’n SêNet-brief met ’n voorstel voor die verkiesing

  • 3

Met die aanbreek van Suid-Afrika se 30 jaar van demokrasie, huidige politieke onsekerheid en die beoogde 29 Mei-verkiesing, is dit interessant en miskien ook raadsaam om terug te kyk na gebeure rondom ’94, en sodoende moed te skep.

Een só ’n ongewone terugblik is vervat in ’n artikel wat in die Julie 1994-uitgawe van Servamus, die SA polisiëringstydskrif, gepubliseer is onder die opskrif “God’s Power, Plea for Prayer & Peace”.

Diep geestelike ervaring van polisie-offisier

Hierin is berig oor ’n diep geestelike ervaring van ’n polisie-offisier net voor die land se eerste demokratiese verkiesing – ’n tydgleuf wat gekenmerk is aan dreigende bloedvergieting, ontevrede politieke leiers en groot onsekerheid of dié eerste stap na ’n demokratiese bestel vreedsaam en sinvol sou verloop.

Luit-kol Johan Botha beleef God se teenwoordigheid

Op Nelspruit, nou Mbombela, het luit-kol Johan Botha ampers tasbaar God se teenwoordigheid beleef – ’n belewenis wat sommiges meen verbind kon word aan die byna bonatuurlike kalmte wat tydens die verkiesingperiode en Mandela se inhuldiging in daardie jaar geheers het.

Gebeure verbatim berig in Engels

Weens die sensitiewe aard van Botha se belewenis, is sy weergawe van die gebeure destyds verbatim in Engels oorvertel en in die Servamus-koerant gepubliseer.

In hierdie artikel word berig dat Botha ervaar het hoe ’n engel aan hom verskyn en hom gevra het dat daar ’n gebedsketting voor die verkiesing moet plaasvind:

After this, Botha says, the Angel disappeared. During the Servamus interview, he stated the following:

Since I started sharing the experience, it has become my firm conviction that the angel who appeared before me, was Christ Himself.

Ná die Servamus-onderhoud het dit geblyk dat Botha wel ’n faks na die toé hoogste gesag, wyle FW de Klerk, by die Uniegebou in Pretoria gestuur het. Hierin het hy die versoek gerig vir bystand met die vorming van nog ’n landwye gebedsketting vir vrede tydens die verkiesing.

Dié boodskap het De Klerk nooit bereik nie, maar is onderskep deur ’n amptenaar wat van mening was dat politici op die vooraand van die verkiesing en dreigende landwye onluste te besig was om aandag hieraan te skenk.

Op sy beurt het hy dié versoek dadelik aan sy vrou gestuur wat destyds ’n uitvoerende posisie by een van die land se banke beklee het. Omrede sy toegang gehad het tot ’n landwye databasis, asook die nodige infrastruktuur, is die kennisgewing binne minute landwyd versprei en is nog gebedskettings só in die lewe geroep.

Etlike organisasies het reeds voor 1994 gepoog om die onderhandelings en verkiesing te verongeluk. Teen 1990 was daar na raming 20 halfmilitêre groepe en 30 fundamentalistiese organisasies wat wapens wou opneem. Die getal het in 1993 gegroei tot 200 met die AWB aan die voorpunt.

Selfs enkele maande voor die verkiesing het dit gelyk asof die politieke forum sou uiteenspat. Die tradisionele Zulu’s onder koning Goodwill Zwelithini en Mangosuthu Buthelezi het onafhanklikheid geëis en was aanvanklik nie bereid om onder ’n ANC-struktuur te dien nie.

Die ontevredenheid het daartoe gelei dat op 28 Maart nagenoeg 40 000 Zulu’s by die ANC-hoofkwartier in Johannesburg se middestad opgeruk het. Tydens die protes is nagenoeg 18 mense hier koelbloedig deur veiligheidswagte geskiet.

Die moontlikheid het ook bestaan dat wyle genl Constant Viljoen, destyds hoof van die Nasionale Weermag, ’n opstand kon lei deur lede van die staande en burgermag. Hiervan het ook dadels gekom en Viljoen het hom bewys as vredemaker, gesoute diplomaat en ’n soldaat wat vure help blus het.

Ongeag al die dreigemente en ontevredenheid het die twee kiesdae daardie jaar met ’n ampers tasbare vrede, vreugde en opwinding verloop.

By die meeste stembusse het ’n feestelike atmosfeer geheers en van bloedvergieting en konflik was daar hoegenaamd nie sprake nie – ’n werklikheid waarvoor Suid-Afrika wêreldwyd geloof is en ’n kniebuig-aanslag wat talle meen die land nou weer voor 29 Mei kan herhaal.

  • 3

Kommentaar

  • Die driede Boerkint

    'n Mens wil baie graag oopkop deur die lewe gaan en veral ook wil jy andere se oortuiginge respekteer. Maar hierdie storie koop ek nie. Servamus was nogal bekend as 'n publikasie wat gedurig bedenklikhede gepubliseer het. Baie mense het al ervaringe gehad. Gesigte gesien. Drome gedroom. 'n Mens kan nie outomaties enige onverklaarbare ervaring of verskynsel aan die bonatuurlike toeskryf nie. Inteendeel. Vir die oorgrote meerderheid van onverklaarbare ervaringe en verskynsels, is daar wel goeie verklaringe waarvan ons net nie bewus is nie. Ons weet byvoorbeeld vandag dat lewe op aarde nie binne 6 dae ontstaan het soos wat in die Bybel vertel word en toe afgehandel was nie. Nuwe spesies ontstaan nog elke dag. Spesies kom en gaan. Baie jare terug het mense dit nie geweet nie. Daar is nog baie sulke voorbeelde.

    Verder kan mens sien hoe hierdie artikel geskryf is vanuit 'n Christelike normatiewe perspektief. En dis altyd ironies want eintlik is die woordjie Christen baie vaag. Ons grootste kerk in Suid-Afrika is die Sioniste. Baie mense verwys spottend na hulle as die "Zulu Cricket Club", of te wel, die ZCC. Dit is nie aldag maar net 'n onskuldige ou grappie nie. Christelike groepe soos Calviniste en andere, sal dikwels ook die Sioniste se Christenskap in twyfel trek. "Hulle meng Jesus met voorvaders", sal jy hoor. Die vraag wat noodgedwonge dan opkom, waar God ter sprake kom, is wie se God? Daar is so baie godsdienste op aarde. So baie interpretasies van selfs net die grootste drie godsdienste. Terwyl sommige Christelike groepe die 1994 oomblik as 'n wonderwerk interpreteer, is daar onder die Abrahamistiese groeperinge ook alternatiewe interpretasies. Wat die teendeel argumenteer. Kom ons vergeet ook nie dat duisende jong manne in die "ou Suid-Afrika" met godsdiens bang gemaak was nie. Die ANC en die se vennote was as Marxiste beskou wat die Afrikaner se God en Calvinistiese lewenswyse sou afskaf. En waarteen geveg moes word. Met die Bybel in die rugsak.

    Die AWB het boonop, weinig tot geen bedreiging ingehou vir die 1994 verkiesing nie. Inteendeel. Met hulle inval in Bophuthatswana was die AWB ontbloot as niks anders as 'n klomp cowboys met bakkies, 'n brandewyn en coke brigade nie. Die regering had orals spioene en hulle het alles geweet van die ANC tot die AWB se doen en late. Buthelezi het wel die grootste bedreiging ingehou, ironies genoeg, was hy 'n welbekende Christen.

    1994 het ateiste en nie-christelike groepe die meeste gebaat. Vir baie jare was die parlement met Bybel en gebed begin. Dit was toe finaal verby. En ook nie-Christene en ongelowiges het bygedra om die oorgang moontlik te maak. Gematigheid het geseevier.

  • Die driede Boerkint

    Wat hier beskryf word, die misbruik van die bank se databasis, is ook 'n misdaad by vandag se norme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top