
Titel: Nicky & Lou: 46 Stories
Outeur: Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-5572-4
Bladsye: 208
Prys: R185
Klik hier om Nicky & Lou: 46 Stories te koop by Kalahari.com.
Wanneer iemand so snaaks is soos Nataniël, vergeet jy soms wat ’n goeie waarnemer hy is. Om nie te praat van sy skryftalent nie. Nicky & Lou herinner aan albei dié feite.
Hierdie versameling van 46 verhale, 31 in Afrikaans en die res in Engels, is vertellings, voorheen ongepubliseer, uit sommige van sy vertonings tussen 2008 en 2011. Dis ’n absolute moet-lees.
Nataniël se stories is nie almal skreeusnaaks nie, baie dikwels lag jy met ’n traan. Veral wanneer hy oor identiteit skryf; die mens se soeke daarna en die uiteindelike aanvaarding van die self. Hy skryf ook onder meer oor hoe die ontdekking van hoë hakke sy lewe verander het, hoe dit is om “uit” te voel, die impak wat jou naam op jou lewe het en die strewe wat sommige van ons soms het om iemand anders van ’n ander plek te wil wees.
Selfs plek – stad of platteland – kry ’n beurt. Soms hoort jy net nie daar nie, skryf hy in “Du Preez”: “[J]ou geboorteplek is nie altyd vriendelik met jou nie, dis nie altyd die plek waar jou skatte wag nie, en dan moet jy loop soek totdat jy kom waar jy hoort …”
Ook gay mense soek en vind hul identiteit. Soos Nicky, ’n pakdraende rekenmeester, wat ’n Speedo wou gehad het “to attract his own kind”. Of die polisievrou Eloise van Bron “wie se meisie ook in die polisie is”. Die leser besef algaande: jy kan gelukkig en waarlik vry wees net indien jy jouself is. Ook: “When you are prepared to die for something, it means you love that thing.”
Soms lag jy hardop, maar wanneer die eintlike boodskap van die verskillende vertellinge tot jou deurdring, dink jy lank daaroor na. Soos oor die effek van tegnologie. In “Microwave”stel Nataniël dit so: “It’s the same with cell phones and TV-sets; when things that should make life better start controlling it, the fault lies with those who use them.” In die verhaal “Hout en vis”belig hy weer dié kwessie: “Terwyl berge sjokolade en meel saampak in en om boude en bobene, word daar vir ure rondgesit met rekenaars vol blogs en ledigheid. Terwyl varkvet en margarien om harte saampak en are blokkeer, word daar soos marmotjies geklou aan selfone en kaf gebabbel. Vir jare word daar gestaar na twyfelagtige televisie terwyl breine verkalk, versteen en verkrummel.”
Oor mense wat jy verplig voel om nou en dan te bel, het die skrywer dié onverwagse troos: “As jy nie lus is vir iemand nie, as jy nie aanklank vind nie, as jy nie tyd het of die behoefte nie, laat hom gaan, iemand anders sal hom bel. Jou gewete kan jou doodmaak, jou verpligtinge ook. Gee jou tyd aan dies wat lê in jou hart. Dis oorgenoeg.”
In die verhaal Spoeg kom Nataniël tot dié slotsom: “[As] jy iets wil red, jou siel, jou hart, jou verhouding, jou huwelik, jou familie, jou land of die aarde, dís wat jy doen, geen verskonings, geen ompaaie, geen debatte, geen geduld, jy staan op en jy sê, Genoeg is genoeg.”
In Voëltjie is daar weer ’n belangrike boodskap vir die eeu waarin ons leef: “Jy moet uitvind wat jou jaag.”
Die definisie van persepsie in die verhaal met juis dié naam, is so raak: “Persepsie is die unieke slotsom of stilte in ’n persoon se brein nadat hy iets gesien of beleef het.” Dan vra Nataniël ook: “Hoe is dit moontlik dat meer as een asemhalende wese na dieselfde ding kan kyk en verskillende goed kan sien?”
Alles stof tot nadenke.
Kos is ook ’n tema. Wie kan ’n Nataniël-storie weerstaan wat begin met: “Koek en skoene bly nou maar eenmaal twee van die grootste vreugdes op aarde.” En kort daarna lees jy van geure soos sjokolade, kaneel en gemmer, dat “’n hoer in ’n harem” nie met groter geluk kan ontwaak nie. Oor hoenderpastei skryf hy: “Groot of klein, rond of reghoekig, hierdie was die skatkis van my klein wêreld, die hoogtepunt van enige geleentheid, wagtend onder ’n breekbare kors.”
Die beskrywings van karakters sorg weer en weer vir groot pret. Mens weet presiés hoe lyk ’n man met “liggrys sakemanhare en vergaderingskoene”. Of die “groot gees van ’n klein dorp”: “Hierdie tipe vrou is gewoonlik in beheer van die meeste organisasies in haar omgewing, haar kinders het reeds die huis verlaat, haar rolmodel is Jackie Kennedy, sy praat kort sinne, loop altyd regop en verskyn net in swart breidrag met ’n enkelstring pêrels en ’n Krugerpond. Haar van begin gewoonlik met ’n K, soos Kessler, Keuler of Kent.”
Mens kan elke karakter visualiseer. Nataniël se “ma se niggie” was byvoorbeeld so groot, “alles aan haar was aan die beweeg”, van boarms tot boude. “Dit het gelyk of skoolkinders haar gemaak het uit waterbomme.” Ene tannie Pauline, daarenteen, was geklee in “drie lae seegroen kant”, sy het gelyk “soos mos op ’n grafsteen”. Mev Winter was weer “dekades voor Botox al beroof van ’n gesigsuitdrukking”. Maar tannie Naudé se haarstyl vat die (beeldende) koek:Haar homeperm “het presies gelyk soos wanneer ’n pastei se boonste deeg te min of te los was en dan in die oond gekrimp het tot in die middel.”
Deurgaans is beskrywings en vergelykings skitterend en snaaks: oom Siebert se aanhoudende gekeelskoonmaak het geklink soos “iets tussen ’n hoes, ’n paringsgrom en ’n doodskreet”. Daardie onaansienlike, maar gemaklike skoene– julle weet na watter handelsnaam ek verwys – word só beskryf: “[F]eitlik almal slof rond in plastiekskoene, vormlose goed vol gate wat klou soos bont kase aan hartseer enkels.” Dié skoene gee mens boonop “dinosourusvoete”, skryf Nataniël.
Stories oor familielede (wares en sekerlik ook fiktiewes) is kostelik. Daar is niggies en kleinneefs, tannies en ooms … mense met name soos tannie Mol, Holde-Marie, Magda-Magda, Du Preez du Preez. Du Preez se lippe was glo so styf, “dis soos twee uitveërs op soek na ’n spelfout. Niks is goed nie.”
In een verhaal vertel Nataniël dat almal in sy familie graag stories opwindend maak – oftewel by die waarheid las. Hierdie verskynsel is juis dit wat dié skrywer se vertellinge so lekker, so leesbaar en soms so absurd maak. Een van sy vroulike karakters het byvoorbeeld sulke reuse-bobene dat haar sykouse teen mekaar skuur wanneer sy loop. Die wrywing veroorsaak dat sy magneties word en objekte aantrek. Selfs ’n hamster en ’n radio het al onder haar rok uitgeval!
Oordrywing is gewis een van Nataniël se sterkpunte. Papierborde walg hom byvoorbeeld só dat dit “die val van die beskawing” ingelui het. In die verhaal “Geen skottelgoed”het hy dit oor “kortpadmense wat alle skoonheid of vreugde of smake prysgee, solank daar net nie skottelgoed of wasgoed is nie. Uiteindelik is daar geen lewe nie, net beweging.”
Soms gee hy lewelose voorwerpe lewe: “Tannie Mona-Anne en haar borsspeld sit langsaan en snak na asem.”
Die inleiding van elke storie trek die leser in. Wie kan ’n vertelling weerstaan wat begin met: “Daar is ’n verskynsel in ons familie waaroor niemand rêrig praat nie …”; of: “Ek het nou die dag weer in die bad gesit en kyk, ek het bitter min letsels vir iemand wat as jong kind en tiener ten minste een keer per dag flou geval het.”
Dis veral in Afrikaans dat Nataniël op sy beste is.
Net twee elemente kon dalk meer gepas gewees het. Die kleurryke bladontwerp deur Janhendrik Burger en Ronel van Heerden is treffend, so met ’n gegrimeerde Nataniël en al. Maar mens wonder of dit werk. Ek het gedink ek tel ’n kinderboek op. Die titel hinder ook. Dis bloot ’n samestelling van die titels van twee (Engelse) verhale; effens niksseggend en dis boonop nie die sterkste verhale in die bundel nie.
Maar dié titseltjie kritiek ten spyt, Nicky & Lou is ’n moet-hê boek en ook die perfekte geskenk.
Nataniël is gewis ’n meesterverteller. Wanneer jy dié bundel lees, verbeel jou gerus dat hy dit in sy eie stem vertel. Só sal jy die stories nog meer geniet.
Riette Rust is ’n joernalis en skrywer. Haar eerste boek, Lang bene & Lipstiek: Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses, het verlede jaar by Naledi verskyn. Haar kortverhaaldebuut, ’n Lyf onthou, verskyn in Maart 2012 by Protea Boekhuis.

