’n Verdiende loën

  • 0

Volgens Frédéric Bastiat, ’n eertydse Franse ekonoom, is daar net een verskil tussen ’n slegte en goeie ekonoom: die slegte ekonoom beperk homself tot die sigbare effek, die goeie ekonoom neem die effek wat gesien kan word, sowel as die gevolge wat voorsien moet word, in ag.

Almal sit moontlik nou in stille verwondering oor die indrukwekkende literêre sprong wat hierdie opstelskrywer na die ondersoekende wêreld van ’n ekonomiese verslaggewer gemaak het, maar almal, selfs ek, vergeet dat die aanhaal van ’n enkele wysheid moontlik geen verskil aan die omgewing gaan maak nie.
Moontlik sal ’n paar aanvullende gedagtes wel …

Die daaglikse gebeure in hierdie land van vleis en pap waarin ons ons saailinge verrys, het al weer die gelese mense, filosowe en ekonome op die pad na ’n oorheersende vrees vir die graderingsagentskappe en rommelstatus geplaas. Die vreeswekkende werklikheid is egter dat ons nog nooit die pad na die sogenaamde rommelstatus verloor het nie!

Wat wel behoort te gebeur, is dat die res van ons bevolking moet besef dat rommelstatus nie die gewaarwording van ’n paar bevoorregtes se fobie is nie en dat ons, hier in elke gemeenskap, reeds verby die punt van vermyding daarvan is. Kortom, rommel en die gebrek aan status is reeds oral sigbaar.

Ek beskou myself as ’n redelike realistiese denkende Suid-Afrikaner wat selde die gifkers van swartgalligheid brand of doelbewus rotte in die mielieland injaag, om my sodoende die gramskap van elke leke- en bevrydingsprediker op die hals te haal; alhoewel ek nog altyd gepoog het om ons mense, ons omstandighede ensovoorts te sien vir wat dit is …

Rommel. Dit is wat ek sien.

Langs die spoorlyn skuins onder ’n brug in een van Kaapstad se gevestigde nywerheidsgebiede, lê die oorskiet van huishoudings, kantore en fabrieke dag na dag die wêreld vol gesaai. Die brandsiekhonde en hul base grawe dou voor dag deur die gestorte rommel opsoek na ietsies plastiek, papier en die goud van die skrootwêreld, metaal, terwyl die Kaapse wind sy deel doen om die ligter gemors voor die aankomende treine in te waai vir ’n finale vertrapping. Ja, selfs die rommel is van vertrapping nie gespaar nie.

In omtrent elke denkbare sakegebied is daar ’n stadsverbeteringsdistrik gestig; deur die eiendomseienaars in ’n bepaalde gebied, onder streng beheer en die wakende oog van die plaaslike owerheid, om mense aan te stel om die werk te doen waarvoor die plaaslike owerheid oorspronklik daargestel is!

Skoonmaak en opruimingswerk waarvoor sake-eienaars, wat reeds die ekonomie aan die gang hou en moet werk skep, ekstra voor moet betaal – dit laat my onwillekeurig aan die vraag uit ’n bekende versekeraar se advertensieveldtog dink … ”Wat kan verkeerd gaan?”

Daar word beraam dat R30 miljard per jaar verlore gaan of eenvoudig net in ’n swart gat van bedrog en korrupsie verdwyn. Moet seker ’n groot gat wees …
Sekere ongeleerdes wat met strategiese gesag tjekboek aangedrewe sitplekke warm maak, wil die res van ons laat glo dat ons waarneming eenogig is en dat die buitelandse kenners bloot spekuleer. Hulle wil ons graag vertel dat die woord “korrupsie” te maklik gebruik word en dat dit oorbodig is, wanneer hulle oor onreëlmatige, ongemagtigde of verkwistende uitgawes praat.
Weer …”Wat kan verkeerd gaan?”

Rommelstatus. Dis wat ek hoor.

Gesondheidsdienste steier onder die las van siektes wat ontstaan weens rioolbesoedeling van ons riviere en waterbronne. Dis 'n potensieel vermybare krisis, maar dis besig om in ’n stadig ontwikkelende ramp te ontaard.
Heel eerste is die drinkwater, maar onthou, besproeiingswater van eetbare gewasse is net so ’n effektiewe draer van siektes wat die mens affekteer. Siektes wat na slagvee oorgedra word, is ook deel van die voedselketting. Mense wat met die besproeiingswater werk, is ook blootgestel aan risiko as die water so besmet is…
Maar wag, voor ek een of ’n ander in ’n staat van depressie inpraat, daar ís ’n oplossing vir hierdie skynbare fobie: maak “onderhoud” ’n vloekwoord en gee vir almal genoeg geld om nuwe waterstelsels te beplan, konsultante aan te stel, nog te beplan en … so asof die oues nie meer bestaan nie.

“Morality is not a choice between good motives, right reason or resolute action; morality is all three.” (Hersh et al 1980:2).
Tydens die bedinking van van my relaas oor die gegrom in my gemoed weens die Rommel op my voorstoep, is dit gaaf om te weet dat daar werklik mense bestaan of bestaan het, wat aanhalingswaardig is en met wie sommige van ons kan saamstem. Dit is egter ook jammerlik so, dat op hierdie winderige lente-agtermiddag die uwe die kernwaardes van ons as mens, of menslike wesens, Homo sapiens, erg in twyfel trek; ironies genoeg teen die agtergrond van die Latynse betekenis van die einste frase - "wyse man" of "wetende man" … Sjoe, wat hét verkeerd gegaan?

Die anderdag lees ek op ’n plek hierdie wonderlike woorde wat ’n boer (nie die politieke term nie) geskryf het, “…ek plant nou eintlik vir my seun, soos wat my voorgeslag vir my geplant het…” en toe tref die vraag en antwoord my soos ’n orkaan oor Florida: Hoeveel “plantwerk”, hier en nou, kan ek vir my twee seuns doen?

Soms kyk ek na die klomp skoolmaters en ander wat hul “plase” hier verlaat het om oorkant die water ’n ander man se land hul tuiste te gaan maak en soms is ek bly dat ek dit nie ook oorweeg of gedoen het nie, maar ander tye, tye soos nou, kom daar ’n ander weergawe van die boer se sinsnede na vore; iets waaroor ek skaam behoort te wees: “Gelukkig is die saailinge, wat op enkel-, knie- of heuphoogte oorgeplant kon word …”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top