Ek gee vir jou ’n venster
wat uitkyk oor môre;
(ver verby gister en sy getalmde glans)
met al die mooi dinge
wat jy in afgemete woorde
oor elke sekond van my dag teken
’n ruit waaruit jy kan staar
─ sinloos in stilte sonder sien of son;
wat ook toepaslik al die oomblikke kan verglas
wat jy so onkonvensioneel te na aan jou hart hou
’n venster met ’n geelhoutraam
en ’n sekelmaan wat in die hoek hang -
een wat sterre oor jou donker kan drup
amper soos soggens vroeg wanneer die son
op die rand van ’n sinkdak dans
en eendag as dit koud raak by jou
─ wanneer alles om jou toewasem
skenk ek ook vir jou my heel laaste asem



Kommentaar
Fantasties!
Sag, diep definitief... Weereens briljant!
Great!
Baie dankie. Groot kompliment van 'n bekroonde skrywer soos jy!
Jou woorde, sinne en gedagtes laat my stom, ek het stil geraak en joune blom.