’n Ma se soen

  • 3

Ons is almal besig met ander dinge. In my geval die absurde, goor korrespondensie rondom werksgeleenthede oorsee. Die besef dat ek ’n slagoffer is van ageism. Ek is so in tune met slagoffers dis net nie waar nie.

Dis hoekom ek vandag myself in die skoene wil plaas van John Irving. Die Amerikaanse skrywer. Hy is nie hier om sy bakleie self te baklei nie. Moenie ’n fout maak nie, mense – en by uitstek resensente – het rede om met hom te skoor.

Hoekom anders sou hy plegtig belowe het dat The last chairlift sy heel laaste lang roman sal wees? Hy weet mense se geduld raak op met hom en sy pogings om die bildungsroman op te dollie. Regtig, genoeg is absofreckinluut genoeg.

En tog … ’n roman is soos ’n wolkekrabber, eerder as soos ’n huis. Die groter estetika, sien. En die hysers moet werk, van onder na bo en van bo na onder. Jy sal die konstruksie ook nie ken as jy nie by elke verdieping gaan inloer het nie.

Sonja van der Westhuizen, wat die boek vir Boeke24 bespreek het, het ’n bietjie haar geduld verloor met ’n klompie van die oulike dinge in die roman. Sy beskryf die rising damp in die kelder saam met die slordige bouwerk op ’n paar plekke boontoe. Sy skets die tradisie waaruit die werk kom en vertel vir ons hoekom soveel mense deur die jare hierdie argitek leer liefkry het vir sy ongewone swier.

Maar vaderland ons, sal John Irving uitroep en sy oë ten hemele kaats, wat van die humor? Hy weet mos almal gaan skryf oor die invloed van Melville, Dickens, Hardy, Hawthorne, John Updike, Kurt Vonnegut en Graham Greene in sy skeppings. Daarom dat hy die verwysing na Ludwig Bemelmans inglip – nogal met uitvoerige redes. Want Bemelmans is ’n illustreerder van kinderboeke, en veral bekend vir sy Madeleine-reeks. Soort van next level, afwaarts.

Nogtans swanger met betekenis en toespelings.

Maar dis nie Van der Westhuizen se ergste verswyging nie.

Die beton van hierdie roman se fondamente is ’n insident waarin Little Ray ’n  intieme, sensuele soen vir haar 13-jarige seun Adam gee waar sy hom op sy bed in die donkerte neerpen en bo-op hom gaan lê.

Wat gebeur met ’n mens as jou ma die een was wat jou touwys gemaak het? wil Irving weet. Bloedskande is bloedskande, al was daar slegs tongpenetrasie. “Think of your first good kiss,” sê Adam in die begin van hoofstuk 15. Daar is al meer as net boeke gebou rondom daardie vraag. “As we grow older, we learn how memories work,” sê hy naby die slot. En: “You are never over your childhood, not until you are under the train.”

Die insident en die belang daarvan vir die enorme herinneringstog van Adam in The last chairlift het aan Sonja van der Westhuizen verbygegaan. Sou dit nie wonderlik gewees het as ’n Afrikaanse resensent die integriteit van die insident onder die vergrootglas geplaas het nie?

Dis goed dat Boeke24 saam praat in die gesprek oor die groot kanonne, maar liefs nie op hierdie manier nie.

  • 3

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Dit herinner aan Saul Bellow se Herzog (1964) waar Moses Herzog onthou hoe hy as jong kind verkrag is.
    Subtiel, maar uiters belangrik.
    Irving se romans bevat dikwels sulke subtiele vinjette wat die karakter se aard bepaal. Ook in The world accoring to Garp (1978) word die verhaal voortgedryf deur 'n subtiele terughou van informasie.

  • Ouer susters is ook leermeesters van tongvervlegting en dit eerder as 'n aksie gebruik om kleinboet op sy plek te sit. My herlewing/belewing daarvan is allesbehalwe eroties.

  • Sonja van der Westhuizen

    Beste Crito

    Dankie vir jou kommentaar. Ek voel amper half geeërd om vir die eerste keer na jare se resenseer so by name genoem te word, al is dit dan nou ook bytende kritiek. (Seker maar omdat dit nie misdaadfksie is nie, né?)

    Natuurlik interpreteer elke leser en inderdaad, elke resensent, 'n boek op sy eie manier en is ons elkeen geregtig op ons opinie en hoe ons dit weergee. Dus respekteer ek ook joune.

    My enigste kommentaar is die volgende: Bloot omdat ek nie die insident duidelik aangehaal het nie (of soos jy sê "verswyg" het), beteken dit hoegenaamd nie dat dit my "verbygegaan" het nie. Irving se boek lê vlak onder 900 bladsye en dis 'n bykans onbegonne taak om 'n deursnee-dikte roman in 'n 450-woord kolom te resenseer, wat nog te sê 'n intimiderende magnum opus van 'n fenomenale skrywer.

    Tog, ten spyte van die belangrikheid van Adam se sy ma se verhouding, sy humor en onbetwyfelbare skerp brein dink, ek steeds dit kon net soveel beter gewees met 'n strenger redigeringshand. (Glo dit of jy wil, ek het van 80% van die boek gehou!)

    Maar nou ja, so verskil ons. Mag daar nog vele verskille wees in die toekoms, liewe Crito. Tot dan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top