’n Tartende Tien vir Horrelpoot?

  • 0

Titel: Horrelpoot

 
Skrywer: Eben Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN 10: 0-624-04462-9
ISBN 13: 978-0-624-04462-9
Formaat: Sagteband
Prys: R160
 
Die pakkie het ’n paar dae laat opgedaag, so ek kon nie wág om die bruin koevert oop te skeur nie. Soos ’n kind lig ek die boek daaruit en bevoel hom, ruik hom.
 
Is ’n móói boek die.
 
Tafelberg het hulleself weer bewys met ’n pragtige omslag en ’n keurige binnekant. Die halftitelblad is grys en dit word agter in die boek herhaal. Dit skep ’n luukse gevoel. Die sagteband is mooi gebind.
 
Ek kan nie wag om te begin lees nie.
 
Daardie aand val ek weg. Die storielyn word gou duidelik. Marlouw, die verteller, word deur sy sus, Heleen, gestuur om haar seun te gaan soek in Suid-Afrika. Marlouw, Heleen, haar man, JP, en hulle seun, Koert, is van die baie Suid-Afrikaners wat hulle tassies gepak het en nou daar onder tussen die Aussies ’n goeie lewe maak. Koert is egter Suid-Afrika toe en nou kom hy nie terug nie. Die foonoproepe het opgehou, en so ook die e-posse.
 
Heleen is te bang om self terug te gaan en vaardig haar boetie af. Marlouw stem in.
 
Doef! Eina!
 
Tot hier toe is dit lekker tipies Eben Venter.
 
Ons het al lankal in die koerante gelees dat die kêrel deesdae in die Karoo woon. Ons gaan dus hoor hoe lekker jollie dit hier in die nuwe Suid-Afrika is, nie waar nie?
 
Wel, dis wat ek gedink het.
 
Die eerste ding wat my tussen die oë slaan, is toe Marlouw ons vertel dat die SAL (sorry, SAA) nie meer in Australië toegelaat word nie; hulle is te onveilig. “Nou kyk, Eben,” dink ek. “Nou gaan jy te ver! Ek het self ’n groot klomp vloekwoorde om te spreek oor ons nasionale redery se vrot diens, maar hulle is darem nie onveilig nie!”
 
Twee bladsye later besef ek egter dat hierdie Suid-Afrika nie die land is waarin ek nou bly nie. Daar is amper geen witmense meer oor nie, vertel ’n verkoopsman vir Marlouw. Daar is ook nie meer wild oor nie.
 
So ons praat van ’n ánder land?
 
Inderdaad. Marlouw, die horrelpoot, land toe nie op die OR Tambo-lughawe nie, maar in ’n vuil, raserige, deurmekaar plek waar daar geen hulp is vir die toeris nie (want daar is nie toeriste nie) en die plakkers bly en slaap sommer in die vuil, deurmekaar gebou.
 
Na ’n hele paar dollars in omkoopgeld kom ons verteller, Marlouw, in Bloemfontein aan.
 
Die hedendaagse Bloem lyk soos ’n parodie op Thohoyandou, of Mtata. Dis vuil, die elektrisiteit werk nie ...
 
Hiérdie land is vrot van die Vigs, die armoede is verskriklik, die korrupsie is alledaags, Koeberg is opgeblaas, die paaie is ongeteer ... Kortom, die Suid-Afrika van Horrelpoot is ’n rommelhoop vol sterwende swart mense. Die wittes wat oorgebly het, is mal, korrup of desperaat (of al drie, skyn dit soms).
 
Reklamebreek
 
Nou gaan Izak in Eben se keelgat afklim, maar moenie worry nie, daar kom verligting ...
 
Hierdie leser word (te gou) moerig!
Hier, op pad na Marlouw se familieplaas, wil ek my moer strip vir Eben. Ek meen, komaan, kêrel. Hier is Marlouw op reis deur ’n donker, donker land in ’n wit bakkie.
 
Eben, aan die ander kant, het ek die ander dag weer raakgeloop in Protea, daardie wonderlike boekhemel wat Louis Esterhuizen in Stellenbosch geskep het. Daar staan hy, die slim skrywer, omring deur boeke, boeke en boeke. Ons loop in die groen lane en stap na Eben se wit bakkie. Ek en Eben praat oor die bakkie as nostalgiese idee, iets wat die Australiërs nie ken nie. Ons groet tussen die heerlike restaurante en kabbelende leivore; hy is op pad na sy huis in die Karoo, en ek op pad na my huis in die multikulturele Kaapstad.
 
Ek sit en kyk na die mooi boek, gedruk en gemaak in hierdie einste Kaapstad, en ek dink: “Eish, Eben. Wat het jy nou gemaak?”
 
Byt vas, er staat niet wat er staat
Gelukkig het ek op dié stadium gaan slaap, want hier iewers in die nag begin my kop die lêers vol van Eben Venter se werk orden. Half aan die slaap, half vererg vir Eben, begin ek dink hoekom die boek my so ontstel.
 
Daardie Johannesburg-lughawe wat hy beskryf, kon ’n televisiedokkie gewees het oor die Thohoyandou-lughawe. My eie beskrywing van die hoofstad van die toenmalige Venda, wat vier jaar lank my tuiste was, verskil niks van die Eben se Bloem nie. Ek, die pienk liberaal, aanvaar verantwoordelikheid daarvoor dat ek dink Thohoyandou is ’n dump, maar, eish ... nie die res van die land nie!
 
Dalk was daar in Thohoyandou minder mense wat doodgegaan het van Vigs, dink ek en dommel in. O, ja, irriteer ’n vae droom my. In al die jare daar was dit nooit een keer nodig om ’n sent omkoopgeld te betaal nie.
 
Die volgende dag, na ’n paar uur se slaap, begin ek die boek snap. Venter is nie verniet een van ons grootste skrywers nie. Izak moes net ’n bietjie slaap inkry om Horrelpoot se droewe land te begin verstaan.
 
Ek klim terug in die bakkie saam met Marlouw en ry na die familieplaas. Ek is nou net so nuuskierig soos hy om te weet wat daar gaan gebeur. Teen hierdie tyd weet ek en Marlouw al dat Koert daar sal wees.
 
Tiengelieng, Tiengelieng, gaan die kloppie af in my kop.
 
Marlouw en Koert.
 
Eben, jou Bliksem.
 
Gisteraand was ek te moeg om die opskrifte bo elke hoofstuk te eien, maar nou het ek dit! Ek hol na my boekrak, soek onder C en kry Joseph Conrad se Heart of Darkness in die hande. Bingo. Conrad se Marlow het sy stoombootjie opgesaal en vir Mr Kurtz gaan soek in die donker bosse van Afrika.
 
Ek en Marlouw verstaan mekaar nou beter, en die res van die reis, plaas toe, verloop glad.
 
Saam met Marlouw klim ek uit die bakkie op die familieplaas. Hierdie plaas is destyds (na “Pappie” en “Mammie” se dood) met kaart en transport aan die werkers oorhandig, so Marlouw en Heleen is lank nie meer die base daar nie. Marlouw is ’n besoeker. Koert, Heleen se seun, skyn egter nou hier in beheer te wees.
 
Ek loop saam met Marlouw en die nuwe eienaars deur die ou opstal. Dis nou verdeel in verskillende afdelings, en ’n hele aantal families woon hier. Koert en sy meisie moes ook ’n deel kry ...
 
Tiengelieng, tiengelieng, lui die klokkie weer.
 
Dié keer koers ek egter vir die V en haal Eben se eerste publikasie, Witblitz, van die rak af. Die derde storie is getiteld “(2) Full House in Sobukwe Bay”. Heita! Eben het al vantevore vir ons aan die apokalips voorgestel en niemand was ontsteld daaroor nie. In genoemde kortverhaal word die wit mense gedwing om as familiegroepe (uitgebreide gesinne, dus) saam in een huis te gaan woon, tot drie generasies saam. Kampsbaai, eens ’n rykmansbuurt, is nou Sobukwe Bay en die arme whiteys kry maar swaar hier!
 
Reklamebreek
 
Ek kan nie die res van die storie weggee nie, want dis ’n resensie dié. Lesers moet dus self die ontmoeting met Koert en die katarsis beleef.
 
Na die aanvanklike skok oor die Suid-Afrika wat beskryf word, en die moerigheid aan my kant, kon ek die boek nie neersit nie. Dit het laat geword, maar ek het aanhou lees tot in die vroeë oggendure in.
 
Toe, weg is julle! Koop die boek en kom lees die res van die resensie as julle klaar is!
 
Wie se donker hart word hier uitgestort?
Steeds voor die rekenaar? Goed. Julle sal nie die res van die storie uit my kry nie, wel ’n paar idees oor hoe om hierdie roman te hanteer en redes waarom julle dit wel moet koop.
 
Heart of Darkness is so ’n duidelike interteks dat ek onmiddellik Conrad se roman begin lees het na ek Horrelpoot toegemaak het. (Conrad het my egter aan die slaap gesus!)
 
Daar is wonderlike speletjies tussen Venter en Conrad se tekste. Die name is natuurlik die ooglopendste, maar in albei gevalle is daar byvoorbeeld swart breiwerk ter sprake; dis ’n ryk vrou wat vir Marlouw/Marlowe na Koert/Kurtz toe stuur; Koert/Kurtz wat op ’n draagbaar ry ... En die einde – maar julle het nog nie die boek gelees nie, nè? (Okay, vir die einde sal julle ook William Golding se Lord of the Flies wil nader trek, maar ek is nou stout! Kyk self!)
 
Dit is egter verfrissend om te sien hoe ánders Venter na Afrika en sy probleme kyk as Conrad destyds. Vir Conrad se verteller was Afrikane moorddadige, lui wesens wat graag mekaar wil opvreet. Selfs die “headman” (nog ’n benaming wat julle sal herken) word deur Conrad se Marlow beskou as gelyk aan ’n hond met ’n broek aan! Conrad se stuurman het ook baie minder mag as Venter se Pilot. (Terloops, my ouddosent wys my die ander dag daarop dat piloot afkomstig is van peillood. Venter sal in sy mou lag dat ek dit nóú eers raaksien!)
 
Venter se roman beskryf ’n nasie wat in die steek gelaat is deur hulle eie mense (wit en swart). Horrelpoot se ruimte is ’n postkoloniale Afrika waaruit die geleerdes, wit en swart, padgegee het. Venter se Afrikane is intelligente mense wat leef en oorleef. Daar is goeies en slegtes, daar is mooies en lelikes, maar die meeste is nie goed opgelei nie.
 
Vigs, die nuwe struggle
Horrelpoot is ook ’n roman oor Vigs. In Ek stamel ek sterwe klim Venter se verteller op ’n vliegtuig om te gaan medikasie soek vir die aftakelende siekte. In Horrelpoot is dit nie enkelinge nie, maar die nasie wat die dood afwag – daar is te veel om te probeer red en mense met MIV word nie meer in Australië ingelaat nie, aldus Marlouw.
 
Venter se Foxtrot van die vleiseters en sy Witblitz het albei bygedra tot ons korpus “struggle literatuur”. In albei praat hy oor wat gaan gebeur in Suid-Afrika as die wit mense nie ingee nie.
 
In Horrelpoot sê hy die struggle is nie verby nie. Hy wys ons daarop dat die land se armes steeds met ons is en dat Vigs steeds vir baie ’n doodsvonnis is – hoewel dit deesdae net so behandelbaar is as diabetes.
 
Venter sê ook: as jy nie bereid is om te bly en ’n verskil te maak nie, gaan daar op jou voorgeslagte se grafte gek*k word. (Letterlik! Dis een van die verbluffendste scénes in die boek – maar julle het dit nóg nie gaan koop nie, nè?)
 
Ek dink dis hoekom die boek my aanvanklik so kwaad gemaak het. Hier sit ek met my vet pens en ek sê: “Kyk, ons is nie almal so nie.”
 
Venter as gewete vir die vleiseters
Venter is ’n meedoënlose skrywer. Witblitz en Foxtrot van die vleiseters was tekste vol wit geweld teenoor swartes. Met Ek stamel ek sterwe het hy hom bewys as een van die beste romansiers in Afrikaans, en Vigs was skielik die hoofopskrif van ons letterkunde. (Mense soos Marzanne Le Roux-Van der Boon en Koos Prinsloo was natuurlik voor hom reeds bedrywig hiermee, maar Venter se roman het die hartsnare en breinselle gelyk laat saamspeel in daardie elegiese kragtoer.)
 
Sy volgende tekste was, oppervlakkig gesproke, meer verteerbaar – hulle het telkens die korrupte onderbou van die ryk middelklas uitgewys.
 
Met Horrelpoot ondersoek Venter egter weer die geweld van armoede en korrupsie. Mbeki is natuurlik korrek as hy sê dat Vigs baie te doen het met armoede, en Venter “bewys” dit dan ook met hierdie boek. In ’n wêreld waar daar nie ’n toekoms nie, is die nóú en die hiér van seks ’n wonderlike ontsnapping van honger en selfhaat.
 
Venter wys vir ons wat gaan gebeur as die ryk mense ophou omgee, as die armes aan seks uitgelewer bly.
 
Seks vs liefde
Daar is egter ’n wonderlike oomblik wanneer Marlouw die buite-egtelike minnaar van sy godsdienstige pa ontmoet. Hierdie skimagtige kameeverskyning van ’n vrou op ’n perd word gejukstaponeer met die krasheid van die armoede om hulle. Vir jare het Marlouw se pa en die veel jonger buurvrou mekaar se lywe geniet – hulle had egter die middele om gesond te bly en kon Sondag na Sondag in die kerk sit sonder verdoemenis. (Die buurvrou se man smous deesdae met kinderprostitute.) Teenoor hierdie onderspeelde, maar pragtige, liefdesverhouding, staan die geweld van prostitusie en gunsseks waarmee die jong meisies moet vrede maak in Venter se apokaliptiese Suid-Afrika. Ouer vrouens is hekse as hulle nie konformeer nie, jonger vroue word geen keuse gegun nie. (As ’n jong vrou byvoorbeeld op haar regte aandring in ’n polisiestasie, word sy met ’n pistoolgreep katswink geslaan.)
 
En dit is die vleiseters, hulle wat mag het, wat dit aan die res van die land doen.
 
Vleis
Ons kom baie gou agter dat Koert die enigste een is wat elke dag vleis eet op die familieplaas. Koert is ook die een wat vleis beheer in die streek, en daarom is hy die magtigste van almal.
 
Vleis is mag; dié tema het hom duidelik afgespeel in Witblitz en in Foxtrot van die vleiseters.
 
In daardie verhaal oor die huis wat verdeel moes word vir die wit gesinne om in te bly, “(2) Full House in Sobukwe Bay”, word die verlies aan mag gekoppel aan die verlies van skaapvleis. In Foxtrot van die vleiseters word mag nog sterker gekoppel aan hulle wat vleis het. Met Horrelpoot gaan dit verder. Hier is vleis die wapen. As Marlouw amper in die tronk beland, is dit twee bokse druppende vleis wat hom daar uithou. As Koert bedreig voel, laat hy slag.
 
Koert, die mees korrupte blikskottel, is wit, maar dis baie belangrik om Venter se vingerwysing na korrupte swart Afrika raak te sien, en sy verteller se onverbloemde irritasie met swart mense wat skynbaar hulle lot aanvaar en nie opstaan teen die onderdrukkers nie.
 
In Horrelpoot is Koert ’n produk van korrupte Afrika, nie die oorsaak nie. Hy is gewoon slim genoeg om, soos Kurtz in Heart of Darkness, die vrese van mense sonder opleiding uit te buit.
 
Venter ondersoek dus, nogeens, die donker hart van mag en geweld. Anders as Conrad sien hy die donker harte in mense raak; hy blameer dit nie op ’n donker kontinent nie.
 
Afrikaans
In Horrelpoot se wêreld sit gegoede Afrikaanssprekendes in die buiteland. Dié wat oorbly in Suid-Afrika, speel die korrupte spel om te oorleef. Koert, wat Afrikaans grootgeword het, se Afrikaans raak heeltemal verdwaal in ’n aantal wêreldtale. Koert, die vleiseter, is wit, maar is nie ’n stereotipe-Afrikaner nie.
         
Op ’n vreemde manier neem Venter, in die figuur van Kurt, die blaam weg van ’n taal en plaas dit op die skouers van ’n korrupte heersersklas – wit en swart.
 
Ek glo egter dat Horrelpoot ’n subtiele waarskuwing inhou oor Afrikaans: as ons almal gaan weghardloop, gaan ons kinders dalk nog Afrikaans praat oorsee, maar die sentrum van Afrikaans gaan verval in nostalgiese herinneringe en arm mense wat vasklou aan ’n outydse taal. (Lesers kan gerus let op die tipe Afrikaanse wat gebesig word deur Marlouw en van die ander sprekers.)
 
Koert is ’n wêreldtaalspreker, al maak hy aanspraak daarop dat hy ’n verteenwoordiger van Afrikaans is.
 
Aldus Leon van Nierop
As jy teen dié tyd nog nie aan die slaap geraak het, of moed opgegee het nie, sal jy Horrelpoot baie geniet.
         
Leon van Nierop waarsku altyd fliekgangers dat sekere flieks nie vir hulle is nie. Ek moet ook waarsku: asseblief, dis nie ’n boek wat gestuur moet word aan mense wat dit begin oorweeg om terug te keer Suid-Afrika toe, of vir jou niggie wat vir die eerste keer in Suid-Afrika wil kom kuier nie. Dit is ’n boek vir diegene wat Suid-Afrika ken en wat in Suid-Afrika se beste letterkunde belangstel. Dit lees lekker en maklik, maar dis nie ’n ligte stukkie borrelgomliteratuur nie.
 
Aldus Barry Ronge
Die ander groot fliekman van wie ek baie hou, Barry Ronge, gee altyd interessante, byvoeglike punte. My opinie oor Horrelpoot? My een breinlob sê ’n nadorstige nege, die ander een sê ’n tartende tien.
 
Dus?
Koop die boek, lees dit en besluit self op ’n punt. Jy sal nie spyt wees nie!
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top