'n Leserlose skrywer, reis

  • 5

N2 – ooswaarts;
sy kop ’n verspot
onbekookte waarnemings
wat woorde wek,
met die bekende onrus
wat soos ’n fetus in hom woel
om te wil skryf, te dig!
Vanuit die suider lykant
van die lang bergreeks se rondings,
waar Suurbraak lepellê
in ’n beskutte kom,
draai hy links af, Tradouw op.
Amper bo, by Piekniekbos verby,
staan – dort oben wunderbar
’n solo rotskanteel
met ’n bekendheid
wat mens vaag verbeel.
Wat? Wie se sterk gelaat,
Romeinse neus, verbode mond,
– eens weeig geag –
waar oggendmis
soos winterwoorde wasem?
Wie se skrilprofiel
soos ’n indringerwoord, dalk ’n dekreet,
staan soos ’n stoïsyn daar wag:
Ché Guevara, Rasputin?
Brigitte Bardot, Nettie Pikeur?
Nee, dis ’n man! Utrillo dalk?
Ook nie. Hy’s skilder, nie beeldhouer nie.
Het die natuur dan self maar hier
die trompfiguur,
dalk van ’n eie seun van dié kontrei,
eeue vooruit al
soos ’n boegbeeld geboetseer
deur die verweer;
’n boorling van die dorpie bo,
waar Tradouw jou
as reisiger uitspoeg
om jou in liefde
en voleinding daarvan
te laat glo?

 

Johann de Jager. Onrus. 25/7/'16.

 

  • 5

Kommentaar

  • Ja, dis omtrent wat in elke kreatiewe siel se binneste gebeur wanneer mens in die natuur is. Al hierdie grootse skeppings rondom jou laat jou wild gryp na iet soos woorde, of 'n potlood/verfkwas dalk om iets daarvan te probeer vasvang wat nie met 'n kamera gedoen kan word nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top