
Foto: Canva
terwyl jou lippe
vervalste seën uitspreek
is jou oë besig
om my psige stukkie vir stukkie
soos nagmaalbrood te krummel en breek
terwyl jou na-ywer soos nuwe dolke
vars wonde deur my steek
dis op daardie dae
wat jou woorde soos vlymskerp konfetti
teen my vas kapok
dan sien ek hoe die sonneblomme soos apostels in gelid
hulle goudgeel koppe in seerkry laat sak;
daar iewers aan die heelal se koepel
kruip die maan verskrik agter wolke weg
in ’n stille dog matelose gebed
dat dinge eendag alles kraaknuut sal wees
... en daar waar die wilde kosmos
uitbundig saad sal skiet
die winde
vonkelnuwe hallelujas
van vrede sal sing


Kommentaar
Dankie, LitNet, ek waardeer opreg
Phenomenal - nuwe hallelujas 🌻
Pragtig, uitgedruk soos ek voel.
Daar is die seer, maar God sal dit vernuwe.
Baie dankie, Ina en Rachel, vir julle saamlees en kommentaar. Ek waardeer opreg.
Diepsinnig geestelik.
Dat volwasse, klaarblyklik geleerde mense nog aan hierdie bog, dat brokkies brood en slukkies wyn gode verteenwoordig en dit na eie behoefte laat verskyn, pyne verlig en verbeelde sondes laat verdwyn, is tragies. Dat dit nie moderering verdien nie, maar dat die slurpende bewondering daarvan eerder publikasie aanhits, verbreed en verdiep die intellektuele moeras van die logiese, rasionele en ingeligte denke van die skrywer en bevestig die tekortkominge van haar skepper.