’n Kultuur behoue vir hoe lank nog?

  • 2

Dis mos nou daardie tyd van die jaar (Junie – Julie) wanneer ons ons kultuur uitleef deur gewere oor die skouers te gooi en die suidelike Drakensberg, sy dale en ander plekke invaar. Ons “neem” nie voor die voet nie, maar net wat nodig is en net in die winter. Ons wil nie ’n trofee hê nie - niks gaan verlore nie. Het nog nooit, en sal ook nie in ons bestaan, enige van die grootvyf “neem” nie. Ons bly by die eetbares – vanaf die groterige bokke tot by die koedoe. Nie eens Eland nie, te groot.

Ja, ons is biltongmanne en hou van ’n verskeidenheid. Ons kerf aan Impala, Bosbok, Blesbok, Ribbok en maak potjie met vlakvark. Seg ek vir wederhelf anderdag, daar is ’n “bar” wat my vir ’n langruk nie gaan sien nie. Ingenome wil sy weet wie hierdie ‘aansienlike verlies’ gaan lei. Dis die ‘biltongbar’ in die “mall”. Ek sal nie haar reaksie hier weergee nie! Meen te sê, wat is rustiger as ’n gekerf en ’n geteug aan ons pinotage, hier op ons eie bodem gekweek en ontwikkel?

Vir hoe lank gaan dit ons beskore bly? 

Ons was ook oudergewoonte op die vergete Otto du Plessis Pas - ’n grondpas (Ida – Clifford – Lady Grey) by ’n versteekte fonteintjie – jy moet weet waar dit is. Weens al die dongas, klowe en swartgate in die grondpad sal ’n kar jou nie daar uitbring nie, net ’n fris viertrek. Behalwe vir die fenomeen dat dit ’n jaar of wat gelede vanaf die teerpad vir sowat ’n kilo of wat slegs tot by die skool geteer is, natuurlik vir die gerief van die taxi’s, is die pas verder aan volgens inligting voor ’94 laas geskraap. Dis by die fonteintjie waar ons met die hand die natuur se beste - die suiwerste, koelste, soetse water geskep en opgeslurp het. Dit borrel deesdae maar effentjies uit berg uit, baie flouer weens die baie minder sneeu en reënval tot dusver vanjaar, en is nie deel van enige stroompie of watervalletjie boontoe nie, netso uit die grond uit waarvandaan dit met ’n stroompie bergaf iewers heen gaan. Ons hou die ligging geheim want ons wil nie hê dat ‘toeriste’ dit moet kom opmoer nie. 

Kilometers verder aan, daar waar die opstal is, is daar ’n boorgat waarvandaan dieselfde soort heerlike water tot in ’n tenk teen die koppie opgepomp word vanwaar dit dan lekker sterk graviteer tot in die huis. Geen vermorsing nie, alleen wanneer die tenk amper leeg is, word die sonkragpomp aangeskakel. Ek ry gereeld 2 x 20lt plastiekdromme hiervan stad toe, suiwer, skone en gesonde water – en nie steriel gefiltreer nie!                                                  

Op ’n dag op ’n erg skuinserigheid aan ’n voetjie van die Drakensberg, halfpad op, hang-lê-staan ons en asem skep. Daar op hul grond, hou skoonseun-hulle iets anders dig. Ek was bewus daarvan maar was nog nie self daar nie. Hy beduie in die rigting van ’n oorhangsel bedek met plantegroei en sê ek moet gaan kyk. Ek beur deur die ruigtes en skielik hier voor my - ’n kultuurskat, ’n onbetwisbare bewys van “eerste nasie”  kultuur, geskep op ’n doek van klip, lank voordat ander nasies hul ‘kultuur’ gebring het. Ek vergaap my daaraan en word meegevoer, terug, tot in die tyd toe hierdie skilderye gemaak is, so 1500 – 3000 jr gelede. Hoe mooi, ongerep en skoon moes die land en sy natuur nie toe gewees het nie.                                                           

 

                 (a)                                                   (b)                                            (c)

Ek is geensins ’n deskundige nie, maar dit lyk vir my kompleet asof daar honde op die tekening (a) voorkom en dan op (c) is die toneel net so soos wat jy dit vanaf die grot sien. Onder is daar ’n diagonale lyn wat die takriviertjie aandui wat vandag nog daar vloei en wat later aan die linkerkant by ’n ander riviertjie (vertikale lyn) aansluit, laasgenoemde vloei nie meer vandag nie en is dit ge-erodeer tot ’n vrugbare vlaktetjie, ’n mikro langklofie, waarin mielies geil groei. So.. as jy destyds in die grot sou staan sou jy die toneel, soos in (c) geskilder van bo af waarneem.. en dit lyk vir my na kartografie! (Ver van een van ons presidente se opgeknapte Afrika-kultuurmuseum in Timbuktoe, wat toe afgebrand is, af) Deesdae is die horisontale takriviertjie begroei met die uitheemse swartwattelpes wat ’n groen streep van regs na links trek. Die bok op (b) het dieselfde styl en kleur as die ander baie soortgelyke tekeninge wat in die Drakensberg voorkom.

Vir seker het baie min hierdie spesifieke prentjie al aanskou en sien ek in my geestesoog ’n tyd lank gelede - die wye grasvlaktes, engtes, klowe, berge en dale, die wind en weer. Hierdie kunstenaars het ’n begrip gehad van “om-te-wees”. Daar is nog tekeninge asook ander in ’n ander grot op riviervlak waarnatoe familievriende soms gaan kyk, maar hierdie hierbo is te moeilik bereikbaar om na willekeur te besigtig. Ek het later op die web gaan rondblaai en op hierdie blad afgekom, lees dit, dis verontrustend - google “eastern cape bushman arists”  en klik op “Abusing the Bushman’s canvas”. Dis ’n artikel uit die Farmersweekly van 2012 en is vir seker geloofwaardig.

Ons het heeldag op dié dag na ’n ribbok (vlugvoetig, wakker en paraat) ‘om te neem’ gesoek. Hy is net daar waar dit bykans onmoontlik is om hom te kry. Skoonseun loop vorentoe en ek bly agter waar ek op ’n oorhangkrans gaan sit. En daar onder, 200m af en 250m weg hou hy, skoonseun, nes laas, bokant hom dop en nie vir my nie. ’n Week of wat later in die Komga omgewing het ons my oudste kleinseun, met my aanstigting, in die kultuur ingewy deur hom te leer hoe om ’n (rooi)bok plat te trek. Sy pa (my ander skoonseun) het ’n vriend van hom wat ’n bekwame ‘ph’ is gekry om hom in die veld verder te leer en te vertel. Hy het sy stukkie rou lewer heel afgesluk.

Terug by die huis na omtrent ’n maand se weerhouding van nuus voel en beleef ek die land anders. Duidelik is dit huidig nie om Mandela se pragtige hondjie (die land en sy mense) nie, maar om daardie skitterblink halsbandjie en die “tips” soos vir kelners in restaurante, waarop aangedring en sommer gevat word. 

Ek het Dana se pad met die treine ("Via" op Dstv onlangs), gevolg. Gaan hierdie land soos daardie eens pragtig versorgde en bekroonde stasies in ’n murasie eindig?  Op my bedkassie, lê die Biografie van die Afrikaner en Stem uit die Wildernis (ook ’n biografie). Ek lees hulle so om die beurt. Dit was maar ’n gespook - daardie dinge. En ja, dit begin stadig in my gemoed groei dat daar seker maar probeer was om juis dit te verhoed wat ons nou so van hoor en beleef, en die feite en persepsies toe verstrengel geraak het. Ekself hét almal met integriteit en respek behandel net om onmiddellik na ’94 as ’n “umlungu” terug betaal te word - ’n politieke ou het onlangs nog gesê “ ons sal hulle  ..., maar nie nou al nie”.

Was dinge maar deur almal anders benader, wie weet wat sou kon wees?

En, verneem ek, ’n wetsontwerp wat handel oor die grotkunstenaars en hul nageslag is van die parlement se tafel afgevee.

Word dinge maar nou deur almal anders benader, wie weet wat sal kan wees?

Groetnis,

Raed-na-Gael

  • 2

Kommentaar

  • Gaan my nie uitlaat vir iets wat ek nie is nie, nl 'n dierekenner, maar die honde op (a)
    lyk net soos die wilde honde wat 'n mens elders aantref.

  • FC jy is reg. Sy ma is 'n hond en sy pa is 'n hond. As ek dit reg het is dit die Aficansis. Ek voeg ook by die Africansis Dogs All-Sorts. Dit is hoe intigreerde honde sonder enige identiteit lyk. Hy is nou 'n lid tot die spesie hond. Hy is lojaal teenoor enige iemand wat hom voer en versorg. Hy is gehard en oorleef siekte en aanslae maklik. Daar was al gevalle waar hy op sy eienaar draai en hom aanval.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top