Nadoodse ondersoek: CSI vir poësieliefhebbers

  • 0

Nadoodse Ondersoek
Martina Klopper
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152242
Prys: R145.00

Klik hier en koop Nadoodse Ondersoek nou van Kalahari.net!

 

Op die omslag van Martina Klopper se debuutbundel, soos met ander onlangse NB-digbundels, is iets baie vreemds. Onder die titel, in hoofletters, die verklaring: “GEDIGTE”. Regtig, kan jy nou meer. Miskien is hierdie vermaning bedoel vir daai Engelse poppies in boekwinkels wat dit dalk mag verwar met ’n versameling Bybelversies of ’n resepteboek en dit op die verkeerde rak plaas. Of dalk wil die uitgewers bloot verhoed dat iemand inderhaas op pad lughawe toe die dun boekie met ’n ligte speurverhaal verwar en aan sy brandewyntjie verstik as hy vir die eerste keer sedert sy hoërskooldae met die vreemde tipografie gekonfronteer word. (Myns insiens sal so ’n foutjie voordelig wees vir die stand van poësieverkope, maar nou ja.)  

Wat die rede ook al mag wees, benewens “gedigte” en debuutbundel is Nadoodse ondersoek ook verskeie ander dinge: ideale leesstof vir studente van die psigo-analogie, ’n voorbeeld van hoe om lekker te wroeg sonder om in sentimentaliteit te verval, ’n terrein vir debat vir voorstanders van verskillende skole poësie in die Afrikaanse letterkunde en die ideale Kersgeskenk om onder jou moerige tienerdogter se kamerdeur deur te glip as sy weier om uit te kom omdat niemand haar verstaan nie (die bundel is dun genoeg hiervoor).

Om die inhoud van die bundel kortliks te probeer opsom, doen afbreuk aan die verwikkeldheid van die motiewe, maar kom ek waag my hand. In wese word die skryf van gedigte gelykgestel aan ’n nadoodse ondersoek. Want om gedigte te skryf, is ’n poging om met verlies/die dood (ook op metaforiese vlak) om te gaan en dit te aanvaar en te verwerk. Dat die poging van die begin af futiel is en dat woorde noodwendig tekort sal skiet, word telkens in die bundel gesuggereer en is weliswaar een van die groot temas van die (post)modernemetapoësie.

Die deurlopende metafoor van die lykskouing het ’n verdere implikasie: Iemand was verantwoordelik vir die dood, en dis die digter se taak om uit te vind wat die oorsake is.  In die openingsgedig, wat as sleutel tot die bundel gelees kan word, word dit as volg gestel:

III
Die digter is ’n patoloog,
’n gedig die lykskouingsverslag:
om te skryf is om te soek
na die oorsaak van ’n woord.

Hierdie basiese metafoor het egter verskeie permutasies. In deel I van dieselfde gedig word ook gesê:

Hier is my liggaam
op die praalbed van papier
dis jóú taak om die oorsaak
van my dood te bepaal.

Die leser self word dus uitgenooi om te kyk na die digter se binnegoed, wat so klinies op die wit papier uitgestal word. Dat die bundel ’n veelheid van interpretasies uitnooi, is gewis.

In ’n erg akademiese dog fassinerende essay skryf Jaco Barnard-Naudé oor Nadoodse ondersoek as voorbeeld van die Derridiaanse rouproses, waarin die Freudiaanse onderskeid tussen sogenaamde “melankolie” (abnormaal) en “rou” (normaal) opgehef word. Vir hom is die digter se stem ’n voorbeeld van ’n gesonde “kliniese” afstand wat gehandhaaf word sodat daar hoop op genesing is, al word die wonde wat in die bundel beskryf word, nooit volkome bloot littekens nie. Barnard-Naudé wys ook interessante verbande met die psigoanalitiese benaderings van Lacan en Kristeva uit en noem dat die bundel op psigoanalitiese vlak eintlik met die verlore of gestorwe Ander te make het.

Ek wil egter vir ’n oomblik wegbeweeg van interpretasiemoontlikhede en fokus op ’n meer verstegniese aspek van Klopper se gedigte wat deurlopend in die bundel te bespeur is. Waar een van die sterk punte van die bundel is dat die digterstem nooit in ’n té sentimentele of bejammerende toon verval nie, is dit egter ook so dat baie van die gedigte nooit verder as ’n basiese metafoor vorder nie.  Kom ek verduidelik wat ek bedoel aan die hand van die volgende:

Gevaar / Danger / Ingozi

My hart is ’n ou kragboks:
swaar gelaaide drade
peul daaruit; my are
staan wild van die volts

die stroom flits en kraak
daar is geen smeltdraad –     
ek is heeltemal onskadelik
solank niemand aan my raak.

Hierdie gedig is deel van die afdeling “Interne ondersoek” en is een van ’n reeks gedigte in hierdie afdeling wat die hart as metafoor vooropstel. Om op vars maniere oor die hart te skryf, is ’n gewaagde toertjie waarmee net die beste digters kan wegkom, en dat Klopper daarin slaag om nuwe metafore vir hierdie geykte onderwerp van die poësie te skep, sê op sigself iets oor die kreatiewe talent van die digter. Die hart as ou kragboks is ’n geslaagde beeld, maar die beeld ontwikkel ná die openingsreël nie op enige verrassende manier verder nie.

Die leser se verwagtingshorison en opvatting oor wat die poësie kan of wil wees, kom hier ter sprake, en dit sal ook verskil van leser tot leser. Met die metafoor self kan daar niks fout gevind word nie en dit maak heeltemal sin. Ook die toon en styl is in die kol (die weglating van die dubbele ontkenningsvorm ten spyt). Maar is ’n goeie of briljante gedig nie juis meer as net ’n geslaagde beeld nie? Wat uitsonderlike poësie by uitstek doen, is om die leser se wêreld op sy kop te keer, jou met ’n blind-sided vuishou teen die oor te tref wanneer jy dit die minste verwag. En hierdie gedig, soos ander gedigte in die bundel, slaag nie hierdie fynproewerstoets nie.

My gunstelinggedigte in die bundel is juis dié wat op die oog af nie té hard probeer om by die bundelmotiewe in te skakel nie, maar eerder op eie stoom daarin slaag om ’n vars invalshoek of gewaarwording te verwoord. “Vertrek” is moeiteloos en elegant. “One night stand” se slotreël, “wellus was ’n lomp chirurg”, oor die futiele poging om met ’n one night stand die verlies te besweer, het impak, terwyl “Ontbyt I” se kragtige slotreël nuwe lig op die hele gedig werp en ’n wrang smaak in die mond laat:

Dis oggend.
Lig lê tussen ons lywe
soos ’n selfgeregtige gebed –
skynwit en skerp.

Jy noem haar naam en soen my –
sy’s my trouvrou – en soen my weer
met jou oë oop en jou lyf toe;
jou mond is taai van min slaap
haar naam op jou tong proe sout:
ons eet haar vir ontbyt.

“Dis te laat” en “Skedonk I” werk omdat die slotreëls verrassende wendings bied, terwyl “Onderlaag” en “Date rape”, met sy slotreëls “Uit ’n vervelige afspraak / is daar geen gedigte te maak nie”, ’n mens bybly.

Marius Crous wys in sy resensie vir Beeld op die ooreenkomste en oorskaduende invloed van Joan Hambidge (die bundel is voltooi as deel van ’n meestersgraad onder Hambidge by die Universiteit van Kaapstad). Dat enige digter deur haar studieleier se werk beïnvloed sal word, is vanselfsprekend. Dit laat ’n mens egter wonder hoe Klopper se stem sou ontwikkel het onder die invloed van byvoorbeeld Marlene van Niekerk. Maar dat Klopper kán skryf en die potensiaal het om gedigte met selfs groter slaankrag te skryf, is nie te betwyfel nie. Hiervan getuig die volgende strofe uit “Selfportret”: 

Aan vier moesies en ’n naeltjie
hang my maag in wit rekmerke:
die maan en ’n paar sterre gestrik
om die dooie boom se weerlose mik. 

Nadoodse ondersoek is ’n ryk leeservaring en ’n welkome alternatief op daai aande wanneer jy iets met ’n bietjie meer lyf soek as  voorspelbare moord- en speurreekse op die kassie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top