Die saailinge van my tyd, middel tot laat negentien sestigs se geboortes, is seker die laaste om sinvol herinnering aan die spel en persoon van Clive Rice te herroep. Ek en my wulpse wederhelf het elk ons eie terugflitse; ek onthou Clive se astrante en soms omstrede manier van doen en sy onthou hoe ’n sensuele foto van Clive in ’n Sondagkoerant haar tienerlewe opwindend gemaak het!
Clive Rice is weg, tot in ewigheid. Die eer en jintelmanskap van krieket het egter lank reeds voor hom die ewigheid in verdwyn.
Vanoggend het die draadloos plek gemaak vir stilte terwyl my gedagtes ’n koerantopskrif teen ’n lamppaal betrag ... Rice se dogter: “My Pa het tot die einde baklei”.
Hoekom? Teen wie? Of is die geveg teen die onvermydelike?
Dit is sekerlik al ’n mank gesweepte esel, maar die onderwerp en beredenering van genesing ten alle koste, bly tog in sy wese ’n verlore saak.
Uiteraard is die voorbeelde hiervan meer as wat die wêreldwye web sal kan berg en is dit juis die bekendes in ondermeer sport wat die aandag op hul vestig, met hierdie soeke na die genesing en ommekeer van, medies gesproke, doodsafwagtende siektes.
Die mense gaan soek wonderwerke, soos in Clive se geval, by dokters in ver-af lande en deurbrake in geloofsgenesing by profete met dik tjekboeke wat nie eens hul eie eiendom kan staande hou nie. As voormalige Calvyn, is dit nou op hierdie oomblik wat die sluimerende ingeprente skaamte vir rebelsheid my skielik aanspreek met die teregwysing ... “jy mag nie bevraagteken nie” en ... “jy moet glo”.
Glo dat jy die ewige lewe sal beërwe, maar net eers ná jy gesond geword het. Glo dat genade vir jou genoeg is, alhoewel dit jou solank as moontlik uit die paradys wil hou!
Hoekom sal ’n mens die verlossingsleer en ewige lewe aanneem, maar dan aan hierdie stukkende een bly vasklou?
Die opgeleide bedienaars van die Woord sal menige verse en teksgedeeltes en verskeie vertalings uit een Skrif kan aanhaal, en elkeen sal heel waarskynlik ’n standpunt vir en ’n aantal teen die vrae en inhoud van hierdie opstelletjie kan boekstaaf.
En met wie sal ek kan stry? Glad geeneen.
Wie sal egter met die seuns van Dawid wil stry?
Beide van hulle was en is koning. Beide predikers en beide het geleer dat “daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe”.
En met permissie: ’n tyd om te erken die voorhangsel is geskeur, ’n tyd om minder stil te bly en ’n tyd om oor hierdie dinge te praat.
Rus sag Clive; jy kon al lankal tuis gewees het.


Kommentaar
Ek het een aand 'n sportprogram gekyk wat oor die Transvaalse krieketspan van die sewentigs en tagtigs was. Dit was 'n goeie klomp krieketspelers bymekaar. Die onderhoudvoerder vra die een speler hoe het Clive Rice hulle motiveer. Die ou antwoord toe, "Ricy het nie baie gepraat nie. Hy het voor een wedstryd teen ek dink Natal gesê, the guys (Natal) expect to be klapped. Lets go out and dont dissapoint them".
Moeilike kwessie Hennie. Laat my dink aan die ou, ou tannie en oom, jare der jare al getroud, en die taniie vertel in 'n onderhoud: Al ons vriende is al in die hemel maar deur die genade is ons uitgespaar.
Ja, ja, ja, Jan Rap! (Glimlag) Jy laat my nou weer dink aan Meraai wat met Gatiep baklei oor sy drankasem en hom dreig dat hy nie hemel gaan maak nie. Hy antwoord: "Nee Meraai, dis jy wat nie verstaan nie. Myse asempie gaan nie saam boontoe nie, hy bly mos hier agter ..."