wel die lompste mensvlek hier op die landkaart ’n stad
na soveel gestroop onder in die suur gange, vuurwerk, myn op myn, volgens plan vir mag en gemak:
stad – spesiale metaalstad met sy prikkelgod op die plato
maar vanmiddag ’n vrouefiguur op ’n koue hoek geïsoleer
in niemand anders se midde alleen is dit sy
haar voormiddeljare maak oop op haar gesig
in die kil wintersonnestilstandlig
waar die verkeer aanmekaar kar vir kar dikker word in die begeleide
peristalse van hierdie dagswang nou voor die rooireëloog van ’n robot tot stop
gebied
en met haar afarm kom bedel van die verskanstes binne die karre bo-arm,
voorarm met elmboog en hand vir vingers duidelik
soos van buitekant gesien op ’n vroeër plek en tyd in haar anatomiese geskiedenis
by die bruin sand langs die Luvuarivier
geampu
teer hou sy die dun geweefde doek vas om haar lyf net bo haar linkerheup
kaalvoete skarnier so meganies met skeenbene
sy kom met haar definitiewe donkerte van die middel van die kontinent
naby een van die skadelike mere
dit is sentraal-Afrika, maar hoe sentraal!
eintlik, eintlik bloot op niemand se papier
(nie groter as ’n los graspol is die klas wat papier koop in Afrika)
vir die res – ja, net nood se wetmatigheid onbeholpe sentrifugaal:
daarom haar stryd vandag by die straatkruising in die openbaar
volgens die stadskaart staan sy nou in Rosebank
dit is nie die hele Jhb nie


Kommentaar
Salut.