'n Lyntekening, ja, maar is hy straight?
2005

  • 0

Aubrey Beardsley has a beautiful line, but he does
not know where to stop it.
(Toegeskryf aan Oscar Wilde)

Lyntekening deur Johannes Meintjes*

Dit is dalk bloot toevallig, maar van die bekendste lyntekeninge van die twintigste eeu is van gay kunstenaars wat heel dikwels die manlike naakt geteken het, soos Cocteau, Andy Warhol en David Hockney. Hierby kan gevoeg word die graffiti-kunstenaar van New York, Keith Haring, alhoewel Haring miskien effens buite die prentjie val. Dis eintlik eersgenoemde drie kunstenaars wat bewustelik homoërotiese kuns geskep het, en van die drie is Cocteau waarskynlik die gedurfste.

Eers lank ná Cocteau se dood het die belangstelling in sy erotiese kuns "wettig" geword, en het een bundel erotiese kuns na die ander die lig gesien. Klandestiene uitgawes was wel vroeër beskikbaar, soos die Olympia Press se uitgawe van Le livre blanc (The White Paper). Selfs in die jare sestig is dié uitgawe nog in systraatjies verkoop, soos in Brussel, waar ek my kopie gekry het.

Cocteau se "illustrasies" vir Querelle de Brest van Genet bevat van sy beste lyntekeninge; die allerbeste waarskynlik 'n sodomiseringstoneel wat dikwels afgedruk word. Hier kry jy 'n deurlopende lyn, alles in een ritmiese golf gegee. Dié uitgawe het 'n versamelitem geword, en is helaas onbetaalbaar duur. 'n Mens wonder hoekom die Folio Society dit nie oorweeg om dié gesogte uitgawe van Querelle de Brest opnuut uit te gee nie, in growwe matroosblou linne gebind, en in 'n kasset verpak. Cocteau se Les enfants terribles is wel deur die Folio Society uitgegee, met 'n stel redelik onskadelike lyntekeninge van Cocteau.

Picasso, self 'n lyntekenaar van faam, het groot waardering vir Cocteau se tekeninge gehad, en het Cocteau afgeraai om enige kunsklasse te loop. Cocteau se skryf- en tekenwerk het ten nouste saamgehang, en as hy moeg was vir die een, het hy ontspanning gaan soek by die ander.

Sy boek Dessins, wat net uit tekeninge bestaan, is in 1923 uitgegee, en is in 1972 heruitgegee deur Dover Publications. Dessins/Drawings is aan Picasso opgedra, met 'n spitsvondige tekening van Picasso deur Cocteau, waaronder dié woorde staan:

Poets don't draw. They untie handwriting and then knot it up again in a different way.
That's why I take the liberty of dedicating to you a few downstrokes made on blotters, tablecloths and backs of envelopes. Without your advice I would never have dared to assemble them.

(Sien Jean Cocteau: Drawings)

Dessins van 1923 het geen openlike naaktstudies nie, maar homoseksualiteit is wel aanwesig in gedempte vorm. Daar is byvoorbeeld die The Den of Iniquity-reeks, waar lesbiese en homopare in klubs dans, dieselfde soort klubs wat in die dertigerjare van die vorige eeu verewig sou word deur die Paryse fotograaf Brassaï. En verder bevat Dessins "portrette" van selebriteite van die dag, soos Stravinsky en Picasso, en die Russiese ballet-impressario Daighilev, saam met sy beskermling en minnaar, Nijinsky. Bowenal is daar tekeninge van Raymond Radiquet, die groot liefde in Cocteau se lewe, 'n Wunderkind-skrywer wat die literêre wêreld verryk het met twee klassieke romans, Le diable au corps en Le Bal du Comte d'Orgel.

Radiquet is op twintig oorlede aan ingewandskoors. Cocteau was ontroosbaar en het aan opium verslaaf geraak. Die boek Opium vertel van dié fase in sy lewe. Sy lyntekeninge het vreemd geword, met liggame wat uit silinders bestaan en oë wat uit hul kasse spring.

Cocteau se tekeninge van kokke, soldate en ander jongelinge met oordrewe lulle, meesal in erekte staat, stel Tom of Finland in die vooruitsig. Dié tekeninge is in onder andere Jean Cocteau, Erotic Drawings van die uitgewer Peter Owens opgeneem.

Ook David Hockney, soos Cocteau voor hom, is 'n literêre lyntekenaar met 'n belangstelling in die teater. Sy roem is byvoorbeeld gevestig deur sy illustrasies vir The Rake's Progress en geselekteerde gedigte van Kafavis. Ook het Hockney die Kaliforniese swembadtoneel en -leefwyse in skilderye en tekeninge vasgelê. Een skildery is besonder bekend, dié van 'n man wat onder die watervlak dryf en 'n ander wat ten volle geklee op die rand van die swembad staan en raaiselagtig op hom afkyk. "'n Liggaam of 'n lyk?" skyn hy te wonder; en dis wat die algemene publiek ook wonder. Hierdie skildery het deurgedring tot Afrikaans, in 'n vers van Johan van Wyk: "Portrait of an artist, pool with two figures", opgeneem in Heldedade kom nie dikwels voor nie.

Vir my was die tekeninge van Andy Warhol 'n ontdekking - 'n ontdekking wat eers in 2004 kon plaasvind, met die verskyning van Men: Andy Warhol, geestig ingelei deur die akteur, TV-persoonlikheid en skrywer Alan Cumming. Warhol het sy lyntekeninge van kaal mans en "studies" van die penis as privaatdomein beskou, en net ingewydes het daarvan geweet. Saam met Alan Cumming kan ek sê:

I knew Andy was a genius of that curious and now much-copied fusion of art, culture, celebrity, and kitsch - but … I hadn't ever realised he was so good at drawing.

En dit is wat my finaal tot Andy Warhol bekeer het, sy onteenseglike tekentalent; voortreflike lyntekeninge wat, soos die lyntekeninge van Cocteau en Hockney, hoogs individuele "handskrifte" is.

Maar beide Cocteau en Warhol het waarmerke wat hul identiteit verder bevestig. Cocteau se embleem is 'n ster, geteken soos 'n Dawidster; Warhol s'n is die hartvorm, dikwels rooi ingekleur. 'n Warhol-jongeling hou 'n vinger in die lug, met 'n hart wat vlinderlig op sy vingerpunt kom land het; 'n ander jongeling maak sy hand oop, en uit sy palm ontsnap, soos 'n bondel konfetti, rooi hartjies; en penisse - dalk kerse? - is keurig versier met pienk en rooi harte. ("Pienk-en-rooi," het 'n ontwerpkunstenares my eendag toevertrou, "is 'n verwoestende kombinasie, maar moet spaarsaam gebruik word." Andy Warhol was, by al sy gawes, ook 'n ontwerpkunstenaar.)

Psigologies gesproke is die voëlkop die vanselfsprekende landingsterrein vir Warhol se rooi vlinderhartjies. Wil Warhol dalk met kinderlike eerlikheid bevestig dat seks liefde nie uitsluit nie?

Cocteau trek dieselfde gedagte deur in sy vertelling The White Paper (Le livre blanc) wat hy omskryf het as poésie outobiographique. (Want Cocteau het geglo - en gedemonstreer in skryf-, teken- en filmwerk - dat álle kuns poësie is.)

Cocteau neem 'n jong matroos na 'n losieshuiskamer en besef dat sy vriend-vir-een-nag weerloos is: hy is so pas uit die vloottronk ontslaan. Hy hang 'n hangertjie om die matroos se nek, maar hy leen dit net vir één nag, waarsku hy; en die matroos weet, met sy vel eerder as met sy verstand, dat hy veilig is by Cocteau. Op die matroos se borskas is daar die volgende getatoeëer: Pas de chance (in Engels word dié frase meesal vertaal as Lousy Luck). Cocteau haal sy vulpen te voorskyn en "kanselleer" dié noodlottige woorde, en teken onder die tatoeëermerk 'n ster en 'n hart. Vir een tydelose oomblik raak die wêrelde van Cocteau en die toekomstige Andy Warhol verenig.

Daar is trouens meer raakpunte tussen Cocteau en Warhol as byvoorbeeld tussen Cocteau en David Hockney; maar laat eers gekyk word na die ooreenkomste tussen die "triumviraat" Cocteau-Warhol-Hockney.

Al drie tekenaars vier in lyntekening na lyntekening die manlike liggaam, byna altyd dié van die "ewige" jongeling. Dis of hul potlood, pen, buryn vanself die lyn van 'n profiel, 'n jong nek, 'n rugwelwing en boude vind.

Die boude, ja, daardie dikwels ondergewaardeerde deel van die manlike anatomie. In sy inleiding tot Men: Andy Warhol raak Alan Cummings ekstaties oor Warhol se weergawes van mansboude:

And Andy Warhol could do brilliant bums. Whether it was his longing for them, or indeed the sheer volume that presumably passed so close to his dark-glassed eyes that makes his reproduction of them so evocative, I know not. All I know is that they float my boat.

My ma het eendag vir my gesê ek moet oplet, 'n man het harde boude, soos 'n volstruis; 'n vrou, selfs "'n meisietjie" - Ma se woorde - het van jongs af verandatjies onder haar boude. En 'n Franse impressionis - was dit dalk Degas? - het "appelboude" van sy vroulike modelle geëis; "pear-shaped bottoms" was uit.

Boude kry wel aandag by Cocteau, veral in penetrasietonele, en by Hockney is daar jong mans op beddens, dikwels met rooigebrande boude na bo, want Hockney is verdold op kleurpotlode. Maar Warhol bly die onbetwiste meester van die boud-kultuur.

Die profiel- en driekwartprofiel-lyntekeninge van Cocteau en Warhol is eerlikwaar interessanter as dié van David Hockney, en hiervoor is daar 'n rede: beide het prototipes vir hul profiele gehad, eerder as werklike modelle. Hockney, hierteenoor, noem sy modelle by die naam.

Cocteau se "bloudruk" was die onweerstaanbare boelie Dargelos van sy skooljare. Dargelos sou eers in 1925 by die naam genoem word in Cocteau se novelle Les Enfants terribles, maar in sy gees het Cocteau hom lank vantevore begin abstraheer en mitologiseer, tot die Cocteau-argetipe spontaan uit sy pen gevloei het: die nukkerige kop met sensuele lippe wat lyk of hulle reg onder die neus begin; die sateroë, onwaarskynlik ver uit mekaar geplant, presies halfpad tussen neusbrug en oor; die oor self 'n skulp, 'n vrug, 'n halfmaan, net soos Cocteau se pen gebied.

By seker 90 persent van die lyntekeninge in Men: Andy Warhol staan "unidentified male", wat my vermoede versterk dat Warhol óók 'n matrys gehad het, en wel in die persoon van die ikoon van sy films, Joe Dallesandro: telkens dieselfde sluik hare, dieselfde "Latyns-Amerikaanse" profiel. Hoe dan ook, 'n hipergestileerde profiel.

Cocteau, Warhol en David Hockney is dubbele kykers. Hulle kyk met eie oë en hulle kyk deur die lense van kameras en rolprentkameras. Cocteau het poëtiese films gemaak soos Sang d'un Poète, La belle et la Bête en ander, wat die beeldskat van poëtiese films beïnvloed en selfs bepaal het. Warhol het ook films gemaak, dikwels lomp en amateuragtig, maar eweseer baanbrekend binne die kader underground films. En Hockney die fotograaf word tans net so ernstig bejeën as Hockney die skilder/tekenaar.

Die "slapende skone", so gewild in gayfotografieboeke, kom ook by Cocteau, Warhol en David Hockney voor. Maar slaap Warhol en Hockney se modelle inderdaad? Warhol sê byvoorbeeld: "People should fall in love with their eyes closed", en straks is sy toe-oog-modelle net verlief, en nie aan die slaap nie. In Men: Andy Warhol is daar net een werk wat "Sleep" heet, en dis 'n sifdruk op bord, met behulp van 'n foto.

David Hockney het 'n guitige prentreeks gemaak wat 'n welkome variasie op die "mistieke" tema slaap is. Dit heet "Waking up", en illustreer in stadia hoe Hockney - ja, duidelik 'n selfportret - met sy slapende bedgenoot begin lol, tot dié vervaard wakker skrik en eers nukkerig op Hockney se attensies reageer, maar eindelik oorgaan tot die sekshandeling. ('n Stywe lat kan, volgens 'n ou Boere-idioom, nie redeneer nie.)

Maar terug na die klassieke slapende, dit wil sê iemand wat werklik slaap en werklik droom, en hier is Cocteau se studies van sy slapende geliefdes, soos Raymond Radiguet en Desbordes, in 'n kategorie van hul eie.

Daar is natuurlik 'n "misdadige" element betrokke by die afloer van 'n slapende. Probeer 'n slag om 'n slapende wakker te kyk, en dikwels sal die slapende letterlik wakker skrik en woedend wees oor wat van hom afgeneem is: iets van sy psige, iets van sy drome, dinge wat vir hom uiters privaat is, en waaroor net hý durf beskik.

Maar as daar teer na die geliefde gekyk word, en dié koesterende kyk poësie word, hetsy as tekening of as 'n werklike gedig, kan voyeurskap artistiek geregverdig word, soos byvoorbeeld in die volgende liefdesvers van Stephan Bouwer:

jy slaap nou
eenkant en privaat
jou mooi kop 'n kluis vol geheime

my vinger volg die loodlyn van jou rug
die roete tussen blad en boud
jou vel tril soos 'n kat s'n

jy strek jou en onthul 'n oomblik lank
die bolwerk van skouers en borskruis
jy spin onderlangs

jy slaap
eenkant en privaat
jou mooi kop 'n kluis vol geheime

ek wag op 'n neutrale oomblik
om jou só in my hart te bêre
maar angs beklem my

ek plaas my kop versigtig op die kussing neer
om - voor die aantog van die deurnagblues -
my asemhaling met joue te sinchroniseer

(Uit: Portrette, private dele & kanttekeninge)

Van "private dele" gepraat, à la Stephan Bouwer: nóg Cocteau, nóg Hockney het teruggeskram daarvan om die penis te teken, hetsy ontspanne of regop, maar altyd geheg aan 'n liggaam, 'n persoon.

Warhol, hierteenoor, het talle studies van die penis op sigself gemaak, met telkens nuwe "oplossings" vir die stilering van balhare.

Dis lyk my poëties van pas om my bespreking van die erotiese lyntekeninge van Cocteau, Warhol en Hockney af te sluit met 'n aanhaling uit The White Paper van Cocteau:

Pas de chance! Was it possible? With that mouth, those teeth, those eyes, that belly, those shoulders, those iron muscles, those legs? Pas de chance, with that fabulous little underwater plant, lying dead and crumpled on the moss, which unfolded, grew bigger, reared up, and threw its seed far away as soon as it found the element of love.

Aan die begin van my stuk het ek Cocteau, Warhol en Hockney van die bekendste lyntekenaars van die twintigste eeu genoem, wat geensins impliseer dat hulle van die bestes is nie. Wanneer my driemanskap met die grootmeesters van die lyntekening vergelyk word, soos Matisse, Picasso, Modigliani en die Switser Hans Erni, speel hulle in die tweede liga. Maar wat hulle oortuigend demonstreer, is hoe potent die lyntekening is in die verkenning van erotiese sones.

Waarin lê die sensuele krag van die lyntekening? In sy eerlikheid, in sy regstreeksheid. Toe George Gross gevoel het dat sy lyn "oneerlik" raak, gestrem deur te veel skilderkunstige bagasie, het hy graffiti (tekeninge) in toilette begin kopieer.

Die lyntekening bring hulde aan sy oerbegin - aan gravures ingekras op rotse, aan lynvoorstellings in tombes, aan "obsene" tekeninge op sementmure in duikweë. Dit kies die kortpad van oog na verbeelding; van oog na emosie; van oog na lendene. Wat teken is, het betekenis; en só ook tekeninge.

Alle tekeninge is abstrak, in die oorspronklike sin van die woord, maar veral die lyntekening. Die kunstenaar abstraheer uit al sy kennis van 'n landskap of die liggaam van 'n mens die essensiële lyn. Die lyn wat die gedagte aan 'n landskap of 'n liggaam stel. En daarom is lyn, al rui dit op en al stig dit emosie, in werklikheid 'n intellektuele prestasie.

En ook 'n weerspreking - dit beweeg wég van die intellek af, terug tot in die matesis van verbeelding.

 

Enkele bronne

Andy Warhol: Men. 2004. San Francisco: Chronicle books.

Cocteau, Jean, Drawings. 1972. New York: Dover Publications.

Cocteau, Jean, Erotic Drawings. 1991. Londen: Peter Owen.

De Louville, Francois and Edward Lucie-Smith, The Male Nude: a modern view. 1985. Oxford: Phaidon Press Limited.

Emboden, William A., The Visual Art of Jean Cocteau. 1989. New York: Harry N. Abrams, for The International Archive of Art.

* ERKENNING: Die lyntekening deur Johannes Meintjes verskyn met die goedgunstige verlof van die eienaar, Philip de Vos, wat ook die foto geneem het.

Eerste publikasie op LitNet: 28 Junie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top