
Ken jy die frustrasie en pyn van ’n ongediagnoseerde siektetoestand? Na jare van leiding het ek ’n naam vir my toestand. Self gediagnoseer: hardlywigheid van die brein. Ongelukkig, feitlik ongeneeslik en geen behandeling is tans beskikbaar nie.
Fisies is ons toegerus met twee ore en een mond wat in dieselfde omgewing is van die brein. Jy sal dink dat hierdie drie komponente goed saamwerk, aangesien hulle permanent in mekaar se geselskap is. Maar om een of ander onverklaarbare rede is my brein geheel en al afwesig in tye van nood. Wanneer my mond hierdie orgaan naarstigtelik benodig vir ’n antwoord of gepaste opmerking, is die sein tussen hierdie twee weg. Gone. Missing. Poer in sy ... kom ons sê maar, glory.
Dit gebeur gereeld as ek my in die geselskap bevind van persone met die intelligensiekwosiënt van Google Plus. Hierdie superwesens is nie so skaars as wat ’n mens sou verwag nie. Hulle duik gewoonlik op in ’n geselskap waar jy net lekker op dreef kom met een van jou uithaler-ervarings of -stories. En dan kom hierdie superwese na vore met ’n emmer yswater, wat jou stotterend of sprakeloos laat. Sonder ’n enkele woord staan jy gestroop van jou verhaal se voornemende trefslag en hoogtepunt.
Maar liewe leser, sodra ek arriveer in my veilige denkwêreld, purgeer my brein die allerbeste opmerkings en antwoorde denkbaar. Hierdie hardlywigheid van my meestal gesonde verstand duik op tydens my A-graad-storievertellings. Ek bevind my keer op keer opgeblase en verslaan op hierdie sosiale slagveld. Ek vermoed die simptoom van my toestand kan beskryf word in die mooi Afrikaanse woord: stomgeslaan. Ek stotter en hakkel as gevolg van bogenoemde kortsluiting van my brein. Google Plus aan die ander kant is voorbereid en het die beste, verstommende en, noem dit maar, geloofwaardige, skerpsinnige woorde. Meestal ’n ongeskikte en ongevraagde afjak.
Dit kom gewoonlik met ’n intro soos hierdie:
- “In my dae …”;
- “In my beskeie opinie ...”;
- “Ek werk elke dag hiermee en ...”;
- “Uit my jare se ervaring ...”;
- “Toe ek my meesters gedoen het ...”;
- “Ek het net gister gelees dat ...”;
- “Ag, dis niks, hoor hier ...”;
- “Kan nie wees nie, want my dokter sê ...”
Dis asof hierdie en soortgelyke frases my breinskakelaar trip. My storie is daarmee heen en die eindbestemming disnis. Ek kry nie eens ge-recalculate nie. Die metaforiese vliegtuig is gekaap en wanneer dit te laat is, daag die Valke op en elimineer die kapers.
Onlangs bevind ek my in ’n geselskap waar iemand my uitvra na ’n boek wat ek gelees het, en die onderhoud wat ek met die outeur gevoer het. Net lekker op dreef, toe tref die doodslag my. Hierdie keer uit die mond van ’n geliefde familielid. “Weet jy, ek werk elke dag met hierdie tipe krisis en benader dit op ’n baie suksesvolle manier, as volg ...” Net daar is my storie in sy dinges in.
Later, ontsteld, besig om die afgelope situasie te herleef, ontleed en verwerk, kom die beste en mees kreatiewe terugslag denkbaar: “Kom ons verbeel onsself net vir ’n oomblik dat dit nie nou die geval is nie. Dan gaan my storie nou nie te stupid klink nie. Maar ek belowe sodra ek klaar gepraat is, kan jy jou gelese, belese en berede ervaring met ons deel. Ons almal sal dit graag wil hoor.”
Maar nou ja, waar was hierdie woorde toe ek dit nodig gehad het? Ek teister my bloot met selfvergeldende gedagtes wat my tyd mors. Nes hardlywigheid, wanneer jy moet, kan jy nie, en met ongemaklike opgeblasenheid, winde en pyn, kom die verligting wanneer jy dit die minste nodig het. Die drein af.
Maar ek sê jou vandag, volgende keer gaan ek my nie laat stilmaak nie! (Hopelik hoor my brein en mond hierdie hulpkreet ...)

