’n Soeke na menswaardige geregtigheid in ’n maalkolk van identiteit-, inheemsheid- en rasuitdagings

  • 4

Die vierde Danny Titus-gedenklesing het in Worcester in Mei 2023 plaasgevind. LitNet argiveer hierdie toespraak.

Ek wil eerstens vir Danie, Charles, Willem en die DAK-netwerk dankie sê vir hierdie besondere eer en voorreg om die lesing met julle te kan deel. Ek vertrou ek sal my opgroeimaatjie se nagedagtenis kan vereer deur hierdie gesprek met hom, al is dit in sy afwesigheid.

Dit is nou maar eenmaal so dat gedenklesings in die meeste gevalle plaasvind wanneer die belangrikste persoon nie teenwoordig is nie. Ek sou wat wou gee dat Danny deelneem aan die gesprek en argumenteer vir of teen sekere gedagtes. Wanneer Danny my besoek het, of ons bymekaargekom of per telefoon gesels het, het ons maar altyd gedebatteer oor ’n wye verskeidenheid van sake. Dit was altyd lekker debatte en of ons verskil of saamgestem het, ons het dit altyd in vriende-verbondenheid gedoen. Ek wens ’n mens kan altyd ons debatte op so ’n manier voer. Hierdie is ’n gesprek wat die essensie van Danny Titus se werk en pogings in sy lewe probeer boekstaaf. Sy ingeboude menswees was gedurig op soek na antwoorde op ’n menswaardige geregtigheid. Of ek of andere met sy werkswyse saamgestem het, al dan nie, maak beslis nie saak nie. Sy dryfveer na geregtigheid is wat ons almal moet nastreef op ons eie unieke manier. Dit is immers wat hy sou wou hê, glo ek.

Danny se geankerde identiteit

In die soeke na geregtigheid en die opheffing van die medemens is dit noodsaaklik dat mens verseker dat jy gemaklik en gebonde is in jou eie identiteit. Identiteit kan nie skielik in jou laataand-jare ontwikkel nie, maar word in jou ontwakingsjare tydens jou prille jeug en opgroeijare gevestig. Dit is jou verantwoordelikheid om jou identiteit te aanvaar, want dit is wie en wat jy is. Soms is ons identiteit iets wat ons nie wil aanvaar nie, maar dis ongelukkig ingewortel.

Ons het grootgeword in ’n omgewing waar ons as kinders opgegroei het in die begrip dat alle anties en ooms van die omgewing ook ons ouers was. Ons was bewus dat ons optredes deur die ander ooms en anties dopgehou word en ons eie ouers sou bewus wees van wat ons ook al doen in ons woonbuurt. Dit is uiteraard nie ’n slegte ding nie, want so was al ons kinders gekoester deur die hele woonbuurt. Ons woonbuurt was nie begrens deur die verskillende strate nie, maar oral waar ons beweeg het, want almal het vir almal geken. Jou kind is my kind en my kind is jou kind, was die aanvaarbare en kosbare kleinood terwyl ons opgegroei het. Dit het nie net gegaan oor ons optredes nie, maar ons kon met geruste harte ingaan by antie Alida of oom Piet en vra vir ’n stukkie brood en ons is met vrygewigheid en liefde die brood aangebied.

Die NG Sendingkerk was vir Danny en van ons ander die anker. Daar word groot gewag gemaak dat die kerk die vormer van waardes is, maar ons ouers en die gemeenskap waar ons grootgeword het, het verseker dat ons waardes gevestig is. Deesdae word verskillende gelowe gedurig teen mekaar afgespeel en daar is ’n bykans ongehoorde jaloesie/aggressie tussen verskeie gelowe. Ons het opgegroei in ’n tydvak waar almal eenders was – ongeag jou geloof of waar jy gebly het. Ons het almal saam gevier tydens Labarang, Paasfees of Diwali. Worcester se Paasmaandag-basare is ’n sprekende voorbeeld van hoe die verskeie gelowe saamgesnoer is. Ons het saam met die Savahls, Pandays, Narotams en Patels opgegroei, feesgevier, skoolgegaan en op die vlakkie tussen die biesies sport gespeel en sports gemaak. Ons het ons vrugte by Bhaka se Worcester Fruiterers gekoop, drs Levinsohn en Goss was ons dokters en Georgie Fortuin het gesmous en by die huise kom groente en dies meer verkoop.

Ons het skoolgegaan by Esselenpark (die plankieskool); Oefenskool, RK; Witblokke – sonder dat dit saak maak waar jy gebly het of wie jou ouers was. Ons het saam op ons fietse die pad aangedurf na Rawsonville om by Trevor Brown te gaan kuier en ons het cowboys en crooks gespeel in die verskeie huise wat nog in aanbou was.

Esselenpark Hoërskool was ons volgende tydvak van opgroei en identiteitsbou. Hier het ons sosiaal-politiese ontwakings begin. Alhoewel die onderwysbestel van die sewentigerjare beduidend ongelyk en rassisties was, het onderwysers soos mnre Crotz, Anyster, September, me Esterhuyse en ander ons geslyp en op hul unieke maniere ons oë oopgemaak vir ongeregtighede. Esselenpark was dié gesogte skool in die land en ons was in die skool met rolmodelle soos Yusuf Omardien, Julian Smith, Diana Ferrus, Donovan Lyners, Clarence Johnson, Aubrey Springveldt, Charles Beukes, Faiz Marlie, John Oliphant, Nolan Grove, Desmond en Johnny-Boy Horne en menigte ander akademiese en sport-rolmodelle. Dit het ons ’n trots in ons skool en onsself laat ontwikkel. In ons tyd op EPH was daar sekerlik die meeste studente nóg wat verder aan ’n tersiêre inrigting gaan studeer het – en baie het verder aan die Universiteit van Wes-Kaapland gaan studeer. Die name van die manne en vroue wat in daardie bloeitydperk saam met ons op skool was, lees soos ’n lys in ’n boek van uitsonderlike Suid-Afrikaners: Cecyl Esau, Hein Willemse, Danny Titus, Moses Baartman, Ivor Opperman, Theo Erasmus, Vivien Daries, Ingrid Aries, Jeffrey Pietersen, Abe Glam, Ruben Franklin, Desmond Grove, Danny Adams... Manne en vroue wat hul merk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak het. Hier was dit veral Cecyl Esau in my klas wat ons dieper bewus gemaak het van ons sosiale konteks.

In hierdie tydvak in Worcester was daar ’n bloeitydperk van revolusionêre aktiviste en bewegings. Mense soos Hennie Ferus, Bibi Dawood, Willem van Schoor, Bennie Kies, Davey Pietersen, ensovoorts. Daar was organisasies soos die NEUM, TLSA, Ouer-onderwysersverenigings, ANC, SASO. Ons het aan die CJV behoort en ons redeneringsvermoë en debatvoering is ook hier geslyp. En ons was ontnugter oor dinge wat hier in ons dorp gebeur het – soos die feit dat Durbanstraat die grens is tussen die wit en swart gemeenskappe. Die feit dat strate wat lynreguit loop se name verander waar hulle oor Durbanstraat loop – Adderleystraat raak skielik Greystraat; Porterstraat word Parkerstraat; Napierstraat word Le Seuerstraat, en elkeen van die strate loop doodreguit. Die rede hiervoor was eenvoudig dat die wit gemeenskap nie in dieselfde straat wou bly as die swart gemeenskap nie.

Ek deel ’n lang relaas met u, omdat dit die milieu was waarin ons grootgeword het. Deur al hierdie dinge is ons identiteit gebou en gevestig. Die strewe van Danny na geregtigheid ontspring vanuit ons opgroeijare, ons ontwaking en ons misnoegde verset teenoor diskriminasie. Sy identiteit het hieruit geblom.

Verset teen diskriminasie en vegter vir inheemse bevolkings

Ingewortelde identiteit en invloede van sy jeug en opgroeijare het vir seker sy lewensbeskouing teen diskriminasie, van watter aard ook al, gevestig.

Oor die eeue heen word daar hewig gediskrimineer teenoor inheemse bevolkings. In Suid-Afrika spesifiek en Afrika in die algemeen sukkel ons steeds om die juk van kolonialisme af te breek. Autshumao, Doman, Krotoa en andere van hul gemeenskap se trotse geskiedenis word in die koloniale geskiedenisboeke verklein tot vertalers en gesante van die grootbase, Jan van Riebeeck en sy trawante. Die inheemse bevolking se vee en landerye wat hulle in die gees van naasteliefde naïef gedeel het met die VOC-amptenary, is met geweld gesteel en afgeneem. Hierdie groep mense wat in harmonie met die grond en met ander mense geleef het, se trotse geskiedenis word as ’n naskrif in die geskiedenis vervlak.

Groot sosiale en wetenskaplike uitvindings is gedoen deur die inheemse volkere van Afrika. Afrika is die geboorteplek van die mens, Homo sapiens, meer as 200 000 jaar gelede. ’n Voorvader van ons as mens, Australopithecus afarensis, of soos sy genoem is – Lucy – het 3,2 miljoen jaar gelede in Afrika rondgeloop. Hieruit het ons menseras – Homo sapiens – uiteindelik geëvoleer. Hier in Afrika het ons voorvaders begin om ontdekkings te maak wat die pad vir die verdere ontwikkeling van die menseras moontlik gemaak het. In Zimbabwe is die wetenskap van goudontginning ontwikkel. Metallurgiese vooruitgang het hul basis in Afrika gehad. Vooruitgang in Tanzanië, Rwanda en Uganda was aan die orde van die dag. Groot stede het alreeds verrys in Mosambiek en Zimbabwe. Die piramides van Egipte – nog steeds een van die wondere van die wêreld. Uit Afrika het die mens begin om die wêreld in te vaar. Astronomie – die studie van die sterre en planete – het in Afrika begin, want ons voorouers het die basis gelê van emigrasie die wêreld in. Wiskunde het sy ontstaan in Egipte. So, ons kontinent kan beskou word as die groeiplek van nie net die mens nie, maar ook die ontstaan van die sosiale en wetenskaplike ontwikkeling van ons voorouers.

Ons voorouers en die geslagte van gemeenskappe in Afrika het saam met die natuur geleef. Soveel inheemse kennis en vaardighede het hier ontwikkel. En toe raak die mens gierig en uit veral Europa val hulle Afrika binne. Die edelstene word gesteel, die kunswerke en ander artefakte word verwyder en raak deel (en is nog steeds deel) van die koninklikes en rykes in Europa se opgegaarde gesteelde besittings. Die diepe letsels wat deur koloniale invallers dwarsdeur Afrika gelaat is, is so duidelik in bykans al die lande in ons kontinent. Tog weet ons dat ons voorouers hier in Afrika die invallers met naasteliefde ryklik ontvang het, maar hulle is uitgemoor deur hierdie invallers. Hul seuns en dogters is op die skepe gelaai en verkoop as slawe. Baie keer het die kerke hul sendelinge gestuur om hierdie “barbare” te kersten – en dan was dit dieselfde sendelinge wat toegesien en deelgeneem het aan die uitwissing en verkragting van lewe en lewenswyses hier in Afrika.

Tans sien ons weer eens, selfs Palestina wat die Israeli’s met ope arms verwelkom het en land en woonplek aangebied het, word stukkie vir stukkie gekoloniseer en haar mense uitgewis deur ’n tipiese rassistiese bestel.

Is dit dan so vergesog dat mense soos Danny Titus met hul ingeboude waardesisteme die vegters was/is vir die inheemse volkere? En Danny het nie slegs geveg vir die erkenning van die inheemse volkere in Suid-Afrika nie, maar hy was beslis betrokke op ’n globale podium. Dit het nie net gegaan oor bewusmaking vir die wêreld van die rieldans nie, maar dit het gegaan oor diepere aspekte soos die bewusmaking en koestering van die geskiedenis, tradisies, gewoontes en lewensbeskouings van inheemse volkere.

Ek wonder onwillekeurig tog of daar werklik nog iets soos outentieke inheemsheid bestaan? Ons voorgeslagte ontspring uit verskeie dele van die wêreld en die kartering van ons menslike genoom toon die feit dat ons paterlyne en materlyne hul oorsprong van oor die wêreld heen het. Maak dit ons inheemsheid afgewater of moet ons liewer werk maak daarvan om ’n nasionale kultuur te skep? Sal die verskeie tradisies en gewoontes van die oorspronklike volkere nie daartoe bydra dat ons gemeenskaplike kultuur as Suid-Afrikaners soveel ryker sal wees nie? Is ons almal nie tog maar verwant nie?

Die feit dat Paul Kruger ’n afstammeling is van Krotoa is onteenseglik ’n bewys van ons interverwantskappe en ineengeweefde geskiedenis.

Is ons dan so verskillend?

Ek het so tyd gelede die dokumentasie ontvang wat aantoon dat my huis nou uiteindelik my eiendom is. Toe ek hierdie oordragdokument bestudeer, het ’n skielike ergernis my oorval. In hierdie dokument, duidelik aangedui deur ’n stempel op verskeie plekke, staan daar: “GEKLEURDE GROEP”. Het ek dan nie dieselfde geld as enigeen anders betaal vir die reg op eiendom nie? Is my geld dan kwansuis anders?

Charles Darwin se boek On the origin of species by means of natural selection wat in November 1859 gepubliseer is, het die mensdom tot in sy diepste wese geskok. Skielik is ons grootheidswaan as die kroning van die skepping afgeblaas tot ’n natuurlike evolusie-geval in die diere- en planteryk. Jammerlik was daar diegene wat Darwin se uitsonderlike wetenskaplike navorsing en feite verdraai het om hulle eie onderduimsheid en rassisme te regverdig. Die eugenetika-aanhangers het hierdie wetenskaplik-uitsonderlike verhandeling omskep in wat toe genoem is Sosiale Darwinisme. Daar is groot gewag gemaak dat mense met meer pigment in hul epidermis kwansuis minderwaardig sou wees. Dit was doelbewuste pogings om valslik te verkondig dat Darwin verskeie rasse aanbeveel het.

Laat ek dit onomwonde stel: Darwin het bewys dat die mens slegs EEN ras is, naamlik Homo sapiens. Daar bestaan geen ander menseras nie.

Maar diegene wat hul duistere motiewe wou laat voortleef, het hul ekonomiese mag gebruik om die kwessie van ras te laat voortleef. Die wanopvattings het die ontstaan van fasciste soos Hitler, Mussolini, Verwoerd en ander gebaar.

Ons grondwet stel dit duidelik dat die mens slegs een ras is. Maar dan word ons grondwet verkrag deur die feit dat in die meeste aspekte van ons Suid-Afrikaanse landskap moet jy jou “ras” aandui. Dit is ongehoord dat nog steeds na bykans 30 jaar na die demokratiese verkiesing in 1994 ons nog steeds kan verwys na “swart”, “bruin”, “Indiër” en “wit” as deel van ons daaglikse leksikon. Hoe kan ’n sogenaamde demokratiese regering nog steeds vasklou aan die taal van die vorige onderdrukker? Dit is soos Hein Willemse dit stel: Die konsep van verskeie menserasse is bloot nie gefundeerd of gegrond in enige wetenskap nie, maar rassisme bestaan beslis.

Hierin lê ons grootste dilemma. Dit is seer sekerlik die reg van enige persoon om te assosieer met wie sy/hy wil assosieer. In ons opgroeijare het ons geassosieer met diegene in ons woonbuurt – woonbuurte wat met opset ingestel is om rassisme te vergestalt. Ons integriteit en identiteit het ons egter verby hierdie klassifikasie laat assosieer met wie ons wou. Hierdie assosiasie moet beslis nie gesien word as “rasgebaseerd” nie, maar bloot omdat daar ’n gemeenskaplike gemaklikheid is tussen die verskeie individue wat met mekaar assosieer. Die apartheidsideologie het ons forseer om in bepaalde groepe groot te word. Ons opgroeijare in Worcester is ’n tekenende voorbeeld, maar dit het ons nooit verhoed om bepaald te assosieer met diegene met wie ons graag sou wou assosieer nie. Dit bekommer my as daar gedurig gepraat word van “African Blacks” – dit is bepaald diep rassisties en om te probeer verantwoord dat dit nodig is vir swart ekonomiese bemagtiging, of vir geskiedkundige regstelling, is oneerlik. Die feit dat Homo sapiens willens en wetens afgebreek word tot vier “rasse” hier in Suid-Afrika is ’n terugval in die apartheidsideologie – net in hierdie geval is dit duidelik nie meer die “witras” wat gedokumenteerd is as die “hoofras” nie, maar nou is dit die “Black African” wat daardie rol oorneem. Hierdie onhoudbare klassifikasie impliseer dat sodra mens jouself klassifiseer as een of ander sogenaamde ras, verval jy in die moeras van viktimisasie – jy beskou jouself as ’n slagoffer en sal behandel word as ’n slagoffer en untermensch teenoor die Hitleriaanse überras. Indien jy willens en wetens, of selfs onwetend, jouself in hierdie raskategorieë plaas, is dit soveel makliker vir die regering met sy duistere motiewe om wette te promulgeer wat skielik persentasies aan sogenaamde kwotas bestel. Dit vervlak ook jou integriteit om jouself so te wil klassifiseer.

Ons moet bou aan ons Suid-Afrikaanse eenheid en vir my is die konsep van ’n “reënboognasie” absurd. Om die woorde van Neville Alexander te parafraseer: ’n Reënboog is ’n optiese illusie en dus is die reënboognasie ook ’n illusie. Om die gemeenskappe van Suid-Afrika te vergelyk met verskeie kleure is onaanvaarbaar, rassisties en ’n illusie.

Danny Titus het uit vaste oortuiginge geveg vir menswaardigheid. Sy soeke na regverdigheid is ingebou in sy identiteit wat getemper is tydens sy grootwordjare in Worcester. Sy strewe om te verseker dat almal erken word, is befoeter deur maalkolke van ras- en inheemsheid-teenstrydighede. Ons kom uit ’n tydperk van onderdrukking en beweeg in ’n tydperk van verdere uitbuiting. Danny het in alle eerlikheid daardie geveg gestry en hy sal as een van die grotes van ons land beskou word.

Ons plig is om die Suid-Afrikaanse nasie te bou. Ons moet wegbeweeg van enige verwysing van “andersheid” asof dit minder- of meerderwaardig sou wees. Ons is dit verskuldig aan ons kinders en nasate. Ons kleinkinders assosieer en speel met wie hulle wil, sonder om enigsins epidermale pigmentasie raak te sien. Kom ons maak hul pad gemakliker en beweeg weg van hierdie vasklou aan vals rasseklassifikasie. Ons is almal Homo sapiens en ons uniekheid lei tot ’n laboratorium van ontdekking en ontwikkeling. Om weer vir Alexander te parafraseer: Laat ons ’n nasie bou soos die Groot Gariep wat sterk vloei as gevolg van al die sytakke wat hul water daarin stort, en die groot Gariep vloei as ’n sterk eenheid tot in die globale see. Een nasie, een Suid-Afrika, gesamentlik divers en uniek. Dit is sekerlik die erflating wat ek glo Danfred Titus met ons almal laat.

Ek dank u.

20 MEI 2023

  • 4

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Kulturele en volksverskeidenheid. Die Here het grense tussen die nasies én volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal en stam gestuur sodat hulle (verkieslik) in hulle eie taal geëvangeliseer kan word. In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. - https://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.htm

  • Hanno Visagie

    In godsdienstige liberalisme word die Bybelse feit heeltemal ontken dat die Here grense tussen volke gestel het. ‘n Teks soos die volgende word óf geïgnoreer óf heeltemal verdraai: "Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal," (Hand. 17:26, Afr2020). Hierdie “grense” het tog baie belangrike implikasies – nie net volkekundig en staatkundig nie, maar ook taalkundig en godsdienstig. Die evangelie moet aan elke groep in sy eie taal- en kultuurverband verkondig word, omdat dit benewens die redding van individue ook daarop ingestel is om gesins- en volksinstellings te verchristelik, te onderskraag en te versterk.

    Die teologiese liberalis ontken grense van hierdie aard omdat hy besig is om aan ‘n internasionale, geïntegreerde, nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te bou, waarin daar uiteindelik ook beweer sal word dat alle godsdienste dieselfde God aanbid. Hy beroep homself graag op tekste soos die volgende: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus” (Gal. 3:28). Hierdie teks word dan verdraai deur dit sosio-polities te verklaar en te beweer dat volksgrense verval, sosiale stande uitgewis en dat geslagsverskille tussen mans en vrouens nie in ag geneem moet word nie. Alles kan dus saamvloei en een word, wat beteken dat homoseksuele verhoudings ook in orde is.

    Hierdie teks het duidelik net op geestelike gelykwaardigheid betrekking. Wanneer dit by redding kom, gee die Here nie aan ‘n Jood voorkeur bo ‘n Griek, aan ‘n ryke bo ‘n arme, of aan ‘n man bo ‘n vrou nie. In samelewingsverband geld al hierdie verskille egter nog steeds: Paulus identifiseer homself baie duidelik as ‘n Israeliet of Jood (Rom. 11:1; Hand. 22:3); diensknegte word tot gehoorsaamheid aan hul here aangemoedig (Ef. 6:5); en die man se posisie as die hoof van die vrou word ondubbelsinnig bevestig (Ef. 5:22-23).

    Die ernstige Christen kan homself hoegenaamd nie met die liberale teoloë se wyse van Skrifverklaring vereenselwig nie – nie net omdat dit op politieke of humanistiese aanvaarbaarheid ingestel is nie, maar ook omdat dit op ‘n skewe en krom verklaring van die Skrif gebaseer is. https://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Israelvisie.htm

  • Barend van der Merwe

    Gelukkig kan ek die verhale in die Bybel lees vir wat dit is. Dis stories en is geensins normatief in my lewe nie. Meaning ek hoef nie die Bybel as enige norm of maatstaf te gebruik om my lewe of denke aan te toets nie. Die ou storie van die toring van Babel is duidelik tog 'n totale fabel, in die klas van Jona en die vis of Noag en die Ark, 'n klassieke mitiese volksverhaal van die Israeliete.

    Dis baie soos onse Jan van Riebeeck, wat kwansuis 'n volk kom plant het.

    Paul Kruger had self 'n klomp mitiese verhale en verromantisering wat met hom saamloop.

    Dis 'n interessante aanbieding Brian, dankie. My eie ervaringe van kerke verskil nogal van joune. Maar ek het in 'n totale ander wereld opgegroei as Worcester. Ek probeer godsdienste verdra maar moet bieg, is oor die algemeen maar geneig om negatief oor godsdiens te voel. Kerke lewer wel 'n goeie diens. Begrawe mense. Trou hulle. Verskaf troos aan oumense. Doen bietjie welsyn. Die, daai en die ander. Maar dit is en bly uiteindelik plekke van oorheersing en mag. Jy kan ook iets daarvan lees in Hanno se opmerkings.

    As 'n reel vermy ek kerke en enige godsdiens so ver as moontlik. Hoewel ek hulle graag bestudeer. Maar nooit sal ek weer een beoefen. Veral omdat ek ook dink dat God is maar net die volwasse weergawe van Kersvader en die Tandmuis.

    Van ras sal ons nooit as te nimmer wegkom. Die geskiedenis maak dit eenvoudig onmoontlik. Boonop het SEB deel geword van hoe rykmense hulle toegang tot die staatskas beskerm.

  • Ronald Campher

    In die gees van kameraderie wil ek sagkens 'n reflektiewe kritiek op jou stuk lewer.

    In die strewe na geregtigheid, eenheid en waardigheid vir almal, is dit noodsaaklik om die kompleksiteite van identiteit en erfenis te navigeer - en rasse-uitdagings met deernis en begrip. Die konsep van 'n "reënboognasie" is met skeptisisme begroet, soos dit in jou woorde uitgedruk word, en dit is belangrik om die diepte van hierdie sentimente te erken.

    Die erkenning van diversiteit binne Suid-Afrikaanse gemeenskappe moet nie verniel word deur blote vergelykings van kleure, vir elke individu en groep wat 'n ryk tapisserie van ervarings en stryd dra nie. Dit is deur die erkenning van hierdie unieke verhale dat ons na 'n meer inklusiewe en regverdige samelewing kan beweeg.

    Danny Titus se onwrikbare stryd vir menswaardigheid, gewortel in sy identiteit wat deur sy opvoeding gevorm is, dien as 'n kragtige bewys van die veerkragtigheid van die menslike gees te midde van teëspoed. Sy nalatenskap is 'n voorbeeld van die voortdurende stryd teen ongeregtighede wat voortspruit uit verdelings van ras en erfenis.

    Terwyl ons gesamentlik daarna streef om ons nasie te bou, laat ons gehoor gee aan die oproep om idees van "andersheid" te transendeer en enige hiërargieë wat op valse rasseklassifikasies gebaseer is, te verwerp. Dit is ons plig teenoor toekomstige geslagte om 'n samelewing te skep waar aanvaarding en gelykheid heers, waar ons kinders en kleinkinders vry is om te assosieer en te speel sonder die las van oppervlakkige persepsies.

    Om ons gemeenskaplike menslikheid te omhels, ons uniekheid te vier en te bevorder, sal 'n omgewing van ontdekking en groei ons lei na 'n sterker, verenigde Suid-Afrika. Laat ons 'n nasie voorstel wat soortgelyk is aan die majestueuse Garieprivier, wat krag put uit die diverse bydraes van sy sytakke, wat as een magtige krag in die globale see vloei.

    Mag ons die nalatenskap van Danfred Titus eer deur aan te hou werk aan 'n verenigde, diverse en harmonieuse Suid-Afrika, wat 'n blywende erfenis van hoop en vooruitgang nalaat vir toekomstige geslagte.

    Ronald Campher
    Knysna
    14 Februarie 2024

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top