
’n Spietkop op puntdiens
Die spietkop doen dwarsdeur die jaar
puntdiens tydens spitsverkeer.
Elke weeksdag staan hy daar,
in son en reën en wind en weer,
om motors, busse en verkeer
pligsgetrou te reguleer.
Soms laat ’n oordosis monoksied
hom militaristies en rigied
soos ’n samajoor hiet en gebied.
ja ... twa drie, ja ... twa drie, ja.
Tussen kug en rook en ’n gestik,
gesnor en met ’n ysterblik
tot elke padvark bedees skik.
Na ’n goeie nag se rus
met Mozart wat sy ore sus,
verbeel hy hom hy’s Von Karajan
en jaag die simfonie karre aan.
Een twee drie, een twee drie ...
Stafloos word gedirigeer
tot brom en druis, rammel en suis,
filharmonies konformeer.
As vroutjie se disse te veel kerrie
of pekelhoender met peri-peri
sy tong laat brand en oë laat traan,
dan hef hy hand as waaier aan.
Ry waaier-waaier stop, kom wrrr-wrrr halt ...
Motoriste jaag dan voort,
onbewus van sy keelbrandnood.
Sy dans op puntdiens is ’n plesier,
word afgewissel volgens gier.
En as sy bewegings soos karate lyk,
het hy waarskynlik kung fu gekyk.
Oi ieeja jy, oi ieeja ry ...
Tjorre, lorre, wrakke en bakke gaan verby
sonder om te besef, so deur die jare,
weerspieël sy gemoed in sy gebare.

