NetRaad: Die kuns van tydskrifverhale

  • 0

Tydskrifverhale verskil van kunsverhale of literêre kortverhale in die opsig dat hulle as voorvereiste leesbaarheid en lesersvriendelikheid voorop stel.

Navorsing wys dit is die plek waar lesers wil ontspan en ’n bietjie wil asem skep. Hou in gedagte dat dit die deel van die tydskrif is wat mense graag in die bed of bad lees of bêre om vakansies te lees. Dit is die deel van die tydskrif wat langtermynwaarde het, want mense hou dikwels die tydskrif “sodat hulle nog die storie kan lees”.

Verskeie redakteurs het nou al talle male probeer om verhale en fiksie uit tydskrifte te weer en teenstand gekry in die vorm van lesersbriewe en moes selfs toesien hoe sirkulasie sak toe dit uitgehaal is en weer styg toe dit ingeplaas is.

Die tyd is beslis verby dat tydskrifverhale die stiefsussie van leesstof is. Dink daaraan: indien ’n groot gesinstydskrif ’n leserstal van meer as een miljoen per week het en net tien persent van die lesers lees jou verhaal, is dit 100 000 lesers wat van jou as skrywer weet! Die deursnee Afrikaanse roman is gelukkig indien daar 5 000 eksemplare van verkoop word.

Dit is egter ’n genre waarin daar baie ontwikkeling gedoen kan word om nog meer lesers daarna te lok. Met hierdie internet-skryfskool wil ek dus probeer om ’n paar algemene wenke en vereistes deur te gee.

  1. Elke tydskrif het ’n huisstyl waarby ’n verhaal moet inpas. So sal sommige tydskrifte net verhale aanvaar waarin die positiewe ’n rol speel en geweld byvoorbeeld taboe is. Die verhale-afdeling van ’n tydskrif is nie ’n plek om ’n stelling te maak oor ernstige sake soos mishandeling nie. Dit word gewoonlik beter in die tydskrif gedoen met in-diepte-artikels. Maar dit is nie te sê dat jy oppervlakkige spookasemtemas moet kies nie. Lees dus altyd ’n paar eksemplare van ’n tydskrif om uit te vind wat die huisstyl daarvan is en wat die lesers dus van die verhale verwag. Skeur die verhale uit en maak vir jou ’n lêer van verhale waar jy die verskillende tydskrifte s’n onder verdelings plaas sodat jy dit kan vergelyk. As jy kommersieel wil skryf om aan die lewe te bly, moet jy jou mark ken sodat jy nie jou tyd mors deur verhale te stuur aan mense wat dit nie kan publiseer nie. ’n Verhaal kan dalk uitmuntend wees, maar nie geplaas kan word nie omdat dit nie inpas by die tydskrif se etos, verhaleriglyne of lesersprofiel nie.
  2. Omdat die woordtelling so beperk is (van ’n koffiebreekverhaal van 500 woorde tot ’n novelle van 5 000 woorde), leen die verhale hul nie tot uitgerekte lewensverhale nie, maar meer tot ’n oomblik in ’n lewe, gewoonlik dan ’n draaipunt. Dink daaraan: met 500 woorde kan jy hoogstens ’n flitslig op iemand se lewe skyn, met 1 000 dalk die kamerlig aanskakel, by so 2 000 woorde dalk die huis se ligte en met so 5 000 woorde die straatligte daarby sit. (’n Roman is dan natuurlik ’n sportstadion met al die spreiligte aan as jy die metafoor wil deurtrek!)
  3. ’n Karakter moet gewoonlik ’n verandering ondergaan of ’n lewensles leer, maar moet dit nie prekerig maak nie. Meet dit so: Is die karakter en sy lewe aan die einde van die verhaal anders as in die begin? Dit keer dat die so what?-faktor by die leser  intree – "Jy weet, ek het nou al die tyd gevat om die storie te lees en so what? Daar het niks gebeur nie." Dit is belangrik, want jou storie staan nie los nie en maak deel uit van ’n opwindende pakket van leesstof en moet tred hou daarmee.
  4. Moenie moraliseer nie. Niks verveel ’n tydskrifleser méér nie. Onthou, dit is ’n leser wat met vele boodskappe gepeper word in advertensies en artikels en so meer – as jy ’n boodskap wil oordra moet dit oorspronklik, nuut en anders wees en veral enkelvoudig, met ander woorde een storie, een boodskap.
  5. Tydskrifverhale moet visueel aangebied word met vele beskrywings omdat dit ’n tuiste het in ’n visuele medium en gelees word deur ’n visueel geletterde leserspubliek. Stel vir jouself as ’n toets of jy die karakters in jou verhaal sal kan teken volgens jou aanwysings en die plekke waar jou verhaal afspeel. Of is daar dalk ’n sentrale visuele beeld wat uitstaan, soos ’n spesifieke blom? Beskryf karakters dus en gee stemming aan plekke. Maar met betrekking tot plekke: vermy beskrywings oor weerstoestande. Maak seker jy teken prentjies in jou kop sodat jy kan hou by detail en ’n karakter nie mettertyd van oogkleur verander nie. Skryf asof jy ’n kamera byderhand het en foto’s aan jou lesers bied. Wees meer regisseur van jou verhaal as skrywer. Maar moenie eentonig wees nie: gebruik al jou sintuie met beskrywings. Dink daaraan dat jou verhaal nog ’n stem in ’n besige tydskrif is en daarbo moet kan uitstyg in die gesamentlike aanbieding van uitleg en kopie. Hoe meer visueel jou verhaal, hoe beter die illustrasie, en die gestroomlynde aanbieding maak dit ’n beter ervaring vir jou leser.
  6. Gee heldinne en helde beperkings – hulle moenie te slim, te perfek wees nie – die leser moet ’n weerloosheid by hulle kan identifiseer. Wrede helde of heldinne is taboe. Vermy te alle tye die “cute”-faktor: hou dit vir hondjies en katjies.
  7. Gebruik konflik – innerlik en uiterlik – maar saai die saadjie daarvoor vroeg in die verhaal. Om ’n tydskrifverhaalleser te boei moet ’n verhaal niks uitspel nie en ook niks vertel nie, maar alles moet gewys word, stadig en laag vir laag onthul word.
  8. Gee altyd vlugtig ’n historiese konteks – tydskrifverhale moet ’n gevoel van werklikheid hê, al is dit die ontvlugtingsbladsye van die tydskrif. Stories moet geanker wees, want jy skryf binne die groter geheel van ’n volle tydskrif, dit wil sê ’n plek waar mense se lewensverhale ook vertel word.
  9. Moenie op stereotiepe karakters staatmaak of afgesaagde storielyne herhaal nie. As jy dit al gelees het, het iemand anders dalk ook. Die een ding waarteen alle verhaleredakteurs waak, is juis voorspelbaarheid. Hou karakters fisies en persoonlikheidsgewys uiteenlopend en kies selfs name wat glad nie naby mekaar is nie.
  10. Hou by Praatafrikaans en vermy hoogdrawendheid. Gooi veral pretensieuse dialoog weg. Sleng kan gebruik word as dit by ’n karakter pas, maar Afrikaans bly suiwer as dit die huisstyl van die tydskrif is.
  11. Humor werk in tydskrifverhale, maar dit moet subtiel wees en meer dialoog-gedrewe wees. Platvloers werk nie en die glimlag moet meer versteek wees in die storielyn as direk uitgespel in–jou-gesig wees.
  12. Toeval is taboe: wat gebeur moet geloofwaardig wees. Jou leser moet nie dink "Maar dit is nou toevallig" nie!
  13. Hou een perspektief regdeur; dit wil sê as jy die derdevertellerstem ("hy" of "sy") gebruik, hou daarby. En ’n wenk in dié verband: die eerstevertellerstem ("ek") is baie beperkend vir die min woorde wat ’n tydskrifverhaal jou bied.
  14. Struktuur is alles in ’n tydskrifverhaal en daar moet daarop gelet word dat die ritme en pas van die verhaal deeglik onder beheer moet bly; dit wil sê moenie ’n verhaal te uitbundig volledig aan die begin vertel en die slot afjaag as ’n nagedagte nie. Kort verhalende gedeeltes in en fokus op gedagtes en gevoelens van karakters. Werk ’n klein, losse skema uit vir jou verhaal se struktuur deur die draaipunt te identifiseer en daarrondom die verhaal te ontwerp.
  15. Moenie die storie op die verkeerde plek in die storielyn of die verkeerde tyd in die storielyn begin nie. Probeer verskeie opsies. Terugflitse werk as jy dit goed kan aanbied, maar tydskrifverhaallesers hou van chronologiese afloop in stories. Onthou: hulle wil ontspan! Vermy karakters wat te veel op die verlede hink en pink en wat daaroor wroeg. Wees subtiel en laat jou leser die storie soos ’n legkaart stukkie vir stukkie pak. Die storielyn moet vinnig ontwikkel. Moenie feite uitryg nie. Wys en moenie vertel nie.
  16. Die storieknoop (plot/intrige) moet ondeursigtig wees; dit wil sê jy moet dit so knoop dat die leser dit nie kan raai nie. In tydskrifverhale is die storieknoop dikwels belangriker as die karakters – dit werk andersom in byvoorbeeld ’n liefdesroman, waar die karakters belangriker is. Lesers soek stories as hulle tydskrifte nadertrek, nie ’n filosofiese onderbou ensovoorts nie. Vermy te veel reflekterende oomblikke deur karakters.
  17. Pasop vir moeë frases of dialoog wat nie werk nie. Lees vir oefening net al jou dialoogstukke na die skryf van die verhaal hardop, of laat iemand dit vir jou lees, en vra jou af of jy mense ken wat so praat. Mense praat nie altyd in volsinne nie en selde paragrawe lank. Gebruik dialoog om ’n storie spoed te gee en tussenteks (die stukke nie tussen aanhalings nie) om ’n storie te verstadig. Wissel stemme af en gee hulle verbale stempels. Gebruik elke denkbare leesteken wat jy kan: ellipse, uitroeptekens (ligloop vir te veel), vraagtekens, rustekens, aksente en dies meer.
  18. Wanneer dit by styl kom, let daarop om paragraaflengte af te wissel. Ook sinslengtes. Hou dit kort, maar moenie die werkwoord in die slag laat bly nie; dit bederf leesbaarheid en vloei. Los dit vir gevestigde meesters daarvan, soos Francois Bloemhof. Gebruik vergelykings en beeldspraak. Verwys met omsigtigheid na liedjies en gedigte.
  19. Titels word dikwels gekies deur redakteurs om in te pas vir uitlegredes, maar kies vir jou solank ’n werkstitel as ’n aanwysing – dit is jou opsomming van jou verhaal. Hou dit soos ’n vlaggie  bo jou storie en kyk of dit die storie mooi saamvat. Moet dit nie prosaïes en doodgewoon maak nie – jy kan maar meer digterlik raak met titels. Daag jou leser daarmee uit. Moenie meer as vyf woorde daarvoor kies nie, anders lê dit moeilik uit. Prikke, die kort stukkies by titels, word deur die subs van die tydskrif geskryf om die leser te terg om die verhaal te lees. Daarin gee jy weer niks weg nie.
  20. Moet jou nie waansinnig bekommer oor spelfoute en taalfoute nie – alle tydskrifte versorg in elk geval die taal en grammatika – maar maak dit ’n saak van eer om ’n manuskrip so goed versorg as moontlik in  te stuur. Handhaaf deurgaans die houding dat geen woord in jou verhaal heilig is nie, want daar gaan aan jou verhaal verander word – nie noodwendig omdat daar fout is nie, maar vir uitleg, huisstyl, woordtelling en so meer. As jy nie hiervoor kans sien nie, moet liewers nie tydskrifverhale skryf nie. Dit is ’n produk wat baie mense se goedkeuring moet wegdra, maar wees getroos deur die wete dat jou verhaal deur al die kundigheid net sterker gaan wees as vantevore en onthou: dit is jou naam wat by die verhaal staan! ’n Tydskrifverhaalskrywer is nie ’n eiland nie – jy word deel van ’n span vir die rukkie wat jou verhaal vir ’n spesifieke uitgawe voorberei word. Niemand weet hoe lyk die oorspronklike teks nie en dink dit is jou perfekte storie wat verskyn. Geniet die kalklig en moenie oor elke veranderde woord ’n slapelose nag hê nie – vergelyk dit eerder met jou teks en leer daaruit.
  21. Skryf oor dinge waaroor jy omgee en mense vir wie jy lief is.
  22. Dinkskrum verskeie oplossings by draaipunte in jou storie en kies die mees onvoorspelbare. Toets jou storielyne op mense wat lief is vir lees en let op na hulle reaksie. As hulle die einde ’n myl ver kon raaksien, is jy in die moeilikheid.
  23. Plekke waar tydskrifverhale afspeel, hoef nie eksoties te wees nie, maar in liefdesverhale werk dit wel. Wees seker van jou feite as jy skryf oor plekke waar jy nog nie was nie. Dit is ’n lekker manier om ’n verhaal visueel te maak.
  24. Binne 2 000 woorde kan jy nie veel meer as drie hoofkarakters en een randkarakter hanteer nie. Ontwikkel liewers ’n paar karakters as om ’n paar strooipoppe deur die verhaal te laat steier.
  25. Hou as gevolg van die woordtelling die tydsverloop billik. Jy kan nie maklik twintig jaar  in 3 000 woorde laat afspeel nie.
  26. Moenie jou tye deurmekaar laat loop nie, dit wil sê byvoorbeeld met die verlede tyd begin en dan oorslaan na ’n ander tyd nie. Wenk: Die teenwoordige tyd is beter om ’n verhaal in te laat afspeel.
  27. Onverwagte slotte is altyd gewild. Maar hou dit gemotiveer. Plant leidrade.
  28. Emosies is die sleutel tot sterk tydskrifverhale, maar wys die emosies deur aksies - moet dit nie beskryf nie: moenie sy is kwaad nie – laat haar eerder ’n bord teen ’n muur gooi.
  29. Knoop al jou los drade as jy klaar is deur jou verhaal van agter af vorentoe te lees en te kyk of jy nie vir jou leser onopgeloste vrae los nie.
  30. Gelukkige eindes is nie ’n moet nie, maar die meeste tydskrifte vereis ’n slot met hoop en ’n oplossing vorentoe.
  31. Liefdestonele in tydskrifverhale kan warm wees maar nie eksplisiet nie.
  32. Kies ’n tema, byvoorbeeld vriendskap, lojaliteit, ambisie. Wanneer jy ’n tema kies, kyk na meer kontemporêre temas (globale verwarming) en lewenstemas soos verhoudingstemas (soos jaloesie ens). Maar konsentreer op wat in mense se alledaagse lewens aangaan.
  33. Baie skrywers gebruik sekere woordjies soos egter, maar, ook, wat, dat, ens oor en oor, en dit kan die woordtelling onnodig hoër maak. Vind jou woorde wat jy die hele tyd herhaal en kyk of hulle werklik nodig is. Hou jou woordtelling laag deur te kyk na byvoorbeeld byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat dalk onnodig is, sodat jy eerder ander woorde kan inspan wat jou storie rigting en tempo sal gee.
  34. Vermy foefies soos om iemand in ’n spieël te laat kyk, iemand iets te laat afluister wat hulle nie moes gehoor het nie, of ’n ongeluk te gebruik om ’n storie van rigting te laat verander. Laat jou storieknope natuurlik voorkom en nie aangeplak nie.
  35. Vra vir spesifieke riglyne deur verhaleredakteurs te e-pos (name is gewoonlik by die lys naby die inhoudsopgawe): vind uit oor woordtellings en vereistes soos gewilde temas en taboes. Vra oor betaling en hoe die tydskrif betaal. Vra ook by aanvaarding wanneer dit min of meer gaan verskyn.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top