’n Mooi bont koei

  • 41

Foto: Pixabay

Watse ding is ’n koei nou eintlik? Sê maar ’n swart en wit Frieskoei, vet met ’n groot uier, saam met haar kalfie in ’n groen weiland? Dit is mos ’n mooi gesig! En vir my simboliseer so ’n koei moederlikheid.

Moederlikheid: om geboorte te gee, te voed en te versorg. Soos ons mensmoeders ook doen, of veronderstel is om te doen. En in die meeste gevalle gebeur dit darem so.

Natuurlik is die mensmoeders intelligent ook en veel meer as net ’n moeder. Tog, in hul moederlikheid simboliseer hulle vir my so baie, soos dat hulle jou direkte band met God die Skepper is. Van haar af terug loop ’n band na haar moeder, soos ’n naelstring, en verder terug na al die moeders van die voorgeslagte, deur die eeue en millennia heen. Terug tot by die oorspronklike skepping, die eerste lewe wat ontstaan het, miskien selfs terug tot by die skepping van hemel en aarde.

En dit is spesifiek deur jou moeder dat daardie band loop, nie deur jou vader nie. Want dit is sy wat die lewe skenk, van generasie tot generasie, tot in die oneindigheid. Vir my is dit asof die vaders eintlik aparte entiteite is – hulle kom van sywaarts by die lang band in, by bepaalde punte, om hulle insette te lewer, om die chemiese reaksie aan die gang te sit. Dan is hulle taak bykans afgehandel.

Miskien is dit ook hoe die heelal geskep is. Daar was ’n moederlikheid wat van buite af ’n invloed ontvang het sodat ’n reaksie plaasgevind en die son, sterre en planete ontstaan het. (Hierdie gedagte is in elk geval minder absurd as die teorie wat lui dat daar niks was nie en dat díe niks toe ontplof het!)

Skepping, liefde, goedheid – al hierdie dinge simboliseer ’n moeder. En in die mens is dit intelligente liefde, intelligente goedheid.

Die teoretici sê dat alle lewe eers eenvoudige, eensellige mikro-organismes was wat in die oersop van die oseane gedryf het. Dat intelligensie eers baie later gekom het, soos die eensellige organismes ontwikkel het tot meer komplekse lewensvorme. Later het dit waterdiere geword, toe landdiere, die aapmens en uiteindelik die mens. Ek wonder hieroor. Was die grondstowwe, die chemikalieë van intelligensie nie maar van die begin af teenwoordig nie? Indien nie, waar het dit vandaan gekom? Want niks kan tog uit niks ontstaan nie. As mense praat van evolusie en mutasie van gene, dan bly dit staan: die basiese grondstowwe van intelligensie was altyd daar, dit moes net na vore kom of herrangskik word. Dus, God het van die begin af intelligensie daargestel, dit moes net die geleentheid kry om te ontwikkel.

Maar om terug te kom na die moeders: van hulle ontvang ons ook ons vroeë opvoeding, ons eerste lesse, dus ontwikkel hulle ook ons intelligensie. Sy is volledig moeder en deur haar word ek volledig mens.

Watter pragtige gesig is ’n koei met haar kalfie in ’n groen weiland! Maar helaas, ons maak hierdie koeie dood, ons slag hulle af en eet hulle! (Het u ook al gewonder of dit reg is dat ons vleis eet?)

En hoe behandel ons die mensmoeders in hierdie wêreld? As die baba groot is, maak hy dit sy werk om haar te versorg en vertroetel? Helaas, in baie gevalle word die bejaarde moeders verstoot en vergeet. Die sogenaamde intelligente en beskaafde mens sny soms die band met sy moeder op ’n ongevoelige manier en gooi haar op die ashoop om daar te vergaan.

Die wêreld waarin ons woon is nie altyd mooi en goed nie. Trouens, soms is dit sommer baie lelik. Die mooi bont koei se keel is bloedbevlek.

  • 41

Kommentaar

  • Tiens,
    Jy skryf..
    "Watter pragtige gesig is ’n koei met haar kalfie in ’n groen weiland! Maar helaas, ons maak hierdie koeie dood, ons slag hulle af en eet hulle! (Het u ook al gewonder of dit reg is dat ons vleis eet?)"
    My vraag - Hoekom het 'n mens oogtande?

  • Tiens Pretorius

    Raed-na-Gael, dit was daar en groot toe ons self nog half diere was. Sedertdien het ons ontwikkel en meer beskaafd en sensitief geword.

  • Hans Richardt

    Tiens, ek was Sarerdagnag in Noordwes-Vrystaat op die plaas van my lewensmaat se pa. Die Bonsmara koeie kalf nou en die blourug jakkalse het 'n fees onder die nageboortes van koeie. Die natuur is minder poëties en die veld is vaal en droog.

    Ek het my lewensmaat se pa huistoe gevat, na sy herstel van COVID-19 in Orania hospitaal. Die virus veroorsaak groot atrofie by spiere in ekstreme van arms en bene. Seker die natuur se manier om die oorlewing te verseker, deur suurstof te verminder na minder noodsaaklike dele van liggaam. Ek het nou gesien dat die patriarg belangrik is vir al die vroue van familie ...

  • Hans Richardt

    Ek weet dat man seker poëties moet wees oor groen weiveld en groot uier Frieskoeie.
    Al daaraan gedink dat die bulkalfies as sagte kalfsvleis êrens op 'n bord eindig? Die tradisionele Kalfiewals se woorde beskryf dit goed. Ons sal katte en honde met rumatiek oppiep met jassies en spesiale behandeling, maar die mooi bont koei se kalf eet en met sulke vetterige vingers ons monde afvee, sonder gewetensbeswaar. Dan, is daar die Greta Thunberg's wat net koolstofmonoksied besoedeling sien, nie mooi bont koei en kalf se moederinstink nie. Ten spyte van rioolplase wat orals mors en stink.

  • Tiens Pretorius

    Ek is teleurgestel dat daar so min reaksie is op my skrywe. Waar is die slim ateïs nou? Is hy stomgeslaan?

  • Hans Richardt

    Tiens, ek lees nou stokou boek oor Saul/Paulus. Moenie soos hy raak en die ateïs stenig nie. Dis winter, midde die derde vlaag van die virus en belastinggaarder druk op...
    Ek is deesdae op lensies, boontjies, gesplete erte en varkvelle, om begroting te laat klop.
    My nuutgevonde lewensmaat en ek doen herstelwerk aan mense se ou klere, lap en stop, vir 'n ekstra geldjie om onvoorsiene gate te probeer stop in begroting. In moeilike tye is die skeppingsdrang bietjie ingekort. So draai ek maar Singer se slinger, op bevel van lewensmaat, vinniger, stadiger, stop ens. Dan luister ons tydens kollekte na die orrelweergawe van ABBA se "Money, money..."!
    So, mens sien nie koei met kalf werklik raak nie. Mens sien, maar neem nie waar nie...

  • Slim ateïste is tog nie so slim nie. Hulle het geen antwoord op onnosel veronderstellings wat uit die duim gesuig word nie.

  • Koolstofmonoksied? - Hans bedoel seker die ander gas - metaan (CH14).
    Dìt kom van koeie af.

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, maak mense (sommige is ook regte koeie) nie ook daardie CH14-gas-ding in rioolplase nie?

  • Hans, gaan dit werklik so sleg daar in Orania? Ek sal vir jou moet kom kuier met so 'n klompie Wagyu-beeshase en 'n dosyn Blue Labels. Waar varkvelle is, moet daar darem sekerlik ook so 'n paar varktjoppies wees. 'n Mens moet vleis eet - ek het nog nooit 'n vegetariër vertrou nie.

  • Hans Richardt

    Angus, lewensonkoste is Hoog. Ek koop deesdae in Hopetown by OVK, hulle het kwaliteit met billike pryse. Dis "rooivleiswêreld", maar verwoedelik duur.
    Dan boontjiesop met varkvelle/spek is lekker in winter, met so bietjie byt in. My nuwe lewensmaat het so 'n paar varsgeslagte tjops gebring nadat haar ouer suster geslag het. Vrystaters kry baie dinge gedoen.
    Met 'n klein verhoginkie elke jaar in pensioen, begin Jan Taks mal raak met sg. kapitaalwinsbelasting jaarliks. Verhogings soos huur, elektrisiteit en brandstof maak alles goeie verskonings vir belaglike pryse.
    Vryheid het seker 'n prys?

  • Hans,
    Die koei en kalf raak gewoond daaraan om in 'n sappige filet of braaivleisie omskep te word.

  • Tiens Pretorius

    Angus, maar is jy darem slim genoeg om 'n onnosel veronderstelling te herken as jy hom sien?

  • Hans Richardt

    Raed-na-gael, beesvleis irriteer my deesdae. My tande is soos sterretjie, nie so blink nie, so ver van mekaar en beesvleis sit vas. Ek verkies skaaptjops. Dit het vetjies, wat nie tussen tande klou nie.

  • Hans Richardt

    Angus, die Wagyu-fillette en biltong is bitter duur hier. Ek smag darem na geelvet sout-en-peper biltong, sonder koljander doppe op... Ek mis die slaghuis in Benoni

  • Hans Richardt

    Tiens, ons plaas jou brief ten minste in kollig met ons kommentare.
    Dis tog waaroor ons tradisionele Kalfiewals liedjie gaan, hartseer, maar anders vrek ons van die honger.

  • Tiens Pretorius

    Ag, asseblief! Laat iemand tog nou nou vir ons 'n nuwe hoofbrief skryf waarop ons kommentaar kan lewer. Hoe lyk dit Raed-na-Gael? Hans? Angus?

  • Al gedink daaraan: sonder die mens was daar ook nie so 'n mooi bont koei nie; en ook nie 'n piesang nie.

  • Hans Richardt

    Sê 'n slim antie nou die dag op Orania draadloos, sy glo nie in ewolusie nie... Die metamorfose van mens van baba, suigeling tot bejaarde is ook ewolusie! As sy ooit verwag het, sou sy op skanderings gesien het dat die fetus, wat soos paddavis aanvanklik lyk, in klein mensie verander.

  • Angus
    Nee, die mooi bont koei en kalf was eerste daar. Toe volg die mens. Sonder hulle sou die mens nie kon bestaan.

  • Raed-na-Gael
    As 'n mens raai op wat jy dink dit moet wees, span jy gewoonlik die kar voor die perde in, soos jy met die bont koei en kalf wat eerste daar was. Volgens wetenskaplikes, wat nie geraai het nie, maar deeglik navorsing gedoen het, het die mens sowat 8000 jaar gelede begin met die domestisering van die wilde oeros. Deur teling het verskeie beesrasse hieruit ontstaan. Vgl. ook Darwin se Origin of Species.

  • Tiens Pretorius

    Net soos die mens, het die koei ook 'n oer-voorganger gehad. Met die mens se koms en vordering het hy begin om met die koei te teel, totdat hy lyk soos hy vandag daar uitsien.

  • Hans Richardt

    Angus, duidelik weet die mense nie dat sg. moderne miniperde nader aan die ware oerperd is nie, as wat die reuse moderne perde is. Nou ja, Tiens glo nie aan ewolusie nie. Selfs nie van die mens nie.

  • Angus,
    Jy't die kar voor die perde, soos gewoonlik.
    Die mooi bont koei en kalf is die nasate van die Auroch (?), 'n beesagtige dier waarvan die fossiel 2 miljoen jaar terug dateer. Hoe sê Darwin, waar staan die mens se 'evolusie' op daardie tydstip?
    Tiens is reg. Jou 8000 jaar klink reg vir die makmaak van die Auroch, alhoewel ek dink dis verder terug. Toe was die mens al die homo sapiens-sapiens wat die vleis geëet en die melkies gesuip het.

  • Raed-na-Gael,
    Die Auroch waarvan jy tik, is in Afrikaans 'n oeros. Die mens het hierdie wildedier makgemaak en daaruit het die verskillende beesrasse ontstaan. My perde loop nog mooi voor die kar. Gaan bestudeer maar Darwin se Origin of Species. Hy het daar 'n hele hoofstuk oor die domestisering van diere.

  • Tiens Pretorius

    Ek glo die skepping in Genesis is deur onkundige leiers geskryf om aan hul volgelinge iets te gee om te glo. Ek neem ook nie die hele Bybel letterlik op nie.

  • Hans Richardt

    Middag, Tiens. Ek dink Covid gaan ewolusie aanbring onder mense, siende dat ons reeds die mooi bontkoei-medisyne gebruik ...

  • Angus,
    Soos Zondo vir daardie ander Z gevra het "now what are you saying"? en diè toe skaapagtig en buite konteks antwoord "I can be nasty".
    Lankal, jare gelede al, vermoed dat jy eintlik 'n duiwelsadvokaat is.

    As jou kar mooi voor die perde klopdisselboom, dan "reverse" jy.

  • Raed-na-Gael,
    Ja, ek geniet dit nogal as iemand spartel en probeer om uit skaakmat te kom. Slegte karaktertrek van my.

  • Angus,
    Jy kan nie uit skaakmat kom nie, wel uit skaak. Ek sien jy praat van oeros hierbo.
    Hoe pas Darwin se storie in by 'n os?

  • Hans Richardt

    Angus, ja daardie ossie uit die kraal. Hy gaan sukkel om ewolusie te doen. Sy knolle was seker karoo-oesters gemaak op 'n fynproewer se bord?

  • Raed-na-Gael,
    Dis maklik om uit skaak te kom, daar is geen gespartel nie. Skaakmat is 'n ander saak, dan is dit Ikabod met jou.
    Darwin se hoofstuk in The Origin of Species sal hoofsaaklik vir veeboere van belang wees oor die teling van die beesras. Hy het niks geweet van Genetika nie. Dis seker maar in die laaste ses of sewe jaar dat baie te wete gekom het van die domestisering van die oeros d.m.v. genetiese studies.

    En dis nie sommer net 'n os nie, dis 'n oeros. Om die ding mak te maak, was sekerlik nie 'n maklike taak nie, want hulle het vir beskerming in troppe gewei, en het gevaarlike horings gehad. Die oeros is natuurlik uitgestorwe.
    https://en.wikipedia.org/wiki/Wild_ox

  • Hans Richardt

    Klink vir my Darwin se oë-probleem het hom nie ghoens laat sien nie, of hy was 'n lid van Woke se Pepuda-wetgewing.
    Of dis 'n taalgebruikprobleem, maar logika dikteer dat 'n os geen nageslag sou nalaat nie.
    Dalk net 'n wetenskaplike benamingoorsig in vertaling na Afrikaans uit Engels...
    Die mooi bont koei se kalf het dalk uit 'n strooitjie KI-bevrugting gevolg?

  • Raed-na-Gael, Ek sal nie kla as dit 'n oerbees genoem word nie. HAT het dit nog altyd as oeros aangeteken, en dit seker met die nuwe druk verander. Ek dink ook oerbees is 'n beter benaming, dan sal Hans maar vir hom 'n ander delikatesse moet gaan soek. Darwin het nie die oerbees geken of bestudeer nie; die genetika het die herkoms van die beesrasse daaarnatoe gelei.
    Kyk hier: https://nl.wikipedia.org/wiki/Oeros

  • Barend van der Merwe

    Watter god is hier ter sprake? Die mensdom het duisende gode gekonseptualiseer. Trouens mens kan se dis 'n gawe wat die mens oor beskik, naamlik om gode te konkoteer, en dit maak dit moeilik om te onderskei wanneer elkeen links en regs die woord 'god' rondstrooi, want daar is so baie van die hemelse wesens daar buite.

  • Tiens Pretorius

    In die Heelal is daar net een almagtige God! Al die mensgemaakte gode is niks werd nie en moet buite rekening gelaat word.

  • Barend, jy kan maar opnoem, en dit het 'n god. Natuurlik sal bontkoeie ook 'n god hê, hoe anders sal hulle dan kan melk gee? Ek wonder altyd hoeveel gode rugby het, want vir sekeres moet jy kniel, terwyl ander weer verkies dat jy vir hulle 'n kruis moet slaan.

  • Intelligensie is soos gode (Gode) menslike konstrukte. 'n Poging om iets ordelik en konkreet te skep in 'n fisiese heelal van wanorde. Intelligensie is 'by default' die resultaat van entropie van energie. Alle intelligensie in die heelal het waarskynlik redelik tegelyk begin en is waarskynlik op dieselfde vlak op verskillende plekke in die heelal, maar dalk in verskillende vorme. Dis moeilik om te dink dat een goddelike intelligente wese soveel energie sou skep met toenemende vlakke van entropie oor miljoene jare as hy/sy intelligensie en orde vinnig kon skep. Waarom sou hy/sy alles so uitrek oor miljoene jare? Die vraag is, waar kom die energie vandaan wat in intelligensie omskep het? En die antwoord word natuurlik beperk deur intelligensie. Mens moet wegbeweeg van die idee van skepping van energie/ kosmos en begin wonder of dit nie dalk nog altyd daar was nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top