'n Hap van die appel deur Kristel Loots: ’n heerlike huldeblyk aan chick-lit

  • 0

’n Hap van die appel
Kristel Loots
Uitgewer: Tafelberg-Uitgewers
ISBN: 9780624056331

Koop ’n Hap van die appel op Kalahari.com

Chick-lit het oor die jare al so verander en ontwikkel dat ’n mens beswaarlik ’n definisie daar kan stel wat ál die subgenres insluit. Daar is mommy-lit, teen-lit, vamp-lit, om maar ’n paar te noem. Boonop is daar ’n beduidende verskil tussen chick-lit uit byvoorbeeld Engeland, Amerika, Suid-Afrika, Indië en Pole. Daar is vrot boeke wat maar min om die lyf het en goeie boeke wat behendig met taal speel en belangrike kwessies soos identiteit, selfbeeld, verbruikersinvloed, gesinsgeweld en familiedinamiek aanspreek. Die ding van chick-lit is dít: dit moet altyd vermaak. Dit het nie literêre pretensie nie; dit wil nie oor dieselfde kam geskeer word nie. Om goeie chick-lit te skryf, sit nie in elkeen se broek nie. Want die doel van chick-lit is om die leser van die eerste woord tot die laaste paragraaf te vermaak – terwyl die kwessies wat aangespreek word, so stilweg insluip dat die leser dit skaars agterkom, maar tog daaroor peins lank na die lees van die verhaal. Dit mag nooit prekerig of vertonerig oorkom nie. Daarbenewens is één ding steeds onontbeerlik vir die chick-lit roman: ’n goeie skoot humor, gewoonlik ten koste van die vroulike hoofkarakter. En vele chick-lit-skrywers sukkel daarmee.

Kristel Loots kén van vermaak en sy is baie ervare wanneer dit by humor kom. Sy het as skrywer beweeg van tydskrifverhale en romanses na die liefdesroman en is uiteindelik in 2010 deur Tafelberg, wat in 2009 amptelik Afrikaanse chick-lit begin bemark het, gevra om haar hand aan chick-lit te waag. Die resultaat was ’n Lipstiek-lewe. Hiermee het Kristel gewys dat haar humorsin vars en eg Suid-Afrikaans is. Nie aangeplak nie.

Ná ander titels, soos Lemoenseisoen en Eendagmooi, het Tafelberg weer ’n chick-lit-boek van Kristel Loots op die rak. Met ’n Hap van die appel kan ’n mens die groei sien: die fokus is minder op die liefdesverhaal, meer op familiedinamiek, identiteit en selfontdekking. En die humor is skerper, en lekkerder, maar steeds kenmerkend van Kristel. 

Maxie van der Merwe staan haar hele lewe lank al in die skaduwee van haar ma, die bekende politikus Johanna van der Merwe. Johanna is ’n enkelma wat nooit wou bekend maak wie Maxie se pa is nie. Sy is ’n ambisieuse vrou, een wat dinge laat gebeur en nie ’n oomblik stilsit nie. ’n Baba het eenvoudig nie in haar lewe gepas nie. Dus is Maxie grootliks deur Dora, die huishoudster, grootgemaak. En dié het ook nie juis oorgeloop van entoesiasme vir die taak nie. Maar Dora was noodgedwonge daar vir al die highs en lows van Maxie se lewe. Aangesien haar ma weer eens nie beskikbaar is nie, is Dora dus ook die eerste persoon aan wie Maxie die nuus kan vertel dat Gustav, ’n professionele rugbyskeidsregter, moontlik die groot vraag gaan vra.

Dora se reaksie op Maxie se aankondiging dat sy wil trou? “Met daardie halfjekkie wat soms saam met jou hier aankom? […] Regte kapokhaantjie. Vir mý kom staan en rond order. […] Ek sal ook nie met hom trou as hy die laaste man op aarde is nie. Solank julle net nie verwag ek moet julle kleintjies grootmaak nie” (28).

Maxie is nie seker presies hoe sy oor haar verhouding met Gustav voel nie, maar heng, dit moet lekker wees om te trou. Wit rok en als. En sy probeer hard om die perfekte vrou vir Gustav te wees. Dan maak Gustav só droog tydens ’n internasionale spel tussen die Bokke en die Wallabies dat g’n mens met hom geassosieer wil word nie. Nie eers Maxie nie. En beslis nie Johanna nie. Om skade te beheer, stuur Johanna Maxie New York toe saam met haar spindokter, Jay. Oor dié man kan Dora skaars uitgepraat raak. Sy vertrou hom g’n stuk nie – “lyk bietjie soos ’n kraai met ’n das om sy nek”. Dora meen hy’s ’n “gladdejan”, maar ten minste ’n gentleman, “as ’n mens nog glo daar bestaan ’n ding soos ’n gentleman”. Met ’n ken en kakebeen soos ’n baksteen, “’n regte baksteen, nie van die gemors wat die regering gebruik om HOP-huise te bou nie”. Hy’s “mooi genoeg om aan ’n Kersboom te hang.” Maar volgens Dora is Jay “dydelik, té dydelik” en voorspel hy niks minder as moeilikheid nie.

Op pad New York toe laat Jay Maxie goed verstaan dat sy ’n vaal muffin is en dat dit sy taak is om van haar ’n begeerlike cupcake te maak. Sy kan immers nie haar ma se beeld of Die Saak in die skande steek nie. Tussen haar obsessie met skoene, haar nuwe pos as lektor en haar aangetrokkenheid tot Jay, wat beslis nié beskikbaar is nie, moet sy vrede maak met haar besige ma en afwesige pa en die invloed wat dit op haar vormingsjare gehad het. Maxie leer in die Groot Appel haarself in ’n nuwe omgewing en konteks ken, verskuif haar grense en vind uit dat muffins die potensiaal het om veel meer begeerlik en heilsaam as cupcakes te wees. 

’n Hap van die appel is ’n heerlike huldeblyk aan die eertydse Amerikaanse chick-lits, soos Sex in the City en The Devil wears Prada. Ons praat immers hier van New York, skoene wat die leser sal laat kwyl van begeerte en ’n hoofkarakter wat tradisioneel as eerstepersoonverteller intiem aan die woord is. Maar eg Suid-Afrikaans is die klem minder op die glinster en glans en verleidelikhede van ’n groot stad en meer op die intieme familie- en liefdesverhoudings. Die kwessies wat aangespreek word, in hierdie geval die enkelouer-gesin en afwesige pa, sou in die Amerikaanse eweknie met meer diepte en drama behandel word. In ’n Hap van die appel is Maxie se ontwikkeling en groei nie slegs aan die soeke na haar pa gekoppel nie, maar ook aan hoe sy haarself binne liefdesverhoudings sien. Die uitgesproke Dora, wat ten spyte van haar aftrede steeds die steunpilaar van die Van der Merwe-huishouding is, sowel as Gustav en die res van die manlike geslag se verafgoding van rugby gee aan dié chick-lit-roman ’n eg Afrikaanse gevoel. Dora sorg juis vir vele humoristiese uitlatings; haar taal is lekker loslit en herkenbaar Kaaps.

Hier en daar is daar tog hinderlikhede, soos set- en spelfoute wat deur die proefleser misgekyk is. Die vele verwysings na en inspelings op “’n hap van die appel” het ek oordrewe en onnodig gevind. ’n Paar hiervan sou voldoende gewees het. Die verhouding met Johanna as grootliks afwesige ma weens haar werk kon ook tematies verder uitgebrei en ontwikkel gewees het. Die klem sou dan minder op die afwesige pa wees – Maxie moet immers albei ouers se invloed in haar ontwikkeling tydens haar kinderjare konfronteer. Nietemin is ’n Hap van die appel werklik goeie vermaak en ’n perfekte lekkerleesboek. En tien uit tien vir die einde van die verhaal. Daarmee wys Kristel Loots dat sy chick-lit as genre verstaan. Ek wonder wat sy vorendag sou bring indien sy nie beperk was, soos tans nog die geval met Afrikaanse chick-lit is, wat woordtelling betref nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top