'n Goeie begin

  • 2

Ek hou daarvan om in koffiekroeë te sit. Wanneer ek op soek is na natuurlike dialoog vir een van my stories (met al die “ums” en “a’s” en “weet jy wats?” en “jy sal dit nie glo nie, I know!”-stopwoorde tussenin), gaan ek na my naaste koffiekroeg met my notaboek in die hand. En ek probeer die mense rondom my se gesprekke af te luister. Dis lekker om stemme en mense om my te hê (om ’n skrywer te wees, moet mens andersins baie ure alleen wees). Om te luister na daardie Britse ou wat klink of hy verlief is op homself, die Zoeloe-meisie wat vertel van haar geografie-studies. Of te kyk na daardie kleutermeisie wat nie kan stilsit nie en rondhop met haar statiese hare – waarvan al die kleure tegelyk uitrafel in die son. Of selfs net te staar na die vlieg wat verveeld kruip oor die vensterbank en dan die man raak te sien wat die vensters buite was. Eintlik sit ek nou ook in ’n koffiekroeg en probeer my eerste skryfraad aan aspirantskrywers op LitNet gee.

Om skryflesse te gee moet mens by ’n storie begin. Want soos Bibi (wat julle ken van Snars poëtika) glo ek dat om te leer skryf, mens eers moet leer lees. Dus begin ek vandag met ’n kortverhaal wat begin en afspeel in ’n koffiekroeg.

Die verhaal waaraan ek dink, is “The man of the crowd” van die skrywer Edgar Allen Poe van 1840. Te danke aan die internet kan jy dit lees. Dis ’n moeilike storie en dit begin met ’n Franse aanhaling, maar lees dit gerus as jy jou woordeskat wil verbreed en ook ’n uitstekende kortverhaal wil lees.

Die verhaal handel oor ’n man wat onlangs van ’n siekte herstel het (die siekte word nooit genoem nie) en vanuit ’n koffiekroeg in Londen sy omgewing en die karakters van die stad en in die kroeg rondom hom noukeurig-nuuskierig waarneem. Asof vir die eerste keer, gaan sy oë oop vir die verskillende karakters rondom hom. Hy vind veral die donkerder en meer komplekse karakters die mees innemende (die boemelaars, invalides, skurke, skelms, prostitute en dronkaards – “all this gave an aching sensation to the eye”). Dit is dus nie die rykes wat die verteller interesseer nie, maar veral een eienaardige man in vodde. Soos ’n teks probeer die verteller die gesig en die houding van hierdie man te lees, in die hoop dat hy iets versteek en iets onderliggend daaragter sal vind en ’n betekenis daaruit sal kan put. So intens is sy nuuskierigheid vir en belangstelling in die boemelaar dat hy naarstig begin om hom deur die strate van Londen te agtervolg. En wat vind hy in sy dae lange agtervolging? Dat hierdie mal man obsessief dag en nag waansinnig op soek is na massas mense. Hy gaan oral waar die massas is. Hy raak totaal verbouereerd as hy alleen in ’n plein of voor ’n kroeg wat toegemaak het, staan. Hy is die man wat homself aan die massas oorgegee het en nooit alleen kan wees nie.

Dit is interessant dat die verteller in hierdie verhaal nooit daarin slaag om die boemelaar se regte geheim te ontdek of sy gesig of houding te “lees” nie, maar vir hierdie kort rubriek is dit nie nou van belang nie, eerder die aksie van obsessiewe-nuuskierige en noukeurige waarneming wat tot agtervolging en tot ’n storie kan lei.

En dit bring my by wat Hennie Aucamp in sy boek Die Blote storie (1986:34-36) oor kortverhaalskrywers te sê het. Volgens Aucamp is poësie ’n natuurliker medium vir selfverkenning as prosa. As jy jouself wil leer ken, skryf dus poësie – of so meen Aucamp. Maar ’n kortverhaalskrywer (of romanskrywer) moet iemand, of ander, hê om waar te neem, moet die gemeenskap, stad of samelewing waar hy of sy woon, beleef. Indien moontlik, moet hy of sy iemand hê om obsessief deur die strate te agtervolg.

Van waar ek in hierdie koffiekroeg in Kaapstad sit, besluit ek om dit hierdie jaar my literêre voorneme te maak om meer buite myself te beweeg en die plekke, die stede wat ek gaan besoek en die karakters wat ek daar gaan vind, met groter nuuskierigheid waar te neem. En veral die donkerder, dieper en meer interessante karakters te gaan uitsoek. Met die verwagting dat elke karakter iets, ’n geheim, ’n “essence of deep crime” (soos Poe dit noem) het om aan my te openbaar. Ek wil leer kyk na die wêreld rondom my as ’n potensiaal vir fiksie. Dus, vandag sit ek en kyk ek en wag ek in hierdie koffiekroeg in Kaapstad. En ek dink dis ’n goeie begin.

Bekende skrywers wat graag in koffiekroeë gewerk het:

• JK Rowling (voordat sy bekend geword het en deur almal lastig geval is).

The elephant house, koffiekroeg in Edinburg, wat bekend geword het as die plek waar Rowling graag gewerk het.

• Ernest Hemingway, wat selfs graag geskryf het oor hoe hy in die publiek werk

(A Moveable Feast,1964).

’n Interessante Engelse woord vir iemand wat van ’n koffiekroeg sy kantoor maak, is ’n cofficer. Sal ons in Afrikaans praat van ’n koffietoor? En ’n klomp koffietore?

Vertel my waarheen jy graag gaan om inspirasie te kry vir jou skryfwerk. Waar kry jy jou karakters? Is daar enige skrywers onder julle wat in koffiekroeë werk? Het jy al iemand agtervolg vir ’n storie? Stuur jou beste gedigte of ’n treffende verhaal (soos die een van Poe) aan my by gedigte@litnet.co.za.

Lekker lees, lekker skryf en lekker koffie drink.

Rentia

  • 2

Kommentaar

  • Knap gedaan, Rentia

    ’n Heildronk op die comeback van die kortverhaal! Wat van ’n leeslys waar mense hul 3 gunsteling-kortverhaalbundels lys?

    Groetnis

  • Rentia Bartlett

    Baie dankie Eckhard. En jou idee is 'n goeie een! Ek sal dit beslis wil doen. Ons moet 'n werklike heildronk op die kortverhaal drink!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top