’n Ode aan my ma

  • 1

Foto: Canva

vlytige vlugtige vinnige
vingers soos vlindervlerke
verewig vrugdraend en
nooit verveeld
groen vingers
van vele fantastiese tuine

Jambu
my ma
(who had a farm in Africa...)
en nooit geleer het
om stil te sit nie
rusteloos
onversadig
onstuitbaar
vrou van yster
vrou van God
vrou van drome
en naalde en some

Jambu
my ma
voetspore en hande
diep geploeg en geplant
in Afrika se sand

Ma van woorde:
mense leer en
God eer en
Sag troos en
mooi praat en
spits-en-beitel
woorde gewortel en gestik
in die lappieskombers
van my lewensgedig

My ma is
huis-toe-kom
Die pleister op my seer
die dolos wat die waters keer
die eggo wat in die blink
van my kinders se oë klink.

Liefde
wat ek vir geen ander mens voel

Hoe sê ’n dogter dankie
Hoe eer sy ’n vlerklose engel
met die hemel in haar lag
en sang (son) in haar hart?

Asante Sana mamma!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top