’n Lewenslange affaire met woorde

  • 10

..........

Om twee maal in ’n leeftyd met Madiba blad te skud moes stellig ’n hoogtepunt in enige joernalis se loopbaan gewees het. Maar om in daardie selfde leeftyd ook prinses Grace van Monaco se sagte, warm hand in joune te geneem het en boonop ook nog deur Haar Majesteit die Koninginmoeder gevaarlik naby vir ’n foto toegegimlag te word, grens aan die magiese.

............

Teks en foto’s deur Jan Badenhorst

Om twee maal in ’n leeftyd met Madiba blad te skud moes stellig ’n hoogtepunt in enige joernalis se loopbaan gewees het. Maar om in daardie selfde leeftyd ook prinses Grace van Monaco se sagte, warm hand in joune te geneem het en boonop ook nog deur Haar Majesteit die Koninginmoeder gevaarlik naby vir ’n foto toegegimlag te word, grens aan die magiese.

Om dan verder te kan bely dat jy jou in meer as 68 jaar se intieme omgang met woorde ook met Winnie Mandela gedans het, klink na ’n benewelde droom. Dit was darem egter in haar jonger dae, toe sy nog die aanvallige, spontane en lewenslustige jong sosiale werker was, voordat haar lewe in die apartheidsjare deur vuurhoutjies en stompies in ’n brandende hel omskep is.

Om in daardie jare boonop ook nog die hoofrol in Mirage, die wenfilm by Belfort se Filmfees in Frankryk, te vertolk het, begin nou regtig na ’n sprokie op steroïdes klink!

Hierdie is egter maar enkele uitskieters in ’n avontuurlike, veelbewoë loopbaan as woordsmid, waartydens my skryfsels en foto’s in waarskynlik ’n rekord meer as 140 publikasies regoor die wêreld verskyn het – van Europa tot in Skandinawië, Australië, Noord-Amerika en Suid-Afrika, en selfs so ver as Ysland en Turkye.

Die 12-jarige Joey Verwey het vas geglo dat sy verskeie vorige lewens gehad het, onder andere dié van ’n slavin in Egipte, en dat sy 80 jaar tevore by president Paul Kruger in sy huis in President Krugerstraat in Pretoria gekuier het. Hierdie Sunday Times-storie van 1967 is later deur die New Yorkse poniekoerant The National Enquirer vir $100 oorgekoop. (Sunday Times, 25 Junie 1967)

Totdat ek onlangs op die ouderdom van 83 jaar ook in die kuberruimte ingevaar het, toe my Afrikaanse vertaling van een van die Vlaamse skrywer Marijke Coornaert se kortverhale op 14 Augustus die digitale bladsye van Vrye Weekblad gehaal het.

Dit was aanvanklik op aandrang van Ton Vosloo, afgetrede voorsitter van Nasionale Pers, dat ek tussen my paperasse gaan snuffel het om ’n leeftyd se intieme omgang met woorde te probeer verwoord. Daarom moes ek ook ’n kardinale joernalistieke reël oortree – om ’n storie slegs in die derde persoon, en nooit in die persoonlike, ek-persoon nie, te pleeg.

..........

Dit was aanvanklik op aandrang van Ton Vosloo, afgetrede voorsitter van Nasionale Pers, dat ek tussen my paperasse gaan snuffel het om ’n leeftyd se intieme omgang met woorde te probeer verwoord. Daarom moes ek ook ’n kardinale joernalistieke reël oortree – om ’n storie slegs in die derde persoon, en nooit in die persoonlike, ek-persoon nie, te pleeg.

............

Alhoewel ek reeds op ouderdom 14 die tweede prys in ’n nasionale opstelwedstryd van die Outspan, ’n gesinstydskrif van salige gedagtenis, losgeskryf het, is my eerste aanslag op skrywersroem alreeds op die tenger ouderdom van 10 deur ’n skerpsinnige onderwyser tydens die studie-uur in die skoolkoshuis op Colesberg gekonfiskeer. Hierdie pennevrug het bestaan uit ’n skooloefeningboek reeds halfvol struikrowers, boewe, bloed en derms, meesal geskoei op my pa se rak vol slapband Zane Grey-cowboyboeke. ’n Moontlike blitsverkoper het toe dus heel oneervol en gans te vroeg gesneuwel.        

Mnr Timotheus Slabbert, ons laerskoolonderwyser, se boekrak van hoek tot kant vol Rooijanne en Tarzan (die Aapman) was ’n verdere bron wat my verbeelding ryklik bemes het.

Hierdie fassinasie met woorde sou die res van my lewe duur – ’n woordjie in Fins hier, ’n groetnis in Bangladesji daar, dagsê in Arabies of Kantonnees, en volsinne in verskeie Europese tale, kon ek soos ’n spons opslurp en daarna ook weer soos ’n wafferse papegaai napraat. Ook kon ek enige schlemiel goed in Jiddisj slegsê, en boonop ook nogal ’n lekker mondvol in Grieks, Italiaans of selfs in Xhosa swets. En agtergekom dat indien die Hebreër jou op sy eufemistiese Ou-Testamentiese trant “daardie ander ding” noem, hy eintlik wil sê “jou vark”.

Aan die begin was die woord …. en die woord het vlees geword …

Dis egter eers jare later dat ek as buitemuurse student aan die Universiteit van Kaapstad die eerste keer met hogerer letterkunde dan Zane Grey se galopperende prêriesages of Edgar Rice Burroughs se oerwoudversinsels sou kennis maak, en waar mentors soos Andrew Murray, Jimmy Greaves, Marcus Arkin en Luccio Labia my ook die grondbeginsels van politieke filosofie en die ekonomie sou leer.

Hier loop ek ook die latere omstrede “doktor” Pallo Jordan raak. Alhoewel dit later tot sy uiterste verleentheid geblyk het dat hy nooit enige akademiese kwalifikasies verwerf het nie, kan ek vandag daarvoor instaan dat hierdie “doktor” wel – alhoewel slegs met tussenposes – in 1960 by Ikeys klas gedraf het. En dat sy eie pa, die waardige Archibald Jordan, ons professor in Xhosa, hom dan ook gereeld sommer voor die hele klas uitgetrap het omdat hy meer in buitemuurse ANC Jeug-aktiwiteite belang gestel het as in om klasse by te woon.

My toetrede tot die koerantwêreld ontplof egter met ’n knal toe die eerste aflewering van my ondervindinge as ’n verkleurde en vermomde “play Coloured” na drie weke se rondsluipery in die berugte Distrik Ses die nuusstalletjies op die Kaapse Parade soos ’n bom tref. En wel eksklusief op die voorblad van Golden City Post se uitgawe van 12 Februarie 1961. En wéér die volgende Vrydag, en nogeens die Vrydag daarop, het my eerste “scoop” die land behoorlik aan die gons gehad. Onthou, ons bevind ons hier in die hoogkonjuktuur van die apartheidsjare, toe sulke manewales in daardie paranoïese dae net nie gedoen – of gedoog – was nie.

Veral nie omdat ek toe alreeds ’n offisier in die Suid-Afrikaanse Lugmag was nadat ek in 1956 my vleuels by die Sentrale Vliegskool op Dunnottar verwerf het en die volgende jaar ’n aanpassingskursus op T11- en Mk52 Vampire-stralers by die Lugoperasieskool op Langebaanweg voltooi het nie. (Dis terloops ook hier dat ek en my mede-offisiere die Russiese Sputnik I, die heel eerste ruimtetuig, op die aand van Oktober 4 1957 uit die menasie se vensters aangegaap het – só is dit in my vlieglogboek opgeteken.)

Hierdie militêre agtergrond sou ook later lei tot werwing deur ene Stuart Finley-Bisset as vegter-vlieënier in Moïse Tshombe se wegbreek-Katangaprovinsie (die einste Finley-Bisset wat destyds kolonel “Mad Mike” Hoare se werwing vir sy privaat leër huursoldate behartig het). Reine malligheid, natuurlik, en bloot ’n geval van borrelende adrenalien, ’n kraantjie wat baie gou toegedraai is deur Eldred Green, hoof van die Argus-kadetskool, waar ek reeds aangemeld het. Want hy was van mening dat ek ’n beter toekoms as joernalis had as om voortydig êrens in Donker Afrika se woude deur Patrice Lumumba se lugafweer neergeskiet te word.

Dis ook tydens daardie Distrik Ses-eskapades wat ek gedurende ’n universiteitsvakansie op eie inisiatief onderneem het dat ek die eerste keer met die jong Hans Franzen kennis gemaak het. Alhoewel hy later jare in akademiese kringe as doktor Hans Franzen, kunsfundi en erkende gesaghebbende op die gebied van Kaaps-Hollandse argitektuur, heelwat lof sou verwerf, was hy daardie Desember van 1960 nog ’n verbitterde jong man wat toe pas by Die Burger as lettersetter afgedank is – omrede hy dan kwansuis saam met bruin mense sou gaan tennis speel het. En dit nogal op ’n Sondag!

Dus was dit vir die Liberale Party taamlik maklik om hom te oorreed om een oggend die heiligdom van die Bird Cage, daardie deftige teekamer op Stuttafords se eerste verdieping in Adderleystraat, saam met ’n groep erg benoude swart, bruin en Indiër-vroue binne te dring met die bedoeling om daardie “Whites only”-teekamer se stoele en tafeltjies te gaan ontheilig. Onthou, ons bevind ons hier midde die Verwoerd-era, toe dit vir anderskleuriges nog ’n doodsonde was om oor die apartheidstou te trap, en toe geeneen van hierdie groepie ooit selfs daarvan sou gedroom het om op eie houtjie ’n dergelike verbode blanke sanktum te skend nie.

As vermomde bruinman was ek egter vanselfsprekend deel van hierdie groep beswaardes. Gek soos dit vandag mag klink, het ons reikhalsend daarna uitgesien om gearresteer te word en om só die volgende dag op die voorblaaie van die Kaapse oggendkoerante ons verset teen die apartheidswette met luide trompetgeskal uitgebasuin te sien.

Maar in stede van die polisie te bel, gee die koelkop jong bestuurdertjie die (jou wragtie bruin) kelnerinne ewe koeltjies die opdrag: “Serve them.”

Pleks van triomfantelik, is ons toe ná ’n senuagtige koppie tee druipstert weer die trappe af. Maar intussen het Frank Barton darem daarin kon slaag om daardie eerste geskiedkundige sit-in met sy Leica vas te vang – met beide my en Hans Franzen se foto’s later lewensgroot in die blaaie van Golden City Post van 12 Februarie 1961 se binneblaaie ingebed.

.......

Met hierdie drie artikels op my CV was dit daarna heel maklik om later as kadet by die Cape Argus se skool vir joernalistiek aanvaar te word.

.........

Met hierdie drie artikels op my CV was dit daarna heel maklik om later as kadet by die Cape Argus se skool vir joernalistiek aanvaar te word.

En dis net mooi hier waar die voorsienigheid my lewensloop heimlik ingewurm het – dat my geheul met ondergrondse bewegings daartoe gelei het dat Peter Yule, voorsitter van die Liberale Party, my na ’n partytjie ten huise van Patrick Duncan in Kommetjie nooi. Dis waar ek toe dié aand met onder andere die sprankelende Winnie Madikizela gedans het. Aangesien Patrick Duncan, destydse leier van dié party (en seun van ’n eertydse goewerneur-generaal van Suid-Afrika), weens gewaande politieke bedrywighede deur die regering ingeperk was, moes hy dié aand die jolighede langs sy eie swembad in eensame afsondering vanuit sy studeerkamervenster op die boonste verdieping gadeslaan.

Verder het my nuuskierigheid oor die skadusy oorkant die apartheidsgrense ook gelei tot ’n heel eerste kennismaking met die Eoan-kultuurgroep, en ewe-eens blootstelling aan operamusiek, ’n aangekweekte passie wat ek later in die konsertsale van Europa verder sou kon koester. Asook tot ’n lewenslange vriendskap met hul ster-tenoor, wyle Joseph Gabriels en sy vrou, Mabel, wat alreeds die afgelope 52 jaar in Milaan, Italië, woon, waar Vanessa, hul oudste, en ook my peetkind, met ’n Italianer getroud was en vroeër vanjaar reeds haar 54ste verjaarsdag gevier het. Joseph was terloops die eerste Suid-Afrikaner wat in New York se Metropolitan Operahuis opgetree het, en wel in 1971, as Canio in ’n Rudolph Bing-produksie van Leoncavallo se Pagliacci.

Dis ook tydens hierdie tydperk dat ek op partytjies en in kuierplekke ’n geheuestokkie vol Kaapse skrywers, digters, kunstenaars, regsgeleerdes, politieke aktiviste, eks-NG-dominees en ander kleurvolle karakters sou inryg. Mense soos Erik Laubscher, Eduard Ladan, Carl Sauerman, James Matthews, Richard Reeve, Gillian Jewel, Albie Sachs, Peter Clark, George Kolbach, Frankie Kahn, Jonty Driver, Ian Farlam, Henry Hopley, Ingrid Jonker, Yvonne Bryceland, Brian Astbury, Brückner de Villiers, Alf Wannenburg, Miriam en Doreen Mirvish, Abe Pas, Raymond Parsons, Fanie Louw, Denise Sagov, Kenny Parker, Len Lourens, Jack Cope, Denis en Esmé Goldberg, Esther Parkins, Perseus Adams, Jamila Abrahams, Robert Mohr, Ian Fergusson, Jobst en Helène Grapow, Adrian Leftwich, Robbie Isaacson, Zoot en Miriam Mohammed, Owen Williams, Athol Fugard, Stephanie Kemp, Dirk en Aap Visser en vele ander, almal wat op een of ander wyse my lewenspad vorentoe sou kruis. Ofskoon die meeste van hulle nie meer met ons is nie, sou van hulle later ’n kardinale en blywende invloed op my lewensuitkyk laat.

Dan was daar natuurlik ook die nimlike Uys Krige, daardie bon vivant en raconteur wie se “ingebore GPS” altoos omtrent elke partytjie in die Skiereiland hamba-hamba kon opspoor. En, natuurlik, daardie briljante joernalis en sakevrou Jane Mullins, wat destyds die “I spy”-rubriek vir die Cape Times behartig het. Sy sou ’n jaar of wat later, in 1963, as Jane Raphaely die ikoniese vrouetydskrif Fair Lady in vennootskap met Nasionale Pers op straat bring.

Asook Jan Rabie en sy Jorie, sy Skotse skilderesvrou, Marjorie Wallace, met haar eiesoortige Afrikaans. Met hóm het ek die onbesonnenheid begaan om my eerste eksperimentele gedigte in hul woonstel in Groenpunt te gaan voorlê. Jan, pas terug na sewe jaar se diaspora in Parys, Frankryk, was alreeds bekend as ’n “nuwe wind” wat besig was om deur die stowwerige Afrikaanse letterkunde te waai en om vroeg al vir die latere Sestigers voorbrand te maak, maar nee, sê hy prontuit aan my, hy weet nie veel van die digkuns nie; ek moet maar eerder vir DJ Opperman op Stellenbosch gaan vra.

Alhoewel Breyten Breytenbach in dieselfde tydperk in die Kaap studeer het, sou ek eers jare later, by Jobst en Helène Grapow in Via Cabo del Africa in Rome, met hom en Yolande kennis maak. Dis dan ook in die volgende dekade dat hy en sestigers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en André P Brink die Suid-Afrikaanse sensors tot raserny sou dryf.

...........

Alhoewel Breyten Breytenbach in dieselfde tydperk in die Kaap studeer het, sou ek eers jare later, by Jobst en Helène Grapow in Via Cabo del Africa in Rome, met hom en Yolande kennis maak. Dis dan ook in die volgende dekade dat hy en sestigers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en André P Brink die Suid-Afrikaanse sensors tot raserny sou dryf.

...........

Die dubbelverdiepingkasarm van ’n woning wat ek met verloop van tyd by nr 45 Hatfieldstraat in die Tuine met Dudley Sterrey, Mansell Williams en John Sharples gedeel het, sou later so deel word van Saterdagaande se partytjiekringloop dat die veiligheidspolisie een van hul trawante in die huis oorkant die straat ingeboek het om hierdie sondige gekuiery oor die kleurskeidslyn fyner dop te hou. Dit was nog in die dae vóór die drakoniese wette van die Verwoerd-era sulke byeenkomste drasties sou inperk en ’n spesiale taakmag afluisteraars en afloerders sou sorg dat enige gevryery oor die kleurskeidslyn jou tjop-tjop met die gereg sou laat bots het. Maar, op die keper beskou, alles tog so onskuldig, so sonder blaam – almal tog net daarop uit om midde opwindende geselskap en bruisende jonkwees van oortollige energie ontslae te raak.

Hier waar Jood en Christen, Mohammedaan en ongelowige gereeld mekaar se geselskap sou opsoek in ’n natuurlike humane simbiose wat niks met morsige politiekery te doene gehad het nie, maar bloot ’n losse struktuur van sosiale netwerke wat maar net die lewe wou vier met Kaapse rooiwyn en die meesleurende geblêr van die saksofoon op die maat van ritmiese langarmdansmusiek. En waar Miriam Mohammed, my destydse hospita tydens my Distrik Ses-omswerwinge, ook by geleentheid as gasvrou sou optree.

Met die hedendaagse pandemiese korrupsie en sosiale woelinge in gedagte skyn dit in die truspieëltjie asof daar in daardie dae tóg minder booshede en véél meer ubuntu was.

Dis ook die dae toe daar nog ’n boereworsgordyn tussen Keeromstraat en St Georgesstraat gehang het wat digter was as enige apartheidswetgewing – toe Die Burger se joernaliste in die Drommedaris (ook bekend as die Dronkiedaris) gedrink het en die Cape Argus en Cape Times se koerantmanne hul lojaliteit tot die Café Royal se gepoleerde gestoeltes laer af beperk het.

In Johannesburg, sou ek later agterkom, het dieselfde ongeskrewe apartheidsreëls gegeld: Die Engelse pers leun hul elmboë op die Fed (Federal Hotel) se toonbank, terwyl die Afrikaanses hulself tot Doornfontein se lawaaierige Vegkop (ook bekend as die Commercial Hotel) bepaal. Want die geselskap van gesellige drinkebroers was nou maar eenmaal ’n sosiale gewoonte wat by sommige koerantmanne later ’n onontbeerlike gewente geword het. So het die heel oorspronklike (fiktiewe) grafskrif van een van hierdie dop-en-dam-garde byvoorbeeld gelui: “He (Gordon Saunderson) died like he lived – falling off a bar stool.”

Terug in Kaapstad volg aanstellings as joernalis en later subredakteur by die Cape Times onder redakteur Victor Norton, daarna onder Joel Mervis by die Sunday Times in Johannesburg, en later ook by die middagkoerant The Star se Germiston-kantoor, voordat ek, ná studies aan drie plaaslike universiteite, my finale eksamens en mondelinge vir ’n BA-graad in tale uiteindelik aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys, Frankryk, sou gaan aflê. En waar ek later ook aan die Sorbonne met 16de-eeuse digters soos Pierre de Ronsard en Joachim du Bellay, asook die klassieke Jean Racine, Pierre de Corneille en die guitige Molière sowel as daardie satiriese platjie, Voltaire, sou kennis maak.

Later studeer ek rolprentwese, televisie en fotografie aan die École nationale Louis Lumière de photographie et de cinématographie, en loop terselfdertyd ook aandklasse in retoriek by die Académie Claude Dullin. Dis in hierdie tye dat van die nuwe-generasie- en voorste Nouvelle Vague- (New Wave-) filmregisseurs soos Claude Chabrol en Claude Lelouche lesings by ons skool kom gee het. En dat die erg Maoïstiese Jean-Luc Godard ons direk gekonfronteer het: “Wat de f** maak julle hier? Waarom vat julle nie ’n Beaulieu 16 mm-kamera (’n Franse fabrikaat) en vaar die strate in en maak films oor werklike werklikhede nie”? Merde, alors!

Dis eers jare later dat dit my sou opval dat die Europese rolprentmakers in die sestigerjare deur dieselfde kulturele wroeginge om vernuwing sou gaan as Suid-Afrika se sestigers. Toe mense soos François Truffaut, Alain Robbe-Grillet, Alain Resnais, Luis Buñuel, Roger Vadim, Marguerite Duras, Louis Malle, Alexandre Astruc, Agnès Varda, Robert Bresson, Vittorio da Sica, Ingmar Bergman, Federico Fellini, Jean-Luc Godard, Claude Chabrol en Claude Lelouche die Europese sensors net so die bliksem ingejaag het as ons eie sestigers die Lammie Snymans van dieselfde era (Lammie Snyman was die destydse voorsitter van die sensorraad).

Hierna volg die hoofrol in die studenteproduksie Mirage, wat in 1971 met die Prix de Belfort bekroon sou word.

’n Herinnering aan die aand toe die studentefilm Mirage, waarin ek die hoofrol vertolk het, in 1971 met die Prix de Belfort bekroon is. Hier saam met Claude Lafaye, een van die beoordelaars, afgeneem. (Ongepubliseerd)

Die ironie is egter dat, ofskoon ek teen hierdie tyd al heel oorlams Frans-gebek was, ek in dié film g’n woord gesprak het nie. Want die Irannese regisseuse se draaiboek was só deurspek met Soeniese simboliek en verwysings na politieke onderdrukking in Iran dat my karakter die rol van ’n stomme lyk moes vertolk – wat die heeltyd net daar bebloed en doodstil moes lê en sy bek moes hou!

Hierna land ek om den brode met albei voete pardoems weer eens terug in die joernalistiek, met as eerste opdrag om in die herfs van 1971 vir drie weke ’n internasionale mimiekfees in Praag in die destydse Tsjeggo-Slowakye vir die tydskrif Atlas te gaan dek. Dis nou die aanboord glansblad van Air France, dié land se nasionale lugredery. Waar ek toe soggens in my Praagse eensterhotel saam met daardie kleurvolle en ryklik gemedaljeerde Russiese kolonels aan die brekfistafel moes sit en toekyk hoe hierdie rooigesig-apparatsjieks al reeds vroegoggend die een dop vodka na die ander skoon en behaaglik sit en omdop.

Want dit was nog pas ná die Praagse Lente, nadat Moskou daardie astrante Tsjeggiese opstand van 1968 met ’n ystervuis verbrysel het en hul eerste sekretaris, Alexander Dubcek, vir sy vermetelheid met ’n joppie as toiletskoonmaker verneder het.

Hierdie internasionale erkenning aan dié eeu oue kunsvorm is deur Ladislav Fialka, die gevierde Tsjeggiese koreograaf en mimiekkunstenaar in sy eie Na Zabradli-teater hier aan die oewers van die Wltawarivier aangebied. Hier waar ’n moderne generasie eksponente van die mimiekkuns uit plekke soos Switserland, Hongarye, Duitsland, die USSR en Tsjeggo-Slowakye daardie magiese manipuleerders van ruimte en tyd van oudsher vanaf die sirkusarena tot heel bo-op die voorste teaterverhoë van die wêreld sou transponeer. Toe pantomimepioniers soos die 19de-eeuse Boheems-gebore Jean Gaspard Deburau destyds sy dromerige Pierrot verewig het, gevolg deur Etienne Decroux en, natuurlik, Charlie Chaplin se patetiese boemelaartjie, tot by die gevierde Joods-gebore Marcel Marceau en sy ikoniese witgesig-Bip-karakter.

Die drie Janus-gesigte van Suid-Afrika se Grethe Fox simboliseer die verskillende persoonlikhede wat ’n aktrise moet internaliseer om ’n rol op die verhoog te kan vertolk. Hierdie foto is tydens haar studentejare aan Jacques Lecoq se mimiek-akademie in Parys geneem, en het in Fair Lady van 6 September 1972 verskyn.

Die meeste openbare geboue, veral die Nasionale Museum, net om die hoek van Wenceslas-plein, was toendertyd pottoe onder steierwerk en oënskynlik weens restourasie vir besoekers gesluit. Maar dit is in werklikheid tydens 1968 se opstande deur Russiese tenks dermate vol gate geskiet dat die Rooi regime hierdie barbaarse vernielsugtigheid ten alle koste vir die oë van die res van die wêreld wou verbloem.

Met hierdie aanvanklike toetrede tot die Paryse perswêreld agter die blad was dit toe betreklik kortpad na die esoteriese wêreld van haute couture, waar dit my later beskore was om die nuutste skeppinge van sommige van die hoëpriesters van die modewêreld, by name la maison Pierre Balmain, Christian Dior, Jean-Louis Scherer, Chombart en Yves Saint Laurent vir Suid-Afrikaanse vrouetydskrifte soos Fair Lady en Sarie (Marais) in beeld te kon voorlê. Hierdie deurbraak lei straks tot ’n persoonlike onderhoud en fotogeleentheid met Pierre Cardin, die Italiaans-gebore Franse couturier, wat binne ’n kort tydjie ook ryklik geïllustreerd tussen onder andere die blaaie van Suid-Afrika se Sarie (Marais) sou pryk.

Die Londense model Cheryl (Longley) vertoon hier ’n kosbare pelsjas van Christian Dior in ’n privaatsaal by die paleis van Versailles, wat vir dié deftige geleentheid in Augustus 1973 deur die modehuis gehuur is, en waar selfs die fotograaf ’n (gehuurde) aandpak moes dra. (Ongepubliseerd)

Die Sweedse model Birgitta verskyn hier in die Paryse herfs in ’n Chombart-skepping van wit, breëstertkarakoel (uit die destydse Suidwes-Afrika) wat toe al wêreldwyd as Swakara bemark is. Hierdie foto het in die Landouweekblad van 9 Januarie 1973 verskyn.

Totdat ek en Dorathea, my assistent, en Cheryl, my Londense model, eendag op ’n reëndag heel onskuldig met honderde duisende franke se luukse bewer-, nerts- en nutriapelse uit die huis van Dior “verdwyn”. Ons het naamlik die vrag peperduur pelse die oggend by Dior gaan afhaal om hulle later aan Cheryl se vietse lyfie op die dek van ’n rivierboot op die Seinerivier te gaan fotografeer. Toe ons die middag met daardie waardevolle bondel pelse weer by Dior opdaag, was die bestuur reeds naarstig besig om die polisie te bel. Want paniek en tipiese Galliese pandemonium het pas tevore op die perseel losgebars toe iemand agterkom dat daar ’n fortuin se pelse uit hul kluise skoonveld was.

Ek en Dorathea, my assistent, in Augustus, 1973 op ’n bruggie oor die Seinerivier in Parys, die dag toe ons met honderde duisende franke se pelsjasse uit die huis van Christian Dior “verdwyn” het, maar wat toe later slegs ’n misverstand blyk te gewees het. (Ongepubliseerd)

Genadiglik is hierdie amperse ramp vite-vite afgeweer. Want die mamselle wat die pelse daardie oggend aan ons toevertrou het, het bloot een van Christian Dior se allerstrengste gebooie oortree: om nooit toe te laat dat ’n wildvreemde fotograaf homself doodluiters aan ’n fortuin se peperduur pelse help nie. Boonop het sy ook nagelaat om toe te sien dat hy eers vir die besending geteken het!

Dis ook in hierdie tydperk dat ek ‘n naweek aan huise van die Bloemfontein-gebore Annette de Villiers en haar Franse man, Michel Neumand, op ‘n gholflandgoed aan die buitewyke van Parys vir ‘n onderhoud en foto-sessie deurbring.  Sy was die eertydse internasionale glansmodel “Ann de la maison Balmain” wat die loopplanke van die modewêreld van Parys tot in Milaan, Berlyn en New York in die sestigerjare glad geloop het, terwyl Michel Neumand, haar Franse man, sy tyd op ’n gholflandgoed aan die buitewyke van Parys deurbring. En haar adellike gryskop- Franse “peetpa”, Pierre Balmain, later toegestem het dat ek sy gunstelingmodel van die sestigerjare in een van sy eksklusiewe pelsskeppings in la rue François I, een van Parys se deftige haute couture-modestrate, mog gaan fotografeer. 

Die pragtige Annette is egter, treurig genoeg, vroeër vanjaar hier in Suid-Afrika as Annette Neumand aan ’n COVID-19-verwante siekte op Onrusrivier oorlede.

Hierna volg die een opwindende opdrag na die ander, soos die naweek aan huis van die gevierde Spaanse mezzosopraan, Teresa Berganza, in haar gehuurde Salzburgse villa in Oostenryk vir ’n eksklusiewe onderhoud en fotosessie vir Fair Lady, toe dié diva my heel onseremonieel na haar slaapkamer marsjeer en haar inloopklerekas met teatrale brio oopgooi. “Watter uitrustings wil u hê moet ek aantrek?” verneem sy in haar lispelige Frans.

Die gevierde Spaanse mezzosopraan Teresa Berganza, haar man, Felix Lavilla, en dogter (ook Teresa) hier in vrolike luim in die tuin van hul gehuurde villa in die voorstad Morzg aan die buitewyke van Salzburg. Hierdie foto het in Fair Lady se uitgawe van 1 November 1972 verskyn. Klik op die foto vir ’n groter weergawe.

Sy het daardie naweek uiteindelik in sewe verskillende uitrustings vir die kamera poseer – van ’n vrolike kollerige swart-en-wit somerrokkie tot ’n uitspattige lemmetjiegroen-en-mosterdgeel uitrusting wat haar soel Iberiese vel wonderbaarlik gekomplementeer het. Selfs ’n flambojante swart-en-oranje “huisrok” vir foto’s agter die stoof en skottelgoed saam met haar 14-jarige dogter (ook Teresa). En die volgende dag vir oulaas in ’n modieuse swart reisjas teen die snerpende Europese winterwindjie. Vir enige fotograaf, dus, soos om kerplaks! met sy agterent plots in ’n sewende hemel te lande te kom.

.........

Wat was tydens ons onderhoud volgens hierdie diva die toppunt van haar roemryke loopbaan? Nee, nie die rol van Rosina in Rossini se Barbier van Seville nie, maar dié van ’n moeder in barensnood.

..........

Wat was tydens ons onderhoud volgens hierdie diva die toppunt van haar roemryke loopbaan? Nee, nie die rol van Rosina in Rossini se Barbier van Seville nie, maar dié van ’n moeder in barensnood. Daardie fisieke belewenis om te kraam, om geboorte te gee, om kinders die een na die ander in die wêreld te bring (waarvan sy op ouderdom 36 alreeds tot by drie kon aftel). Wel, elkeen na sy keuse, was my stille berusting.

Op die verhoog sou sy egter graag nog die rol van die sigeunerin in Georges Bizet se Carmen wou vertolk. Carmen? Maar sy’s dan ’n wulpse, loslyf flerrie! Presies! Maar ’n jong meisie se lyf weet nog te min van die lewe. Dis slegs ’n ouer vrou wat daardie intieme, erotiese liggaamlikheid sou kon vertolk, was haar wysgerige antwoord.

Nog ’n uitnodiging wat nie te versmaai was nie, was toe Jane Raphaely (soos reeds genoem, stigter-redakteur van Fair Lady) my tydens ’n kuiertjie in Parys nooi om een middag saam by Henri Cartier-Bresson, daardie vermaarde skepper van die reportage en die foto-essay (asook saam met Robert Capa, stigter van die foto-agentskap Magnum) in sy luukse woonstel te gaan eet. As fotograaf was dit vir my soos om ’n koninklike se hand te skud, en daardie hand daarna nooit ooit weer te wil was nie. Maar daar sit ek toe nietemin saam met Jane, daardie Leica-virtuoos en sy jong vroutjie (en nog hul baba in sy kinderstoeltjie plus nog sy Spaanse kinderoppasster) aan hul etenstafel met ’n bek vol tande, gans te beïndruk om nog enigiets sinvol tot die gesprek by te dra.

Veral nie nadat Jane my as “my photographer” voorgestel het nie. Want met haar chutzpah is Jane een van die min vrouens wat ek ken wat voorbarig genoeg is om haarself (én haar fotograaf) saam met die fotoghoeroe van die eeu vir middagete genooi te kry. Wie anders sou dan ook die ballas gehad het om tien jaar tevore ’n stroewe Phil Weber te oorreed om halfies te gaan in ’n nuwe vrouetydskrif soos Fair Lady? En dit boonop nogal ’n Engelse een!

Daarna volg verskeie opdragte waar Jane my onder andere stuur om die kookkunspryswenner Rosemary Ladlau en haar familie van KwaZulu-Natal na Madrid en die suide van Spanje te vergesel en hul gewaarwordinge in woord en beeld vir Fair Lady se lesers te verewig. En om terselfdertyd vir Annette Kessler, haar kosskrywer, aan die vleespotte van Madrid te laat gaan proe. Ook om by ’n ander geleentheid met nóg ’n tydskrifwedstrydwenner, Rosabel Klein, en Ronnie, haar ginekoloog-man, die wondere van Parys saam met haar lesers te laat ontdek.

Tot die dag dat ek in 1975 tydens ’n galablommeskou in die paleis van Monaco deur die leier van ’n groep Natalse uitstallers ook aan prinses Grace gewoonweg as “ons fotograaf” voorgestel is, en sy my vanself en met tipiese Amerikaanse hartlikheid die hand reik. Daardie dag moes haar oudste, die tiener, Caroline, ook ewe dikbek saampiekel. Want dié moes heel teensinnig vroeg reeds leer hoe om openbare geleenthede namens die prinsdom te hanteer.

Prinses Grace van Monaco ontvang ’n bos pronkerige proteas van Lola Hudson-Bennett, ’n Natalse deelnemer aan ’n internasionale blommeskou in 1974 in haar en prins Rainier se weelderige paleis. (Sarie Marais, 16 Julie 1975)

Hierdie idilliese toneeltjie word egter wreed versteur toe ’n diknekknewel van ’n guérrilla, prins Rainier se persoonlike lyfwag, my later vasgryp en my Nikons wou konfiskeer. Want ofskoon ek carte blanche gehad om oral foto’s te neem, was foto’s van die prins egter taboe, het hy die reëls vooraf neergelê.

Maar toe die prins na meer as ’n uur uit ’n afgeleë hoekie aan sy eie inskrywing vir die kompetisie (’n enkel-orgidee in ’n glimmende Venesiese kristalvaas) geknoei en geknutsel het, oplaas sy verskyning maak, was die versoeking te groot: Hier kom die Prins van Monaco ewe losgat en onprinslik in sy verslete blou jannas reguit op my afgeslons.

Dis toe dat sy guérrilla my gryp en my film eis. Vervaard kap ek teë dat daar ander, belangriker foto’s op daardie rolletjie Ilford-film was. Nadat ek hand op die hart belowe het om nooit daardie gesteelde foto’s van die titulêre heerser van hierdie prinsipaliteit te gebruik nie, het hy my gelukkig geglo en laat gaan. Na dese weet ek ten minste hoe ’n paparazzo moet voel as hy sulke hardhandigheid op die lyf loop.

Koningin Elizabeth, die koninginmoeder, was net so gemoedelik toe ek tydens 1974 se Royal Show op Kenilworth in Warwickshire die oggend in die gietende reën hier reg voor haar voete op die rooi tapyt vir ’n foto neerkniel. Haar Koninklike Hoogheid glimlag nog handsak oor die arm en met haar eie kloksambreel stewig in haar gehandskoende hand, ewe liefies vir die kamera, toe ’n ses-voet-vier-bobby my ru aan die nek wegpluk. Want in my angstigheid om ’n sonderlinge foto te kry, het ek skoon vergeet dat ek besig was om met ’n wyehoeklens te skiet, en dat hierdie onverskillige onderdaan dit dus toe veels te naby Haar Majesteit gewaag het.

Koningin Elizabeth, die koninginmoeder, glimlag liefies vir die kamera by die Royal Show van 1974 voordat ’n Britse bobby my op my knieë op die rooi tapyt voor haar voete wegraap – omdat ek onbewus haar ruimte van te naby binnegedring het. Hierdie foto verskyn ’n maand later in ’n landboutydskrif in Edmonton, Kanada. (Focus On Beef, Augustus 1974)

Hierdie sonderlinge foto en meegaande berig oor daardie jaar se Royal Show verskyn toe tóg ’n maand later in ’n Kanadese tydskrif met die opskrif: “A right Royal rainy Royal.”

Dis ook tydens my Paryse verblyf dat ek ’n vriendskap met nog ’n “koninklike”, die skrywer Karel Schoeman, aangeknoop het toe ek soms vir hom in Amsterdam gaan kuier het en hy by geleentheid die sleutel gehad het vir die bediendekamertjie in die rooiligdistrik van Pigalle wat ek teen 50 Franse Franke (sowat R8 teen die destydse wisselkoers) per maand spesiaal vir die gerief van besoekers aangehou het. Dit was natuurlik lank voor die verskyning van Die laaste Afrikaanse boek, toe hierdie askeet, teenstrydig genoeg, nog verknog was aan duur Franse sjampanje en pienk Pierre Cardin-pakke, die dae voordat hy homself heeltemal van die samelewing begin onttrek het en, paranoïese hermiet wat hy geword het, doelbewus al sy vriende begin vervreem het.

.........

Dié mees bisarre ondervinding wat ek egter ooit met koninklikes ervaar het, was met Peggy Guggenheim, die eksentrieke “kunskoningin” van Venesië, en pleegmoeder van die moderne kuns, wat my op die ouderdom van 72 jaar nogal heel uitlokkend op die hemelbed in haar slaapkamer van die Palazzo Venier dei Leoni te woord gestaan het ...

..........

Dié mees bisarre ondervinding wat ek egter ooit met koninklikes ervaar het, was met Peggy Guggenheim, die eksentrieke “kunskoningin” van Venesië, en pleegmoeder van die moderne kuns, wat my op die ouderdom van 72 jaar nogal heel uitlokkend op die hemelbed in haar slaapkamer van die Palazzo Venier dei Leoni te woord gestaan het, omring van ’n swetterjoel wriemelende Lhasa Apsos (daardie silwer bondeltjiebrakkies wat alkant-selfkant lyk en jy nie mooi seker is aan watter kant hulle hoes, en aan watter kant hulle poep nie).

Peggy Guggenheim, die eksentrieke kunskoningin van Venesië, en omstrede peetmoeder van die moderne kuns, hier in 1975 in die voortuin van haar Palazzo Venier dei Leoni op die Grand Canal, dié waterstad se “hoofstraat” afgeneem. (Sarie Marais, 30 Julie 1975)

Hierdie palazzo, wat reg op die Grand Canal, Venesië, se waterige “hoofstraat” geleë is, was dan ook die tuiste van haar wêreldberoemde modernekunsversameling – Georges Braque, Constantin Brancusi, Max Ernst, Piet Mondrian, Pablo Picasso, Marc Chagal, Paul Klee, Vasily Kandinsky en Jackson Pollock, noem maar op. Na ’n fotosessie neem sy my later goedgunstiglik op ’n persoonlike rondleiding van hierdie kamers vol kunswerke.

Onder hierdie kosbaarhede was haar gunsteling by verre ongetwyfeld Ecstacy, ’n halfgrootte-perd-en-ruiter in brons in die tuin neffens die kanaal – ’n poedelkaal ruiter wat bloots op die perd se rug met sy uitbundige brons ereksie, punt in die wind laggend en behaaglik ver agteroor leun. Hiervoor het sy drie groottes penisse gehad wat sy in en uit kon skroef, na gelang van die besoekers. As die nonne kom rondkyk, dan skroef sy gou die 8 cm-“much ado about nothing” in wat spesiaal deur Brancusi, die beeldhouer, vir haar gegiet is, het sy met so ’n ondeunde, skalkse glimlag verduidelik.

Dis dan ook hierdie “koningin” wat ruiterlik erken het dat sy nie vir die meeste van hierdie nou uiters waardevolle kunswerke uit die 1930’s en ’40’s betaal het nie, aangesien sy op die rype ouderdom van 72 jaar nog onbeskaamd kon spog dat sy as betaling destyds vir baie van hulle “geslaap” het.

Dis eers veel later dat ek, naïewe jaap wat ek was, snuf in die neus gekry het oor die werklike rede waarom sy my aanvanklik in daardie pienk uitrusting op haar hemelbed te woord gestaan het. Dis toe dit my byval dat dit die Japannese skilder Arakawa was wat hierdie onderhoud tydens daardie jaar se Venesiese Biënnale vir my gereël het. En dat sy reeds vooraf begin onderhandel het om een van sy skilderye te bekom. Teen betaling?

Dit was ook ten tye van my ontmoeting met hierdie Japannese skilder in die gewilde Harry’s Bar dat Marcello Mastroianni, daardie hartklop van die Italiaanse silwerdoek, skielik hier ’n paar tafels van my af opspring. “Merda,” kryt hy uit toe ’n senuagtige kelnerinnetjie ’n blerts rooi tamatiesugo op sy spierwit linnepak mors, wat hy toe naarstig probeer om met sy servet skoon te vee.

Verreweg dié mees avontuurlike onderneming van my loopbaan was ongetwyfeld toe ek tydens die somer van 1971 vir drie weke in die kielsog van die “Koning van die Sahara”, Sinclair Beiles, tussen die Griekse eilande na hom in die sondeurdrenkte Egeïese See gaan soek het. Hierdie odussee het afgevaar toe ek in Athene verneem dat Beiles, wat pas in Suid-Afrika die eerste Ingrid Jonker-prys vir sy bundel Ashes of experience, verwerf het, op daardie tydstip op die eiland Leros daar teenaan die Turkse kus by ene Sun Axelson-Piper aan’t kuier was. Sun was ’n bekende Sweedse joernalis van daardie era wat destyds twee vakansiehuise op die eiland besit het.

Sinclair Beiles, eerste wenner van die Ingrid Jonker-prys vir sy digbundel Ashes of experience, hier in 1972 na kos-inkopies afgeneem op pad terug na sy woonstel in Parys, Frankryk. Hierdie foto is geneem enkele maande nadat ek tydens ’n odussee van drie weke na dié ontwykende swerwer-digter tussen die Griekse eilande van die Egeïese See gaan soek het. (Ongepubliseerd)

“Are you Sinclair Beiles?” vra ek die lang, blonde man met die blouste blou oë wat die deur oopmaak toe ek by die Sweedse skryfster se adres aanklop nadat die veerboot my om sesuur daardie oggend in Leros se vlakwaters afgelaai het.

“No,” sê hy, “but do come in and have some tea!” Soos jy sou kon raai, was dit helaas toe nie die bekroonde Suid-Afrikaanse swerwer-digter nie, maar wel ’n pucker Engelsman, met regte, egte, dinkum outydse Engelse voorkamermaniere, en op die koop toe nogal een met ’n besonderse voorliefde vir opgekookte blare ook!

Dit blyk toe egter tog die regte huis te wees. Maar Sun, die eienares, is eers later daardie middag vanaf die eiland Rhodos verwag, en dié Engelse universiteitsdosent was net nóg ’n kuiergas, maar net nog één van die duisende besoekers wat elke somer die gasvryheid van eilandhuiseienaars geniet – en soms ook skandelik misbruik.

En, ja, Sinclair Beiles was inderdaad nog wel laas week hier. Maar intussen was hy met die veerboot moontlik op pad na die eiland Hydra, of dalk Mikonos – niemand kon met sekerheid sê wáár hierdie moderne Skarlaken Pimpernel hom tans bevind het nie.

Die bynaam “Koning van die Sahara” het hy blykbaar speels verwerf omdat hy die maltrapplan bedink het om die Mediterreense See by die Pilare van Herkules op te dam en die Sahara met ontsoute water uit hierdie gigantiese reservoir in ’n grasgroen oase te omskep. Daarby het hy glo reeds probeer om koningin Elizabeth II en prins Bernard, asook koningin Juliana van die Nederlande by hierdie gekke skema te betrek.

Op uitnodiging van Sun, die eienares van die huis, wat toe later die middag wel met die veerboot vanaf Rhodos hier aanland, verwyl ek toe ’n paar dae en gebruik die geleentheid om oral foto’s te neem en om na verskeie interessante buitelandse eilandbesoekers se lewensverhale te luister. Een, by name Jannas, was byvoorbeeld in die vroeë 1950’s van die vorige eeu koning Faroek van Egipte se kamerling. Daardie malse pastelgeverfde lig van die somerson op die Middellandse See skep so ’n fantastiese fotogeniese wonderwêreld, so bykans sonder harde skaduwees, dat jy omtrent sonder kunsmatige beligting oral foto’s kan neem.

’n Paar dae later hervat ek my soektog na daardie ontwykende Sahib van die Sandhope.

Aangesien hy glo laas op die eiland Mikonos gesien was, vat die volgende veerboot my na hierdie gewilde kuierplek van die rykes – met die dek boordensvol gepak met kratte kekkelende hoenders en blêrende bokooie wat sommer so sómmer so aan die skommelende boot se relings vasgemeer is, en bondeltjies hurkende bejaardes, almal waarskynlik uiters behoeftige boerinne, en almal in hul alewige swartste swart enkellange rourokke gehul, met ’n wakende ogie oor karige hopies besittings waarmee hulle blykbaar tóg êrens op ’n seepad was.

Op Mikonos was dit egter dieselfde storie: Die “koning” is nog laasweek hier aan huise van so-en-so gesien, maar ons weet nie waar hy hom nou bevind nie. Soos die leser teen hierdie tyd kan aflei, was (en is?) die Griekse eilande ’n internasionale netwerk van buitelanders wat mekaar gedurig in die tavernes en ander kuierplekke verdring en mekaar almal in een of ander bargoense Engels verstaanbaar kan maak.

Van wie heelwat oënskynlik ook hier op soek na hul (ware?) self was – en dan net uiteindelik ontdek dat daar eintlik niks te vinde was nie, het ’n skerpsinnige waarnemer eendag hierdie selfsugtige illusie verpletter. Onthou, dit was ook die hoogseisoen van die verhoogstuk Hair en van vrye liefde, toe die Griekse gigolo’s geil kon maai onder veral die Amerikaanse blommekinders. En veral daardie land se gays, wat op hul beurt hier ook elkeen op jag was na hul eie Adonis of Apollo.

Aangesien almal dus blykbaar almal se pel was, en almal almal se bewegings geken het, was ek heel gou weer op pad na Spetsae, waar die swerwer-digter glo by die kunstenaar Chris Gear gaan dagsê het. Toe na Aegina, waar ek dieselfde storie moes aanhoor. Indien hierdie oënskynlike stralerjakkerleefwyse vir die leser uitspattig mag klink, kan ek net noem dat reis en verblyf in daardie ongerepte dae van wyn en rose eintlik spotgoedkoop was. Reken net, jy kon Europa destyds werklik op vyf dollar ’n dag (en nag) platry. En teen die destydse voordelige wisselkoers het dit maar slegs op ’n skamele R10 per dag neergekom.

Maar op Aegina kry ek die boodskap dat hy reeds terug is in Athene. Net toe ek begin dink dat hierdie Effendi van die Duine ’n versinsel van sy eie vrugbare verbeelding was, kry ek oplaas ’n oproep by een van die vriende waar ek intussen vir hom verskeie boodskappe en ’n kontaknommer gelos het:

“This is Sinclair Beiles, I hear you are looking for me …,” word daardie … daardie skim van ’n verdigsel ultiem vlees – ’n gesprek wat later sou lei tot ’n uiteindelike ontmoeting in Athene met hom en sy Amerikaanse vroutjie, Annie Rooney, sy met die mikrominirokkie wat skaars die nodige toemaak.

How were the Hanging Gardens
created …?
The airy botanical
Gardens
Were irrigated
By water
Pumped
From the Euphrates
By machines concealed
In the supporting Pillars
By relays
Of singing slaves
Kept working
Day and night …
Thus were two words
Created -
The Hanging Gardens of Babylon
The Seventh Wonder
Of the World.

              – Uit Ashes of experience

Toe ek terug is in Parys vra Jan Boyazouglou by die Suid-Afrikaanse Ambassade my om vir hom ’n artikel oor Fleckvieh-beeste in München, Duitsland, te gaan doen. Hierna sou ’n splinternuwe loopbaan afskop, ’n heel nuwe rigting waarvan ek selfs in my wildste verbeelding nooit as te nimmer sou kon gedroom het nie.

.........

Hierna sou ’n splinternuwe loopbaan afskop, ’n heel nuwe rigting waarvan ek selfs in my wildste verbeelding nooit as te nimmer sou kon gedroom het nie.

..........

Ofskoon ek op daardie stadium niks van beeste af geweet het nie, het ek baie gou moes leer, en stel hierdie nuwe belangstelling my uiteindelik in staat om meer gereeld tussen Europa, Engeland, Skandinawië, Suid-Afrika en Noord-Amerika te pendel, en om ’n inkomste in dollar te verdien wat sulke rondreise geriefliker kon finansier.

Soos toe ek byvoorbeeld in Oostenryk eendag bo in die groen heuwels bokant Salzburg ’n klooster teëkom waar ’n orde nonne ’n vooraanstaande Pinzgauer-stoetery by Schernberg bedryf. Hier het suster-ekonoom Micheline my ook meegedeel dat onder andere ook Bertie van Zyl, Suid-Afrika se tamatiekoning, daar van Mooketsie se wêreld, hier by hulle kom aanklop het toe hy op soek was na genetiese materiaal vir sy later bekende pryswenner-ZZ-Pinzgauer-stoetery.

Susters-ekonoom Micheline en Adelina wandel hier tussen hul troppie Pinzgauer-stoetbeeste by Schernberg in die groen heuwels bokant die Oostenrykse musiekstad Salzburg. Dis hier waar die Suid-Afrikaanse tamatiekoning Bertie van Zyl van Mooketsi se wêreld in die sewentigs van die vorige eeu onder andere genetiese materiaal vir sy later bekende ZZ Pinzgauer-stoetery kom selekteer het. (Focus On Beef, Edmonton, Kanada, Julie 1973)

En leer ek heel gou om te onderskei tussen die reusagtige wit Italiaanse chianinas uit Toskane, hul romagnolas van die Adriatiese kuslyn en die bonkige piemontese uit die omgewing van Verona, asook die verskil tussen hulle en die Franse charolais van Vichy, hul limousins uit Limoges, die montbeliards van Annecy en blondes d’aquitaine uit Montauban, die Oostenrykers se Fleckvieh en hul Pinzgauers uit die heuwels van Ober Österreich, Duitse Gelbvieh uit Franconia, en Switserse Simmentalers uit die Simmevallei, asook hul Braunvieh wat in die kanton van Appenzell wei.

Hierdie uiteenlopendheid is nogal belangrik, want skielik het die Noord-Amerikaners hierdie Europese “exotics” en hul moontlikhede vir vleiskruisings met hul Britse herefords en Aberdeen-angusse, sowel as hul eie longhorns van die prêries begin raaksien. En daarom byvoorbeeld bereid was om tot $100 000 vir ’n chianina-versie uit Siena se wêreld uit te skud. Nogal ’n gekke prys, aangesien hierdie maagdelike dierasie om higiëniese redes eers na Ierland uitgevoer moes word, om daar eers deur die “blikbul” (kunsmatige inseminasie, of KI) gedek te word, en haar Iers-gebore kalfie eers na meer as ’n jaar na sy/haar angstige eienaar op die Kanadese of Amerikaanse prêries uitgevoer mog word. Hierdie duur, omslagtige driejaarbelegging was noodsaaklik omdat die hele Europa (asook Engeland) toendertyd weens bek-en-klouseer onder streng kwarantyn was, terwyl die geïsoleerde Ierse Republiek vry was van hierdie pestilensie.

Met hierdie splinternuwe wending in my loopbaan fotografeer ek in 1972 die heel eerste openbare ovumoorplanting op ’n prulkoei by die KI-stasie Grub in Beiere, Duitsland. Hierdie prul sou egter 285 dae later aan ’n rasegte kalf geboorte gee. En so ook sou sewe ander prulkoeie, wat almal terselfdertyd met rasegte ovums ingeplant was. Hierdie bevrugte ovums is almal vooraf sjirurgies uit één enkele stoetkoei “geoes”. Landbouweekblad word so die eerste tydskrif ter wêreld om hierdie nuus, asook eksklusiewe volkleurfoto’s van hierdie revolusionêre sjirurgiese tegniek, wêreldkundig te maak.

Dergelike ovumoorplantings word egter later dermate deur die Japannese verfyn dat die herwinning en oorplanting van bevrugte ovums veel geriefliker en in ’n japtrap deur middel van ’n suigpompie en ’n pipet vervolmaak is. Vandag kan enige veearts hierdie operasietjie in ’n ommesientjie sommer in jou eie kraal op die plaas kom uitvoer.

Om my kennis van hierdie nuwe loopbaan te verbreed, woon ek later ’n kursus in dieregenetika aan Trinity College in Cambridge, Engeland, by. En reis ook verder na Oslo om oor ’n revolusionêre Noorweegse eksperiment met verskalwers uit die proefbuis te rapporteer.

Hier het AK Ödegard, direkteur van die Stensby-bulstasie naby Hamar, aan die hoof gestaan van ’n massaproefneming om meer verse as bulletjies te teel deur bulsemen in ’n mengsel van eiergeel in ’n proefbuis te suspendeer en te bevries, waarna die “swaarder” vroulike X-chromosome teoreties na onder sou afsak, terwyl die “ligter” manlike Y-chromosome na bo sou dryf. Deur die onderste afsaksel in stoetkoeie te insemineer en die bevrugte eiertjies in prulkoeie oor te plant, sou daar teoreties dus 285 dae later meer verse as bulkalwers gebore word – teen ’n verwagte ratio van 70–30, terwyl die natuurlike verhouding gewoonlik 51–49 is. Verdere eksperimente in byvoorbeeld Amerika en Oos-Duitsland het weer ’n sentrifugeerder gebruik om die ligter manlike Y-chromosome na bo uit te swaai, terwyl die swaarder vroulike X-chromosome teoreties na onder sou daal.

Dis ook tydens hierdie besoek dat ek in Noorweë gestrand was, en het Piet Daneel, Landbouweekblad se destydse redakteur, my hamba-hamba R300 moes telegrafeer om weer my basis in Parys te bereik. Vandag klink dit na kleingeld, maar teen daardie dae se wisselkoers was die rand sterk genoeg om my weer gou en veilig in Franse boesem terug te besorg.

Daarna volg ek hierdie getorring aan die natuur se wette vir ’n jaar angstig vanuit Parys. Helaas is hierdie vermetelheid gou in die kiem gesmoor, want op die ou end was die resultaat nog steeds die natuurlike verhouding van 51–49 of, omgekeerd, 49–51.

Dis in hierdie tyd dat ek tussen die stowwerige rakke van die Biblioteca Comunale in Milaan, Italië, op dié mees romantiese liefdesverhaal in die dierewêreld afkom. Dit was terwyl ek besig was om navorsing te doen oor die seminale invloed wat senatori Federico Tesio se Dormello-stoetery aan die oewers van die Lago Maggiore daar naby die dorpie Arona, sowat 70 km ten noordweste van Milaan, destyds op die Suid-Afrikaanse renperdbedryf gehad het, dat ek hierdie juweeltjie van ’n Romeo-en-Juliet-sprokie uit die perdewêreld teëgekom het.

Die markiesin Nerina Incesa della Roccheta, erfgenaam van senatori Frederico Tesio, teler van die wonderperde van Dormello – soos Nearco, Ribot en Donatella II – was een van die vele glanspersoonlikhede wat ek tydens my swerwersjare in Europa gefotografeer het. Sy verskyn hier op die voorblad van Landbouweekblad van 2 Mei 1972.

Dit was die verhaal van Signorina, die gunstelingmerrie van die ou cavaliere Ginistreli van Portici, naby Napels. Toe sy in 1904 op sewejarige ouderdom nog geen noemenswaardige vul gegooi het nie, maak die desperate adellike ou heer ten einde raad vir haar ’n afspraak met die gewilde Issinglass, koningin Victoria se wenner van die Epsom Derby van 1893, en later haar seun, koning Edward VII, se stoethings op Newmarket in die graafskap van Suffolk.

Maar toe Signorina, die bruid, die oggend die gang op Newmarket op haar huweliksdag afstap met die opgewonde cavaliere in aantog, kom daar so ’n beskeie hangoorhings met die naam Chaleureux (wat “warm” beteken) met sy staljoggie lossies aan die trensriem van die teenoorgestelde rigting aangestap.

Net daar raak daardie Franse hings smoorverlief en runnik hy sy weiering om ’n poot verder te versit. En die bruid, wat eintlik vir ’n ander bedoel was, staan hom ook daar met sulke leepoë en aankyk.

Dunque … si vogliono, bene … andiamo … “Mooi so, as hulle dan wil, dan’s dit net hier waar ons bruilof hou,” was omtrent die strekking van die opgewonde Neapolitaan se stortvloed Italiaans. Want behalwe perdekenner, was hy ook sielkundige.

Ofskoon Issinglass, die afgejakte bruidegom, as ’t ware reg voor die kansel gedrop is, het hy nogtans sy nogal aardige fooitjie van 300 ghienies (sowat R6 600 teen die huidige wisselkoers) gekry.

Elf maande later word daar toe ’n merrievul met die naam Signorinetta gebore. Hierdie dogter, wat as ’t ware in liefde gebore is, doen toe haar ouers se liefdesdaad gestand deur een van die grootste merrievullens van alle tye te word, onder andere drie jaar later, op die eerste Woensdag in Mei, nie net die Epsom Derby (vir hingsvullens) van 1908 nie, maar drie dae later op die Saterdag ook die Oaks vir merrievullens in te palm. Dis ’n dubbel wat nog slegs twee merrievullens (Eleanor in 1801 en Blink Bonny in 1857) voor haar vermag het.

Ek sou graag wou glo dat ek met hierdie splinternuwe aanslag toendertyd ’n vars briesie uit Europa deur die stofkraal van die destydse landboujoernalistiek laat waai het, en dat ek ook daar vanuit die vreemde twee nuwe boerse vakterme geskep het, nl “blikbrein” vir ’n komper, en “blikbul” vir daardie kriogeniese staaltenk waarin die strooitjies bulsemen teen ver onder vriespunt bewaar word. Ook dat my gereelde bydraes tot Landouweekblad – soms tot weekliksheelwat byval moes gevind het by toeka se boere. Want voor verlede jaar sou Chris Burgess, die huidige redakteur, in dié blad se eeufeesuitgawe erken dat dié tydskrif sy hoogste sirkulasie ooit in die vroeë sewentigs van die vorige eeu bereik het. (Ek kan net hoop dat hulle deesdae beter betaal as die hongerloon van destyds!)

.........

So eindig my swerfjare in en deur die heuningpotte van Europa, en voltooi ek uiteindelik die sirkel, om na ’n verdere loopbaan as skakelbeampte en my eie onderneming in Johannesburg, myself in 1991 terug te bevind op Colesberg, my geboortedorp.

..........

So eindig my swerfjare in en deur die heuningpotte van Europa, en voltooi ek uiteindelik die sirkel, om na ’n verdere loopbaan as skakelbeampte en my eie onderneming in Johannesburg, myself in 1991 terug te bevind op Colesberg, my geboortedorp. Om toe hier die aflosstokkie van my ma, die formidabele tant Dolly, oor te neem. Hier waar sy voorheen vir meer as 30 jaar die land se koerante asook die SAUK gereeld met haar handgeskrewe perstelegramme van almal se doen en late op hoogte gehou het.

En van wie ek ook die waardevolle les leer dat plattelandse joernalistiek nie slegs uit kerkbasaars en babakompetisies bestaan nie, en waar ek vir die volgende 25 jaar as die Colesberg Advertiser se alles-in-een redakteur, nuusredakteur, hoofsub en fotograaf rondskarrel, totdat ek in 2017 op ouderdom 80 my raklewe bereik. En waar ek mettertyd sommer platweg Jan Koerant, en nog later, effens meer eerbiedig, Oom Jan Koerant, geword het.

Wat my herinner aan die apokriewe staaltjie van Anna Neethling-Pohl se halfhartige poging om destyds oplaas in Philippolis tot ruste te kom.

“Môre Tannie,” groet ’n bogsnuiter haar vriendelik in die straat.

“Ek’s nie jou tannie nie, ek is doktor Anna Neethling-Pohl …

“Tannie, as tannie nog lank genoeg hier bly, gaan tannie nog ’n antie word …”

Dis dan toe ook later hier in my tuisdorp dat die bloedjong Manne Dipico, die eerste – en baie oorlamse – Noord-Kaapse premier met wie ek as koerantman voorheen al ’n bloutjie of twee geloop het, my in 1995 se omstreke tydens die hoeksteenlegging van ’n openbare gebou in Colesberg aan president Mandela voorstel: “Dis nou die redakteur van die klein koerantjie wat so baie raas …”

“How are you?” vra Madiba gemoedelik, en steek sy hand uit.

By die volgende geleentheid kom wy ons eertydse staatshoof nógeens ’n openbare gebou op die dorp in wat deur ’n drankmaatskappy befonds is. Hierdie slag kom ek hom sonder sy lyfwagte en ook minus Zelda La Grange, sy tweede skaduwee, onverwags op sy eentjie in die tuin van die dorpsbiblioteek teë.

“How are you?” verneem die waardige ou gryskop, en reik my spontaan vir die tweede keer sy hand.

“Wamkelekile u Tata,” verwelkom ek hom ewe hartlik toe ek sy uitgestrekte hand neem.

Nou, na al die jare in en uit die kalklig, verkeer ek deesdae hier teruggetrek en ewe rustig met my boekery, waar my passie vir woorde nietemin steeds botvier. Dis paroles, paroles, al die pad. Soggens luister ek vir twee tot drie uur lank na die kortgolfuitsendings van Radio France Internationale, en vertaal dan sinsnedes daarvan in Duits.

Dan ontvang ek ook gereeld die nuutste Franse en Nederlandse boeke en tydskrifte van my jongste broer uit Antwerpen, waar hy en sy familie al die afgelope 42 jaar woon. Verder worstel ek elke einde van die maand met behulp van ’n lywige woordeboek woord-vir-opwindende-woord deur die Portugese maandblad Voz Portuguesa wat ek gratis by ’n plaaslike kafee kry. En stuur my peetkind vir my ’n Italiaanse bybel La Sacra Bibbia uit Milaan vir my 80ste verjaarsdag, waaruit ek van die Psalms al uit my kop kan opsê.

Onlangs land Geert Mak se nuutste Groot Verwachtingen – In Europa 1991–2019 byvoorbeeld nog warm van die Nederlandse drukperse hier in ’n vriend se posbus. ’n Dikke tome wat ek hoop om binnekort te takel.

Miskien is hierdie beheptheid met vreemde tale tog glad nie so eksentriek as wat dit met eerste oogopslag mag lyk nie, aangesien ek vas glo dat dit (soos met blokkiesraaisels) die sinapse in die brein soepel hou en verhinder dat jou geheue voortydig ghagha raak.

..........

Nou is dit uiteindelik hier, op die rustige platteland, dat ek oplaas die lewensfilosofie van Voltaire se Candide kan uitleef: Cela est bien dit … mais Il faut cultiver notre jardin – Dis alles goed en wel, maar (op die ou end) moet ons (tog elkeen) ons (eie) tuintjie spit.

..........

Nou is dit uiteindelik hier, op die rustige platteland, dat ek oplaas die lewensfilosofie van Voltaire se Candide kan uitleef: Cela est bien dit … mais Il faut cultiver notre jardin – Dis alles goed en wel, maar (op die ou end) moet ons (tog elkeen) ons (eie) tuintjie spit.

Op die ouderdom van 50, toe ek alreeds terug is in Suid-Afrika, verwerf ek die bronsmedalje vir ’n internasionale opstel oor die verbyvlug van Halley se Komeet in 1986 wat deur die stad Bayeux geborg is. Enigeen mog hiervoor inskryf, solank jou huistaal nie Frans was nie. Saam met my verskyn M Henry Castelnau (links) van die Alliance Française en M Philippe Bicault van die Franse ambassade. (Ongepubliseerd)

Gary Player en sy familie hier in die tuin van Rietfontein afgeneem toe hy sy renperdstoetery in 1975 vanaf Magoebaskloof na Colesberg verskuif het. Saam met die gholflegende verskyn voor, van links, Michelle (11), sy vrou Vivienne, en Wayne (13). Middel: Mark (14). Agter: Jennifer (17), Amanda (3) op haar pa se skoot, en Theresa (10). (Die Huisgenoot, 5 Maart 1976)

  • 10

Kommentaar

  • Ek ken vir Jan redelik goed, hoewel ek nou al vir 24 jaar in Colesberg boer. Die laaste klompie jare het ons werklik bevriend geraak en ek het groot agting vir hom as persoon en as skrywer. Toe ek in 1996 hier kom, het ek maar snaakse dinge van die pienk ou gehoor. Hy was blykbaar baie liberaal en het die bestaande orde aangevat. In die destydse Colesberg Advertiser-dae het ek gou gesien dat hierdie man nie bang is om enige iemand aan te vat nie en het ek groot respek vir hom gekry. Deesdae sien ons mekaar en gesels lekker oor politiek, geskiedenis en tuinmaak. Ek gaan juis môre na hom toe. Lank lewe een van ons dorp se onbesonge helde.

  • Dis nou 'n streepsak, nee, 'n Gucci-sak propvol skitterende, uitheemse en wel soms gevaarlike juwele! Die beroemde Wêreld Woorde "smous!" is an all-round photo journalist in the true sense; met sommer nog baie gellings VUMA in die tenk! Trots op u prestasie Jannie B!...once upon a time we were kaalvoetkleuters in Colesberg! Ver van die "maddening" crowds!

  • Marijke Coornaert

    Baie gelukwense met die pen wat nog steeds in jou hand of op die klawier dartel soos ’n jong duif, met die olifante-geheue wat die kleinste details lyk te onthou, met die lewesloop wat baie interessant was en nou nog verder gekultiweer word in jou eie tuin. Die sinapse in jou brein sal nog baie jare soepel bly!
    Ek moes by die lees (en herlees) van “n lewenslange affaire met woorde” dink aan die Sweedse roman : “De 100-jarige man die uit het raam klom en verdween”. Die story gaan oor ’n man wat met die grootste dictators, versetshelde, van links en regs van oor die hele wêreld te doen gehad het maar besluit om opnuut avonture te beleef deur uit sy raam van die bejaardetehuis te ontsnap. Dis baie grappig om te lees omdat die roman ’n ironiese distansie het waardoor die hoofdpersoon nie al te spoggerig oorkom. So ja, Jan Koerant... binnekort Jan outeur!

  • Jan and I both attended the Cape Argus cadet school in 1961, and we were the oldest two there. I had worked for three years after leaving school, two of them writing regional news bulletins for the SABC, then spent two years at university before running out of funds (no demanding free tertiary education in those days). After a year at the Argus, while studying Afrikaans en Nederlands part-time, I went on to complete my degree. Jan had also done various other things first, as he narrates here, including a spell in the SAAF. At the time what most impressed me about him was the courage to live as a "coloured" in District Six, and even plan crimes on the notorious Seven Steps with one or other of the gangs - the Globe, or the Chester, perhaps. Had someone blown his cover, he could have ended up with a knife between his ribs. To me the most astonishing thing in this account of his subsequent career, was the hugely divergent paths our respective journalist journeys took. Mine was far more conventionally down (or was it up?) the corporate ladder, ending as editor of the Cape Times against the run of play - as an ageing pale male I succeeded two editors of colour, for reasons that don't belong here. Jan took a far more adventurous and unpredictable route, locally and internationally, distinguishing himself as a man of many parts, not to mention languages. Yet many of the people he mentions here and knew, I also had an association with. I only had one one-on-one hour-long encounter with Mandela, but before that several very private sessions with people like John Vorster and PW Botha, unusual for an Engelse pers man at the time. Ek is verheug om na soveel jare kontak weer met Jan te hê. Hy belowe my dat as ek weer by Colesberg verby ry, moet ek by hom kom kuier, en hy sal vir my een van sy beroemde blikke marmelade gee. Dis nog een van sy veelvuldige talente. Dankie, Jan.

  • Henry Mc Callaghan

    Ek het ook 'n affaire met Jan Badenhorst en sy woorde, en dit gaan terug na 1967 toe ek met sy niggie, Aletta Kotze, getrou het. Jan se ma, Dollie, ook 'n verslaggeefster, het ons al die jare besig gehou met koerantuitknipsels en afskrifte van Jan se artikels. Ons het ook die voorreg gehad om dikwels in Colesberg te stop vir 'n koppie koffie tussen Jan se boeke. Wat 'n formidabele en interessante mens met wonderlike stories en staaltjies.
    Lank lewe hierdie affaire met woorde.

  • Pieter Ernst Viljoen

    My en Jan se verbintenis dateer uit die vroeë vyftigerjare van die vorige eeu toe ons saam skoliere was aan die Sentrale Hoërskool in Bloemfontein. Hy was in die koshuis en ek in die stad. Ons het dus nie direkte verbintenis gehad nie tot Std. 9 en matriek (1953 en 1954), toe ons in dieselfde klas was en my vrou Marie saam met ons in matriek was.
    Ek kan nog een episode in die Wiskundeklas onthou. Mnr. Holtzhauzen was ons onderwyser en was altyd netjies geklee, maar sy hemp se kraag was ooglopend te wyd, met 'n groterige dasknoop. Jan doen iets verkeerd en die Mnr. sê: "Jan, mens sit nie eers jou huis se dak op en dan bou jy die mure nie." Toe Mnr. wegstap, brom Jan onderlangs: "Mens koop ook nie jou hemp en dan meet jy jou nek nie."
    Na skool is ons paaie uiteen tot ons na 40 jaar in 1994 'n reünie van ons klas gehou het. Jan was tuis in die Vrystaathuis, woning van die destydse administrateur, Louis vd Watt, en sy vrou Marietjie, wat een van ons klasmaats was. Ons was bevoorreg om die Saterdagoggend 'n sjampanjeontbyt daar te geniet en Jan het oor die naweek vir ons foto's geneem. Van die 103 matrieks was 66 oor die naweek teenwoordig. Daarna het ons nog 'n verdere 5 reünies gehou en ons het van die eerste een af besluit om elke 6 maande 'n nuusbrief, wat ek en Marie hanteer, uit te stuur aan al die maats, nou reeds by no.55.
    In dié tyd het ek Jan opnuut leer ken as 'n ywerige medewerker en lojale ondersteuner van ons reünies en die nuusbrief. Dit is hier waar ek sy affaire met woorde agtergekom het, asook sy ryke lewenservaring. Wat was egter die verrassing toe ek die meesterstuk (Magnum Opus) ontvang het en besef dat die helfte my nie vertel is nie.
    Jan, ek hoop dat hierdie grootse werk tot verdere aksie en tot jou volle lewensverhaal sal lei.
    Ek en Marie was bevoorreg om sy 80ste verjaardagherdenking te kon bywoon. Daar het ons sy suster Dorathea en ander familie en vriende ontmoet. Marie en Dorathea is feitlik weekliks in kontak. Ek het my eie lewensverhaal opgeskryf en dit pas vir Jan deurgestuur.
    Sterkte, Jan, met al jou bedrywighede en mag ons vriendskap steeds hegter word en lank duur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top