’n Nuwe seisoen

  • 1

Fotobron: Canva

Elke jaar, hierdie tyd
staan sy in stilswye voor sy deur:
nakend en weerloos teen die wind.

Haar groen blarerok het sy saam met die seisoen 
suutjies oor haar vel laat afgly en lê nou gekreukel op die grond.

Sy staan bedroef in die stortreën van woorde,
die druppels hang soos trane aan haar takke.

Op ’n afstand wag sy angstig
 vir erkentenis in die bekende vreemdeling se oë

die amper-liefhê soos ’n beloning
die kyk-sonder-raaksien ’n behoefte
die leuens haar identiteit
die pyn haar beste vriend
die leemte haar toevlugsoord

Die aarde draai. Die wiel is rond. Die seisoene verander.

misgekyk, misverstaan, mislei
onderdruk, onderdanig, onderwaardeer ...

Maar hierdie jaar, dieselfde tyd
glip sy haar groen somersrok stilletjies weer aan
en soen die sonsopkoms haar trane weg
en staan sy soos ’n bruid
voor ’n lewe vol belofte

  • 1

Kommentaar

  • Sjoe Carien, dis pragtig geskryf! Ek beleef die vrou in die groen blarerok se emosies, en ek staan weer soos ’n bruid voor ’n lewe vol belofte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top