’n Vrou het behoefte aan ’n man

  • 0

Vrydag was ons 11de huweliksherdenking. Ek het betyds onthou sonder om weer voortydig te vergeet. Was selfs opgewonde, weet nie hoekom nie. Dalk oor die moontlikhede ... Soos met ons kinders se geboortes toe ek vir elkeen twee name gereed gehad het, ’n pienke en ’n bloue want, kom ons wees eerlik met mekaar, daar is geen pret in ’n deurskynende lucky packet nie. Dit was ’n voorreg wat jy aan my toegestaan het.

Dit was ’n moeilike week in aanloop tot die hele gedoente. Buite was dit bitter droog. En onchristelik warm het iemand gesê. Besigheid was stil. Die hoenders het van my saailinge platgetrap maar plant sal ek nuwes bly plant. ’n Rot het weer in my saad ingevaar maar oes sal ek ander bly oes. Woorde wou ook net nie in plek val nie maar dobbel sal ’n slegte verloorder bly dobbel. Selfs ongeag die feit dat in die letterkunde die digkuns die eerste oggendskof van ’n vyfdag-kriekettoets is. Ja, ek kan sulke letterkundige uitlatings maak siende dat ek ook die alfabet ken.

Jy, inteendeel, kan so moeiteloos vasbyt. Week in week uit, jaar op jaar af, dekade agter dekade voor. Raak jy nie gatvol om hierdie klip te rol nie? Ek sê jou, hulle het ons ’n rat voor die oë gedraai, van kleintyd af. Die speelparkie is nie verniet in sulke helder kleure geverf nie. Gaan kyk gerus weer: Die demagoë word soos vrot velle uit die swaaie geslinger, die ekonome klou vir al wat hulle werd is aan ’n bulkende wipplank en die verbruikers is vasgevang op ’n rondomtalie wat al vinniger draai. Maar glyplank sal ons almal ry, oor en oor en oor.

’n Dag of wat voor die 18de het jy vir my gesê ons moet dit ’n low-key affêre hou. Daar’s in elk geval nie geld vir uitspattighede nie ... Ek was teleurgesteld, weet nie hoekom nie. Amper soos om ’n afsêbrief te ontvang, ’n Dear John van ons drome ...

Op die groot dag kon jy nêrens die dokumentêr oor Korczak kry nie. Ek wou nie saam wyn drink nie. Ons het backed beans op toast geëet en Noot vir Noot gekyk.

Later, in die slaapkamer, met jou leeslamp nog aan, het ’n enkele skaduwee en ander skrik op die lyf gebewe van blydskap toe ek my kop oopbreek teen U2 se woorde: “’n Vrou het behoefte aan ’n man soos wat ’n vis ’n fiets verlang.”

Adriaan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top