Nat duiwe op ou grys geboue

  • 1

Nat duiwe op ou grys geboue

Kom ek gaan wys vir jou die son.
Los alles wat gemuf is agter
hier in die sat deurweekte Surrey-landskap
van jou selfgekose ballingskap:
visgrate in asblikke waar steegkatte snags kom aas;
meeue, omgekeer in reënplasse gespieël;
onsindelike meeue
wat blertse op dakke en stoepe maak
omdat hul in die eendeweer vir kos kom bedel
in kompetisie met morbiede reënnat duiwe
op ou grou geboue van die stad en woonbuurtes.
Veral onlangse grys herinnerings soos
klam onderklere aan 'n wasgoedlyn
in die slaapkamer van jou
skaars-beter-as-'n-plakkershut dakkamertjie gespan.
Geheim, soos gesogte binnekamer-"butler"-stories
oor publieke prinse, in geelpers en poniekoerant
as waarheid uitgelap.
Want jou oopbreek-oomblik van versweë dinge
het gekom, ek is hier
om na jou eie stem te luister in jou moedertaal,
jou terug te vat, te hersikleer;
jou aangepaste vreemdheid af te stroop.
En jy kan alles net hier los, alles vreemds,
on-Afrikaans, vir dié wat ná jou hier kom opruim
maar nie jou taal sal verstaan nie;
jou T-hempies met slagspreuke summier weggooi
sonder nalatenskap, goed, of dalk inkriminerend sleg;
koerantknipsels en Kerskaartjies wat ek gestuur het,
as sondoffer verbrand,
B en B se Afrikaanse “struggle”-boeke
wat Afrikaners nie meer duld nie, saam verpulp!
'n Soort etniese suiwering?
Dis draagliker om 'n geheim te openbaar
aan een wat dit nie sal verstaan nie, om net weg te kom;
tegnies katoliek korrek, maar steeds kovert
soos verskuilde agendas van 'n WVK oor Boere-“bashing”;
weg, na waar jy weer spontaan, opreg,
jou hart kan leegpleng aan een wat sal verstaan,
so beoordeel, 'n vonnis vel en dan amnestie gee.
Wat is liefde dan tog anders?
Los dan die verlede in smaraggroen graafskappe,
die plassende sat landskappe so ver van son en lig
waar niks anders as somberte gebeur nie.
Kom kyk hoe lyk die son oor die Karoo,
die bosveld, die eskarp; kyk self,
jy, wat deur my oë moeder Afrika moes aanhou sien
na jy my kortverhale op papier gelees
en haar in kort verbale telefoongesprekke
in die agtergrond gehoor het.
Bring dit nie dalk, agter geslote lede,
`n heugenis terug,
soos stroboskopiese groen naflikkering in oë
wat direk son-in wou kyk nie?
Hoor jy hiënas in kakofonieë snags,
die wimpelvlerk-naguiltjie se soet tremelo?
En bedags - sien jy die lig wat ek gecopy en
-paste en vir jou aangestuur het sodat jy die son,
die suide en vir my sal bly onthou?
Het die warm Afrika wat in jou yskou hart herleef
die kognitiewe Albion daar uitgesmelt
en laat vervloei tot nog 'n modderige plas
waar meeue in ontlas?
“Ek sal opstaan en na my vader gaan,”
my vaderland in moeder Afrika.
Ken jy dit nog?
Kan jy onthou?

 

  • 1

Kommentaar

  • Die werk dra die son. Met soveel fyn waarnemings word die binneste van en met vele emosie en woorde leeggeskraap. Dis asof twee gedigte daaruit kan skei, maar weer saamvloei. n Goeie gedig vir lekker vertolking.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top