'n Onsigbare geweld: Gedagtes oor Dblatt se Some Afrikaners Revistedavid Gold

  • 0

Some Afrikaners Revisited
By David Goldblatt
Hardback, 280 x 260 mm, 240 pages
Recommended Retail Price: R395
ISBN 978-1-4152-0025-4
Publication date: February 2007
Category: Photography

 I

David Goldblatt se loopbaan as fotograaf strek oor bykans 'n halwe eeu. 'n Roemryke loopbaan, hierdie een: die hoogtepunt daarvan was waarskynlik die toekenning van die prestigeryke Hasselblad Foundation se internasionale toekenning vir fotografie aan Goldblatt in 2006. Hierdie Sweedse toekenning word deur baie beskou as 'n soort Nobelprys vir die fotografie.

Maar Goldblatt s'n is ook 'n omstrede loopbaan – en hoe dan anders. Hy het sy status immers verdien as 'n sensitiewe maar kritiese kartograaf van die fisieke, maatskaplike en interpersoonlike ruimtes van apartheid. Dink maar aan sy The Transported: A South African Odyssey (1989), 'n roerende fotografiese essay oor die vermoeiende, onmenslike busritte wat swart werkers daagliks uit die destydse tuisland KwaNdebele na die stad moes onderneem om by die werk te kom. Hans Pienaar het hierdie boek destyds in Vrye Weekblad geresenseer:

David Goldblatt se foto's is waarskynlik die beste manier om die verskriklike werklikheid hiervan tuis te bring. (...) Ons sien die moeë passasiers in die donker by 'n bushalte staan, die gedweënheid waarmee hulle die bus bestyg, die man wat 'n papiersak met klere aan 'n vensterknop hang sodat hy sy kop daarteen kan rus, die kakebene wat lyk of hulle wil breek van al die gaap, die doeke wat die passasiers oor hulle gesigte gooi om die rye busse agter hulle se ligte weg te keer, die mense wat eers die gangetjie volstaan, dan sit, dan oormekaar lê, vreemdelinge in mekaar se arms. (29/09/89, p 15)

Pienaar vang die besondere trefkrag van Goldblatt se werk baie goed vas. Sy foto's word noukeurig gekomponeer, maar hulle behou hulle dringende onmiddellikheid. Hulle stel die teenstrydighede van 'n skeefgetrekte politieke orde aan die kaak met 'n dikwels onderbeklemtoonde ironie, en met 'n soms getemperde woede. Op sy beste maak Goldblatt 'n dwingende appèl op ons politieke en morele verbeelding, konfronteer hy ons met die implikasies van ons alledaagsheid, ons verstrengelde intieme en openbare ruimtes, op 'n manier wat aandring op 'n interpretasie of 'n reaksie.

Of dit nou gaan oor die menslike gevolge van die tuislandstelsel (in bogenoemde boek), die anomalie van 'n voorstedelike Boksburg in 'n tyd van politieke trauma (In Boksburg, 1982), of die ideologiese semiotiek van apartheidsargitektuur (South Africa: The structure of things then, 1998), Goldblatt se werk spreek veral die ruimtelikheid van ons bestaan (en saambestaan) in Afrika aan. Sy dokumentering en problematisering van die ideologiese inkleding (in wit en swart ...) van "plek" in Suid-Afrika oor die afgelope dekades is bykans sonder weerga.

In hierdie opsig is dit veral Goldblatt se foto's van Afrikaners wat fassineer. Wat is die plek wat die Afrikaners vir hulleself opgeëis het op hierdie vasteland? Of miskien eerder: wat was die prosesse van wortelskiet, afgrensing en mobiliteit wat geboorte gegee het aan mense wat hulleself Afrikaners noem?

In Goldblatt se weergawe word die Afrikaners se bestaansdilemmas in Afrika telkens as ruimtelike dramas uitgespeel. Aan die een kant is daar die taai stryd teen en uiteindelike lotsverbondenheid met die onverbiddelike fisieke landskap van Suider-Afrika. Aan die ander kant is daar die "verruimteliking" van identiteit deur middel van die maatskaplike afbakening van gemeenskappe en sosiale landskappe onder apartheid.

Goldblatt se Afrikaners tree dus na vore as mense wat beide deel word van én apart bly in Afrika. Soos die woord Afrikaner suggereer, is hulle identiteit ten nouste verbind aan die vasteland; maar hulle verhouding daarmee en met die ander mense van Afrika is teenstrydig. Goldblatt talm by hierdie teenstellings: tegelykertyd gewortel en ontuis, aards en gewikkel in 'n ideologie van politieke verhewenheid, toeganklik en onverbiddelik in hulle eksklusiwiteit. Sy reaksie hierop is eweseer 'n komplekse, en by tye teenstrydige, mengsel van begrip en onbegrip, bewondering en woede, bestudering en verromantisering van sy gegewe.

II

Een en twintig jaar na die publikasie van Goldblatt se bekendste (en mees besproke) werk, Some Afrikaners Photographed (1975), is hierdie foto's opnuut deur Umuzi uitgegee, nou onder die titel Some Afrikaners Revisited (2006). Die boek is van nuwe inleidings voorsien (essays deur Goldblatt, Antjie Krog en Ivor Powell) en daar is 'n paar foto's weggelaat en etlike ander bygevoeg wat nie in die oorspronklike verskyn het nie.

Die omstredenheid van die oorspronklike werk is welbekend. Goldblatt het die foto's al in die 1960's geneem, en 'n paar van hulle het teen die einde van daardie dekade in 'n internasionale tydskrif verskyn as 'n fotografiese essay oor die Afrikaners. Onmiddellik is die fotograaf daarvan beskuldig dat hy die Afrikaner as "agterlik" uitbeeld. Met die verskyning van die boek 'n paar jaar later is hierdie aanklagte herhaal, en die boek was inderwaarheid 'n kommersiële mislukking – selfs die Engelse koerante wou dit nie resenseer nie.

'n Mens kan hierdie reaksies verstaan teen die agtergrond van 'n destyds magtige Afrikaner-elite, gesus in hulle waan van politieke en kulturele heerskappy oor Suid-Afrika. Goldblatt se fokus op veral armer en gemarginaliseerde Afrikaners is ervaar as 'n aanslag – en miskien was dit wél 'n meedoënlose aanslag, nie op Afrikaners as sodanig nie, maar op die soort kulturele en politieke selfvoldaanheid en die gepaardgaande rassisme en klassepolitiek van daardie tyd.

Vandag is daar steeds diegene wat Goldblatt se werk summier wil afmaak as "Afrikaner bashing" of 'n soort anti-Afrikaner-rassisme – mense so uiteenlopend as Breyten Breytenbach en Dan Roodt.

Alhoewel Goldblatt se werk nie bo kritiek verhewe is nie, en mens sekerlik vrae sou kon stel oor die ideologiese posisie wat veronderstel en deursigtig gemaak word wanneer Goldblatt in sy skynbare onbetrokkenheid as waarnemer die Afrikaners as gemeenskap raam en uitbeeld, is hierdie soort kleinserige, eensydige afmaak van sy werk doodgewoon oninteressant en verbeeldingloos.

Waaraan skryf 'n mens in elk geval hierdie paranoïese soektogte deesdae weer na die "anti-Afrikaner" toe?

Dit laat my onwillekeurig dink aan die karakter wat in Bob Dylan se "Talkin' John Birch Paranoid Blues" deel word van die antikommunistiese John Birch Society, maar op die ou end tog moeg word daarvan om kommuniste te jag op al wat plek is. Sal dieselfde met hierdie jagters van gewaande Afrikaner-haters gebeur? "Couldn't imagine doin' anything else, so now I'm sittin' home investigatin' myself! Hope I don't find out anything … hmmm, great God!" Is dit juis die gevarieerde, soms onvleiende, maar uiteindelik deernisvolle selfontdekkings wat met hierdie foto's moontlik word, wat vir hulle so problematies is?

Hierdie is nie eenvoudige foto's nie, en Goldblatt se spesifieke perspektief, die effek van 'n nuwe ideologiese klimaat op die interpretasie van die foto's (want dit is 'n herverbeelding eerder as die herbesoek wat die titel beloof), en die soort identiteite wat in 'n nuwe politieke klimaat rondom hierdie foto's geformuleer, bestendig en gekontesteer kan word, sal kritici nog lank besig hou. Maar dan bevestig die kompleksiteit van die materiaal juis dat hierdie foto's nie sonder meer verwerp kan word nie; die kyker moet met hulle in gesprek tree, met hulle onderhandel vir betekenisse. Goldblatt s'n is maar een moontlike soort uitbeelding van Afrikaners, maar dit is 'n dikwels aangrypende, sensitiewe en versiende een.

III

Dit is baie moeilik om hierdie soort geïntellektualiseerde refleksie vol te hou wanneer 'n mens deur hierdie boek blaai (en dit is 'n boek vir blaai en weer blaai ...). Vir hierdie leser, ten minste, was die eerste reaksies wat hulle aangemeld het, ongesofistikeerd maar heeltemal toereikend: "mooi", "pragtig", "ontroerend". Laat ek dit onmiddellik sê: Some Afrikaners Revisited het 'n bykans hipnotiese effek op my gehad. Vasgenael voor beelde van 'n tyd wat verby is, van 'n wêreld haas vergete maar steeds herkenbaar, kan 'n mens nie anders nie as om verbaas en ontroer te wees deur hierdie vreemde, vraende, ondersoekende foto's van 'n ambivalente buitestaander. Karakters, landskappe, en interpersoonlike ruimtes word so raak vasgevat dat hulle nog gloei, oor die dekades wat hulle van ons skei, met al die implikasies van die samesyn en verdeeldheid wat hulle uitbeeld.

Goldblatt rig sy lens op Afrikaners in 'n tyd van mobiliteit en onverskrokke aspirasies. Soms onskuldig, soms kil en berekend – hierdie Afrikaners kyk na die kamera met al die skakerings van hoop, al die hubris van eiegeregtigheid in hulle oë. Maar hulle kyk ook met ander oë, veral diegene wat verder staan van die hoofstroom en die politieke en kulturele elites: armer, landelike Afrikaners, bruiner Afrikaners, Afrikaanssprekende Jode ... Wat sê al hierdie gesigte wat na jou kyk, en hoe lees 'n mens hulle uitdrukkings en liggaamshoudings saam met die groter verhaal van die opbloei en verval van 'n nasionalisme en 'n selfverdoemende politieke bestel? Wantroue, twyfel, gelatenheid, vreugde … en so kan jy aangaan.

Dit is interessant hoe stroef, gestol en onbeweeglik die elites ('n moderator van die Kerk en hoogwaardigheidsbekleërs van die Party, byvoorbeeld ...) op hierdie foto's vandag daarna uitsien. Beweeglikheid word meer dikwels teruggevind in die foto's van ander, eenvoudiger Afrikaners: die dansende paartjie op 'n troue in Barkly-Oos (p 81), die meisie wat haar hare vasmaak of uitkam (p 83; ook die omslagfoto), die pragtige foto van 'n jong seun wat uit 'n swembad klim (p 137). In hierdie foto's is Goldblatt se deernis met sy onderwerp soms tasbaar. Is hy paternalisties? Verromantiseer hy? Soms sekerlik wel, maar oor die algemeen is sy deernis nooit ongekwalifiseerd nie en sy kritiek nooit totaal verdoemend nie.

Terwyl Goldblatt byvoorbeeld in verskeie foto's registreer dat daar wel vorme van intimiteit tussen wit en swart bestaan het in die alledaagse omgang in veral landelike gebiede, gee hy nooit voor dat hierdie verhoudings enigiets anders as ongelyk was nie. In wat vir my een van die ontroerendste foto's in die boek is, "Kleinbaas with klonkie" (p 158), kom Goldblatt so naby as mens seker maar kan aan 'n uitbeelding van die dikwels onsigbare gewelddadigheid van hierdie soort ongebalanseerde intimiteite. Die foto is van twee seuns en 'n hond op 'n kiskar in 1963. Twee vriende – net, die een is wit en die ander een bruin. Die alledaagse gemoedelikheid van die situasie ten spyt is dit skreiend duidelik hoe die "dice" vir hierdie twee sal val. Dit is duidelik in die postuur en selfversekerde blik van die wit seun, die onsekere blik van die tenger bruin seun. Dit sit in die klere. Dit gáán sit in die klere.

IV

Goldblatt se fotografiese essays het in hulle tyd dringend en onmiddellik kommentaar gelewer op 'n politieke bestel en op die manier waarop daardie bestel neerslag gekry het in die alledaagse praktyke en ruimtelike inrigting van gewone Afrikaanse lewens. Vandag is hulle steeds meer as bloot historiese dokumente. Op sy beste vang Goldblatt se werk steeds meer vas as net "the structure of things then" (in die woorde van een van sy reeds genoemde postapartheidspublikasies). Sy werk is deurstraal van die drif, woede, gelatenheid, hoop, uitsigloosheid, verweefdheid en afgesonderdheid wat die Suid-Afrikaanse werklikheid gekenmerk het en steeds kenmerk. Sy foto's bied nie net toeligting nie, hulle oefen ook die verbeelding, heraktiveer die geheue. Meer nog: hulle dwing ons om woordeskatte te ontwikkel – woordeskatte van vergifnis, soos waarvan Antjie Krog in haar opstel in hierdie boek praat, maar seker ook woordeskatte van hoop.

Hierdie herbesoek is 'n bestekopname, 'n impuls vanwaar 'n mens kan begin dink oor wie ons was en nog kan wees in die wêreld. Daar was nog altyd en sal ook altyd ander maniere wees om die land te bewoon.

Some Afrikaners Revisited
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top