“The ethics the book gave us is the intellectual tradition of solitary single-minded concentration,” beweer Nicholas Carr in sy boek The very image of a book (2010).
Hoe gemaak met poësie en fiksie op die internet? Versteur digitale media hierdie etiek van die gedrukte boek? 
Hoewel ‘n boek fiktief kan wees en nie noodwendig na werklike gebeurtenisse verwys of “geglo” hoef te word nie, lees mens dit nog steeds met die verwagting van kennis en outentisiteit. Jy dink dat die skrywer iets het om te sê en dat dit wat hy of sy sê as die moeite werd geag is om pen op papier te waag. Mens lees ‘n boek met die verwagting dat die uitgewer dit as die moeite werd beskou het om geld te spandeer om die blaaie van die boek en die voor- en agterblad te laat druk, die boek te laat bind, bemark en versprei. Wanneer ’n boek gedruk word, kan ons sê dit besit inderdaad die aura van kennis, outentisiteit en geloofwaardigheid.
Hierteenoor impliseer die medium van die internet vryheid en openheid van teksproduksie en resepsie. Is ’n gedig wat op die internet gepubliseer word – byvoorbeeld op LitNet – ook betroubaar? Het betroubaarheid, of outentisiteit, te make met die feit dat ’n teks gedruk word? Dat dit ’n tasbare dokument is?

Kyk na hierdie digitale gedig van Jason Nelson (die foto links is 'n fragment van een van sy digitale gedigte of "kuns speletjies")
As jy met jou muis of touchpad oor die grys vierkante beweeg, kom musiek, woorde en beelde op die skerm te voorskyn. Onheilspellende musiek wat, as die digitale gedig te lank aangaan, nogal ongemaklik kan maak. Swart, wit en grys beelde en woorde wat iets kommunikeer oor ‘n Dinsdagoggend vroeg, ‘n brief wat in die donkerte getik word, stof, die son wat weg is, donkerte, enjin-geraas en ‘n deursigtige liggaam.
“Early Tuesday Morning” gebruik dus woorde, beelde en klank om as gedig te kommunikeer. Dit wys: vandat die internet ons lewe oorgeneem het, kan geen woord, musikale noot, geverfde oppervlak of teoretiese stelling van die “kruisbestuiwing” of “kontaminasie” van die medialandskap ontsnap nie. Mens sou kon sê dat die internet by uitstek die grense tussen verskillende media – woord, beeld en klank – laat vervaag. Verskillende kunsvorme kan nie meer geskei word nie, sê die internet.
Ons almal weet dat die vorm van ‘n gedig tot ‘n groot mate die betekenis daarvan beïnvloed. Dit is nie net die woorde en die klanke daarvan wat iets kommunikeer wat die betekenis van die gedig beïnvloed nie, maar ook die vorm waarin dit gegiet word, die strofelengtes, die vaste vorm al dan nie, die tipografie – hoe die gedig lýk. Net so, sou mens kon sê, beïnvloed die medium van die gedig die betekenis daarvan.
Wat sê die medium van die teks (byvoorbeeld as gedrukte teks of teks op die internet) van die betekenis van onderstaande digitale gedigte? Hoe word die betekenis van hierdie gedigte deur die medium beïnvloed? Mens sou kon sê dat ‘n bemoeienis met medium ook ‘n bemoeienis met betekenis is. Wat is die verskillende betekenisvlakke wat die medium aan die gedigte toevoeg?
“Another emotion” van Jason Nelson
Die internet as medium is nog lank nie genoegsaam deur Afrikaanse digters benut nie. Wat daarvan om teks, woord, klank, raaisels, hiperteks en programmering te integreer? Is daar nie opwindende afdraaipaadjies en nuwe betekenismoontlikhede wat dit ontsluit nie? Skryf gerus in vir ons kompetisie Netdigters 2.0. en verras my!
Volgende week meer oor interaktiewe poësie.
Rentia



Kommentaar
Toe ek 'n jong knaap was, was ek mal oor pinballmasjiene. Ek en my maats het die Griek op die hoek in Brixton se masjien stukkend gespeel en hy moes ons byna elke aand met toemaaktyd verwilder .Ons het die ding omtrent gemanipuleer om bonusgames te bekom; op een stadium selfs die glasblad losgekry en, terwyl my vrinne rondom skaar, ek my vinger iewers ingedruk het wat die punte laat opstapel het. Die ander was te bang hulle word geskok of gebrand.
'n Paar jaar later, toe ek uit die pinballgier uitgegroei het (en beter dinge ontdek het om my met my vingers te vermaak) was ek aan't werke in Sauerstraat, Johannesburg. Daar was 'n commotion by 'n wolkekrabber verder af in die straat en ek het my daarheen gehaas.
Daar was 'n ou op die dak wat gedreig het om af te spring maar hulle het hom andersins oorreed. Die volgende dag lees ons in die koerant dat die ou 'n pinball-tegnikus is en aangesien sy beroep aan't kwyne is, hy hierdie daad oorweeg het.
Nadat ek na die wonderlike digitale insette gekyk het voel ek (wat al darem my naam in 'n paar kortverhaalbundels opgeneem gekry het) of ek dalk vir 'n geskikte wolkekrabber moet begin soek of ... dalk begin opswat in die digitale kunste.
Wanneer kom my 5 gedigte op LitNet? Ek wag al baie lank daarvoor? Dankie.
Hallo Rentia, daar's opportunisme in die lig/lug. Vir 'n liefdesdaad, of inbraak. Dis net 'n ruimte vir iets: van die einaste lettergreep, tot 'n helse psigopatiese installasie - die spektrum rek en rek soos die Kommunisme, of Openbaringe.