’n Tienjarige meisie, met helder blou oë, loop in die strate van Parys. Van voor kom daar ’n ou geel bus aan, en hy waai haar pragtige bruin krulhare deurmekaar. Die meisie stop en vee haar hare uit haar gesig. Sy kyk af na haar regterbeen en sug diep. Sy dink terug aan die hartseer en smart wat sy moes ervaar ’n jaar gelede.
Sy dink by haarself: “Ag hoekom dink ek ooit nog aan die been, die skade is klaar gedoen.” Haar regterbeen sal vir altyd korter wees as die ander een.
Sy loop verder en sien die groot stad voor haar, vol gepak met mense. Hulle druis en eet en as hulle verby die winkeltjies loop, sien hulle baie interessante dinge en stop eers om als te bekyk. Toe die meisie na haar horlosie kyk, sien sy sy is laat vir skool. Skielik is die donkerkopmeisie tussen die mense – sy wil so gou as moontlik by die skool kom. Sy vleg deur die skare tot sy verby al die winkeltjies is.
Sy kyk voor haar en sien die groot ou skoolgebou. Sy verf is afgedop en sy speelgoed is stokoud en geroes.
Die meisie staan stil en sê vir haarself: “Is hierdie die skool waarna ek moet kom?”
Sy kyk nog ’n ruk na die skool en dink dan hoe aaklig dit in dié skool moet wees.
Na ’n ruk loop sy maar na die groot houtdeur, waarop daar “Ontvangs” staan. Sy stoot die groot deur oop en gaan staan voor die tafel. ’n Juffrou met ’n bril op haar neus kyk na haar en sê met ’n diep stem: “Goeiemôre. Waarmee kan ek help?”
Die meisie antwoord: “Goeiemôre, ek is Anke Badenhorst, ek is ’n nuwe leerling in julle skool.”
Die juffrou kyk ’n ruk lank gefrons na Anke, en vra: “Het jou ouers al na die skool gekom en met ons kom praat?”
Anke sê: “Ja Juffrou, hulle het seker so twee weke gelede gekom.”
Die juffrou kyk af en vra: “In watter graad is jy?”
“Graad vyf, Juffrou.”
Die juffrou haal die dagboekie uit. “Watter dag het hulle gekom?”
Anke dink ’n bietjie en sê dan: “Die sesde Februarie.”
Die juffrou soek na die sesde Februarie in die dagboekie. Na ’n rukkie sê sy: “Aha, hier is dit. Is hulle name Alexander en Kara?”
“Ja Juffrou, dit is hulle name.”
“Reg juffroutjie, jy moet na klaskamer vyftien toe gaan. Volg my, dan wys ek jou waar dit is.”
Die juffrou staan op en loop by die deur uit. Sy gaan reguit met die breë gang af en draai daar regs; sy loop weer reguit tot by ’n bruin deur. Die juffrou steek in haar spore vas en maak die deur oop.
Die leerlinge kyk Anke snaaks aan en Anke kry skaam.
Die ontvangsdame sê: “Goeiemôre Juffrou, hier is die nuwe meisie wat in jou klas is.”
Die juffrou staan op en loop na Anke. Sy is lank en maer, sy het donker bruin hare en grasgroen oë. Sy kom staan langs Anke.
“Graad vyfs, hier is ’n nuwe leerling in julle klas. Haar naam is Anke – is dit reg?” Anke knik net.
Daar rus ’n stilte oor die klas totdat die juffrou begin kyk waar Anke kan sit. Al die kinders begin tekere gaan en mekaar uitskel.
“Ek is seker sy gaan langs my wil sit,” sê een.
“Nee, sy sal eerder langs my wil sit,” sê ’n ander.
“Wie wil nou langs iemand soos jy sit?” mompel ’n beeldskone meisie.
“Dit was nou onnodig, Nadia,” sê Juffrou vies.
Anke kry ’n eienaardige gevoel oor die lang, maer, bruingebrande, blondekop-meisie. Sy weet sommer sy en dié gewilde meisie gaan nie goed oor die weg kom nie .
Later raak Juffrou moedeloos en sê: “Kies jy maar waar wil sit.”
Anke kyk rond en sien ’n oop sitplek heel agter in die klas. Sy wys na die sitplek en vra: “Juffrou, mag ek asseblief daar agter sit?”
“Ja natuurlik, Anke.”
Anke gaan skuif gemaklik by die bank in. “Môre Anke, ek is Mariska.”
“Môre Mariska.”
Anke neem in hoe mooi Mariska is en glimlag.
Die klas raak weer rustiger en Anke leun oor na Mariska en vra saggies: “Vir wat is ons hier?”
“Hmm, Engels, maar jy hoef niks uit te haal nie, want Juffrou is besig met papierwerk vir die hoof.”
“O, dan sal ek maar teken.” Sy kry papier en ’n potlood uit en begin ’n glansende dolfyn wat heerlik in groot branders baljaar, teken.
Pouse breek uiteindelik aan en op die ou breë stoepe is ’n groot lawaai van kinders wat hardloop. Anke loop rustig saam met Mariska op die smal sementpaadjie, elkeen besig met hulle eie gedagtes.
Mariska gaan maak haar tuis onder die groot eikeboom en Anke kom sit gemaklik langs haar. Hulle maak hulle kosblikke oop en net toe Anke die eerste hap van haar tamatiebroodjie wil vat, vra Mariska: “Anke, wat het met jou been gebeur?”
Anke laat sak haar kop en sit haar broodjie terug. “Ek wil nie eintlik daar oor praat nie.”
“Ag asseblief, ek is nie iemand wat skinder nie, veral nie oor ander mense se gebreke nie,” pleit Mariska.
“Nou maar goed,” sê Anke en sy begin die storie vertel.
Toe Anke klaar vertel het, is Mariska stomgeslaan. Al wat sy kon sê, is: “Sjoe.”
Anke voel ongemaklik, asof iemand vir haar kyk. Sy kyk links na die ander eikeboom toe en sien Nadia daar sit; sy is saam met ’n klomp ander kinders. Anke besef dadelik dat Nadia afgeluister het.
Die harde getril van die klok trek deur die lug. Al die kinders begin op hul tyd opstaan en klas toe beweeg. Anke voel steeds ongemaklik en besef skielik dat Nadia nader kom. “Ek kon nie help om te hoor van jou ongeluk nie, ek is tog so jammer. Ai, arme jy,” sê sy sarkasties.
Nadia draai met ’n houding om na haar vriendinne en begin hardop lag. Mariska spring op en wil agter hulle aan gaan, maar Anke sê: “Los hulle, dat hulle maar kry wat hulle wil hê.”
Mariska kom sit weer en vra: “Wat wil hulle hê?”
“Hulle wil hê dat almal moet weet van my gebrek.”
Die middag na skool loop Anke ingedagte huis toe. Sy wonder of sy haar ma en pa moet vertel van vandag. Wat sal hulle daarvan dink? “Ag, kom ek los dit maar, ek het dit begin, so nou moet ek dit alleen deursien,” dink sy hardop.
By die huis gekom, sit Anke saam met haar ma aan tafel vir middagete. Hulle eet lekker kookkos soos groente en hoender met ’n koue lemoensappie. Anke se ma vra: “Hoe was jou eerste skooldag?”
“Baie lekker dankie,” sê Anke en probeer haar gevoelens wegsteek. “Net baie huiswerk, maar ek sal gou gewoond raak daaraan.”
“Jy beter, anders gaan jy begin dink dit is goed genoeg om net die helfte van jou werk te doen,” kom die stem van Anke se pa vanuit die ander vertrek. Hy stap nader en gaan sit.
Hy steek sy hande uit en sê: “Nou toe, dames, kom ons bid voor die kos koud is.” Hulle vat sy hande en Anke se pa begin bid.
Daardie aand in haar kamer pak Anke haar tas en dink aan haar dag by die skool. Sy sê vir haarself: “Ek was reg, dit is aaklig in hierdie skool.”
Die wekker laat Anke wakker skrik – nog ’n skooldag. Sy stap badkamer toe en glimlag soos altyd toe sy haar deurmekaar hare in die spieël sien. Dit is altyd so ’n groot storie om dit uitgekam te kry, maar sy hou daarvan, want as dit uitgekam is, laat dit haar mooi lyk. Sy tel die borsel op en begin.
Die oggend aan ontbyttafel is Anke stil, maar dan onthou sy skielik dat die atletiek om die draai is en sy begin vir haar ouers verduidelik dat hulle volgende week gaan begin oefen. “Oor drie weke is die groot byeenkoms,” sê sy en haar ogies begin blink. Sy pleit: “Mag ek asseblief na die byeenkoms toe gaan?”
“Wel, as jy so graag wil gaan, kan jy maar, skat,” antwoord Anke se ma.
“Dankie Mamma!”
Anke huppel vrolik skool toe en maak seker dat sy nie laat gaan wees nie. Sy dink aan gister, hoe die kinders mekaar uitgeskel het oor waar sy moet sit. Die juffrou moes haar geskaam het vir die klas. Skielik is Anke se hart seer. Vandag sal dit anders wees.
Anke wriemel deur die stalletjies in die nou strate en sien die groot hek waar die mammas staan en vir hulle kinders waai. Dit is vir Anke so oulik as sy hoor hoe die kleintjies vir mekaar vertel oor hoe sterk hulle pappas is.
Anke gaan sit haar tas by haar eerste klas en loop soekend na Mariska. Soos sy stap, is sy bewus van die kinders wat agter haar rug giggel. Sy voel so ongemaklik. Sy loop nog so ’n entjie en sien vir Nadia en haar vriendinne. Hulle lag en skinder hardop en Anke weet dit gaan ’n lang week wees.
Sondagaand lê Anke in haar bed. Sy is opgewonde oor môre. Sy rol rond en kan nie slaap nie, maar dan val haar oë uiteindelik toe en alles is vergete vir nou.
Dit is Maandagmiddag en Anke oefen. Sy hardloop trappies. Na die laaste stel loer sy na haar oefenprogram. “Ag nee, dit is nou naellope.” Anke is nou nie juis baie bly daaroor nie. Soos die weke aangaan, raak die program al strawwer, maar sy weet sy moet hard oefen as sy iets wil bereik.
Op ’n dag is Anke besig met veerkrag toe iets haar oog vang. Sy stop en draai haar skraal lyfie in dié rigting en sien vir Nadia, wat nou gestop het. “Ek het nie geweet jy gaan atletiek doen nie, maar jy gaan beslis nie wen nie, Anke ou pop.”
Anke kry die gedagte dat Nadia ook gaan deelneem en sê vir haar: “Wen is nie so belangrik nie – het jy geweet mens kan dit ook net vir die pret doen?”
“Ja, ek het geweet mens kan dit ook net vir pret doen, maar wie wil hulle tyd mors daarvoor? Vir seker nie ek nie,” skel Nadia terug.
Die oggendson loer vir Anke deur haar gordyne. Hy groet haar vriendelik met sy warm strale. Anke glimlag; sy besef die groot dag is hier. Sy hoor haar ma se stem van die kombuis af : “Anke skat, kom eet.”
“Ek kom!” roep Anke terug.
Anke sit aan die ontbyttafel en verslind haar kos. “Vlooi jy hoef nie so vinnig te eet nie, die kos gaan nie weg hardloop nie.”
“Ek weet, Mamma, maar ons gaan laat wees vir die groot byeenkoms.”
“Ons sal nie, skat, ons moet eers kwart oor sewe daar wees,” antwoord haar ma liefdevol.
Anke is klaar geëet. Sy hardloop by die trappe op na haar kamer en dan, skielik, onthou sy Nadia se woorde en loop stadiger.
In haar kamer trek Anke vinnig haar rooi-en-wit hemp en broek aan. Sy loer na haarself in die spieël en voel sommer trots, dan gaan sy weer met die trap af en kry al haar goedjies reg.
Op pad skool toe is die opwinding groot. Daar klim Anke uit die kar uit en hoop dat sy die vrugte van haar harde werk sal pluk.
Om twaalfuur gaan meld Anke by die verspring aan. Sy gee haar naam op en trek gou haar spykerskoene aan. Al die kinders gee hulle name by die beampte op en Anke let op dat een van hulle Nadia is.
Die deelnemers warm op, strek en hardloop op die plek. Almal se treë is in en die kompetisie begin. Elke atleet spring op haar beurt en gee hulle beste.
Dit is Anke se laaste sprong en sy gaan staan by haar merkie. Sy konsentreer hard en vir ’n oomblik word sy weggevoer in haar gedagtes. Sy sien al die ritmiese bewegings in haar geestesoog, haar spoed, haar vastrap met die gesonde been en hoogte kry. Sy hoor haar afrigter se woorde: “Hard, hoog, ver.”
Sy kyk weer na die put en doen dan presies soos sy nagedink het. Alles gebeur perfek. Anke se ma en pa is stokstyf van spanning.
Sy kom te lande op die sagte sand. Sy staan op uit haar hurkposisie en stap uit die put, kyk na die rooi vlaggie wat in die wind waai, en kyk na haar spore, dan begin haar blou ogies straal. Sy ... het die rekord geslaan! Anke kyk na Nadia, wat verbaas na Anke se spore staar. Die beampte se oë rek toe sy die afstand lees: “Vier komma drie twee, ’n nuwe rekord.”
“Dit lyk my ek het toe die vrugte gepluk van my harde werk,” sê Anke, skoon dronk van die opwinding. Sy hardloop na haar ma en pa toe. Hulle lyk ook net so verbaas.
Anke lag en vra: “Het almal hulle tonge ingesluk?”
Niemand antwoord nie.
Later, toe al die kinders klaar is, gaan staan hulle om die beampte se tafel om uit te vind wie gewen het. Die beampte maak by Suzaan ’n nommer-twee-merkie en by Elmarie ’n nommer-drie-merkie. Sy kyk mooi na die afstande en maak by Anke ’n nommer-een-merkie. Anke kan haar oë nie glo nie, sy is eerste. Haar oë soek deur die lys na Nadia se naam. Nadia is laaste – nommer ses staan langs haar naam. Anke se hart word sag en sy gaan na Nadia toe en sê: “Ek is jammer dat jy laaste is, Nadia, maar jy het tog mooi gespring.”
“Toemaar Anke, jy verdien die eerste plek. Ek is jammer oor al die lelike woorde wat ek vir jou gesê het – ek het dit regtig nie bedoel nie.”
“Dit is reg Nadia, ek vergewe jou,” antwoord Anke saggies.
“Dankie Anke, ek besef nou jy is regtig oulik!”
Anke dink by haarself dat dit nogal vreemd was. In een dag slaan sy die verspringrekord en maak ’n nuwe vriendin van Nadia.
Met haar medalje om haar nek stap sy met ’n glimlag kar toe.