Die Bybel in Afrikaans, 1953-vertaling.

"Die vorige agt hoofstukke," skryf Frits Gaum aan die einde van Nie van hoorsê nie, Here,"is meer as 38 jaar gelede geskryf. Tussen toe en nou het daar baie water in die see geloop … en baie dinge in my lewe gebeur. Ek het intussen 'n 'ou' man geword, iemand wat kan terugkyk op 'n veelbewoë lewe. Daar het baie goeie dinge met my gebeur, en ook 'n klomp minder goeie dinge. Daar was vreugdes, ook hartseer. Soos dit maar met ons almal gaan. Toe ek Nie van hoorsê nie, Here, onlangs vir die eerste keer in baie jare weer van voor tot agter deurlees, het 'n paar vrae my besig gehou. Soos: Kan ek my nog vereenselwig met alles wat ek destyds geskryf het? En: Het ek my gehou aan die beloftes wat ek toe gemaak het? En: Het ek die beste gemaak van die dekades wat ek kon lewe nadat ek as jong man op die grens van die dood beland het?"

 

Twee van die drie vrae is persoonlik van aard. Die vraag wat kweekskoolstudente, gelowiges in krisis, teoloë, twyfelaars, bidders en niebidders, geleerd en ongeleerd raak, is egter die een oor die blywende geldigheid van die gevolgtrekkings oor gebed, siekte, lewe en dood, en veral oor die God van die Bybel waartoe die skrywer gekom het in 'n era toe die beleëringsgeskut teen bepaalde aspekte van die Christelike geloof hier in Suid-Afrika nog nie heeltemal so gesofistikeerd soos nou was nie.

Wanneer 'n ou man van 'n plattelandse dorp tydens 'n radio-inbelprogram getuig dat hy die God van die Skrif as die Almagtige en die Bybel as sy lewensanker beleef het toe hy met die dood self geworstel het, word die deursnee-luisteraar 'n resensent binne die raamwerk van sy persoonlike spirituele styl.

Dan, in die era van die bevraagtekening van die Skrif en geloof in God, laat 'n swaargewig-teoloog sy stem oor dieselfde sake hoor. 'n Swaargewig is Frits Gaum inderdaad: hy was tot 2004 hoofredakteur van die NG Kerk se kerklike tydskrifte, vanaf 1995 tot 1999 moderator van die Wes- en Suid-Kaapse Sinode, opsteller van die NG Kerk se belydenis oor apartheid en hoofredakteur van die Christelike Kernensiklopedie (wenner van die Pieter van Drimmelen-medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2009). Boeke uit sy pen is oa Praat verby grense (saam en met sy teoloog-seun, Laurie, in gesprek oor die kerklike leer aangaande gay-wees) en Fluit-fluit, die kerk is uit? (in 2012 met die Andrew Murray-prys bekroon). In Nie van hoorsê nie, Here praat hy beredeneerd en bevatlik, ondersoekend, diepsinnig en opnuut maskerloos eerlik verby grense.

Vir die duiwelsvurkheinings van vroomheid sal jy tevergeefs in Nie van hoorsê nie, Here soek. So ook vir die bolwerke van akademies-teologiese terminologie of die kortpaaie van kategories aangehaalde Skrifbeloftes en -bemoediging.

Onsekerheid oor die uitkoms van sy siekte met behandeling het Frits Gaum voor 'n gelooftoets gestel. Hy het inwaarts begin kyk: Hou die beeld wat hy (en ek en jy) na buite vertoon, hoegenaamd verband met wat binne-in hom/ons aan die gang is? Ken ons onsself? Wat bring siekte, trauma, groot krisisse in ons lewe na die oppervlak? Hy haal 'n tronkgedig van Dietrich Bonhoeffer aan, want "so is ons mos, ons mense. Ons met ons geloof en ons twyfel, ons antwoorde en ons vrae, ons hoop en ons wanhoop. Ons wat dit so selde kan bekostig om nié te huigel nie, om die maskers af te ruk en net onsself te wees, wat dikwels nie eens teenoor onsself wil of durf erken wie ons regtig, régtig is nie" (53, 54).

Wie is ek? Die een of die ander?
Is ek miskien beurtelings die een en die ander,
of dalk al twee gelyk?
'n Huigelaar voor die mense
en in myself 'n veragtelike, huilende swakkeling?
Of is iets in my nog soos 'n oorwonne leër
wat wanordelik van 'n oorwinning wegvlug wat
reeds behaal is?

Wie is ek?
Ek is die speelbal van my
eensame vrae.
Wie ek ook al is, Ú ken my.
Ek behoort aan U, my God! (Vrye vertaling, Frits Gaum)

Frits Gaum werk die ervarings en gevolgtrekkings, die raaisels en die keuses, die enkele gelukkige uitkomste (Josef van die Bybel het dit goed getref!) en die volharding van 'n lang ry geloofsmense stelselmatig deur. Hulle almal was êrens op hulle lewensreis na aan die spiritueel-emosionele plek waar hy hom tydens die skryf van Nie van hoorsê nie, Here bevind het: Bonhoeffer; Josef van die Bybel; Totius (Bybelvertaler en Psalmberymer); Johannes die Doper vanuit die tronk, wat wag op die voltrekking van die doodsvonnis; Andrew Murray, wie se standbeeld niemand in Wellington kan miskyk nie; Jakob, wat met God in die Jabbok-drif geworstel het; Elizabeth Kübler-Ross; en Paulus, die apostel wat opeens, in 'n klimaat van vaagheid oor die lewe na die dood, onverskrokke oor lewe en dood skryf: "Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste" (Fil 1:21, 23).

Hy skryf oor Dawid, wat eerlik met God was; oor die profeet Jesaja, wat die doodstyding aan koning Hiskia moet gaan oordra; oor dié sterwende koning wat 'n gevallestudie vir Kübler-Ross en Kie sou kon gewees het. Maar, vra die skrywer, sê nou maar God het al klaar besluit? As my lot beseël is? Aan die ander kant: Hiskia se lot was tog ook beseël – die profeet moes net die boodskap van die Allerhoogste God gaan aflewer, soos wat Jona die Godsbesluit aan die inwoners van Nineve moes gaan oordra. Sal die "onveranderlike'' God in antwoord op die mens se smeekgebede in siekte en krisis van besluit verander?

Die skrywer was in sy dertigs toe hy persoonlik in eie lyf en gees met die werklikheid van die dood gekonfronteer is. Hy het meer beleef as wat hy ooit sou kon voorsien het.

Daar was 'n stroping van die persepsies wat 'n mens het terwyl die doodsengel nog net by die bure aanklop: “'n Mens kan mos nie jou deur sluit en uitstap nie. 'n Mens is mos so te sê onmisbaar ... Maar die volgende paar uur bring ook wat dit betref, ontnugtering. Ek moet leer dat ander mense in staat is om al die dinge te doen waarmee ek net myself wou vertrou. Ek moet leer dat dit heeltemal moontlik is om in 'n kort aand my sake te reël en die kantoordeur te sluit en uit te stap. 'n Mens is nie regtig onmisbaar nie ..."

Sy hart het gereeld net betyds tot bedaring gekom: "En daarom hoef ek my glad nie te bekommer oor die vraag wat God se besluit in my geval is nie. Hoe sou ek dit in elk geval te wete kon kom? Al wat ek moet onthou, is dat God my Vader is, dat Hy my stem hoor, dat Hy my liefhet, dat Hy my wil help."

Daar was versigtige geloof:

Daarom kan ek bid en bid, my opnuut aan Hom oorgee, smeek dat Hy my genadig moet wees. En wie weet ... Ek gryp na die “wie weet” van God se genade, beur orent teen die vastigheid wat hierdie woorde gee. En die hoop kry woonplek in my hart. Die hoop dat enigiets moontlik is, want by God is niks – hoor jy? regtig niks – onmoontlik nie.

Ek het gesmag na die hulp van die Here,
Hy het na my toe afgebuig
En my hulpgeroep gehoor.

Byna vier dekades later kies die Gaums se middelkind, Laurie, om koelkop te bly in die uitdaging om longkanker te oorkom. As pa kyk die skrywer krities na wat hy geskryf het toe hy self so siek was. “Dan onthou jy so helder asof dit gister was wat alles met jou gebeur het en waarlangs jou kronkelpad geloop het,” skryf hy in die slotparagrawe van die heruitgawe van Nie van hoorsê nie, Here. “Dan onthou jy jou benoudheid. En jou vreugdes. En jou beloftes.”

Het hierdie besinningsboek oor lewe en dood die toets van die tyd inderdaad so goed deurstaan dat dit 'n herdruk regverdig het? “'Your classic,’ sê Italo Calvino, ‘is a book to which you cannot remain indifferent, and which helps you define yourself in relation or even in opposition to it.’”1

Die herlees van Nie van hoorsê nie, Here het aan my weer dieselfde spirituele ervaring gebied as destyds by die eerste kennismaking daarmee, wat dit 'n plek tussen die “klassieke boeke in my lewe” laat verdien. Soos Italo Calvino tereg sê: “A classic is a book which with each rereading offers as much of a sense of discovery as the first reading.”

 

 

1 Italo Calvino’s 14 Definitions of What Makes a Classic by Maria Popova..
Bron: italo-calvinos-14-definitions-of-a-classic

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top