’n Toekomsgerigte tegnologieryke taalklaskamer

  • 0

In ’n onlangse LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel ondersoek Ria Taylor en Michele van der Merwe die integrasie van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer van skole in die Wes-Kaap.

Die studie stel vas dat Afrikaans Huistaal-onderwysers wel tegnologie in die klaskamer gebruik, maar dat hulle deur sekere faktore gekortwiek word. 

Hier onder gee Michele praktiese voorstelle vir tegnologie-integrasie in die taalklaskamer.


’n Toekomsgerigte tegnologieryke taalklaskamer

Wanneer die gebruik van tegnologie in klaskamers ter sprake kom, is die sogenaamde 21ste-eeuse vaardighede, soos in Partnership for 21st century learning beskryf word, op talle onderwysnavorsers se lippe. Dié vaardighede behels onder ander leer- en vernuwingsvaardighede, inligting-, media- en tegnologiese vaardighede, asook lewens- en loopbaanvaardighede. Vir die doel van die bespreking fokus ek op leer- en vernuwingsvaardighede wat onder andere na kreatiwiteit, vernuwing, kritiese denke, probleemoplossing, kommunikasie en samewerking verwys. Dit gaan in samehang met taalvaardighede van die Afrikaanse huistaalkurrikulum, naamlik die KABV, beskryf word. Dié taalvaardighede is dus luister en praat, lees en kyk, skryf en aanbied, asook taalstrukture en -konvensies. Hoe kan genoemde taalvaardighede dus in ’n taalklaskamer met behulp van tegnologie bereik word?


Bron: Framework for 21st century learning, Charles Fadel en Krishna Chaitanya Velaga, Wikipedia

Dit is betekenisvol vir onderrig-en-leer-gebeure dat navorsers na 21ste-eeuse vaardighede verwys, aangesien dit die posisie van skoolleerders beklemtoon en leerders dus sentraal in die onderrigkonteks plaas. Verby is die dae van onderwysergesentreerde benaderings met onderwysers wat uitgerekte monoloë voer. Vaardighede soos kreatiwiteit, vernuwing, kritiese denke, probleemoplossing, kommunikasie en samewerking kan aangeleer word slegs indien leerders aktief by die leerproses betrokke is en sentraal in die proses is. Met die slim en deeglik beplande gebruik van tegnologie kan onderwysers verseker dat dit wel die geval is. Tydens die bespreking wat volg, noem ek telkens ’n voorbeeld van moontlike gebruik van tegnologie om taalvaardighede te ondersteun. 

• Wanneer leerders se luister- en praatvaardighede ontwikkel moet word, kan tegnologie maklik vir leer- en vernuwingsvaardighede ingespan word. Wanneer leerders saamwerk aan mondelinge projekte soos die saamstel van ’n denkbeeldige nuusbulletin, met nuusankers, verslaggewers, onderhoudvoerders, selfs advertensies, word kreatiwiteit aangewakker, vind kritiese denke plaas, word probleme opgelos, terwyl kommunikasie plaasvind en samewerking noodsaaklik is vir sukses. Die projek kan met ’n selfoon afgeneem word en aan die klas vertoon word vir terugvoering en besinning. Tydens die vertoon van die video kan die klasgroep aktief betrokke wees en die aanbieding evalueer met behulp van ’n gratis selfoontoepassing genaamd PeerEval, beskikbaar by peereval.mobi. Dit stel die gebruikers in staat om aanbiedings te evalueer, betrokke te wees tydens die luisterproses, onafhanklik te funksioneer en die luisterproses ook te geniet. ’n Ander maklike toepassing om tydens aanbiedings te gebruik is speakingphoto, beskikbaar by speakingphoto.com. Daarmee kan leerders vinnig en maklik foto’s neem, klank byvoeg, oplaai, en aan mekaar stuur.

• Lees- en skryfvaardighede oor ’n spesifieke onderwerp kan met die opstel van ’n klaswiki ontwikkel word, veral waar aandag gegee word aan die ontwikkeling van akademiese en vakwoordeskat, teksstruktuur, sinsformulering en kohesie, asook formulering van sinne en konsepte. Met die opstel van ’n wiki ervaar leerders dit as leerdergesentreerd, interaktief, bevredigend en motiverend. ’n Wiki is ’n aktiwiteitsmodule waar deelnemers gesamentlik ’n webblad skep, oor enige moontlike onderwerp. Aangesien die onderwerp deur die onderwyser of selfs leerders gekies kan word, kan dit die geleentheid bied om die buitewêreld deel van die klaskamer te maak deur ’n onderwerp te kies waarmee leerders kan identifiseer, maar wat ook aktueel is. Sodoende kan kreatiwiteit en kritiese denke aangemoedig word.

’n Wiki kan in groepsverband, byvoorbeeld klasverband, of individueel gebruik word. Binne klasverband kan alle bydraers teks byvoeg en redigeer. Die wiki word individueel deur leerders opgestel, en groeplede kan slegs hul eie bydrae redigeer, maar alle bydraes kan deur groeplede gesien en gelees word. ’n Onderwyser kan die administrateur van die wiki wees en dus alle bydraes lees, dit redigeer en ook kommentaar daaroor lewer.

• Taalvaardighede rakende taalstrukture en -konvensies kan met taalvasvrae ingeoefen word, byvoorbeeld deur van Kahoot en Quizlet gebruik te maak. Die onderwyser stel vrae oor ’n spesifieke onderwerp op, byvoorbeeld die gebruik van werkwoorde in sinsverband, leerders registreer met hulle selfone, die vrae word ook op ’n skerm voor in die klas geprojekteer en die hele klas speel saam. Soos die vrae beantwoord word, wys dit op die skerm en sodoende word ’n mededingende atmosfeer in die klas geskep, met ’n uiteindelike wenner wat aangewys word. Leerders ervaar dit as interaktief, motiverend en genotvol. Sodoende kan logiese denkvaardighede, probleemoplossing en kritiese denke oor taalstruktuur ontwikkel word.

• Leerders met 21ste-eeuse vaardighede hou daarvan om inligting dadelik tot hulle beskikking te hê en dit is waar elektroniese naslaanbronne ’n deurslaggewende rol kan speel in die kweek van onafhanklike, selfstandige en verantwoordelike denkers. Met die VivA-app is die AWS gratis aan onderwysers en leerders beskikbaar en maklik om vir naslaanwerk te gebruik.

• Onderwysers kan ’n onderrigomgewing vir leerders skep waar hulle gemaklike toegang tot klasaanbiedings, klasaantekeninge, visuele voorstellings, vraestelle en memorandums het met behulp van google.docs. Leerders kan inligting op hulle eie tyd by die huis bekom en sodoende meer selfstandig werk.

• In die Suid-Afrikaanse konteks en werklikhede met oorvol klaskamers en baie uitdagings kan gratis selfoontoepassings en oop aanlyn opvoedkundige bronne onderwysers bystaan om as fasiliteerders in taalklaskamers op te tree. Vir die gebruik van tablette in die skool, lees gerus meer oor die Creative Classrooms Lab project (CCL) by creative.eun.org deur die Europese Schoolnet. Onderwysers en beleidmakers van ag lande het aan die projek deelgeneem om tabletscenarios in 45 skole te toets. Tydens die projek is ’n verskeidenheid aktiwiteite, riglyne en aanbevelings gemaak om skole te help om optimale strategieë te ontwikkel vir die effektiewe integrasie van tablette in onderrig en leer. 

 

Lees ook

Die integrasie van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer van skole in die Wes-Kaap: ’n gevallestudie

’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer om die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede te ondersteun: ’n gevallestudie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top