Neo-Gotiek in die Afrikaanse letterkunde

  • 0

Die woorde Gotiek en Neo-Gotiek word nie dikwels in gesprekke oor die Afrikaanse letterkunde gehoor nie. Dié terme kom selfs nie in ’n puik naslaanwerk soos Literêre terme en teorieë (TT Cloete (red)) voor nie, maar nou moet haastig gesê word dat ook ander bronne, soos dié van Shipley, dié terme verswyg. Van Gorp het wel ’n bondige, maar ráák, inskrywing onder die noemer Gothic Novel, waaruit ek een reël gaan aanhaal: “Roman waarin overvloedig gebruik wordt gemaakt van geheimzinnige, spookachtige en bovennatuurlijke elementen (vampieren, spoken, spiritisme ...).”

JA Cuddon se Penguin Dictionary of Literary Terms and Literary Theory, nuut bygewerk deur CE Preston, bied gelukkig gulhartig informasie, bladsye lank, oor “Gothic Novel/Fiction”, en as hierby gevoeg word die briljante inleiding van Chris Baldick by ’n soveelste herdruk van The Oxford Book of Gothic Tales, die jongste van 2009, hoef ’n geïnteresseerde leser nie verder na inligting te soek nie.

Die woord Goties verwys in die eerste plek na die “barbaarse” invalle van die Gote in Europa, maar Gotiek en Neo-Gotiek het argitektoniese terme geword wat ’n onderskeid wou tref tussen die Klassieke boustyl en latere grillerige afwykings daarvan. Vandag word Gotiese boustyl, oftewel Spitsboogstyl, nugter gebruik, sonder enige negatiewe gevoelswaarde daaraan verbonde.

Tog skakel Neo-Gotiek in die letterkunde weldeeglik met die Neo-Gotiek in die boukuns, wat so gewild was tydens die Romantiek, en ’n verset teen The Age of Reason was. ’n Sleutelwerk in die letterkunde was The Castle of Otranto van Horace Walpole, met geïmpliseerde boukundige assosiasies.

Walpole (1717-1797) het ’n woonplek naby Twickenham, Engeland, gekoop wat hy tot “a little Gothic castle” verbou het, en Strawberry Hill Gothic het ’n oorkoepelende term geword vir ander verbouings in die Middeleeuse trant. Belangriker egter is Cuddon se omskrywing van The Castle of Otranto: “a gruesome tale of passion, bloodshed and villainy, ... set in the 12th and 13th c”.

Engelse Neo-Gotiek het sy weg na Amerika en Duitsland gevind, en Duitse Neo-Gotiek het op sy beurt invloed gehad op die Engelse Neo-Gotiek, veral nadat ETA Hoffman in Engels vertaal is.

Engelse fiksie, sê Cuddon, sou daar totaal anders uitgesien het in die neëntiende eeu as dit nie vir Neo-Gotiek was nie. Die Brontë-susters, sir Walter Scott en Charles Dickens het uit die Neo-Gotiese tradisie voortgekom. Maar die Neo-Gotiese riller het ook ’n sterk rol in die twintigste eeu gespeel, met films wat op populêre Neo-Gotiese werk, goed en sleg, gebaseer was, soos die Frankenstein- en Dracula-films; en belangrike twintigste-eeuse skrywers soos Isak Dinesen, Mervyn Peake, talle Deep South-skrywers (met William Faulkner vooraan), Daphne de Maurier, ES Byatt, Angela Carter en ander werk voort in die Neo-Gotiese trant. Ek wil twee “musicals” – nee, beslis nié musiekblyspele nié – noem wat suiwer Neo-Goties is: Sweeney Todd van Sondheim en The Phantom of the Opera van Lloyd Webber.

Chris Baldick noem iets interessants in verband met skryfsters wat in die Neo-Gotiese trant werk, selfs in moderne tye. Verset teen paternalisme kenmerk dié subgenre, want vrouens voel hulle dikwels nog gevangenes in hul “kastele”, sy dié “kastele” hóé luuks en modern toegerus. Vryheidsbewegings ten spyt leef die moderne vrou nog steeds in “a man’s world”. Die “monster” in die huis is nog altyd die oorheersende man, en die vrou word, al is dit bloot metafories, “the mad woman in the attic”.

Dis dan ook opvallend hoe dikwels die woord huis en sy verwante in Neo-Gotiese fiksie voorkom: “The Fall of the House of Usher” van Edgar Allan Poe, Northanger Abbey van Jane Austen, Nightmare Abbey van Thomas Love Peacock, Bleak House van Dickens, “Die huis van die vier winde” van Eugène Marais, “Die huis teen Koppie Alleen” van Toon van den Heever, “Huis van die Bose” van ID du Plessis.

Nee, die Neo-Gotiek het tog nie aan die Afrikaanse letterkunde verbygegaan nie, maar dis ’n sporadiese verskynsel wat eers onlangs in tesisse aan die Universiteit Stellenbosch verken is.

Eugène Marais se hang na die geheimsinnige is welbekend, by hom boonop versny met dekadensie, hipnose en parapsigologie; en dikwels is ’n “bose” dier in die gedrang, ’n kraai of ’n slang. Maar die eintlike eksponent van Neo-Gotiek is ID du Plessis. Die titels van talle van sy verhale wys klaar in die rigting van Neo-Gotiek: “Mal Gert”, “Necropolis”, “Die Feniks”, “Die swart aap”, “Die weerwolf”, “Scorpio” (waarin ’n femme fatale ’n sterk rol speel), “Maria” (wat teen ’n Heksesabbat afspeel).

Wat van Langenhoven en Leipoldt se spookstories? Iewers te “gesond”, te “redelik”, om as Neo-Gotiek te kwalifiseer, volgens my.

Maar dan slaan Neo-Gotiek weer uit waar jy dit nie verwag nie, onder andere by Elise Muller. Haar heel eerste gepubliseerde verhaal, “Rachel”, is in die kerkhof-romantiek-sleutel, en bevat suggesties aan bloedskande en moord. In haar verhaal “Die dood van Francina Cecilia” word ’n donderstorm ’n metafoor vir opgedamde erotiese energie, maar onvermydelik – dit gaan tog om Neo-Gotiek – slaan die weerlig Francina Cecilia se geliefde dood.

Baldick sê in sy inleiding tot Gothic Tales dat die Neo-Gotiese verhaal hom nie leen tot parodiëring nie; die skrywers van dié soort verhaal is al self op ’n manier daarmee besig. In elk geval het Bret Harte dit so meesterlik gedoen in “Selina Sedilia” dat verdere parodiërings oorbodig is. Die verhaal “Die hotel” van Karel Schoeman het ’n sekere “campiness” wat baie ná aan die “opstuur” van Neo-Gotiek is; ja, vreemd soos dit mag klink, ’n verhaal waarin Schoeman die heeltyd glimlag.

Voorbeelde van “Gay Gothic” kom by Aucamp en Johann de Lange voor, en François Bloemhof het ook bewustelik in die Gotiese trant gewerk, maar sonder ’n gay-inslag, in sy roman Die nag het net een oog (1991). Volgens redakteur Danie Botha het Bloemhof baie spesifiek om ’n Neo-Gotiese omslag en illustrasies gevra.

Maar die volhardendste eksponent van Neo-Gotiek in Afrikaans is stellig Reza de Wet. Haar debuutdrama Diepe grond speel in op ’n óú idioom: “Stille water, diepe grond/ onder draai die duiwel rond.” Maar die duiwel self word in baie van haar stukke in vermomde vorm ten tonele gevoer, naamlik as die duiwelsminnaar (“demon lover”). Die duiwelsminnaar is ’n gestereotipeerde karakter, net so geërf uit óú ballades, maar baie nodig in De Wet se werk, wanneer vrouekrisisse en ’n katarsis ter sprake kom. Ook die telkense vasgekeerdheid van haar vrouekarakters, soos in ’n huis op die wal van ’n vol rivier, is suiwer Neo-Goties.

Ten slotte moet Marius Gie (skuilnaam van Martha C Gieseke) se roman Almeloo genoem word. Dit is die enigste vervolgverhaal in die geskiedenis van Die Huisgenoot wat op versoek van lesers ’n tweede keer geplaas is. Almeloo is na inhoud so ná aan Jane Eyre as wat ’n Afrikaanse roman nog gekom het. Die roman speel op ’n afgeleë plaas af. Die protagonis, ’n pasgetroude jong vrou, se lewe word verpes deur ’n besonder gemene skoonmoeder; ’n vrouegestalte wat vir my gevoel iets weg het van Mrs Danvers in Rebecca van Daphne de Maurier. En dan is daar nog ’n swaksinnige kind wat in ’n buitegebou versteek word, en ’n swakkeling-man.

Dit was opvallend praktyk van skryfsters hier teen die helfte van die vorige eeu om onder mansname te skryf, soos Marius Gie en Rudolph Meiring (skuilnaam van Debra Mocke, later Debra Sauer). Rudolph Meiring se speurverhaal, Die geheim van die berghaan, neig ook na Neo-Gotiek. En dan was daar “neutrale” name wat mans laat vermoed het, soos J van Elders en EJM Fraser. Het ons hier met voorbereiders van die feminisme te maak?

Neo-Gotiese letterkunde figureer in die kurrikulum van talle oorsese universiteite. Wil die een of ander Afrikaans-departement dit dan nie oorweeg om Neo-Gotiese werk in Afrikaans as kursus aan te bied nie?

 

Klik hier om ’n verhandeling oor Gotiese elemente in Francois Bloemhof se roman Die nag het net een oog te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top