’n Ope brief aan my psigiater oor my vermeende kettieprobleem

  • 5

Beste dr Sling

Ek het my oor ’n mik geskrik toe jy my aansê om ’n opstel te skryf oor my beweerde kettieprobleem. Ek wil dit dadelik onomwonde stel, sodat ons verhouding reg kan afskop – ek dink nie ek het ’n probleem met ketties nie, en wel om die volgende redes: ek het jou nie uit vrye wil besoek nie; ek is een van jou pasiënte slegs omdat my vrou daarop aandring. My ma en susters dink nie ek het ’n probleem met ketties nie. Inteendeel.

Om skielik op 48-jarige ouderdom die een kettie na die ander te begin maak is nié kinderagtig nie. Allermins.

Ek sien hierdie opstel dus nié primêr as terapeuties van aard nie. Ek sien dit eerder as ’n regverdiging en verdediging (met die nodige fotografiese bewyse ter stawing) van ’n opwindende ou stokperdjie wat ek met vreugde herontdek en afgestof het. Ek het immers my eerste kettie in 1971 onder die bekwame leiding van Paul (“Pule”) Mangali op ons plaas Klipfontein buite Bloemfontein op die Brandfortpad gemaak. Hy’t my geleer om dun stroke tjoep met ’n skaapskêr uit ’n kar se binneband te knip. En om dit dan netjies met dun koperdraad aan ’n vars-gesnyde doringboommik vas te woel. Die velletjie was altoos ’n probleem vir ons: die ideale materiaal daarvoor is gelooide beesleer, maar wáár o wáár, sou Hennie Aucamp vra, sou ’n gelukkige, veelrassige bende seuntjies só iets in die apartheidsjare in die hande kon kry?

Ek hét op een geleentheid drie klein blokkies uit die gelooide blesbokvel in die kassie voor my pa se bed gesny – wat hy noodwendig ontdek het. Oor die pak slae wat hy my daarna met ’n gelooide sweep gegee het (my bas was behoorlik aan die brand), dáároor sou ek graag in ons volgende sessie wou praat, dr Sling. Want wié sê ek maak nie nóú ketties as ’n vertraagde verdedigingsmeganisme teen dáái en ander pakke slae nie ...?

Daarna, in 1974, toe my pa Klipfontein verkoop het, het ek vir oulaas vir my ’n doringboommik gesny nadat ek hóóg oor ’n piepklein molslangetjie in die plaaspaadjie moes spring om my lewe te red. 

Sien jy hoe kompleks ís hierdie laat kettiemaakperiode van my, Dokter? Dáárdie mik trek sedertdien saam met my deur die lewe – Hertzogville toe  in 1975, Koppies toe in 1993 en Bloemfontein toe in 2000. Al hangende aan die hall stand (“gangrak” klink vir my so na iets wat in die toilet moet staan).

Tot aan die einde van verlede jaar, toe ek by East Rand Leather instap om gekleurde seemsleer te koop om my verslete Bybel mee oor te trek (foto 1). ’n Proses wat ek toe só geniet het dat ek vir my ma (wat my nooit geslaan het nie) ook een oortrek. Sodat daar uiteindelik net ’n paar stukkies van die turkoois en blou seemsleer oorgebly het.

Sover was daar volgens my vrou nog geen probleem nie, want sy het nie meer as gewoonlik met my geraas nie. Daar was geen oorskryding van wat jou professie as die grense van normaliteit sou beskou nie.

 

Die probleem het, volgens die bevooroordeelde mening van my vrou, by nabetragting ontstaan toe ek die pragtige oorskietstukkies seemsleer sien en besef: my doringboommik hang nou al vir jare sonder rekke of velletjie aan die hall stand. Hierdie verblydende insig wek soveel energie by my op dat ek genoop voel om dadelik Kloppers toe te jaag om haasrek te gaan koop. Toonaangewende winkel wat húlle is, het hulle bygebly by die nuutste tegnologie en hou hulle twéé soorte aan: rond en vierkantig. Ek koop koorsagtig en per ongeluk vyf meter van elke soort teen vyftien rand per meter en jaag terug huis toe.

By die huis lyk die seemsleer vir my te dun om ’n stewige kettievelletjie van te maak en, pas klaar met die Bybelplakkery, plak ek twee vierkantige stukkies pienk en turkoois seemsleer met skoengom aan mekaar vas. Dit is nie net stewig nie, maar ook pragtig, besluit ek en my vrou (sy het toe nog nie onraad vermoed nie). Om die  haasrek aan die velletjie en die mik vas te maak sny ek dun repies seemsleer en hou die rekke vas terwyl my vrou met haar fyn vingertjies die knope maak.

Die gerestoureerde kettie is nou só mooi (foto 2) dat my sestienjarige dogter (!) vra of ek vir haar ook een sal maak. Natuurlik, sê ek, hoog in my skik, en ons pyl in verskillende rigtings op twee bome op die erf af: ek op die doringboom en sy op die olienhoutboom. ’n Olienhoutboom groei nie mooi mikke nie, sê ek. Nou wat van dié een, vra die kind. ’n Pragtige een is dit inderdaad (die kind weet, soos haar ma, dikwels beter as haar pa), en voor jy kan sê “rivierklip” is hy afgeskuur en ’n kettie. Die dogter hang dit trots in haar kamer op.

 

Ek saag nog ’n mooi mik uit die olienhoutboom en maak ’n kettie vir ’n fynproewer. Hoekom gee ons hom nie vir jou broer Johan van Wyk nie, vra ek vir my vrou. (Ons word verplig om die Johanne se vanne ook te noem, want daar’s vier in die familie.) Hy hét immers drie jaar gelede vir ons ’n pragtige biltongkerwer uit ’n olienhoutstomp gemaak.  ’n Briljante idee. Maar ... wat van boetie Chris en my pa, vra sy. Dan sal ek nog mikke moet gaan soek, maar dit was geen probleem nie, want sien, dr Sling, op daardie stadium het ek weer ’n lank verborge talent uit my seuntjiedae ontdek: ek kán ’n mik uit ’n boom kyk. My oë, kan jy as’t ware sê, suig instinktief vas aan ’n perfekte mik.

Skielik  is my klere, die garage, die stoep en my pa se swarthouttafel in die kombuis vol stof, stukkies seemsleer en haasrek, en repies boombas. Nés ek besluit dís nou genoeg, en gaan bad en ’n nuwe rugbybroekie aantrek, verlei ’n witstinkhoutmik my en sny, skaaf, plak en skuur ek weer. My oë jeuk, my hande is vol snytjies en my voorarmspiere pyn, maar ek hang die een veelkleurige kettie na die ander aan die hall stand op (foto 3).

 

Dis op hierdie stadium dat my vrou begin protesteer het, maar tevergeefs en te laat: ek het geleidelik, hier teen die tiende of twaalfde kettie, verstaan hoekom iemand kon beweer ’n skrynwerker het ’n seuntjie uit hout gemaak wat daarna begin praat het. Elke kettiemik, soos ek aan hom werskaf, begin met my praat. Hulle vertel waar hulle voor- en agterkante moet wees, hoe lank hulle bene moet wees en watter stukkies hout ek nié moet afsny of wegskuur nie.

My vrou en (toe ek hulle vertel dat die mikke met my praat) ook my twee gewoonlik lojale dogters, probeer my toe met alle mag by Bloemcare inboek. Ek moet uit die huis uit vlug en hardloop middestad toe, waar ek nog altyd veilig gevoel het. By die Letterkundige Museum, waar ek hygend onder ? boom verpoos om asem te skep, sien ek dat die munisipale werkers takke afgesny en net daar op die sypaadjie gelos het. Ek fokus my oë, wat branderig is weens die sweet wat van my voorkop afloop, op die takke en hulle word soos twee magnete deur iets fantasties, byna bonatuurliks, aangetrek. Ek dog eers ek raak rêrig gek of dat die boomtak op steroïede was, maar ek vee die sweet en die laaste mik se stof uit my oë en besef dadelik dat my laaste groot lewensdroom bewaarheid is. Want daar, dr Sling, hondmak en gewillig, sit die mooiste, grootste mik wat ek in my dag des lewens aanskou het.

Byna waansinnig van opwinding (figuurlik gesproke, natuurlik – jy glimlag verniet beterweterig) gryp ek my nuwe handsagie uit my rugsak vol noodvoorraad en saag die mik bewend met my laaste krag af. Laat die nag sluip ek terug huis toe en steek hom in die garage weg. Toe ek sy bas die volgende oggend op die stoep sit en afskil, begin daai mik mos vir my sing: sy grein is ragfyn en die goud van sy hout streel my oë. Ek sou hom klaargemaak het voor my gesin wakker word, maar my haasrek was op. Teen hierdie tyd oorweeg ek dit om vyf meter van elke soort vir Kloppers af te sny en die res van die rolle te koop, maar my finansiële posisie is weens die kettieprojek en ander onvoorsiene omstandighede, soos ’n kind op universiteit, só benard dat ek verplig is om die omgekeerde te doen.

Toe ek met hierdie reuse-kettie (waarvoor my vrou gril en haar oë rol) probeer skiet, ontdek ek dat my voorarmspiere só verswak is deur die kettiemakery dat ek hom beswaarlik kan vashou en span. Ek word dus verplig om ’n armstut aan te bring (foto 4).

 

 

Omdat ek dubbele haasrek gebruik, kan mens met hierdie kettie ’n gróót rivierklip of stuk spek oor ses huise skiet. Eers toe iemand ná die derde rivierklip benoud van pyn gil, besef ek dat dit gevaarlik kan wees om klippe groter as gholfballe te gebruik.

Dis toe ek hierdie klippe so sukkelend moet ronddra en laat val dat ek verstaan hoekom Robin Hood altoos ’n velsakkie in sy belt gedra het: hy’t sy klippe vir sy kéttie daarin gedra, natuurlik. Dit vat my nie lank om vir elke kettie ’n leersakkie met beltknip te maak nie (foto 5 – die kettie is my oudste dogter s’n en ons moes sy been spalk omdat hy wankelrig was).

My kettiepakket was toe, wat kwaliteit, vermoë en gebruiksvriendelikheid betref, volgens my beskeie mening van wêreldgehalte en ek moes navorsing doen om deur my eie professionele plafon te breek. Op die internet ontdek ek dat my selfvertroue voortydig en my gewaande wêreldleierstatus ’n hersenskim was en sien ek ketties van alle groottes, kleure en ontwerpe. Met die mooiste en mees uitdagende model kan mens tennisballe vir jou hond skiet om te gaan haal. Swaer Johan van Wyk gee vir my wynbalieplanke van eikehout en die gebuigde repe hout is perfek hiervoor (foto 6). Hy werk nie baie goed nie, want hy skiet die tennisbal só hoog en ver dat die hond hom nie kan sien of volg nie.

 

 

Hierdie kettiemakery duur op daardie stadium al vir drie maande en my gesin het – heel onnodig, moet ek my haas om te sê – baie bekommerd begin raak. My dogters se vriende begin my vermy waar ek tussen ’n hoop basrepe op die stoep sit en werk en een van hulle vra vir my oudste dogter: “Maak jou pa nog steeds ketties? En hulle word net al groter?” Ek is egter al lank besig om te lewe en ek weet die lewe is ’n affêre wat met tye erg vervelig kan wees. As mens iets kry waarmee jy tyd kan doodkry, moet jy verbete daaraan vasklou. Sinnelose tyd is my grootste vyand en ek steur my dus nie aan die klein bogsnuiter nie. As ek verveeld, bang, moeg of verward raak, maak ek bloot ’n nuwe kettie – dan’s die kind se naam weer Pinocchio.

Ek wil begin afsluit, want ek is seker jy kan nou al duidelik sien dat my kettiemakery ’n doodnormale deel van ’n doodnormale mens se lewe is: iets wat jy vir al jou ander pasiënte kan aanbeveel. Dit werk soos ’n bom. ’n Kettie, kan mens maar sê, is ’n getroue verweer teen verderf. As jy egter nóg twyfel, is ek seker dat my laaste storie jou (en my vrou) sal oortuig dat ek nie behandeling nodig het nie.

Ek stap gister by East Rand Leather in om nog drie kleure seemsleer, gom, riempies en ’n spesiale leerskêr uit Taiwan (R140) vir my kettiebesigheid te koop (foto 7). My ander skêr is stukkend. Ek sien ’n waardige ou oom langs my staan en ek vra vir hom: “Wat doen oom vir ’n lewe?” Hy gee ’n antwoord wat soos musiek in my ore klink: “Ag, ou seun, ek speel maar die meeste van die tyd.” Ek skep moed (my selfvertoue is tans bietjie af weens al die negatiewe terugvoer by die huis) en vertel hom van my kettiemakery - sonder dat hy vra. Hy luister hoflik na my verhaal en sê: “Dit klink vir my na pragtige ketties. Wil jy nie ’n paar vir my bring nie, dan verkoop ek hulle in my tuck shop by die garage? Daar is baie seuntjies op die plotte wat hulle sal koop.”

Ek staan gistermiddag by Federated Timbers om kiaat-, meranti- en denneplanke te koop om kettiemikke uit te sny en ek wonder by myself: jy sal darem sekerlik nie meer na my brief nóg twyfel of ek normaal is nie, dr Sling?

 

 

Dr Jannie Pretorius is ’n dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Kovsies. Hy het pas verneem dat hy aangestel is as die besturende direkteur van Kettiesviral mal Beperk, Suid-Afrika. Die hele land val onder en voor hom. Besoek gerus die maatskappy (wat op 11 November 2011 op die Johannesburge Effektebeurs genoteer is) se webblad by www.kettiesviral mal.co.za of kontak hom by janneman@kettiesviral mal.co.za. Sy vrou hanteer die opvoedkundige afdeling van die maatskappy wat onder andere kettieskietlesse aanbied.

Teken in op LitNet se gratis nuusbrief vir ’n weeklikse dosis vars skryfwerk .

  • 5

Kommentaar

  • As 'n kollega wat die kettiemaakbesigheid nog nooit mooi kon verstaan nie, maak dit nou VEEL meer sin.

    Welgedaan, Jannie!

    Karen J

  • Goeie dag. Ketties sal altyd deel van ons bly. Net een vraag. Waar koop mens nog haasrek? Die regte haasrek wat ver kan rek sonder om te breek?

  • Eddie, deesdae se binnebandlose wiele gee ook net so 'n probleem. Waar kry 'n mens 'n tjoep om 'n lekker sterk rek vanaf te sny?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top