Vandag het ek twee, nee, vier woorde wat genadeloos bly vassteek: waan sin en min ag. Grammaties of semanties kan hierdie ooglopende spelfoute iemand êrens so pas die hoenders ingejaag het, maar, kom my agbare onbekende pluimveejagter, laat ons ontspan. Hierdie twee, nee, vier woorde het onlangs vir my weer waarde aan denke toegevoeg; meer as wat sommige landgenote sal glo moontlik is en wat op die koop toe, belangriker as die voorskrifte van die woordeboek mag wees!
Ingedagte en met ’n voorkop wat besoedeld met fronsplooie hang, sit ek en wonder: “Wanneer laas het ek hierdie deel van hierdie dorp gesien?”
Terwyl ons die sedan se blinklyf deur die agtergange van ons buurdorp, Kraaifontein se woelige Sondagoggendstrate druk, het die mooi sonnige windstil wintersoggend plek gemaak vir die voetverkeersdruk van mense wat hierdie rusdag nodig het om die week se huistake en inkopies te doen.
Dit was nou-nou, net ’n paar minute terug, dat die kalm groen heuwels van Durbanville ons nog saam met die res van haar kroos veilig omvou het. Maar nou, binne die bereik van ’n afvlerk-mossie sit ons by ’n verkeerslig en staar na mense sonder motors en viertrekwaentjies en dubbelkajuite; mense wat haastig met hul geel inkopiesakke oor die besige straat moet skarrel om ’n minibus te haal of om die “stap-en-sien-meer” roete huis toe te volg.
Die huise se heinings hang skeef, die gras en die bome is dood en ’n geroeste vuurkonka staan in die voortuin. Die onthaalgeriewe hier is opvallend, in teenstelling met die regop rook wat plek-plek van diep onder uit ’n braaivertrek of -stoep, deur die top van die groen bomedak oor die welige deel van die naburige voorstad uitstyg en waar die vaders en moeders die porselein-teekoppies reeds veilig gebêre het, en vir ’n glasie goeie merlot verruil het.
Die moeders gil skril met die kinders op sleeptou, ongeduldig op die pad huis toe; “die wasgoed moet nog uitgehang word, die huis moet “ge-vacume” word, die matte hang buite en julle Pa moet nog huis toe kom; sy skof maak 16:00 klaar. Vanaand moet die gevriesde hoender gebraai word ...”
Uit die newels van oorvloed, versorg en onbespeurd, krul daar paaie heen-en-weer na die vlaktes van oorlewing, sewewerksdagweke en openbare vervoer. En êrens, daar tussen-in, woon die res van ons.
Dis egter wanneer ons die pad dorp-uit volg, verby of eerder amper deur die informele nedersetting met ’n paar hondekarkasse wat teen die sypaadjie rus en taxi’s wat in die sperstreep gewas word, dat die skrikwekkende waan waarin ons die meeste van elke dag verkeer, weereens vir my sin maak. Hoe ydel ons bestaan kan wees wanneer ons in gebreke bly om sin te soek, sin te sien, in iets êrens verder as die gemakstoele op ons stoepe.
Gepraat van onder ’n waan verkeer...
Soms is dit seker beter om net die water van Gods bestaan oor die ongeploegde akkers van Sy skepping te laat loop; om nie te veel en te gereeld oor die doen en late, of groet of prate van ander te peins of selfs net aan te dink nie.
Onlangs het ek weer die ervaring gehad dat mense wat eintlik nie behoort om te gee hoe dit met die uwe gaan nie, wel na die welstand van my bestaan vra. Die keersy van hierdie lewenspennie is egter meer opvallend, wanneer dié wat mens sou reken behoort belang te stel, selfs al was dit met ’n langdradige gesukkel, helaas dit nie doen nie en keer-op-keer geen belangstelling toon nie.
Sonder om liggeraak voor te kom of om gesange van medelye uit te lok, is dit weliswaar die vlak en gesindheid tot agting wat hierdeur uitgebeeld word. Die logika in hierdie afleiding is maklik: hoe laer ek jou ág, hoe minder sal ek belangstel.
Soms neem mens aan en hoop en glo jy dat iemand mag leer om om te gee, net om skrikgemaak te word deur die omvang van die waan waarin jy jammerlik verkeer.
Die bedoelde betekenis en letterlike waarde van die twee uiteenlopende woorde “Waansin en Minag”, is ironies genoeg so aanverwant, byna soos familie, dat dit baie keer net in die verwagting van ons elke dag se bestaan en ons ervaring van ander mense, saam sigbaar is.

