My persepsie is dat daar plaaslik nie net oor Rhodesië/Zimbabwe 'n skreiende onkunde heers nie, maar ook oor Suidwes-Afrika/Namibië. Wanneer daar deesdae boeke oor hierdie buurlande gepubliseer word, is hulle gewoonlik in die politiek-korrekte idioom van ons tyd. The Kaiser's Holocaust: Germany's forgotten genocide (London: Faber and Faber, 2011, 304p) is geen uitsondering nie. Die outeurs, David Olusoga, 'n Nigeriër, en Casper Erichsen, 'n Deen, het lofwaardige navorsing gedoen en 'n interessante, leesbare teks geskryf. Maar hulle is dermate fanaties anti-koloniaal dat dit afbreuk aan die wetenskaplik-historiese waarde van hulle studie doen. Geen poging word aangewend om iets goed van die Duitse koloniale bewind of van die daaropvolgende Suid-Afrikaanse regeringsmandaat te skryf nie. In werklikheid het lofwaardige ontwikkelingswerk voor politieke onafhanklikheid in 1990 plaasgevind.
Die outeurs se ingesteldheid is deurgaans duidelik. Adam Hochschild se King Leopold's Ghost (1999/2006) oor die Belgiese koloniale bewind in die Kongo het ongetwyfeld as rigsnoer gedien. Daar is ook 'n obsessie om wat in Suidwes-Afrika gebeur het as 'n kleedrepetisie vir die Nazi-bewind in Duitsland aan te bied (p 361). Daaruit volg vir die outeurs ook die noodsaak om die "Apartheidsregime" so pro-Nazi moontlik voor te stel. Maar hulle het die gesonde insig dat apartheid nie in 1948 deur die Nasionale Party begin is nie. Daardie regering "set about expanding existing [my kursivering] laws into the Apartheid system" (p 349). Die siening dat Suid-Afrika se geskiedenis voor 1990 'n tragedie was, word ook op Namibië toegepas. Olusoga verwys na Namibië se "tragic past" (p 380). Die waarheid is natuurlik dat daardie Duitsers en Suid-Afrikaners nie net misdade gepleeg het nie maar ook baie voortreflike dinge gedoen het. Die kritiese leser kan nogtans met vrug die teks lees.
Maar daar is baie om voor op te let in die bewoording. Soos die gewoonte in Suid-Afrika is om van die "nasie" (bedoelende die swart meerderheid) pleks van die bevolking (wat uit verskillende groepe bestaan) te praat, word sonder meer oor die hedendaagse Namibiese nasie geskryf, terwyl dit duidelik uit die teks blyk dat bv die Namas en Basters lugtig vir die swartes is. Die Nama-kaptein, Hendrik Witbooi, het blykbaar geweet wat met bv Piet Retief gebeur het, dus skryf hy aan 'n Herero-opperhoof: "You wanted to lure me into your kraal and then kill me without warning" (p 47). Dat die Namas en die Herero's nie gesamentlik in opstand gekom het nie, word "one of the greatest tragedies in the story of Germany's rule over South-West Africa" genoem (p 174). Volgens die outeurs wou die Duitsers die inheemses uitwis, terwyl die inheemses die Duitsers maar net uit hulle land wou dryf (p 174-175). "The German soldiers were always [!] unable to engage the Nama on terms advantageous to their weapons and tactics" (p 180).
Die besetting van plase in die Oekraïne deur Duitsers word veroordeel (p 7). Dieselfde gebeur tans met die plase van wittes in Zimbabwe en Namibië, maar dit bly onvermeld. "The Nazi war to build an empire in the East [Oos-Europa] was classically [!] colonial in that it was characterised by genocidal violence ... Colonial genocide has always [!] been a drawn-out process of massacres, famines, enslavement and hidden liquidations" (p 8). Die outeurs skryf van die "annihilation of the Tasmanians, Patagonians, the Native Americans" (p 72), maar tot vandag toe oorleef daar van hulle.
Afrika voor kolonialisme word idillies voorgestel: "the lush green shores of West Africa. The wealth of the coast was clearly visible" (p 15). "High on a great central plateau that lay sandwiched between the Namib and Kalahari deserts, tens of thousands of people lived in relative affluence" (p 19). Hoe het die kolonialiste die swartes gesien? "At a distance or through the sights of a rifle" (p 49). Duitsland het tot die 1880's geen kolonies gehad nie. Sy kanselier, Otto von Bismarck, was daarteen gekant. Maar daar word beweer: "Bismarck had long been willing to send gunboats across oceans to intimidate and bombard Africans or Asians" (p 33). Duitsland het mettertyd op 'n beperkte skaal 'n koloniale moondheid geword omdat dit toe die gebruik by die voorste Europese lande was (p 34).
Historiese gebeure moet nie net uit ons huidige oogpunt betrag word nie, maar ook vertolk word ingevolge die gebruike van daardie tyd. Deesdae word oorlog teen koloniale heersers, veral van swartes teen wittes, as geregverdig beskou. Voorheen was dit anders. Theodore Roosevelt (president van die VSA, 1901-1909) "argued that wars between the lower races and the white race, although characterised by extremes of violence, were ultimately necessary: 'The most ultimately righteous of all wars is a war with savages'" (p 107). Hy noem spesifiek die stryd tussen die Boere en die Zoeloes. Dat kolonialisme nie net sleg was nie, blyk bv uit die feit dat Brittanje sy protektorate teen volskaalse kolonisering (dus blanke inisiatief) beskerm het. Die agterstand in ontwikkeling wat dit veroorsaak het, kan steeds duidelik in bv Botswana, Lesotho en Swaziland gesien word.
Die Duitsers het nie altyd daarin geslaag om aanvaarbare ooreenkomste met die inheemse groepe te sluit nie. Die outeurs beskryf dit as "outmanoeuvred by independent, literate and educated Africans" (p 54). Volgens die outeurs "the death camp was invented" op Lüderitz se Haai-eiland (p 10, ook p 220). Die Duitsers het net so streng teen die Namas (dus die bruin of Khoi-groepe) as teen die swart Herero's opgetree, maar al waaraan ons deesdae in die openbare media herinner word, is die Herero-volksmoord. Ook in hierdie geval is die bruines 'n miskende groep.
Die outeurs beweer dat die Britte se konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boere-oorlog as voorbeeld vir die Duitse konsentrasiekampe in Suidwes-Afrika gedien het. Wat ek interessant vind, is die opmerking: "Four years earlier, the Spanish rulers of Cuba had forced civilians into similar camps during the revolt of 1896" (p 160, ook p 342).
"Internal divisions among African peoples were routinely exploited by European colonisers" (p 61). Maar die inheemses het dieselfde gedoen deur telkens by die grootste koloniale moondheid, Brittanje, te gaan kla oor die Duitsers. Kwaaddoeners het in die Brits-beheerde Betsjoeanaland, die Kaapkolonie en Walvisbaai gaan skuiling soek. Die Britte het skynheilig verklaar: "European nations do not make war in that way." Die outeurs noem hierdie reaksie tereg "disingenuous" (p 76). En na die Britse en Suid-Afrikaanse oorname van Suidwes-Afrika: "British and South African condemnation of Germany's treatment of the Herero and Nama in 1917 was belated and disingenuous. Britain's own record of colonial and even genocidal violence laid her open to charges of hypocrisy" (p 260).
Die Britte was sedert 1878 in beheer van Walvisbaai. In 1910 het dit deel van Suid-Afrika geword. Met onafhanklikheid in 1990, toe Swapo se terreurbendes beheer oor Namibië verkry het, het die Nujoma-regering die grenselose vermetelheid gehad om Walvisbaai sonder meer as deel van Namibië te verklaar. Die De Klerk-Mandela-alliansie het in 1993 ruggraatloos en vergoedingloos aan hierdie eis toegegee. Die nuwe Suid-Afrika mag mos nie 'n koloniale moondheid wees nie. Vergelyk die Walvisbaai-sage egter met Simonstad. Die Britse regering het van die "Apartheidsregime" vereis dat hy die vlootgeriewe ten duurste koop.
Slawe is destyds aan die Kaap ingevoer omdat die inheemse bevolking (San en Khoi) as arbeiders nie werklik bruikbaar was nie. In Suidwes-Afrika was die Duitsers se ondervinding dieselfde (p 205-206, 234). Die swart Herero's is egter as geskikte arbeiders beskou. Hulle het gehelp om die spoornetwerk te vestig (p 173). "It can be considered a continuation of their extermination, by non-military means" (p 203). Maar die Herero's kan daarop roem dat hulle iets konkreets tot stand gebring het. Dat dwangarbeid gunstige gevolge kan hê, blyk uit 'n koerantberig in 2009: "The slow pace of work on Namibia's new southern railway" word gekontrasteer met "the lightning speed by which a similar line had been constructed between 1905 and 1906" (p 352).
Johannes Comestor


Kommentaar
Hello,