Taalpolitiek gaan onder die mode gebuk. Tans is dit in die mode by Afrikaanse taalindoenas om ANC-voorbokke soos Mathews Phosa en Neville Alexander nader te trek en hande te vat wanneer oor Afrikaans besin word. Op hierdie manier word "inklusiwiteit" verkry.
Onlangs het Alexander by 'n Afrikaanse byeenkoms met die naam Roots opgetree en die gehoor in Engels oor Afrikaans toegespreek. Dit dui nie juis op lojaliteit jeens Afrikaans nie. Charl-Pierre Naude het op SêNet geskryf dat hy die toespraak (die teks is op LitNet beskikbaar) uitstekend vind. Hy het dit as 'n (Engelse) "grondwet" vir verdere besinning oor Suid-Afrikanerskap en Afrikaans aanbeveel.
Alexander wil hê dat Afrikaans tot 'n instrument vir bevryding, toenadering, versoening en eenheid omvorm moet word. Afrikaans sal glo 'n stralekrans kan dra as dit Alexander se politiek dien. Die taal sal verryk word as dit gedemokratiseer, meer verteenwoordigend van die variante en meer soepel gemaak word. Hy vereis die herstandaardisering van Afrikaans.
Wat is dan volgens Alexander fout met die huidige Standaardafrikaans? Hy het dit teen "the racialised standard of the Afrikaans language" wat glo uit Afrikaner-nasionalisme spruit. Die Afrikaanssprekende wittes "fabricated it [Afrikaans] as a deliberately racially exclusive way of speaking, writing, feeling, thinking and communicating."
Die oorsprong hiervan gaan haal hy by die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat drie taalvariante aan die hand van drie klasse in die samelewing onderskei het: die taal van die here (amptenare), boere (burgers) en arbeiders. Die here het waarskynlik veeleer Nederlands gepraat en die arbeiders die kombuistaal wat dikwels as die begin van Afrikaans genoem word. Alexander se grief is dat die GRA die boere se taal as uitgangspunt vir standaardisering gekies het en nie die van die arbeiders nie. Waarom hou hy nie hiervan nie? Omdat hy sonder meer aanvaar dat die boere wit en die arbeiders nie-wit was. "It is indisputable, therefore, that at the outset the standard was deliberately racialised."
Op grond van hierdie rasoorweging ag Alexander die huidige Standaardafrikaans verwerplik. Maar wat die GRA met Afrikaans gedoen het, is wesenlik dieselfde as wat met iedere gestandaardiseerde taal gebeur het. Hoe is/word die swart Afrika-tale gestandaardiseer? Elitistiese elemente soos sendelinge en akademici begin met die optekening van die spreektaal en probeer om variante te harmonieer of uit te skakel. Ander elitistiese elemente soos onderwysers, joernaliste, radio-omroepers en woordeboekmakers bestendig die standaardisering.
Wie gaan Afrikaans herstandaardiseer as Alexander sy ideaal kan verwesenlik? Elitistiese elemente soos Alexander en ander akademici. Afrikaner-nasionalisme se invloed op Afrikaans word as verwerplik voorgestel, maar Alexander & kie as herstandaardiseerders van Afrikaans sal myns insiens deurtrek van ANC-politiek en swart mag wees. My persepsie is dat hulle veeleer daardie politiek as Afrikaans sal dien.
Ek het begrip daarvoor as Alexander dit teen die adel (edelmanne en -vroue) het wat bloot op grond van afkomsstatus in 'n samelewing verkry. As iemand egter op grond van prestasie tot die adelstand verhef word, behoort die beswaar weg te val. Die elite is die boonste laag van die samelewing en as hulle hierdie status op grond van verdienste verwerf het, behoort hulle gerespekteer te word. Dit is die elite wat die kitaar slaan wanneer 'n taal gestandaardiseer word. Dit gebeur dwarsoor die wêreld en is dus nie eie aan kolonialisme en apartheid nie. Leeglêers en lede van die arbeidersklas, dus die gepeupel, kan deur inspanning en prestasie hulleself tot die elite verhef. Dan kan hulle meehelp aan die standaardisering van hulle taal.
Daar behoort nie beswaar teen die bestaan van omgangstale, streektale en dialekte as sodanig te wees nie. Annerlike Afrikaans is 'n werklikheid, maar dit alleen is nie voldoende vir erkenning as Standaardafrikaans nie. As die GRA gepoog het om kombuis- of arbeiderstaal tot Standaardafrikaans te verhef en sy visie in die omgangstale laat versand het, het Afrikaans kwalik (so gou) die volwaardige akademiese en wetenskapstaal geword wat dit al dekades lank is. Arbeiders het nie 'n behoefte aan 'n taal se hoër funksies nie.
Alexander misbruik die benaming Afrikaans om wit Afrikaanssprekendes ot Afrikane en Afrika te probeer reduseer. Afrikaans is wesenlik 'n Europese taal. Dit blyk duidelik as 'n Afrikaanse teks naas 'n Nederlandse en veral 'n Vlaamse teks geplaas word. Seker minder as vyf persent van die woordeskat kan na nie-wittes soos die Khoi en slawe herlei word. Nuwe Afrikaanse woorde word geskep deur Afrikaanssprekendes se vindingrykheid, bv eie kreatiwiteit of ontlening aan ander tale, bv Nederlands, Duits en Engels.
Maar daar is taalkundig geen voortreflikheid aanwesig as 'n Engelse woord in Afrikaans gebruik word terwyl daar reeds 'n Afrikaanse woord daarvoor bestaan of een geskep kan word nie. In hierdie verband kan Alexander gerus 'n slag krities besin oor die gehalte van baie Kaapstadse bruines se "Afrikaans". Dit kan nie agbare Standaardafrikaans word nie.
Bruines soos Hein Willemse en Nico Koopman het klaarblyklik geen beswaar teen die versnelde/grootskaalse kreolisering/vermenging van Afrikaans nie. Dit is waarskynlik ook die standpunt van Alexander. Ek het dit spesifiek teen die matelose besoedeling van Afrikaans met Engelse woorde. Dit word as wenslik/toelaatbaar geag omdat daar by baie ontwikkelde bruines geen/min Afrikaanse taaltrots is. Onderliggend is die feit dat bloedvermenging as rolmodel vir taalvermenging dien. Soos rassuiwerheid, is taalsuiwerheid vir diesulkes taboe. (Maar hoekom dan nie ook eis dat Suid-Afrikaanse Engels amptelik hergestandaardiseer en op grootskaal gekreoliseer word nie?) Daar is natuurlik ook 'n politieke motief: om af te breek aan, of te mors met, wat die blankes tot stand gebring het; om veral Afrikaanssprekende wittes se prestasies te vertrap. Met ANC-aanmoediging word selfs verder gegaan: Afrika met sy ellendes word tot maatstaf vir Suid-Afrika verhef.
Ek verkies dat die naam van my taal, Afrikaans, verander word, bv na Suiders/die Suidertaal. Ook dat die naam van hierdie land, Suid-Afrika, verander word, bv na Suiderland. Albei benamings is geografies-aanduidend, maar die negatiewe Afrika-assosiasies word vermy. Maar ek besef dat hierdie land daagliks al hoe meer soos 'n tipiese Afrika-land word. Die grondslag waarop Suid-Afrika deesdae funksioneer, is foutief en betreurenswaardig. Kwaliteit word geminag, insluitende die gehalte van Standaardafrikaans. Dit is kulturele sabotasie.
Johannes Comestor

