’n Ope brief aan Max Du Preez

  • 0

Beste Max

Ek was ’n senior navorser by ’n gerespekteerde staatsinstelling in die tagtigs en vroeë negentigs. Ek ag myself derhalwe bekwaam genoeg om hierdie skrywe aan jou te rig.

Hierdie na aanleiding van jou opmerkings rondom die Afrikaanse pers en beweerde steun vir die vakbond Solidariteit en AfriForum inisiatiewe mbt beskerming van “Afrikaanse of dan Afrikanerbelange”.

Ek gaan van die standpunt uit dat daar ’n bepaalde persepsie van vervreemding en gepaardgaande magteloosheid by die Afrikaanssprekende persone in besonder, en “Wit” persone in die algemeen, bestaan. Dit is veral rakende die bestaande politieke bestel maar ook weens vervreemding van instellings in die openbare domain en pogings tot vervreemding by instellings soos onder andere tersiêre instellings. Hiermee saam die voortdurende verwysing na die Afrika-kultuur wat dan Europese kultuur moet vervang, juis by die betrokke inrigtings.

Hiermee saam opmerkings deur lede van die regerende party en “invloedryke persone soos jy” dat daar dankbaarheid moet wees dat die meerderheid van die bevolking bereid is om ’n vreedsame samelewing te aanvaar en vergifnis te toon vir die onregte van die verlede. Dit is natuurlik absoluut in die kol, maar gerieflikheidshalwe word die vreedsame oorgawe van politieke mag aan die meerderheid verswyg. Dit het darem seker ook iets te doen gehad met die feit dat daar ’n vreedsame en aanvanklike suksesvolle oorgang na demokrasie was.

Ek erken dat die dankbaarheid noodsaaklik is om aan die meerderheid te toon dat die oorgrote meerderheid “wit” mense ten gunste van die onderhandelde bestel “hoe gebrekkig ook al in sommige opsigte” is en dit ondersteun. Dit is hier wat ek graag jou kundige insette en leiding wil hoor. Wat moet ons doen om die meerderheid te oortuig dat ons wel graag in hierdie Suid-Afrika – soos jy weet, ons enige tuiste – te wil woon. Sou dit behels dat ons (by wyse van uitdrukking – ek sou nie graag die indruk wou skep dat ek namens enige iemand praat nie) afstand doen van die “ekonomiese vermoë” waaroor ons beskik. Dat ons al die grond wat oor jare, in meeste gevalle, in suksesvolle boerderye omskep is, afstaan en vele ander gebiede waar dit al meer wil voorkom asof die meerderheid die “suksesse” as suksesse van die “struggle” beskou.

Ek verneem graag of jy dalk oplossings kan bied rakende die bestaande persepsie dat rassisme slegs deur “wit” mense gepleeg word en dat die persepsie gevestig word dat net die feit dat jy “wit” is outomaties impliseer dat jy rassisties is. Wat sou ons te doen staan om die persepsie te wysig en die persepsie te vestig dat die meerderheid “wit” mense graag ’n sinvolle bydrae tot die ontwikkeling van die land wil lewer? Dit is egter baie moeilik as jy heeltyd as die “stok” in die wiel voorgehou word.

Ek wil ook graag sê dat, hoewel AfriForum nie noodwendig altyd “korrek” optree nie, as mens mobilisering rondom vervreemding as verkeerd beskou - miskien eerder metode van verset. MAAR AfriForum het suksesvol met die ANC en SAKP onderhandel oor die oplossing van die geweld op die Tukkie-kampus. Daar word dus aksie gepleeg, anders as jy wat slegs kritiseer.

Max, ons weet almal dat die radikalisering van standpunte juis lei na verharding van standpunte by die groeperings wat die uiterstes van die politieke spektrum beklee. Dit bring egter ook mee dat die groot groep in die middel toenemend “geforseer” word om nader na die uiterstes te beweeg en dat die samelewing toenemend geradikaliseer word.

Dit is juis hier waar slegs negatiewe kritiek meer en meer gematigdes na die radikale kant toe dryf. Ek dink dit moet gestaak word sou ons die land sodanig wil maak dat ons almal daarin kan lewe. Max, jy is juis in ’n posisie om daardie “beweegbare” oorheersend gematigde groep te beïnvloed om positief te wees en nie te radikaliseer nie. Dit gaan nie gebeur deur alle pogings tot oplossings (hoe gebrekkig ook al na jou mening) te veroordeel sonder om alternatiewe voorstelle, optredes te inisieer nie. Ek besef dat uit jou agtergrond as joernalis is dit moeilik om weg te kom van slegs die rapporteerfunksie en/of kritiseer van standpunte met wat jy nie saamstem nie.

Ek sou dink dat voorstelle/inisiatiewe rakende hoe aspekte soos rassisme, transformasie, eiendomsreg en ander gehanteer moet word uiters waardevol kan wees. Ek dink mense reageer verskillend in krisis situasies. Die pogings om ’n toekoms, ook vir “wit” mense te verseker, en die gepaardgaande ideaal van ’n vreedsame toekoms is van sodanige belang dat mense ’n verskeidenheid maniere (soms sekerlik nie binne almal se goedkeuringsraamwerk nie) gebruik om dit te probeer bewerkstellig. Ek dink dit het egter nou tyd geword om self sodanige toekoms te verseker. Om dit aan die regering oor te laat blyk nie meer ’n opsie te wees nie. Ek dink ALMAL in hierdie land wat ’n vreedsame en suksesvolle toekoms begeer MOET nou saamstaan en oplossings begin formuleer. Ek dink nie daar is meer plek of tyd vir afbrekende kritiek sonder alternatiewe voorstelle in hierdie tyd nie. Anders is ’n Zimbabwe-model dalk ons voorland. “Wit” mense mag nie gereduseer word tot “oorlasstatus” nie want daar is juis ’n massiewe bydrae te lewer om uit die kundigheid van die verlede te help om ’n suksesvolle toekoms te bou. Die bydrae wat gelewer kan word moet juis nou beklemtoon word eerder as om die skuld van die verlede te beklemtoon. Nou is juis die geleentheid om die skuld te vereffen deur ’n positiewe en blywende bydrae tot die toekoms te lewer. Ek dink jy sit in ’n unieke situasie om die droom te realiseer.

Baie dankie

Fanie Cronje

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top