’n Plekkie in die son … Mitchell's Plain se mense

  • 0

Teen die tyd dat ek en my vrou, Sonia, laat Saterdagmiddag Kaapstad nader, is die versengende hitte van Wellington vergete. Want getrou aan sy naam word ons begroet deur die Kaapse Dokter, oftewel die Suidooster, wat ’n absolute gemors maak van Sonia se hare. ’n Hele middag se swoeg in ’n ommesientjie verwaai. Maar teen die tyd dat ons die trappies van die KunsteKaap-teater bestyg, spoel die Fees van Liefde deur ons are. Die klank van tromme en kitare en feesgangers van oraloor begroet jou.

In sy voorwoord beloof Jakes Gerwel dat die Suidoosterfees altyd ’n uitdrukking en viering van die liefde is. Die fees spreek nie net van ’n liefde vir die teater en die kunste nie, maar ook van ’n liefde vir die mense van Suid-Afrika, veral die Kaap – wat hande uitreik en liefdevol omhels. In hierdie geval gaan dit spesifiek om die liefde vir die mense van Mitchells Plain, meer nog, die liefde wat hierdie mense vir mekaar koester. Dis daardie einste liefde wat regisseur Basil Appollis en vervaardiger Marlene le Roux  probeer uitbeeld; maar dan teen die agtergrond van die pynlike werklikhede wat hierdie mense dag na dag in die gesag staar.

In die aanloop tot die vertoning het die klem veral geval op kunstenaars soos Emo (Imeraan) Adams en sy ouer broer Loukmaan, en hulle stel nie teleur nie. Ons wat oor baie jare na shows soos Kat and the Kings, District Six the Musical en Ghoema gaan kyk het, weet lankal dat Loukmaan die sterkste sanger is van Mrs Adams se twee chargo coals (met apologie aan Melanie Jones). En soos Jones tereg self aandui, Loukmaan se sang sal enige meisie se knieë lam maak en haar tone laat omkrul van pure lekkerkry.

Emo se sangtalent is die laaste tyd oorskadu deur sy manewales waardeur hy vir homself die titel “Grapmaker van die Kaap”toegeëien het. Sy vertoning in hierdie musiekteater saam met sy ouboeta kon egter nie op ’n beter tyd gekom het nie. Minstens sal dit Emo voortaan op sy tone hou, sal hy hopelik besef dat snaakswees jou net so ver kan vat. As hy verlang dat feesgangers hom ernstig moet opneem, sal hy sy genre moet uitbrei, want die wêreld van vermaak is wreed.

Koisan-rapper Blaqpearl

Van Melanie Jones gepraat: hierdie standup comedian van Portlands,wat ook optree as aanbiedster en storieverteller, verras in so ’n mate dat sy dreig om die kalklig van haar meer bekende medesterre te steel. Sowat van bekkigheid en smullekker storievertellings in eg Kaapse Afrikaans het ek lanklaas gehoor (en ek het dit na die tyd ook vir haar gesê).

Die Koisan-rapper Blaqpearl, en die nege hip-hop-dansers – sommige van Westridge, ander van Eastridge en nog ander van Portlands (met as leier die enigste dame in die groep) – sorg vir die energie en adrenalien wat die volgepakte KykNET-teater laat kraai van pure plesier.

Maar die stuk het ook sy ernstige kant: saam met Loukmaan herleef ons weer die dae van die riots, as die Casspirs die gebied binnekom nadat die gangsters die tyres aan die brand gesteek het. Dit was natuurlik die vooraf-uitgewerkte move, sodat die skole kan sluit en die leerlinge spoedig by hulle kan aansluit in ’n ritmiese toyi-toyi. Hier het menige outjie van die Plain geleer dans. Soms as jy gelukkig was, het ’n brood-en-melk-lorrie omgeslaan en kon jy jouself help aan die brood en melk. Maar daar was ook tye dat iemand raakgeskiet is. Dan is jy opgetel en met militêre presisie huis toe gedra terwyl daar gesing word “Senzeni Na?” (“Wat het ons gedoen?”).

Loukmaan en Imeraan (Emo) Adams met Marlene le Roux

Op ’n ligter noot neem Emo die gehoor deur twee van die bekendste (en snaaksste) gebeurtenisse op die Kaapse Vlakte. Eers skeer hy die gek met coloured vroue se hare en hoe hulle alles in hul vermoë sal doen vir reguit hare. In die proses en oor tyd het hulle geleer om die elemente soos reën, mis en sweet te vermy, want as jou hare eers natgeword het, draai dit kroes! Dan skets hy die toneel van die energieke, hoppende predikant op die veldjie en sy charismatiese kerk. En dis nie net Christene wat “Jonas was gestuur na die stad van Nineve” saamgesing het nie. Die Slamse anties met hul “Arafat-doeke” en die Jore met hul sandals was ook in die mix. Hier is baie sangers gebore.

Teen die einde neem James Bhemgee die gehoor op ’n nostalgiese reis. Sy vertolking van “You raise me up” word ’n metaforiese voorstelling van al die mense van Mitchells Plain wat daarin geslaag het om ten spyte van al hul probleme, soos armoede, drank en dwelms, uit te styg bo hul omstandighede “to stand on mountains”. Hiervan is Bhemgee en sy medekunstenaars sprekende voorbeelde.

Christo Davids (Errol van 7de laan) poseer saam met Mel Jones.

’n Plekkie in die son is die verhaal van ’n groep mense wat in die jare sestig gedwing is om Distrik Ses te verlaat. Ironies is dit dieselfde mense wat verantwoordelik was vir hul gedwonge verskuiwing wat nou kom witvoetjie soek en stemme wil werf. Vir al die politici wat gedink het die mense van die Plain is polities oningelig, is daar ’n paar dwarsklappe. Ek haal aan: “Dis eintlik julle wat onnosel is. Ons weet lankal julle kom net hier om stemme te soek, en ons speel maar net saam sodat ons kan benefit.

’n Plekkie in die son is ’n unieke musiekteater met bekende kunstenaars wat storievertellings en liedjies met skreeusnaakse komedie, hip-hop-ritmes en danse kombineer om met deernis die verlede en hede van Mitchells Plain uit te beeld. Dis die verhaal van ’n gemeenskap wat met liefde mekaar se laste dra; wat nie skroom om vir mekaar ’n teesakkie, ’n koppie suiker of ’n bietjie visolie te leen nie, want juis daarin lê hul vermoë om te oorleef. Hulle moes immers onder onmenslike omstandighede vir hulself weer van vooraf ’n toekoms bou.

En hierin het hulle uitmuntend geslaag, danksy hul aanpasbaarheid, hul vermoë om verby grense te kyk en saam te werk. Op dié manier het hulle van Mitchells Plain hulle eie plekkie in die son gemaak.

Michael le Cordeur is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top