'n Ver plek vir Zilla nie 'n konvensionele liefdesroman nie

  • 0

’n Ver plek vir Zilla
Margaret Bakkes
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151887
Prys: R145.00

Klik hier en koop ’n Ver plek vir Zilla nou van Kalahari.net!

 

Margaret Bakkes skryf al donkiejare. Haar eerste roman, Die verste reis, is in 1966 gepubliseer en sedertdien het daar al meer as dertig boeke en verskeie tydskrif- en kortverhale die lig gesien. Sy is, om die minste te sê, ’n veteraan. Human & Rousseau het onlangs ’n hele paar van haar ouer werke herpubliseer. ’n Ver plek vir Zilla is een hiervan. Dit het oorspronklik in 1977 verskyn en was vir die tyd ’n “vurige” verhaal oor die liefde en die prys wat dit vra.

Zilla Fourie is ’n koppige enetjie wat haar toekoms baie mooi beplan het: eers wil sy kuns gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria en daarna wil sy terugkom na hulle plaas Kiepersol om haar pa, Frans, te help boer. Want kuns en die plaas is die spil waarom haar lewe draai. Haar koppigheid en eiewysheid slaan van die eerste paragraaf af deur wanneer sy haar pa oorreed om haar privaat te laat loseer. En dit is hier waar die moeilikheid begin. Want Zilla is skaars op universiteit of sy ontmoet die enigmatiese half-Italianer, Piero. Hy slaan Zilla se voete onder haar uit en voor sy haar kom kry, is sy verlief op hom. Piero is ’n bedorwe enkelkind wat gewoond is daaraan om sy sin te kry. In Zilla sien hy ’n meisie wat hy kan omskep in die ideale vrou vir hom. Hy word aangetrek deur haar onafhanklikheid, haar eiesinnigheid en koppigheid, maar wil haar temper sodat sy meer soos sy ma sal wees wat teruggestaan het vir sy Afrikaanse pa se drome en ideale. Hiervoor is Zilla aanvanklik blind – al weet sy dat Piero selfsugtig is, die liefde gebruik om haar af te pers (44) en haar “dalk nog gaan seermaak” (62). Frans Fourie is egter nié blind vir die Italjaner se selfsug nie en die verhouding met sy dogter dra allermins sy goedkeuring weg – veral nie nadat hy vir Dawid, Piero se neef, ontmoet nie. Want Dawid is alles wat Piero nié is nie. Hy is ’n man met integriteit, standvastig, met ’n begeerte om Zilla te beskerm en haar pad vir haar gelyk te maak (66). En boonop boer hy self en deel hy dus die Fouries se liefde vir die grond.

Maar koppige Zilla neem haar eie besluite – ook die een wat haar na Italië neem, agter Piero en sy ma aan nadat Piero se pa tot sterwe kom. Hier vind Zilla ’n wêreld ver verwyderd van die plaaslewe waaraan sy gewoond is. Al wat dieselfde is, is dat Piero se ma, soos haar pa, ook nie hulle verhouding goedkeur nie. Amalia maak geen geheim van haar afkeuring nie en raai Zilla telkemale af om met Piero te trou aangesien sy nie in hulle gekultiveerde wêreld pas nie. Om by te dra tot die spanning sorg Amalia dat die mooie Giulia by hulle tuisgaan en vra dat Piero haar ook Florence moet wys.

In Italië word Zilla uiteindelik gedwing om besluite te neem oor haar en Piero se verhouding, hulle toekoms saam en die prys wat sy bereid is om vir die liefde te betaal.

“Vurig” was dié roman dalk in 1977, maar daardie vurigheid is deur die jare aansienlik getemper. Hier gaan jy nie warm liefdestonele kry nie. Vir sy tyd was ’n Ver pad vir Zilla ’n kontemporêre verhaal wat nie mooi broodjies oor die liefde wou bak nie. Vandag is dit ietwat verouderd, en die leser is regdeur bewus daarvan dat die verhaal nie net dertig jaar gelede afspeel nie, maar ook vir daardie tydgees geskryf is.

Die verhaal spring teen ’n magtige tempo weg: Zilla oorreed haar pa om haar privaat te gaan laat loseer, begin klasloop, ontmoet vir Piero op universiteit, verloor haar hart totaal op hom en word sy vaste meisie wat hom tydens sy pa se dood moet ondersteun – alles in die loop van die eerste hoofstuk. Dit het vir my ietwat na ’n wegholtrein gevoel. En dan is Piero beslis ook nie jou tipiese held nie. Die man is selfsugtig en dra net sy eie belange op die hart. Ek kon deur die hele verhaal nooit vat kry aan hom nie. Dit was vir my ondenkbaar dat ’n meisie wat so koppig is, wat sien wie en wat Piero werklik is en oorrompel word deur Dawid se rustigheid, daarna stééds so onherroeplik lief kan wees vir Piero. Haar hunkering na die kunswêreld van Europa verstaan ek goed. Bakkes teken daardie kunswêreld met sy mooie beeldhouwerk, argitektuur en magiese aantrekkingskrag besonder helder en aanloklik. Piero het egter vir my volksvreemd gebly, en Zilla se keuses ’n frustrasie. Moontlik lê ’n Ver plek vir Zilla se redding juis hierin: dit is ’n eerlike prentjie van die soms onverstaanbare loop wat die lewe – en die liefde – neem.

’n Ver plek vir Zilla is beslis nie die konvensionele liefdesroman nie, en indien jy vir ’n vurige verhaal met stomende liefdestonele soek, gaan jy teleurgesteld wees. Wees ook maar verseker dat Bakkes nie noodwendig die tradisionele, “maklike” of lekker einde gaan skryf nie. ’n Ver plek vir Zilla dra nie vir my dieselfde gewig as sommige van Bakkes se ander boeke, soos byvoorbeeld Elegie vir ’n onbekende, nie. Dit is ’n ligte lees wat jy in ’n paar uur kafdraf. Maar indien jy ’n Margaret Bakkes-aanhanger is, sal jy ’n Ver plek vir Zilla vermaaklik vind.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top