Neville Alexander Gedenklesing: Gee erkenning aan Kaaps as moedertaal

  • 21

michaellecordeur650

"Dit sal eendag weer beter gaan, maar eers gaan dit baie slegter gaan. Ons moet ons daarvoor staal. Dit gaan nie ’n maklike reis wees nie." Dit was Michael le Cordeur se boodskap oor die situasie by universiteite tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Erfenisdagviering.

Le Cordeur het vanjaar die Neville Alexander Gedenklesing by dié geleentheid gelewer.

"Neville het homself geïdentifiseer as ’n revolusionêre sosialis wat kon identifiseer met die teorie van die Russiese Marxis Leon Trotski. Hy sou byvoorbeeld die heersende studente-onrus bloot verklaar het in terme van Trotski se teorie van ewigdurende revolusie."

Die lesing het gefokus op Kaaps, met erkenning aan Adam Small. Alexander en Small was tydgenote en beide sou vanjaar 80 geword het. "Die een, Neville Alexander, ’n sosialis; die ander een, Adam Small, ’n liberalis." Volgens Le Cordeur het beide Alexander en Small besef dat jy nie ’n land se toekoms op een taal kan bou nie, maar wel op veeltaligheid. Alexander het na 1994 bekendheid verwerf as voorstander van veeltaligheid en veral moedertaalonderrig, waarin hy pionierswerk op die gebied van taalbeleidontwikkeling gedoen het.

Le Cordeur het ’n pleidooi gelewer dat Kaaps, die huistaal van 3,4 miljoen mense op die Kaapse Vlakte, ook in die onderwys erkenning moet kry. "As ons sê – en dit word wêreldwyd erken – dat jou moedertaal die mees effektiewe manier van leer is; en as ons sê dit geld vir Engels en vir Afrikaans en vir Duits en ... en ... dan geld dit ook vir Kaaps." Wanneer Kaapssprekende kinders op skool kom, kom hulle agter dat daar ’n ander taal – Standaardafrikaans – gepraat word. ’n Taal wat hulle nie ken nie. Hulle moet ’n ander taal aanleer om in skool te gaan. Ook die storieboeke is tekste waarmee die Kaapssprekendes nie kan identifiseer nie. Daar is nou versoeke dat Kaaps deel gemaak moet word van die skoolkurrikulum, en in hierdie erkenning van Kaaps sien Le Cordeur ’n toekoms vir Afrikaans. Volgens Le Cordeur sal die insluiting van Kaaps in ooreenstemming wees met die riglyne van die CAPS-kurrikulum, aangesien dit sal bydra tot ’n waardering van inheemse-kennis-sisteme. "Skoolhandboeke moet ’n meer verteenwoordigende beeld uitstraal na buite, en die Kaapse variëteit kan nie langer ignoreer word nie. Ons kan nie langer sê 'jou taal is onbeskaaf' nie."

Volgens Le Cordeur het Adam Small van Kaaps ’n literêre taal gemaak, "maar in dieselfde asem was dit ook die taal gewees waarin hy die pyn van sy mense kon verwoord". In die woorde van Adam Small: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, uitleef.” Die wiel het reeds begin draai en vandag is Adam Small se werke in die skool; dit word opgevoer in teaters. Skrywers soos Peter Snyders, Marius Titus, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer se werk word in skole behandel, danksy die baanbrekerswerk van Adam Small.

Small het in sy jare by UWK van Afrikaans ’n taal van die struggle gemaak. Hy kon maklik sy rug op Afrikaans gedraai het, maar hy het nie. Adam Small het egter ook van Afrikaans die taal van versoening gemaak. "As Nelson Mandela, Neville Alexander en Adam Small kon vergewe, wie is die kleinlike mense onder ons wat nie wil vergewe nie?"

Le Cordeur het sy lesing afgesluit met Adam Small se versoek, “Kô laat ons sing.”

“Sing vir Adam Small, sing vir Neville Alexander en Nelson Mandela, sing ook vir Kaaps, maar sing veral vir Afrikaans.”

Kyk na die volledige lesing op video:

  • 21

Kommentaar

  • Avatar
    Hanno Visagie

    Kaaps / Capey / Afrengels is nog Afrikaans nog Engels, maar 'n hibriede mengtaal en nie 'n variant van Afrikaans nie. Capey / Kaaps behoort op sy eie taalvoete te staan sonder om Afrikaans te besoedel.

  • Avatar
    Tom McLachlan

    Daar word die afgelope klompie jare gereeld pleidooie gelewer dat groter erkenning aan Kaaps gegee moet word, soos dr Le Cordeur nou weer in sy lesing.
    Dr Le Cordeur en ander kenners, soos prof Frank Hendricks, moet asseblief my onkunde verskoon, maar ek probeer werklik 'n paar goed verstaan. Ek het talle vrae, maar die vier hoofvrae is die volgende – hopelik sal een van die kenners antwoorde kan verskaf. Dit is eerlike vrae – nie 'n bedekte aanval nie!
    1. Hoe word "Kaaps" gedefinieer? Is dit 'n variëteit wat elemente (woorde, uitdrukkings, segswyses) bevat wat nie in Standaardafrikaans voorkom nie maar wat tog as wesenlik Afrikaans beskou kan word? Sulke elemente kom miskien uit die slawegeskiedenis of uit die Kaapse madrassas of is oorblyfsels van Nederlands of Khoi-tale, of het spontaan in die betrokke gemeenskap ontstaan. Of is dit (soos wat 'n onkundige soos ek miskien uit van Adam Small se werke of uit die taalgebruik van koerante soos Son kan aflei) 'n variëteit wat gekenmerk word deur 'n grootskaalse oorname van Engelse woorde, uitdrukkings, segswyses, ed? Indien laasgenoemde, is dit dan 'n variëteit van Afrikaans of van Engels, of dalk 'n "onafhanklike" mengeltaal wat nie as 'n variëteit van óf Afrikaans óf Engels beskou moet word nie?
    2. Wat is die geografiese verspreidingsgebied van "Kaaps"? Is dit beperk tot die Skiereiland, of word dit deur die hele Wes-Kaap gebruik? En die Noord-Kaap? Sluit dit byvoorbeeld die variëteite van die Overberg of die Karoo of Namakwaland of die Oos-Kaap of die ou Transvaal in of uit?
    3. Indien Kaaps 'n beperkte verspreidingsgebied het (sê maar die Skiereiland, Boland en Weskus, of wat ook al), hoekom word dit uitgesonder vir bevordering bo enige van die ander (erkende) variëteite van Afrikaans?
    4. Indien ek aanvaar dat Kaaps – hoe ook al gedefinieer – so 'n duidelik onderskeibare variëteit van Afrikaans is dat kinders wat sprekers daarvan is, Standaardafrikaans as 'n "vreemde taal" ervaar, wonder ek hoe billik dit teenoor sulke kinders sou wees om hulle daarin onderwys te gee. Ek kan my voorstel dat kinders wat bv slegs Cockney-Engels ken en leer, of slegs die Engels van diep Skotland, of iets dergeliks, ten slotte benadeel word as hulle in 'n beroepswêreld waarin Standaardengels die norm is, moet meeding – en ek bedoel nie slegs uitspraakverskille nie! Sal kinders wat hulle onderwys in Kaaps deurloop, nie op die ou end in 'n beroepslewe benadeel word as hulle as volwassenes sukkel met die standaardvariëteit van 'n taal of tale nie?
    Ek hoop werklik ek kry antwoorde op hierdie paar vrae.

    • Avatar
      Ada James-Almano

      Ek wens ek kon antwoorde verskaf, maar ongelukkig is daar geen. Jy sal dit ook nie van die voorstanders van Kaaps kry nie, want hulle is verblind deur 'n ideologie.

      • Avatar
        Wilhelm Fourie

        Ada, ek stem saam. Die ideologiese weerstand teen 'n standaardvorm van Afrikaans is net so verkeerd soos die teenstand teen die Kaaps-dialek in die verlede. Laat ons tog Kaaps as 'n verrykende deel van Afrikaans beskou net soos wat Namakwalands of die dialek in Pretoria deel van Afrikaans is. Saam is ons sterker!

  • Jisja my mase kinnes! Laat die ding ruk om vir Kaaps om herkenning te kry! Ek praat my Kaaps met trots waar ek ook al gaan, ook op social media. Ek skryf gereeld in op Engelse tv programme en hulle lees my Kaapse skrywe op die lug uit. So whats the story?

    • Daar is 'n verskil in die betekenis van die woorde se herkenning en erkenning. As Kaaps as 'n aparte taal beskou word, sal dit beslis verengelsing bevorder. As iemand nie Standaardafrikaans kan verstaan nie, dan kan ander mense ook nie die Engelse Kaaps verstaan nie. Maar in die praktyk kan albei mekaar verstaan. Ek dink die storie dat mense wat Kaaps praat, nie kan regkom met Standaardafrikaans nie, is net dit: 'n storie.

  • Wie besluit dan wat Afrikaans is en wat is nie? Tog was die standaardvariëteit nie standaard voor 1925 nie . Daar was ’n besluit gemaak en Standaardafrikaans bevat tot vandag toe Engelse woorde wat verafrikaans was.

  • Avatar
    Heidi Arbuckle

    Alle tale in die wêreld het variëteite van uitspraak en "lokale" woordgebruik. In ons eie land is bv Xhosa soos gepraat duskant en anderkant die Kei verskillend van wat die kind sal leer van "boek" of dan "standaard" Xhosa op skool. Self Engels in Suid-Afrika verskil van streek na streek net soos Afrikaans. Dieselfde is ook waar in Duitsland waar die "moedertaal" van Noord en Suid so ver verskil dat tensy hulle "gestandaardiseerde" Duits op skool leer, hulle mekaar nie sal kan verstaan nie. As "moedertaal" as dialek van die oorspronklike, aangewend word in onderrig, sal dit nie 'n babelse verwarring veroorsaak nie? Êrens moet daar 'n standaard wees, maar Afrikaans is lewend en "gebruikstaal" kan geabsorbeer word en deel uitmaak van die sg "standaard" Afrikaans.

    • Ja, kyk bv die soort Engels wat meeste swartmense praat. Die uitspraak van baie Engelse woorde is so swak dat selfs 'n regte Engelssprekende dit uiters moeilik vind om te volg wat 'n swart persoon sê as hy/sy Engels praat. Swartmense (bv Zuma se renons oor Nkaaaandla) is taamlik gesteld op die korrekte uitspraak van woorde in hul moedertaal, maar het geen begeerte om hul uitspraak van Engelse woorde korrek onder die knie te kry nie.

  • Ek stem saam met Le Cordeur oor moedertaal-onderrig. Sy respek vir Adam Small deel ek ook. Adam Small het (soos Le Cordeur dit noem) van Afrikaans (nie net van Kaaps nie) die taal van die struggle gemaak.
    Ek glo egter nie dat respek vir Kaaps as dialek teenstrydig is met 'n pleidooi vir Standaard-Afrikaans nie. My pa kom uit Beiere (Duitsland) en sy hele familie praat Beiers en nie Hochdeutsch (die standaardvorm van Duits) nie. Nogtans skryf hy Hochdeutsch en gaan almal in Beiere skool in Hochdeutsch. Dit beteken nie dat die onderwysers nie ook gedeeltelik die Beierse dialek in die klaskamer praat nie. As iemand wat volkome tweetalig is (Duits en Afrikaans) kan ek Le Cordeur verseker dat Kaaps (en alle ander dialekte van Afrikaans) baie nader is aan Standaard-Afrikaans as wat Beiers of Sächsisch of nog hope ander Duitse dialekte aan Hochdeutsch is! Erken Kaaps dus as dialek, maar moenie teen Standaard-Afrikaans wees nie. Dit is nie 'n ander taal as Kaaps nie. In Duitsland word ook letterkunde in Beiers geskryf, maar nie kontrakte of wetenskaplike artikels nie. Natuurlik praat mense in Beiere Hochdeutsch met 'n Beierse aksent, net soos wat baie sprekers van Kaaps Standaard-Afrikaans met 'n Kaaps-aksent praat. Dis tog mooi! Indien (in die ekstreme geval) Kaaps tot aparte taal verklaar word, sal dit noodwendig ook tot 'n standaardvorm (dan Standaard-Kaaps!) lei. Natuurlik was die mense wat Afrikaans destyds gestandaardiseer het nie vry van vooroordele nie. Nogtans dink ek nie dat hulle dit sleg gedoen het nie en dat die meeste van hulle oorwegings logies en nie ideologies (dit het die Apartheid-regering later misbruik) was nie. Ek wil amper so ver gaan om te voorspel dat 'n moderne kommissie by min-of-meer dieselfde standaardvorm sou uitkom. Standaard-Afrikaans het ook nie daar stilgestaan nie en neem beslis woorde uit Kaaps oor.
    My pleidooi: gebruik Kaaps toenemend as letterkundige taal, maar behou Standaard-Afrikaans as ons gemene deler en as akademiese taal.

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Geen Afrikaanssprekende kan onaangeraak wees na die lees van Adam Small se werke nie. Nogtans dink ek dat die aantal sprekers (3,4 miljoen) van Kaaps hier ongelooflik oordryf word. Is die Boland of selfs die Klein Karoo en Noordkaap skielik deel van die Kaapse Skiereiland? Ek is nie bewus van baie mense in daardie dele wat Kaaps praat nie...

  • Avatar
    Suzette Myburgh

    Die skrywer noem Kaaps die moedertaal van 3.4 miljoen mense, dis ongeveer die helfte van alle Afrikaans-huistaliges (syfers rofweg). Kaaps lyk dus na die grootste variant naas Standaardafrikaans.

  • Een van die suksesvolste tale is Engels, omdat dit soos 'n spons wêreldwyd opsuig en aanpas. Kaaps en Afrikaans is ook sulke tale, maar Standaardafrikaans is soos 'n klip, hoofsaaklik so gehou deur taalpuriste. Weldra sal ons dit net in vervloë dae se letterkunde kan lees. Oor 'n paar honderd jaar sal Afrikaanssprekendes dit net so goed verstaan as die Engelssprekende wat vandag Beowulf lees.

    • Avatar
      Wilhelm Fourie

      Dit is nie waar nie. Engels het twee standaardvorms: Amerikaanse en Britse Engels. Dit is waarom die Oxford-woordeboeke wêreldwyd gebruik word. Standaardafrikaans word ook gereeld aangepas.

  • Beste Wilhelm Fourie,
    Ek neem aan as jy sê dit is nie waar nie, dat jy bedoel Engels is nie een van die suksesvolste tale in die wêreld nie. Kan jy asseblief verduidelik waarom jy so meen, want ek verstaan nie mooi hoe Amerikaanse en Britse Engels die teendeel bewys nie.

    Lig my asseblief ook in of daar dan twee Oxford-woordeboeke is: een vir staandaard Amerikaanse Engels, en een vir standaard Britse Engels?

    Dan wil ek ook weet wie die aanpassing maak vir standaard Afrikaans, en hoe dit gedoen word.
    Groete
    Angus

    • Avatar
      Tom McLachlan

      Geen lewende taal bly vir ewig staties nie, ook nie Standaardafrikaans nie. As 'n mens bloot kyk na hoe byvoorbeeld die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, waarvan daar sedert 1917 reeds tien uitgawes verskyn het, in die loop van die afgelope eeu verander het, of 'n woordeboek soos die HAT of die Tweetalige Woordeboek van vandag vergelyk met hulle eerste uitgawes, dan blyk die verandering wat in Standaardafrikaans plaasgevind het, baie duidelik. En dit behels veel meer as bloot die uitbreiding van of verandering in die woorde- en uitdrukkingskat van Afrikaans. Dieselfde geld enige taal waarin daar oor 'n geruime tyd skriftelike (dus kontroleerbare) bronne bestaan.

      Die verandering word nie deur iemand of deur 'n organisasie of liggaam gemaak nie. Dit gebeur spontaan in die mond van die sprekersgemeenskap, en woordeboeke en bronne soos grammatikas, die Woordelys en Spelreëls en woordeboeke neem dan kennis van sulke veranderinge en reflekteer dit in elke nuwe uitgawe.

      Om te beweer dat Standaardafrikaans so onveranderlik "soos 'n klip" is en dat die maaksel van "taalpuriste" is, is 'n growwe mistasting en weerspieël ook nie die linguistiese werklikheid met betrekking tot Afrikaans nie. Afrikaans is immers by uitnemendheid 'n taal wat in die volksmond ontstaan het en die resultaat is van beïnvloeding en vorming deur 'n veeltal tale, soos Nederlands, Engels, ander Europese tale, verskeie inheemse tale, die tale van slawe uit die Ooste, die Arabies van die Koer'aan en die Moslemgemeenskap, en, en, en...

      As 'n mens sê dat Standaardafrikaans die skepping van "puriste" is, dan impliseer jy dat daar onderliggend 'n "pure" of "suiwer" taal is, en ek sou graag wou weet wat dié "suiwer" taal is.

    • Avatar
      Wilhelm Fourie

      Beste Angus,

      Tom het eintlik alles geskryf wat ek wou skryf. Hier is nog 'n paar punte.

      Nee, ek ontken nie dat Engels een van die suksesvolste tale is nie. Die redes daarvoor is hoofsaaklik histories alhoewel die feit dat dit 'n relatief "maklike" (geen woordgeslag, ens.) taal is om te leer seker ook 'n sekondêre rol gespeel het.

      Die feit dat daar nie 'n Oxford-woordeboek vir Amerikaanse Engels is nie (Webster is die Amerikaanse ekwivalent) bevestig nog meer my punt dat Engels ook 'n standaardvorm het. Die punt wat ek probeer maak is dat elke taal wat suksesvol is as wetenskap- en regstaal noodgedwonge 'n standaardvorm het, en so ook Afrikaans en Engels.

  • Beste Tom,
    Wat jy geskrywe het, wil ek met jou saamstem. Ek kan sien jy het heelwat taal bestudeer en daaroor gedink, daarom wil ek een sakie met jou bespreek en dit is die kwessie van standaardtaal.
    Jy sê self dat ʼn taal uit die volksmond ontstaan. Almal wat die geskiedenis van Afrikaans bestudeer het, weet dat Kaaps en vroeë Afrikaans die beginpunt van ons taal is. Sou jy sê dat standaard Afrikaans ook so uit die volksmond ontstaan het? Ek glo nie so nie. Standaard Afrikaans het tot stand gekom toe taalkundiges, onderwysers begin het om Afrikaans te veredel. Die taal uit die volksmond het sterk onder die invloed gekom van Engels, toe ʼn regter nog ʼn juts was. Daar is begin met die doelbewuste uitroei van anglisismes, die vertaal van Engelse woorde en terme, nuutskepping, en as dit nie anders kan nie, die aanvaar van leenwoorde. So is Afrikaans gestandaardiseer en het ʼn Algemeen Beskaafde taal tot stand gekom. My beeld van dat dit ʼn klip is, is ʼn bietjie erg, moet ek toegee, want die AB-Afrikaans groei wel, veral op wetenskaplike gebied. Dit bly voortbestaan, maar net in geskrewe vorm, wanneer ʼn mens kan wik en weeg wat die korrekte woord is, en waar jy in ʼn sin die werkwoord moet plaas. As mense met mekaar die spot dryf, steek hulle nie draak met mekaar nie, hulle tap ook nie ʼn ui nie, o, nee! hulle trek mekaar se been. “Start vir my die engine,” sal die een werktuigkundige vir die ander sê, nie “Sit of skakel vir my die masjien aan” nie. Wat ek wil sê: die volksmond loop ʼn heel ander rigting as die gestandaardiseerde taal. Daar is dus ʼn verskil tussen standaard Afrikaans en Afrikaans. Eersgenoemde skryf ons, en laasgenoemde praat ons.
    Graag hoor ek jou mening.
    Groete
    Angus

  • Avatar
    Tom McLachlan

    Beste Angus

    Laat ek eers sê dat ek geen kenner op hierdie terrein is nie en ook geen akademiese taalkundige is nie. Wat ek dus sê, is my eie mening.

    Ek dink dat wat vandag Standaardafrikaans genoem word (die terme Algemeen Beskaafde Afrikaans/Nederlands/Engels/ens. word nie meer gebruik nie), absoluut uit die volksmond ontstaan het, in die sin dat dit nie van iewers anders af nuut "uitgedink" is nie. Dat daar ook 'n mate van "veredeling", soos jy dit noem, plaasgevind het, is ook nie altemit nie. Dit hang m.i. saam met sekere historiese gebeure en feite, soos dat Afrikaanssprekendes in die ou Kaapkolonie in die tweede helfte van die 19de eeu al hoe meer begin voel het dat die Engelse taal en kultuur hulle eie Afrikaans-Hollandse taal en kultuur begin bedreig het, en onthou dat daar 'n uiters noue band tussen taal en kultuur is. Dat dit veral seker wit Afrikaanse mense in die Kaapkolonie was wat die druk van die wit Engelssprekende heersers gevoel en hulle daarteen verset het, is ook maar net 'n feit van die tyd.

    Ná die Anglo-Boereoorlog het ook die Afrikaans-Hollandssprekendes van die verslane republieke daardie druk gevoel, en om te verhoed dat hulle taal en kultuur ook heeltemal verslaan word deur die Britse imperialisme het hulle op die nasionale konvensie wat tot die Unie van Suid-Afrika gelei het, 'n bepaling in die beoogde Uniegrondwet, die South Africa Act/Zuid-Afrika Wet, 1909, beding waardeur Engels en Afrikaans (kom ons noem dit nou maar so om nie hare te kloof nie) gelyke status in die staatsbestel sou geniet. Dit het beteken dat Afrikaans hom op elke terrein van die staats- en openbare lewe op gelyke voet met Engels moes handhaaf.

    Kortom dus: Afrikaans het 'n amptelike taal in die staatsbestel van die destydse Unie geword.

    Ek noem hierdie agtergrond bloot om aan te dui dat die eise wat toenemend aan Afrikaans gestel is en die taalbehoeftes van die sprekers en gebruikers van Afrikaans insgelyks drasties toegeneem het. Dit is tipies hoe en hoekom die standaardvariëteit van 'n taal ontstaan: om aan bepaalde hoëvlakbehoeftes te voldoen.

    Dit is natuurlik so dat dié proses in die geval van Afrikaans baie vinniger en baie meer doelbewus geskied het en moes geskied, en nie in so 'n lang "natuurlike" proses soos bv. Engels of Nederlands nie. Dit is miskien waar die "veredeling" prominent geword het. Die taal moes eerstens minstens 'n eenvormige spelwyse kry (want dit het aanvanklik erg gewissel) en moes 'n standaardvariëteit hê waarin die staatsadministrasie, die regspleging, die onderwys, die wetenskap, die handel en nywerheid, en so meer beoefen kon word, en daarom het 'n bepaalde doelbewuste ontwikkeling plaasgevind. Die hele basis van dié standaardvariëteit was egter nog steeds die taal wat vroeër ontstaan en gegroei het (en dit nog steeds doen). Daarvan getuig talle en talle spesifieke taalkundige kenmerke van Afrikaans (soos woordeskatelemente [soos "baie" en "blatjang"], iteratiewe [soos "gou-gou"], die dubbele "nie", aanspreek- en verwysingsvorme [soos "oom-hulle"], en so meer).

    Natuurlik is daar ook foute gemaak. Met die voordeel en wysheid van terugskouing kan 'n mens byvoorbeeld sê dat dit 'n fout was om hoofsaaklik die wit Afrikaanssprekendes by die proses te betrek (al was dit hoofsaaklik die gevolg van insigte en beskouings van 'n eeu en meer gelede), of om nie meer ag te slaan op die Standaardafrikaans van die Kaapse Moslemgemeenskap in hulle godsdiensbeoefening en madrassas nie, of om te oorreageer teen Engels a.g.v. die Anglo-Boereoorlog, of wat ook al. Dit is egter historiese feite waaraan nou niks meer verander kan word nie, behalwe om te sorg dat dit liefs nie weer gebeur nie.

    Ek dink ook daar is vandag 'n baie groter algemene besef dat al die variëteite van Afrikaans (soos trouens van enige sg. "kultuurtaal") gelykwaardig is, maar aan verskillende behoeftes voldoen, d.w.s. die een is nie "beter" as die ander nie, maar hoogstens meer gepas vir verskillende omstandighede of kontekste. En dit geld beslis ook bv. Engels. Dit beteken ook dat wanneer ek in die gepaste omstandighede die standaardvariëteit van 'n taal gebruik, ek aan die norme en standaarde van daardie variëteit EN van daardie konteks/omstandighede (moet) voldoen, net soos wanneer ek in ander gepaste omstandighede weer die een of ander omgangs- of streeksvariëteit gebruik en dan weer aan die norme en standaarde van daardie variëteit EN van daardie konteks/omstandighede (moet) voldoen. Algemeen gesproke het die standaardvariëteit van 'n taal egter dikwels strenger of makliker bepaalbare of makliker toepasbare standaarde as 'n niestandaardvariëteit.

    Dit is ook so dat die standaardvariëteit van 'n taal meestal of baie dikwels in skriftelike taal gebruik word, maar dit kom wel deeglik in gesproke taal ook voor, bv. iemand wat 'n toespraak maak of 'n lesing gee of 'n preek lewer of in 'n hof uitspraak lewer en so meer.

    Ja, daar is natuurlik verskille tussen die standaardvariëteit en ander variëteite, maar dit is ook nie so dat hulle in die geval van Afrikaans in heeltemal verskillende rigtings loop nie. As 'n mens net kyk na die mate waarin woordeboeke soos die HAT en normatiewe bronne soos die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls woorde uit ander variëteite as die standaardvariëteit verreken, dan blyk dit baie duidelik dat die ontwikkeling nie so ver uiteenloop nie. Dat daar egter altyd 'n verskil – selfs 'n aansienlike verskil – tussen die standaardvariëteit en niestandaardvariëteite (soos omgangstaal en streektale, ens. ens.) is, is sonder twyfel waar (ook van ander tale soos Engels, Nederlands, Duits, ens.).

    Met vriendelike groete,
    Tom

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top