My mening is dat Nelson Mandela ’n geweldenaar was wat as ’n vredesikoon versool is. Ek dink Desmond Tutu was ’n opperste onrusstoker wat nooit die geweld veroordeel het wat hy onder die dekmantel van religie veroorsaak het nie. Hy was ’n sanksiedrywer wat homself vrystel van skadevergoeding vir die onberekenbare skade wat hy die land aangedoen het. Maar dan matig hy hom aan om ’n rasgebaseerde ekstra belasting vir wittes te bepleit omdat hulle eens bevoordeel was; nie spesiale vergoeding aan wittes vir wat hulle tot stand gebring het of as teenvoeter vir hulle huidige blatante rasgebaseerde benadeling nie. My standpunt is nie gebaseer op selektiewe geheue nie. Ek beoordeel Mandela en Tutu nie uitsluitlik op die manier waarop hulle tans voordoen en deur meelopers aangeprys word nie. Ek neem sowel die voor-1990 Mandela, Tutu en ANC as die na-1990 Mandela, Tutu en ANC in ag. Dit is presies wat Wouter nie doen nie. Soos ANC-ondersteuners en politiek-korrektes tans graag doen, kies hy doelbewus eensydigheid. Selfs Afrikaans word deur hom op die ANC-altaar geoffer.
SêNetters kon oor baie maande Wouter se strategie waarneem. In dikwels talle briewe per SêNet-uitgawe doen hy hom as ’n gesaghebbende oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe voor. As beterweter lê hy oorhoops met ander skrywers op die werf. In my geval gee hy feitlik deurgaans en heel moontlik valslik voor dat hy gelees het watter boeke ek ook al ter sprake bring. By voorkeur beskuldig hy my van doelbewuste vervalsing of verdraaiing van daardie bronne. Maar dit behoort voor die hand liggend te wees (verwys bv my talle bladsy-verwysings) dat ek die werke waarna ek verwys in hulle geheel en met aandag gelees het. Ek besit daardie gedrukte boeke. In die era voor die internet sou Wouter nie elke keer so kon reageer nie. Wat hy blykbaar doen, is om die internet haastig en oppervlakkig te plunder en dan met ’n negatiewe reaksie te kom op wat ek ook al geskryf het. Myns insiens is dit wesenlik ’n onetiese manier van doen. Die kernrede vir sy laakbare optrede en gesindheid is ons verskil oor politiek. Maar ook my nie-politieke skrywes word op ’n bedenklike manier aangeval.
Dit is vir my werklik nie die moeite werd om telkens op Wouter se verdagmakende aanvalle te reageer nie. Ek val normaalweg nie sy talle onbesonne stellings aan nie. Meesal laat ek hulle sonder reaksie verbygaan, selfs wanneer hy my direk aanval. Ek verkies om eerder voort te gaan met wat ek wil skryf, in die hoop dat daar mense is wat krities lees maar my integriteit as mens nie onnodig bevraagteken nie. Soos voorheen gesê, wil ek eerder inlig as propageer. Maar Wouter, wat ek voorheen (en ek dink tereg) ’n gatvlieg genoem het, maak my ervaring op die werf minder aangenaam.
As ’n eerbare uitweg uit die huidige onverkwiklike situasie kom ek met ’n voorstel waarvolgens Wouter homself kan rehabiliteer en my verkeerd bewys. Aangesien hy blykbaar in elk geval reeds al die boeke gelees het wat ek bespreek, of ’n meer gesaghebbende mening as myne daaroor kan uitspreek, gaan ek aan hom die geleentheid bied om van rat te verander deur proaktief pleks van reaktief te wees. My voorstel is dat ons onafhanklik van mekaar oor dieselfde boeke skryf en hierdie bydraes kan dan gelyktydig op SêNet gepubliseer word. Dit sal die lesers in staat stel om self te besluit wie die kat aan die stert beet het. Ek kan nie talle bydraes per dag lewer nie, want ek lees eers ’n werk deeglik, oordink die inhoud totdat ek duidelikheid oor my mening het en probeer daarna om my gedagtes duidelik te formuleer. Dit bring mee dat ek gewoonlik ’n enkele bydrae of hoogstens twee per week kan lewer. Maar vir die begaafde Wouter is dit blykbaar maklik om daagliks met talle skrywes vorendag te kom en dan het hy ook nog buitengewoon baie tyd vir leeswerk. En hy het glo ’n werkie ook. Die ANC-regering behoort aan die briljante Wouter die Orde van die Goue AK-47 of die Orde van die Silwer Landmyn toe te ken, al is hy maar net ’n bedrewe loodswaaier.
Ek gaan ’n lys verskaf van reeds gelese werke waaroor ek nog op SêNet wil skryf. Ek nooi Wouter uit om oor elke bron sy bydrae by Maggie te deponeer. Sodra my bydrae oor die betrokke bron ontvang word, kan sy albei bydraes gelyktydig publiseer. As Wouter nie aan hierdie uitdaging kan of wil voldoen nie, sal ek dit waardeer as hy hom voortaan daarvan weerhou om my bydraes telkens vir bevooroordeelde, negatiewe, valse en goor kritiek uit te sonder.
Ek het die volgende boeke in my pyplyn as SêNet-bydraes. Robert Sackville-West: Inheritance. Adam Nicolson: Sissinghurst. Charles Freeman: The closing of the Western mind. Allan Bloom: The Closing of the American Mind. Günter Grass: Peeling the onion. André P Brink: ’n Vurk in die pad. Aylmer Maude: The life of Tolstoy. Sofia Tolstoy: The Diaries. Michael White: Galileo Antichrist. Brian Moynahan: William Tyndale. Lawrence & Nancy Goldstone: Out of the flames. Die volgende vier boeke van Peter Godwin: Mukiwa, Rhodesians Never Die, When a crocodile eats the sun, en The Fear. James Boswell: The life of Samuel Johnson. JDF Jones: Storyteller. Ek kan by hierdie volgorde hou om dit vir Wouter nog makliker te maak.
Johannes Comestor

