'n Sin vir die dramatiese: Naomi Bruwer gesels met Emile Joubert oor Kouefront

  • 0

Kouefront
Emile Joubert


Hoekom is Kouefront as die titel van die bundel kortverhale gekies?

Die Kaapse storms het altyd ’n sin vir die dramatiese aangewakker. Ons het in Seepunt gewoon en elke aspek van die storm gevoel – die reuk van die see wat skielik opslaan, die wind uit die noordweste, die reën en dan die bedonderde see. Ná die storm kruip die mense weer uit en sit hul normale lewens voort, aanvanklik ietwat bedees en versigtiger as voor die storm. So asof die geweld van die natuur hulle oor hul kwesbaarheid laat nadink het. Dis hierdie stilte, kalmte, inkennigheid wat mense laat dink oor wie en wat hulle is, en oor die wêreld om hulle. My karakters is só.

Die titelverhaal, “Kouefront”, begin deur ’n verwysing na die skryfproses self. Die karakter De Waal vra aan die skrywer:

"Dís wat ek nie van julle Afrikaanse skrywers kan verstaan nie,” sê hy terwyl hy weer na my toe draai. “Besef julle nie julle is Áfrikaans nie? Soos in Áfriká. Wat de hel het ’n rob van Antartika met ons te doen, vra ek jou met trane in my groen, lasergekorrigeerde oë? Julle is besig om julle uit enige relevante rol uit te skryf. En dan kla julle dat niemand Afrikaanse boeke koop nie.”

Dink jy Afrikaanse skrywers het ’n verantwoordelikheid om oor Afrika en byvoorbeeld die politiek te skryf, of is die onderwerp van sy skryfwerk die skrywer se keuse?

Dis die hele ding. Wat gee enigiemand die reg om aan ’n skrywer voor te skryf? Dit maak nie saak waar hy of sy haar bevind nie, daar behoort geen verpligting op ’n skrywer te wees om oor iets anders te skryf as wat die siel van die skrywer vereis nie. Vroeër vanjaar was daar weer tydens die Time of the Writer-fees in Durban ’n geval. Soos Willem Pretorius dit in Die Burger gestel het: “Mense het verlede week op die Time of the Writer-fees in Durban kop geskud oor die skrywer van The Book of Not, Tsitsi Dangarembga, wat niks oor die noodtoestand in haar land wou sê nie.”

Niemand het die reg om voor te skryf nie. As jy in Darfoer woon en jy wil feeverhale skryf, is dit jou reg.

In die titelverhaal is daar enkele verwysings na werklike persone en gebeure, soos die oproep deur die hoofkarakter aan Tersius Kapp waarin hy vra hoe was Oudtshoorn en Kapp antwoord:

“Nee, okay, huh. Ons shows is heel goed ontvang. Net moerse moeg. Baie dronk boere. Inspirasie vir Vicky, verseker.”

Dit is duidelik hier word gepraat van die dramaturg Tertius Kapp en die aktrise Vicky Davis. In hoe ’n mate skryf jy outobiografies?

Ek mag rekwisiete gebruik, dink ek. Of hulle mense of tafels is, dieselfde ding. Tertius is net slimmer as enige tafel en Vicky baie mooier.

Jou verhale speel in verskillende tydperke af. “Loshand” is ’n grensverhaal; “Die sandstewel” speel af in die Anglo-Boereoorlog; “Die nuwe binneland” is soort van ’n “Ou Kaapse” verhaal. Die res kan basies in enige tydperk geplaas word, alhoewel “Smaak” ook ’n sterk historiese inslag het. Is jy geneë tot die geskiedskrywing of is die verhale bloot gekies om die universaliteit van die onderliggende tema van die bundel te beklemtoon?

Dis vir my ’n eerste, hierdie geskiedenisding. Maar die stories se ontstaan het niks te make met ’n drang om geskiedenis te skryf nie. "Die sandstewel" kom van my pa se familieplaas. Daar hang ’n stiebeuel in die kombuis wat ’n Britse soldaat tydens die Anglo-Boereoorlog as ’n geskenk aan my oupagrootjie gegee het. Toe bou ek ’n fiktiewe verhaal daarom. "Die nuwe binneland" … wel, daar het ek en prof Nigel Penn van die Universiteit van Kaapstad eendag in die Boland wyn gedrink, toe vertel hy my van die bendekultuur wat eintlik in die 1700’s in die berge begin is deur drosters. Daar was ’n storie, in my skoot. Ek hou egter daarvan om oor die verlede te verbeel, mense snaakse klere te laat aantrek en so aan.

Deurlopend in al die verhale is jou bewustheid van die omgewing, die natuur en die landskap opvallend. Is jy na aan die natuur?

My sintuie is oorgehaal om die natuur in te slurp. Ek is mal oor die buitelug, berge, see, diere, veld, riviere, damme. Omdat ek so ’n swak kampeerder is, voel ek altyd die natuur na aan my bas. Óf ek vries, óf die miere vreet my op. Maar ek het geleer om my aan die natuur oor te gee.

Voel jy dat die landskap waarin ’n persoon hom bevind, bydra tot sy identiteit en lewensuitkyk?

Dit hang van persoon tot persoon af. Ek het pelle wat volbloed Suid-Afrikaners was en nou rustig elke vyf jaar van werk verander en in ’n ander land gaan werk, en doodgelukkig is. Ander mense raak onrustig en voel verlore as hulle deur die Dutoitsklooftonnel ry. Ek hou van die vreemde en ander plekke, maar voel onrustig en nostalgies as ek vir langer as ’n jaar nie die Seepuntse promenade of wingerde van Simonsberg gesien het nie. Dit hang af van hoeveel jy die landskap om jou toelaat om sy kloue in jou te kry.

“Smaak” is my gunstelingverhaal in die bundel. Sonder om die kruks van die verhaal weg te gee, wat het jou tot hierdie verhaal geïnspireer?

Ek het ’n Franse pel wat ’n hertog is en in ’n kasteel in die suide van Frankryk woon. Sy voorvaders was deel van die kruistogte, en die swaarde wat hulle gebruik het, hang nog in die kasteel. Voeg hierby ’n belangstelling in kossoorte, toe bou ek ’n verhaal oor ’n hedendaagse skrywer wat die geheim agter ’n baie duur en seldsame sampioen in Frankryk gaan soek. Die skrywer vind natuurlik ’n groter storie as wat hy gedink het hy sou. So dit was net ’n klomp bestanddele wat ek saamgegooi het. Toe dit begin kook en ek begin skryf het, toe kry dit ’n lewe van sy eie.

’n Ander verhaal wat opval, is "Die volbloed" wat handel oor Adam, "the dog walker". Waar kom jy aan dié storie?

Ek stap soggens vroeg in De Waalpark in Kaapstad saam met my twee worshonde, Maximillian en Friedl. Nou en dan loop ek die Dog Walker raak. Hy het my vertel hy doen dit want hy hou baie meer van honde as mense. Al wat ons gemeen het, is honde. Toe begin ek wonder hoe hy sou optree teenoor mense wat nie sy geliefde diere verstaan nie.

Die kortverhale het meestal ’n verrassende, dikwels surrealistiese einde. Doodnormale omstandighede word menigmaal hierdeur omgeswaai na die "ongewone", na iets uitsonderlik. Begin jy jou kortverhale met die einde in sig en werk terug, of word jy soms self verras deur die einde van jou verhale?

Jy is ’n siener … Kan ek jou in ’n storie gebruik?! Soms weet ek werklik nie waarheen ek op pad is nie, dan staan die slot net daar. “Smaak” was so. Maar ek probeer ’n idee hê van waarheen ek gaan. Ek voel ’n verhaal moet ordentlik “toemaak”. Ek wil ’n bevredigende ervaring vir die leser gee, en in hierdie stadium voel ek ’n ordentlike “finish-en-klaar”-slot is die regte beloning vir ’n leser wat die moeite doen om jou werk te lees.

Jy is bekend as wyn- en kosjoernalis, onder andere. In bykans elke verhaal is daar verwysings na kos en/of wyn. Is hierdie verwysings blote toeval?

Noudat ek nie eintlik meer sekstonele skryf nie, is kos en wyn al geurmiddels wat ek het! Ek span hulle in, want soos die natuur, spreek kos en wyn tot mens se sintuie.

Wanneer sien ons ’n kookboek in jou naam?

Wanneer ek geleer het om die perfekte melktert te bak. Voor dan het ek geen reg om die kulinêre skryfkuns te betree nie.

Jy het ook jou eie wyn op die mark?

Nee, ek maak elke jaar twee vate as ’n stokperdjie. As ek met gesag oor wyn wil skryf, moet ek seker weet hoe die goed gemaak word! Maar ’n wynmaker is ’n kunstenaar, wetenskaplike en kundige. Ek het te veel respek vir hulle om my een te noem. Ek speel maar net rond.

Jou skryfstyl is baie gemaklik en leesbaar, sonder om ooit vervelend te wees. Is dit die invloed van jou joernalistieke loopbaan?

Skryf is kommunikasie en ek dink hoe eenvoudiger dit is, hoe beter verstaan mense jou. Ek praat so, en ek skryf so. Soms verstaan mense my selfs!

Hoe, waar en wanneer skryf jy?

Soggens is die beste aangesien ek saans klaar ’n paar wyne in het. Ek kan glad nie skryf as ek ’n dop gehad het nie. Dan sing of dink ek.

Tot dusver het jy slegs kortverhaalbundels gepubliseer. Die laaste “kortverhaal” in die bundel, “Die nuwe binneland”, beslaan ongeveer 50 bladsye. Is daar ’n roman in die vooruitsig?

Ek het begin werk aan ’n satiriese roman. Maar dis nog in die beginstadium. Ek wil onderhoudende prosa skryf en het gevind kortverhale maak dit vir my moontlik om dit te doen. Ek gaan die groot R nou ’n kans gee.

Die flapteks beskryf die deurlopende tema van hierdie tien verhale as verwondering. “Die verhale illustreer uiteindelik ’n reeks komplekse menslike emosies wat telkens lei tot daardie één moment waarná ’n mens se lewe onherroeplik verander, wanneer dinge nooit weer dieselfde sal wees nie.” Is daar in jou eie lewe momente wat jou lewe en lewensuitkyk onherroeplik verander het?

Absoluut. My eerste dag in Parys ná matriek … Toe ek by Die Burger begin werk het en André le Roux sê ek kan byna skryf … Om my eerste tuna te vang … Toe ek Marlon Brando in On the Waterfront gesien het … Dis als goed wat in my hardeskyf is wat my identiteit help vorm het.

Watter skrywers inspireer jou?

Ernest Hemingway, Jack London, John Steinbeck, Edna O’Brien, Herman Charles Bosman en Carl Hiaasen.

Wat lees jy op die oomblik?

Portrait with Keys deur Ivan Vladislavic.

Jy het jou sterk uitgespreek oor die Insig-kwessie in 'n brief aan LitNet. Hoe voel jy oor die rigting waarin Afrikaanse media beweeg?

Daar is min om aan te kou. Wat dit veroorsaak, is dat daar al hoe minder belowende joernaliste gaan wees wat hulle by die Afrikaanse media gaan aansluit, en gevolglik gaan die standaard van ondersoekende en kreatiewe joernalistiek daaronder ly. Lees vandag se By of Kunsblad van Die Burger en vergelyk dit met wat 20 jaar gelede daar gestaan het. Jy sal geskok wees oor die insinking.

By die onlangse Kaapse Boekeskou het jy ’n bespreking gelei oor die plek van die Afrikaanse boek in die nuwe golf Afrikaanse populêre kultuur. Wat was julle bevindinge?

Daar is 50 000 mense wat die Boekeskou bywoon. Dis maar een aanduiding van die algehele enorme belangstelling in boeke wat daar onder die publiek heers. Die belangstelling in Afrikaanse boeke is die verantwoordelikheid van die uitgewers en die skrywers. Ons moet meer skryf. Beter skryf. En groter dink.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top