'n Reis na die verlede op moderne paaie

  • 0

Sowat 20 000 kilometers in 50 dae. Ethiopië toe en terug ...

Douvoordag is ons, die Du Plessis’s en die Burgers vanaf Robertson op pad noord terwyl die bakkies nog na polish ruik. M. Beard het geskryf: ‘Travel is more than the seeing of sights; it is a change that goes on, deep and permanent, in the ideas of living.’

Saans kamp ons en elkeen kry 2 liter stortwater. Vir ys vir ons drankies het ons ‘n rol ‘bunnelick’ sakkies gekoop. Knip ‘n meter af, knoop eenkant toe, maak driekwart vol water, knoop toe en zig-zag dit in die vrieskas.

Dis Botswana tot Kenia met padwerke en stof. Op die ewenaar vonkelwyn ons en ry na die Kaisut-woestyn en Marsabit. Die begin van ‘the worst road in Africa’. Die bakkies bokspring oor die lawa-klippe terwyl kamele statig oor die Ngaso-vlakte karavaan. By Moyale gaan ons deur die grens en raak 7 jaar jonger. Ethiopië gebruik nog die antieke Koptiese kalender. Die land het tradisies en stories van ‘Queen of Sheba’ en ‘The Journey of Ark’. Dié landbouland besit die grootste veekuddes en produseer die meeste heuning en koffie in Afrika.

Op pad na die Chamo-meer is die vlaktes vol mielies en beeste. Sodo, hoof koffie-verbouingsgebied lê bo-op ‘n heuwel. Amper soos Springbok in die Noordkaap, indien hy sou groen wees. Op pad na Welkite kamp ons in ‘n beeskraal terwyl die mis oor die heuwels rol en ons letterlik van bo en onder bemis raak.Ons besoek Addis Ababa teen die hange van die Entoto-bergreeks met sy Judah-standbeeld in die middel en tik-tak mark toe. Ons koop koffiebone en geweefde lappe terwyl ‘n eiesoortige Ethiopiese aroma die lug vul. In Tis Isat voel dit vir my of ons binne-in my Kinderbybel se prentjies inry. Alles lyk duisend jaar oud. So ook die mense en die donkies. Rip van Winkel moes so gevoel het. Verslae. Ons stop en stap bergaf tot by ‘n bruggie wat in 1700 deur die Portugese gebou is. Daarna klim ons die een grasbedekte heuwel na die ander uit om die valle van die Blou Nyl te bewonder.

Tydens die bewind van keiser Fasilidas (1632 – 1667) is die eerste kastele en paleise gebou en dis juis hierdie kastele wat Gonder die naam van ‘Camelot of Africa’ laat kry het. Die kastele en terrein met sy botaniese rykdom van reuse ou jenewer- en olyfbome is so mooi bewaar dat jy amper verwag om vir Koning Arthur en sy ridders in die tuin te sien loop.
By Lodge Fasil geniet ons ‘n koffie-seremonie en besoek ook die kerk van Debre Birhan Selassie met sy bynaam ‘The Sistine Chapel of Africa’. Die kleurvolle engele teen die dak is fassinerend. Fasilida’s Bath is net so indrukwekkend.

Dan noordwaarts na Lalibela wat aan die hange van Mount Abune Yosef geleë is. Die dorp Lalibela, word as die 8ste wonder van die wêreld beskou. Ons koop kaartjies om een van die 11 kerke te besoek en besluit op Bete Medahne Alem. Met sy massiewe 72 pilare is dit dan ook een van die grootste rotskerke ter wêreld. Die plafonne is hoog en versier met muurskilderwerk. Oral brand kerse om jou op jou geloofsreis te neem.

Teen 39°C ry ons deur die woestyn na Mille, in die Yangundi Rassa Nasionale Park. Ons gaan kyk na die Awash-valle en kamp langs die rivier onder reusebome terwyl honderde ape die rygoed beproef.
Suid van Addis Ababa besoek ons een van die twee wingerdplase in Ethiopië, Castel New Wine Estate. Die ander een is Awash Winery. Die plaas laat my verlang na die wynlandgoedere met hul roosbome by Robertson. Ongelukkig is hulle nog nie in produksie nie.Nou die Bale Berg Nasionale Park om die Ethiopiese wolf te gaan soek voor ons begin suid draai. Volgens statistieke is daar net 250 volwasse wolwe oor. Ons ry na Adaba al teen die jenewerbossie-hange en bereik die ingang na die Bale Berg Nasionale Park, maar die kantoor is gesluit. ‘n Openbare vakansiedag. Wat ‘n teleurstelling. Ons verlustig ons dus maar in die berg wat die grootste oppervlakte Alpeflora in Afrika besit.

Ons maak ons tenke vol Bale bergwater en by Yabelo Motel geniet ons ons laaste aand in Ethiopië terwyl die laatmiddagson knipogend groet. Iets van Ethiopië het onder my vel ingekruip om daar te bly.
Ons spore neem ons terug deur die grens by Moyale. En ek wonder: Waar pas die land in in Afrika? Dis ‘n land wat jou met vreemde emosies vul, jou laat nadink. Ek skud my kop in verwondering.
Terug met die lawaklippad, maar nou is dit ‘Hakuna matata’. Op pad na Marsabit kamp ons in ‘n rivierloop en gewaar ‘n padkamp. Die senior persoon vertel toe dat hulle besig is met ‘n nuwe pad van Marsabit na Turbi. Dus gaan die pad sy titel van ‘Worst Road in Africa’ verloor . ‘n Jammerte.

Ons pak die pad terug deur Uganda, Rwanda, Burundi,Tanzania en Zambië. Suidwaarts . Honderde padverleggings en Chinese.Binnekort kan jy Afrika met jou kerkkar plat ry. Links en regs van die pad is daar niks. Alles ontbos vir teerpaaie. Nie ‘n boom, voël of mens. Niks. Geen skilpadjies, graatjies of troupante. Nie eers ‘n skalkse bokkie. Geen likkewaanstert se sleepsel in die pad nie.

Hoe verken mens ‘n land as jy met ‘n ‘highway’ daardeur ry? Selfs die Luiva-vlakte het nou ‘n luukse pad met honderde brûe. Dis jammer. Geen houtverkopers. Geen kind wat jou glimlaggend groet en weghardloop as jy ‘n foto wil neem. So bang jy steel sy siel. Niemand wat ‘n sigaret vra en as jy hom een ‘slim’ sigaretjie gee, in gebroke taal vra: ‘Gaan ek nou in ‘n mamma verander en tette kry?’
‘n Reis lê tog nie net in sy bestemming nie, maar sekerlik ook in die reis self. Ek is bly ek was daar. Afrika is besig om sy bekoring te verloor.

Is die Chinese besig om Afrika uit Afrika te haal?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top