'n Vraag sonder oordeel aan Jaco Fourie

  • 7

Ek volg LitNet se brieweblad al vir etlike jare, en moet bieg dat vanmelewe se blad veel meer opwindend was as die siekerige skaduwee daarvan wat dit vandag is. Dit was soos om Wimbledon te kyk, soos die kishoue tussen die Christene en ongelowiges, straights en gays, regses en linkses oor die net geklap is.

Jaco Fourie verteenwoordig die spook van die brieweblad se voormalige glorie; hy staan man-alleen, 'n militante, ongelowige gay, 'n Don Quixote wat denkbeeldige windmeulens wil uithaal, wat eenvoudig nie besweer wil word nie. Iemand wat ook verlief is op Dan Roodt, te oordeel aan hoe hy telkens na laasgenoemde verwys.  

Alhoewel ek 'n Christen is, is dit vir my as sondaar moeilik om ander sondaars te oordeel. Die tannies by die winkelsentrum se cleavage is vir my tog te fraai en dus pleeg ek verskeie sondes op 'n Saterdagoggend, wat om ander mans se dinge te begeer en virtuele egbreuk insluit. Wie is ek dus om mense wat in Levitikus verdoem word, te oordeel?

Tog moet ek wonder waar kom Jaco se "chip on the shoulder" oor sy gaywees vandaan. G'n brief gaan verby sonder dat hy daarna verwys nie, dikwels in grafiese detail. Om nou 'n hipotetiese voorbeeld te gebruik, lees ek nie dan Jan Rap skryf dat hy weliswaar die buurman se vrou gespyker het, maar nietemin baie ontsteld is oor die korrupsie van die NSA nie. Waarom definieer jou seksualiteit jou, Jaco, maar slaag Jan Rap daarin om sy eie oog vir die buurvrou nie elke keer te noem nie? Waarom voel jy dit nodig om almal telkens daaroor in te lig? Het jy nie vrede gemaak met wat jy is nie? 

Vrede vir jou.

JvNk

  • 7

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste JvNk,  

    Met respek tot jou vrae aan Jaco.

    Ek is absoluut eens met jou in hart en siel dat ons as gelowiges nie andere eens sal WIL oordeel nie - wat nog "vermaninge in naasteliefde" uitdeel aan iemand op die Internet wat jy nie eens ken nie.  

    Met die deur van my hart oop en Jesus Christus onse HERE saam met my aan't tafel daarin, kan ek my gewete in Sy liefde en genade sonder enige verdere openbaarmaking lawe.  

    Waar ek wel soms my dwalinge deel is dit om die verlossende genade in, en tot eer van Jesus Christus ons Almagtige Lewende Skepper te bely.  

    Iemand wat nog nie die klop aan die deur van hul hart gehoor het nie, of dit nog nie oopgemaak het nie, sal of hul dwalinge agter "spiritueel intelligente" skynheil en farisese skrifgeleerdheid probeer verberg, of soos Jaco dit met die wêreld en die gevolglike hardvogtige vertrapping deur "ware gelowiges met die Woord in pag" daarvan deel.  

    Waar anders het Jaco om met sy werklikhede te gaan?  

    En dis die hartseer wat ek saam met Jaco deel; die hartelose veroordeling en "vermaning in naasteliefde" met al gepaardgaande neerhaling deur "ware Christengelowiges" van hul medemens se werklikheid in die openbaar.  

    Die persoonlike verhouding met ons Skepper (die ervaring wat elkeen self kan hê om aan God te behoort), word nie deur mense aan mekaar gegee nie; dit kan net deur Jesus Christus onse Hemelse Vader SELF in ons harte bewerk word.  

    Ek bid dat elkeen wel die liefde en genade, die troos van GOD ons MOEDER, persoonlik in hul harte sal ervaar.

    Namaste!

    Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,

    Cornelius

  • 19-07-2012

     Ten opsigte van Dr Le Cordeur se skrywe, die volgende:

     1. Spelling: Mtembu, Sandile Sunduza, Noordwes en Sestwana is glattie so kosjer nie.

    2.(a) Afrikaans word nog AMPTELIK beskryf as "isiBhulu" (Boer se taal"), kanti, reps is tjoepstil.

        (b) Afrikaans en Engels word ondanks hul grondwetlike status nog steeds nie as Afrika-tale erken nie.   Hoe op deeske aarde kan 'n Afrika-land se amptelike taal nie 'n Afrika-taal wees nie? Ondanks die geskiedenis van kolonialisme en imperialisme, is dit sommige sprekers wat apartheid toegepas het, nie hul taal nie.

    4. Die ATR se samewerking met Afriforum en Solidariteit is bitterlik betreurenswaardig. Hulle is juis die mense wat nog na hulself as 'Boere' verwys en in Orania wil gaan aftree.  

    Die ATR sal ons moedertaal voorop moet stel en haar so ver as moontlik van die apartheidsverlede moet verwyder, ter wille van al haar sprekers en nie net vir 'n elite-groepie se onbeproefde status nie.

    Jacobus Faasen

  • JvNk

    Nee.  Ek het geen "chip" op my skouer oor moffie wees nie. Ek weet wat ek is en geniet myself gate uit in daardie hoedanigheid. 

    Ek lief ook om te stook, en die wye reaksies te gewaar.  Ek weet ek is ook 'n verleentheid vir die gay gemeenskap.  Ek is net so uitgesproke by gay sosiale plekke wat ek besoek. Aanvanklik het hulle my hier op die Net kwaai gekap, maar toe ek terugkap en die geveinsthede in hulle eie gemeenskap ook uitwys,  het hulle begin stiller te word, uiteindelik heeltemal stil.  

    Die straight Afrikaner gemeenskap oor die algemeen huldig 'n paar wanpersepsies oor Afrikaner gays wat ek hulle die teendeel wil uitwys. Van hulle dink Afrikaner gays is in die Engelse liberale kamp;  dat hulle van hulle taal in voorkeur vir Engels wil afsien; moffies wat ateïste is, kan seer sekerlik nie Afrikaner wees nie, ens.  Ek is van mening dat mettertyd sal daar algemene aanvaarding wees dat die Afrikaner gay soos enige ander persoon is, net dat sy seksuele oriëntasie nie die meerderheid se hetero s'n weerspieel nie.

    Met betrekking tot Roodt wat jy sinies sê ek is op hom verlief. Alles behalwe.  Ek het hom opgesom as opportunis. Nie vir die politiek nie, maar vir eie gewin, wat die verregse, gewoonlik onkundige, Afrikaner misbruik en manipuleer vir eie gewin, en dit het niks met my moffiegeit te  doen nie. Hy staan nie saam met ander verregse groepe nie en indien hy gewaar hy gaan nie in hulle midde die sleutelrol speel nie, bly hy eerder op sy eie, en kraak hulle daarna op sy beurt af.

    Ek bemoei my gewoonlik  nie met die godsdiensdebat nie, selfs waar ateïsme afgekraak word, pla my nie, maar met my besonderse goeie Bybelkennis gaan ek nie toelaat dat geveinste nougesette bekrompe gelowiges van enige godsdiens vir hulself die reg toe-eien om gays te kasty, sleg te sê en te veroordeel nie. Dan kap ek hulle in eie munt terug, en gewoonlik met hulle eie gebrekkige Bybelkennis kom hulle in die verleentheid voor hulle eie gehoor.

    Jaco Fourie

     

     

  • Besondere goeie Bybelkennis? En wat is dit dan wat jy met jou besondere goeie Bybelkennis weet van G_d se haat van homeseksualisme?

    Sonder dat geveinsde nougesette bekrompte gelowiges enigiets sê. Net wat G_d sê.

     

    Ek verneem graag

    Duitswester

  • Kobus de Klerk

    Wat jy doen, is maar wat elke ander ateïs doen, Jaco.  Voor jou was daar al talle ateïste wat Bybelverse aanhaal en op 'spesialis' kennis van die Bybel aanspraak maak, of, soos jy dit noem, jou 'besonderse goeie Bybelkennis' - jy refrein eintlik maar jou voorgangers, en die wat na jou sal kom, soos dit nou al vir baie jare aangaan. Elkeen voor jou, en die wat na jou kom, demonstreer dieselfde insiglose arrogansie.

    Die Bybel is sekerlik die mees toeganklike en beskikbare boek en bron wat daar bestaan. Dit is in bykans alle huishoudings, in bykans alle boekwinkels, in alle biblioteke en helaas ook in maklik hanteerbare formaat op die internet beskikbaar. Dit is ook die boek en bron waaroor die meeste op aarde gepraat, geredeneer, gefilosofeer en gesels word.

    Maar wat eintlik die kwessie is, is dat julle niks doen wat enige ander mens nie ook kan doen nie. Julle gaan eenvoudig heen en kwoteer Bybelverse in isolasie en maak daarmee aanspraak op 'besonderse goeie Bybelkennis' . Enigeen kan dit mos doen - al wat nodig is, is net om 'n Bybel byderhand te hê om uit te kan aanhaal. Tog is jy, presies nes die andere soos jy, Spirituele ignoramusse en haal links en regs Bybelverse aan sonder om die inslag, samehang, relevansie, konteks en Spirituele inhoud te begryp van dit wat julle aanhaal. Enigeen kan dit doen, en dit getuig juis van julle onbeholpenheid en insigloosheid daaromtrent.

    Dus, jou aanspraak op 'besonderse goeie Bybelkennis' is niks van die aard nie, maar 'n arrogante en ongelukkig baie domastrante aanspraak van iemand wat in die eerste plek 'n ignoramus is omdat hy juis nie kan begryp wat aangaan nie. Daarom is jou ewe domastrante aanspraak, dat jy gelowiges in verleentheid stel met jou 'Bybelkennis', net so vergesog.

    Die verstommende ding is dat jy hierdie dinge, selfs nadat dit vir jou uitgespel is, steeds nie kan begryp nie. Die verlies en gebrek aan begrip is dus jou eie, en nie die gelowiges s'n, nie.

    Daarom is JvNk reg omtrent jou - jy is maar 'n arme Don Quixote wat denkbeeldige windmeulens as drake aansien en 'jag' - en 'n domastrante een, daarby.

    Kobus de Klerk

  • Ek weet nie wat jy met 'hipoteties' bedoel nie, en of jy met "Jan Rap' Jan Alleman of Piet Citizen of so-iets bedoel nie, maar ek het nog noot my buurvrou gespyker of iewers geskryf dat ek wel het nie. Jy sal groot moeilikheid veroorsaak deur sulke onverantwoordelike goed te sê of per ongeluk te kenne te gee.  My vrou lees ook SêNet.

  • Duitswester

     

    Lees my brief "Godsdiens in Chaos", spesifiek aan jou gerig.  Ek glo ek het jou vraag hierbo daarin beantwoord.

     

    Kobus.

     

    Ek "arrogant"  en "domastrant" HeHe.  Jy is een om te praat.  Dit is wel jy beslis, en ek is seker dis die meerderheid mening hier op die Net. Ek 'n "ignoramus".  Jy is die een wat jou gebrekkige Bybelkennis elke keer met die "Sprituele Intelegensie" kaf verbloem.

     

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top