'n Netelige kwessie

  • 0

Janet Koekemoer is nie ’n tante met wie jy mors nie. Veral nie as haar oggend verkeerd begin het en sy, sigaret tussen die regterhand se wys- en middelvingers, die stuurwiel van haar silwer Daihatsu Charade vasklem nie. Haar jare is duidelik in songebreide lae op haar gesig afgeëts. Haar hare het al ’n paar weke gelede ’n besoek aan haar haarkapster met die salon in die buurvrou se agterplaas nodig gehad.

“Die bleddie studente,” grom sy in haar hees rookstem by die T-aansluiting oorkant die natuurreservaat terwyl haar blik die groepies jongmense volg wat die drafroete tussen die koshuise en die vallei tussen die berge met net soveel lewenslus aanpak as die vorige nag se kaperjolle tussen elf en drie. Sy wonder of dit koshuisbewoners of privaatstudente is wat vir haar nuutgevonde ergernis teenoor die spesie verantwoordelik is.

Een van die dorp se 4x4-mammies toet agter haar, en sy laat stol die motortjie in haar haas om weg te kom. In haar truspieëltjie sien sy net ’n blink bosbreker en die spogwa se nommerplaat. Die tweede toet word met ’n perfek-gemanikuurde middelvinger begroet voor sy weer beheer oor haar kar en emosies kry en voor ’n aankomende voertuig injaag in die rigting van die laerskool.

Die studente glo in die eerste en derde kwartale social jy en in die tweede en vierde kwartale probeer jy jou kursus red. In die eerste kwartaal geskied al die gesonde studentepret ten bate van gemeenskapsdiens en word menige student klokslag in die oggend wakker met ’n verblindende hoofpyn en slegs ’n vae herinnering van die vorige aand se trollieresies of Buddy-wedloop. Die derde kwartaal word voorafgegaan deur ’n koorsagtige soektog na huisdansrokke en ’n date wat darem ordentlik kan dans, goed lyk op ’n foto en boonop potensiaal het vir die toekoms. Huisdanse, Sêr en Toneelfees verskyn so te sê gelyk op die horison, en dis meet en pas om al die sosiale verpligtinge na te kom. Die agtuurklas kan net sowel afgeskaf word op grond van ’n gebrek aan belangstelling, en die biblioteek kan maar saam met die res van die dorp om vyfuur sy deure sluit. Die tweede en vierde kwartale daal daar egter ’n ander koorsagtigheid op die dorp neer. Dis asof die koms van die eerste winterreëns in die Paasvakansie en die eikebome se heldergroen ontploffing in die Septembervakansie ’n nuwe doelgerigtheid op kampus inlui. Die eksamen wat eens doer ver in die vlakte geroep het, is nou op die stoep en snuffel aan die deur …

Janet wens dis al die vierde kwartaal sodat die studente in hulle eksamenslaap kan ingaan en sy nie nag na nag in die middernagtelike ure wakker geraas word nie. Maar meer nog, dat sy nie in die tye dat sy wel aan die slaap raak, moet droom hoe sy planne beraam om haar spogversameling tuindwerge teen hulle aanslae te beskerm nie. Toe haar alarm laasnag die derde keer geaktiveer word deur die nuutgeïnstalleerde beams in haar voortuin en sy die voordeur verwoed oopruk om die skarminkels met pepersproei by te dam, het sy boonop haar linkerwysvinger se nael tot in die lewe in afgeskeur. Net betyds om te sien hoe ’n jillende groep figure met haar nuutste ingevoerde dwerg in die pad af verdwyn.

Die derde kwartaal is wel Janet se besigste tyd. Soggens, in die week en oor naweke, is sy agtuur op haar pos in haar “spreekkamer” en behandel stelselmatig, en met verrassende geduld, die een geval na die ander tot om vyf. Haar konsultasies duur elk minstens twee uur, afhangend van die erns van die geval. En teen R200 per uur (belastingvry, natuurlik) maak sy genoeg in daardie een kwartaal om vir die res van die jaar gemaklik op haar staatspensioen te leef. In haar etensuur doen sy inkopies, gaan vir haar weeklikse manikuur by ’n salon sommer daar naby, of soek op die internet vir uitsonderlike tuindwerge. Sy pak elke aktiwiteit met dieselfde doelgerigtheid as haar dagtaak aan.

Sy het nog nooit nodig gehad om ’n sent aan reklame te spandeer nie. Daar is darem niks wat ’n 4x4-mamma vinniger in haar spore laat stuit nie as die SMS van die skool af wat slegs lees: “=0=” (by gebrek aan ’n rekenaarsimbool met 3 parallelle strepies moes die skool maar volstaan met twee pare gelyk-aan-tekens, al hinder dit die skoolhoof geweldig dat dit nie 100% korrek is nie – hy het selfs al gewonder of ’n mens nie kopluise geneties kan manipuleer om een paar bene minder te hê nie). Haar werkspasie is gratis deur die beheerliggaam tot haar beskikking gestel nadat die voorsitter se dogter geweier het om by Janet se tuiste in ’n minder-gesogte woonbuurt afgelaai te word (haar ma het haastig verduidelik dat haar dogter ’n fobie vir tuindwerge het vandat sy kleintyd die storie van die drie rammetjies rof gehoor het – die dwerge lyk darem heeltemal te veel soos iets wat onder ’n brug sou skuil en wil weet wie trippe-trappe-trip so daaroor).

Janet het van kleins af ’n obsessie met mooi hande gehad. Nadat sy ’n fliek met Lauren Bacall gesien het, het sy geweet dat sy net soos daardie legende wou wees. Kom wat wou, tussen perfekte vingers sou sy haar sigaret hou en die rook uit haar linkermondhoek in ’n egalige stroom die lug instuur. Hierdie prentjie pas natuurlik perfek by die flitsende ligte en die geluid van muntstukke wat in die speelmasjiene by ‘n naburige casino gevoer word. Danksy ’n gelukkige oggend in die geselskap van haar dobbelskyfies kon sy haar ou afgeleefde blou Escort vir die Charade verruil. Haar weeklikse besoek (buite seisoentyd, natuurlik) aan haar fantasiewêreld met slegs R100 in die handsak het uiteindelik meer vrugte afgewerp as die karige R50 hier of R100 daar.

Haar eerste pasiënt sit al kiertsregop en grootoog op haar opvolgsessie en wag. Die opvolgsessies is maar bra vervelig, dink Janet. Geen opwinding van die jag nie, slegs die lastige en uitmergelende fynkamsessie om enige oorblyfsels na die eerste sessie te verwyder. Sy beveel die pasiënt om op die driepoot-stoeltjie haar sit te kry, skakel die studielamp aan en gooi ’n handdoek oor die kind se skouers. Die hare word in verskeie bolletjies bymekaargemaak en vasgeknip met haarknippe wat sy nog by haar oorle moeder gekry het. Sy mors nie tyd of energie op praatjies maak nie – daar is ’n waglys van benoude ouers wat al die vorige dag wou hoor dat hulle netelige kwessie opgelos is. Mense wat daaraan gewoond is om die lewe uit die hoogte van ’n 4x4 vooruit te skat, hou nie van onsekerhede nie, nog minder om op diens te wag.

Om elfuur skakel die sekretaresse ’n oproep van ’n hoogs ontstelde dame deur. Uit haar stem kan Janet aflei dat sy ’n Mevrou Doktor So-en-so is, in ’n eksklusiewe woonbuurt bly in ’n huis wat onlangs van hoek tot kant platgeslaan en oorgebou is, en heeltemal te gesofistikeerd vir ’n Land Rover Discovery is. Waarskynlik ’n Mercedes ML350 – nes die een wat haar vanoggend amper uit haar geloof getoet het en amper veroorsaak het dat sy haar kar afskryf. Dis vreemd dat die vrou haar bel. Gewoonlik word kinders anoniem na haar gestuur nadat die afspraak by die sekretaresse gemaak is – die ma’s hou nie daarvan om hulle hande vuil te maak nie. Tot sy registreer dat die vrou op ’n tuisbesoek aandring. Sy het nog nooit tuisbesoeke gedoen nie – sy sien nie kans om al haar gereedskap saam te piekel nie, en sal dan waardevolle tyd verloor terwyl sy moet ry van die een punt na die volgende. Sy is wel bereid om vroegoggend voor skool die besoek af te lê. Die vrou klink besonder verlig en voor sy aflui wil sy net ’n versoek rig dat Janet tog nie voor haar huis moet parkeer nie.

Kopluise is soos seks, mymer Janet die volgende oggend op pad na die tuisbesoek. Almal het van tyd tot tyd ’n pyn daarmee, maar niemand wil dit erken nie. Veral nie in hierdie perfekte dorp met al die perfekte huise en perfekte gesinne en perfekte skole nie. So sy sal die dame maar haar versoek gun en twee blokke verder by die ingang na die wandelroete langs die rivier parkeer sodat mense kan dink sy is op ’n vroegoggendstappie in die gietende reën – die bleddie Kaapse winters.

Die huis troon bokant die 10 voet hoë muur en 100 jaar oue jakarandas uit, en verklap niks van die donker geheim wat daaragter skuil nie. Voor sy kans het om die klokkie te lui, swaai die hekke geruisloos oop en sy stap haastig in. Die motorhuisdeur staan oop en ’n huishulp beduie dat sy daarlangs moet in. Teen trappe af na ’n wynkelder en gimnasium wat uitkyk op ’n groot agtertuin met swembad, spuitfontein en gazebo, alles in die reën minder imposant as gewoonlik. Maar skielik voel dit of haar hele lewe net daar in duie stort. Want wat ’n teleurstelling om te sien dat hierdie vrou wat genoeg geld het om haar met enige versameling wat haar hart begeer te kan besighou, ook ’n swakheid vir rare tuindwerge het. En op ’n troon reg onder ’n boom wat minstens 200 jaar oud is, staan Janet se nuutste toevoeging wat twee nagte vantevore uit haar tuin gesteel is.

Sy weet nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Met die studente is dit maklik – sy loop net eenvoudig tot by haar ontvoerde dwerg, wat sy gewoonlik iewers in ’n woonstelkompleks opspoor waar hy by ’n voordeur waak, en vat hom terug. Maar hier is dit sy en die dame en haar hele huishouding, en dalk het Mevrou geen benul dat sy met gesteelde goedere op haar perseel sit nie.

Sy word gelei tot by ’n hoekie in die gimnasium met ’n gemaklike leunstoel en ’n groen bankierslamp op ’n tafeltjie langsaan. Mevrou Gretel is in haar spierwit kamerjas, gesig bleek van vroeg opstaan en geen grimering nie. Janet vermoed sy is dalk net so bleek soos die vrou, maar voel verlig toe sy besef dat sy nie vir oogkontak hoef te vrees nie. As die vrou maar net geweet het dat sy haar nie in haar dagkleed sal herken noudat sy haar in haar volle oggendglorie gesien het nie!

Sy wonder of sy die huishulp kan vra vir ’n lae kroegstoeltjie of klavierstoeltjie, wat beter gaan wees vir haar sessie met Mevrou, maar toe haar oog die blink Brabantia-asblik in die badkamer vang, besluit sy dit sal perfek wees. Sy maak die asblik voor haar staan en vra vir Mevrou om daarop te kom sit. Sy dog die vrou kry ’n angsaanval of iets, voor sy gedwee verrys uit die leunstoel en op die asblik stelling inneem.

Vanoggend is sy besonder deeglik, so deeglik dat daar na elke tien nete wat met ’n ystergreep tussen duim en voorvinger uit die hare gewerk word, ’n traan op Mevrou se spierwit hande spat. Sy is ook besonder spraaksaam, in so ‘n mate dat sy aan die einde van die sessie oortuig is van Mevrou se onskuld. ’n Nefie het haar die vorige dag met die dwerg kom verras.

Betaaltyd skud Janet net haar kop toe Mevrou haar die pakkie note aanbied. “Die Elwekoning, asseblief,” sê sy beslis terwyl sy na haar verlore prins wys. Mevrou hap ’n paar keer lugborrels, oorweeg dit om teë te stribbel, en besef skielik haar onbenydenswaardige posisie – sê nou die vrou vertel vir die hele dorp …? Die huishulp word gestuur om die dwergman te gaan haal en aan die kopluisdeskundige te oorhandig.

Terwyl Janet by die hekke uitstap, kan sy haarself Mevrou se sug van verligting voorstel. Nie net is sy ontslae van ’n baie onaangename probleem nie, maar niemand sal nou kan vermoed presies waarom sy wat Janet is, wat beslis nie in dié buurt hoort nie, by haar was nie. Mevrou sit waarskynlik reeds by haar skryftafel en Google die naam van die verskaffer wat Janet vir haar op die agterkant van ’n leë sigaretboksie neergeskryf het, en bestel vir haar ’n nuwe Elwekoning.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top