
Renette Symington, ’n Afrikaansonderwyseres, skryf op Facebook:
Ek hoor mense noem dit die nuwe normaal. Ek weier om hierdie as my normaal te aanvaar. Ek haat oor die algemeen winkelsentrums en groot groepe mense, maar ek sal nie die res van my lewe in koue sweet wil uitslaan, suurstofgebrek ervaar en almal as ’n bedreiging beskou nie.
Ek weier om te aanvaar dat ek nie by my ouma en oupa kan kuier, of die kinders in my klas kan druk nadat ek hulle nege weke lank nie gesien het nie.
Ek weier om elke keer stilletjies te bid as ek my kêrel druk of soen, want ek is só bang ek maak hom siek. En nee, en sal nie ophou om dit te doen nie.
Ek haat dit om elke keer saniteermiddels op my hande te spuit en saggies te vloek omdat dit seerplekke op my vingers brand. (Ek het reeds baie saniteermiddels gebruik voor hierdie storie, maar darem binne perke.)
Ek haat dit wanneer mense in my spasie staan en temperatuurmeters soos pistole teen my voorkop druk.
Ek haat dit dat ek nie koffie kan maak en dit saam met my kollegas in die personeelkamer mag drink of ’n broodjie kan eet sonder om eers die velle van my hande af te skrop nie.
Ek haat die maskerrekke wat my ore ombuig en soos gedroogte appelkosies laat lyk.
Ek haat dit dat ek soos ’n sot vir iemand in die winkel glimlag en dan besef dat hulle nie my tande kan sien nie.
Ek HAAT wanorde en onsekerheid, tensy ek dit self veroorsaak. 😂
En ek sal dit nie as my normaal aanvaar nie, because this too shall pass.
Intussen koop ek maskers soos ’n mens skoene aankoop – oorbodig – en dra op die ou end in elk geval net een paar.
En ja, ek het my van daarop laat druk – nou kan mense dit na 24 jaar en 11 maande leer spel.
As jy my skrefiesogies bo ’n masker sien uitloer, weet dat ek vir jou glimlag. Al is my hart ’n bietjie hartseer en ek eintlik tans vreesbevange.


Kommentaar
Die "nuwe normaal" is tydelik. Ek glo meeste steun jou sentiment. Los maar die drukkies en fisiese kontak met kinders. Ek, as ouer, sal dit nie in die tyd waardeer waar sosiale afstand prioriteit (moet) geniet nie. Die begripsvermoë van kinders moet nie onderskat word nie ‒ hulle sal verstaan. Of hulle moet.