’n Tuiskoms: Glencoe, Skotland

  • 7

Ek is diep in die veertig toe ek eers my eintlike huis, my wêreldse woning, vind. Dit is die winter van 2007 en ek is in Glencoe in die Skotse Hoogland.

Ek ry direk ná die lang vlug vanaf Dubai na Glasgow op na Glencoe toe. Dit is stil en reeds sterk skemer op die A82, die nasionale pad noord na Inverness. Naby Rannoch Moor hardloop ’n bok voor my motor in en ek slaan remme aan. Ek mis haar, maar skrik groot. Sy het van die sneeubedekte berge afgekom om nader aan die pad te kom kos soek. Hierna ry ek stadiger, my sintuie skerper. Hoe nader ek aan Glencoe kom hoe hoër word die gebeitelde bergpieke wat aan weerskante van die pad troon. Dit is ’n onheilspellende gesig.

Vir Charles Dickens was Glencoe ’n besonder mistroostige plek: “... anything so bleak and wild and mighty in it’s loneliness, as the whole country, it is impossible to conceive. Glencoe itself is perfectly terrible.” Hy voeg by, “... there are scores of glens, high up, which form such haunts as you might imagine yourself wandering in, in the very height and madness of a fever.”

Die Drie Susterspieke

Onheilspellend in die donker, ja, maar “terrible”? Inteendeel. Toe ek verby die Groot Herderberg en die Drie Susterspieke aan die suidelike ingang van die dal ry, voel dit asof ek tuiskom. Ek word stil, ek verstaan nie wat ek voel nie. Is dit my vrugbare verbeelding wat my hierdie ongewone gevoel van tuiskoms laat beleef? Skynbaar nie, want later vind ek uit dat die dal 500 miljoen jaar oud is en dat baie mense hier ’n besliste gevoel van verbondenheid aan ’n prehistoriese verlede ervaar.

Tydens my verblyf lok die snerpende koue my keer op keer na buite, waar die vallei se droewe geskiedenis byna tasbaar is. Ek sien dit in elke klip, elke kaal boom, elke mosbegroeide muurtjie en in die fyn slierte mis wat voortdurend tussen loch en berg sweef. Ek hoor dit in die skerp gekras van swart kraaie wat voor my uitvlieg wanneer ek met die nou paadjie langs in die rigting van die verlate hospitaal stap en na die sneeubedekte bergtoppe om my kyk. Wanneer ek fyn luister, hoor ek die Coerivier veraf kabbel, onder my stewels shliep die klam blaretapyt en kraak gevriesde graspolle.

Die verlate hospitaal

Op ’n dag ry ek verby Loch Leven en ’n  kruis tussen die bome op ’n eiland in die loch vang vlugtig my oog. ’n Dun, deursigtige wolkie hang laag oor die eiland. Ek kan nie stilhou nie, maar my gedagtes bly by die half-versteekte kruise op die geheimsinnige eilandjie. Terug in Glencoe doen ek navraag. Die eiland se naam is Eilean Munde en dit huisves ’n begraafplaas en kerkie wat in die sewende eeu deur Sint Fintan Mundus gebou is. Die kerk het in die vyftiende eeu afgebrand en is in die sestiende eeu herbou. Die laaste diens in die kerk is in Julie 1653 gehou. Clans met grafte op Eilean Munde is die Stewarts, die MacDonalds van Glencoe en die Camerons. Die drie clans het die eiland gedeel en die grafte is gesamentlik in stand gehou, selfs in tye van bloedige konflik. ’n Beeld van mans wat in die nag oor die loch roei steek in my kop vas. Tussen hulle op die boot is ’n liggaam toegedraai in ’n wit kleed. Die roeiers se spane gly sag deur die swart water en ek wonder of daar ’n priester by is wat prewelend vir die afgestorwene se siel bid.

Later gaan ek na Fort William, dertig kilometer noord, om kos te koop. Die pad is nou en slingerend. Loch Linnhe lê links, na aan die pad, sy water diep en duister, vol geheime. Die landskap is swart, wit en grys. Dit is wild en strak en onweerstaanbaar vir avonturiers, dwalendes en soekers. Die Glencoe Youth Hostel waar ek bly, is vol van hulle. Die skrywer in my is in haar element. Ek luister want hier is baie stories.

Oukersaand ontmoet ek een van die eienaardigste mense wat ek nog teëgekom het. Hy kom ná donker daar aan; wilde grys hare losweg in ’n poniestert gebind en ’n koddige figuurtjie wat hom na ’n verdwaalde Ierse leprechaun laat lyk. Terwyl hy ’n verskeidenheid plastieksakke met koekies en soppoeier in die kombuis uitpak, praat hy sonder ophou. Hy het die vyftig kilometer van Oban af hierheen gestap, baie van die tyd in die donker.

Later die aand gaan sit ons in die Quiet Room en hy vertel my sy storie, hoekom hy jare gelede die pad gevat en nie ophou loop het nie. Hy vertel van die heide wat hy vir sy ma bymekaar maak en van ’n ontrou vrou wat alles begin het. Hy sê dat hy in die nuwe jaar na Kent toe gaan stap waar hy aan ’n amateurproduksie van die pantomime “Jan en die Boontjierank” gaan deelneem. Hy gaan vir drie minute lank klopdans. “Wys my,” vra ek. Hy is nie links nie, spring op en voer met entoesiasme sy danspassies uit. Sy stewels is gaar.

Op ’n ander aand gaan ek en ’n stil bergklimmer met sagte oë na die Clachaig Inn vir tradisionele musiek en ’n “pint”. Ons stap die een-en-’n halwe kilometer van die Youth Hostel af in vlae reën in die donker, ’n flou flitslig ons enigste lig. Ons kan nie soontoe ry nie, die polisie is permanent buite die Inn geparkeer om mense met meer as die toegelate 0% alkohol in hul bloed vas te vat. Dít in die middel van nêrens.

In die jare ná hierdie eerste besoek keer ek so gereeld as wat moontlik is terug na Glencoe. In die somer is dit ’n ander wêreld. Die lig wat voortdurend verander is bekoorlik; sag, as gevolg van al die vog en die weerkaatsing van die water van die lochs. Die vallei se kleure is jonggroen in die lente, lowergroen in die somer en dit word deurentyd met skakerings van mistige blou en pers berge en heidevelde omring. Hartroerend mooi.

Maar Glencoe kan selfs in die somer somber raak. Die mis kom in en die berge word versluier. Wanneer die mis stadig lig, verskyn berge soos enorme, geluidlose spookskepe teenaan die pad, en wanneer die misgordyn begin sak, verdwyn die reuseskepe so stil as wat hul gekom het.

Die grootste deel van die Glencoevallei behoort aan die National Trust for Scotland, wat dit as geskenk van bergklimmer en filantroop, Percy Unna, ontvang het. Die geskenk het egter met ’n voorwaarde gekom: Die ongerepte aard van die area moes behoue bly. Geen gholflandgoede of groot hotelle word dus hier toegelaat nie, iets waarop ’n mens met diep dankbaarheid ’n glasie rokerige enkelmout op Unna kan drink.

Die ekovriendelike en moderne Glencoe Erfenissentrum is een van my gunsteling plekke om te besoek. Dit is hier waar ek lees hoe oud die dal is en dat daar 420 miljoen jaar gelede ten minste agt groot vulkaniese uitbarstings hier was. Voor hierdie tyd, 500 miljoen jaar gelede, was Skotland deel van die kontinent Laurentia wat Noord-Amerika, Groenland en Noord-Ierland ingesluit het. Die Iapetus-oseaan het Laurentia van Avalonia (Engeland, Wallis en Suid-Ierland) geskei. 430 miljoen jaar gelede het Laurentia en Avalonia teen mekaar gebots. Waar die Iapetus-oseaan eens was, het die massiewe Kaledoniese berge gevorm, die oeroue hart van die hedendaagse Glencoe. Die joernalis HV Morton stel dit aangrypend in “In Search of Scotland”: “So far as Glencoe is concerned the first germ of life has never struggled from the warm slime. It is still dreaming of geological convulsions.”

Ek sal altyd na Glencoe terugkeer, al is daar soveel ander plekke in die wêreld om te sien. Wanneer ek terug is in Suid-Afrika dink ek aan die vallei en onthou ek wat J Norman Collie, klimmer, chemikus en avonturier oor die berge gesê het: "Many are the memories one can bring back from the mountains, some of the peace and some of the stern fights with the elements, but they are all memories of freedom."  Dit is hoe ek dit ook beleef: inkering, troos en vryheid.

Ons eie Karel Schoeman vra in “Koninkryk in die Noorde”: “Wat kan jy doen met die oorweldigende skoonheid wat jou konfronteer? Probeer om dit vas te lê op papier, doek of film, of dit vaslê in jou geheue – herinnerings waarop jy kan teer in die donker en honger tyd, heuning vir die lang winter wat voorlê, wanneer jy alleen sal wees in jou eie stilte.”

Dis al wat ek nou kán doen, en ek doen dit goed. In my verbeelding ry ek met die A82 langs, ruik ek die helder en koue lug, doem die berge kort voor lank langs die pad op, soos wagters oor die vallei. Ek weet wat alles daaragter wag, en my hart klop warm.

Foto's: Nadia de Kock

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Koos Holtzhausen

    Pragtig, Nadia. Ek het in die jare 60 daardeur gereis, welliswaar in die somer, en die beelde is nog vars in my kop. Interessant praat die Skotte van GlenKOU en nie van GLENkou, soos die Noord-Natallers nie.

  • Avatar
    Nadia de Kock

    Dankie, Koos. Ek vermoed in die 60's was dit nog meer ontvolk en leeg. Wonderlike plek om tot verhaal te kom.

  • Avatar
    Yeonitta Heath

    Sjoe Nadia jy inspireer my. Jy sien die mooi raak wat ons elke dag as net vanselfsprekend vat. Jy is 'n vrou met vele Godgegewe talente.

  • Avatar
    Nita Kleynhans

    Wat 'n heerlike artikel Nadia! Jy het darem 'n reisiger se hart en siel per excellence. Kan nie wag om nog van jou reiservarings te lees!

  • Persoonlik dink ek Skotland se toerismedepartement moet jou "royalties" betaal. Jy maak my wil in my kar klim en my kredietkaart blink swipe vir 'n vliegkaartjie. Só lekker gelees dankie Nadia, waarnatoe vervoer jy my volgende? Nog, nog asb!!!!!

  • Avatar
    Elizabeth Lange

    Nadia, jou skryf styl maak my weer lus om Afrikaans te lees. Ek stem saam met Hildegard: Nog, nog asb!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top