
Die prent is afkomstig van Canva, onderhewig aan hierdie gratis lisensie-voorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/.
Daar is baie stories in die see
as mens net aan iets ’n stem kan gee.
Ons ken die verhaal van jakkals, wolf,
maar ken jy die storie van ’n golf?
Klein golfies word uit wind gebore
Leer dat heldedade ’n skat belowe.
Word van kleinsaf legendes oorvertel:
Net die braafste golwe kruip aan wal.
Elke blinkoog golf word hier betrek.
“As jy goed is en jy hard sal werk,
kan jy dalk ontsnap uit dié diepseemeul.
Jy sal ewig in die son kan speel.”
Elke golwehart word so gewen.
Hulle kies ’n koers en begin swem.
En soos die strand dan naderkom,
blink daar water op die horison.
En die golwe buig, soos voor Mammon,
wat met hand vol sand te voorskyn kom.
Voor ’n golf besef dis klaar te laat,
voor ’n golf kan draai of skree: “Verraad!”
word hy weggevoer en meegesleur;
tref die watertekkie die sand se teer.
En die golwe word, een na die ander,
van ’n vrye golf tot gebroke brander.
Waar sirenes uit die seeskuim sing
oor die golwe se herinnering.
En die heimwee roep die branders terug
na die diepsee waar hul kan ontvlug.
Weg van oorverdowende geraas
van die golwe wat die aftog blaas.
Maar oor stormwaters klink die lied
van ’n seeheks wat ’n losprys bied.
En gebroke branders ruil hul stem
vir ’n kans om in die see te swem.
Streel die goue strand ’n laaste keer
vloei dan stemloos en sonder verweer
na die diepsee en leer daar gewis
dat daar skatte in die duister rus.

